Gered van die Honde

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf


deur Arthur S. Maxwell

Dit was in Pensacola, Florida, waar ek hierdie interessante verhaal gehoor het en hierdie storie - net soos baie ander in hierdie boek - kom reguit uit die hart van 'n kind. 

Barbara was toe maar net vyf jaar oud, maar darem oud genoem om allerhande soorte werkies vir haar Mammie te doen. Sy kon al skottelgoed was en dit afdroog. Sy kom die huis uitvee en afstof en ook haar klein boetjie oppas - wanneer hy soet was natuurlik! Wat sy baie graag gedoen het, was om winkel toe te gaan vir haar Ma.

Natuurlik het Mammie haar nie te ver van die huis af gestuur nie - sommer na die winkels in die nabyheid, of oor die straat, n a die bure. Mammie het haar nie bekommer oor die verkeer nie, want waar hulle gewoon het, was daar nie veel nie.

Al die bure het vir Barbara geken en dikwels wanneer hulle by hul vensters uitgekyk het, kon hulle haar vinnig sien stap in haar mooi blou rokkie en dan het hulle gesê "Daar loop Barbara weer. Haar Ma het haar seker weer gestuur. Sy is so 'n soet dogtertjie!" En so het Barbara, al het sy dit nie geweet nie, almal goedgedoen eenvoudig deur haar Mammie te help en te doen wat haar gesê is.

Omdat daar nog nooit iets verkeerd geloop het nie het Barbara nie geweet wat dit is om bang te wees nie. Sy het ook nie gedink dat iets ooit verkeerd kon loop nie. Maar eendag het iets gebeur.

Dit het al begin aand word en Mammie het gewonder of sy vir Barbara so laat moes uitstuur, maar omdat sy iets nodig gehad het van die winkel af vir die aandete, het sy gemeen dat alles sou goed gaan. Barbara kon maklik gou na die kruidenier toe hardloop en weer terug voordat dit donker is. Sy het toe aan Barbara die geld gegee, haar gesê wat sy moes bring en dat sy dadelik weer moes terugkom.

Barbara het goed by die winkel gekom en ná 'n rukkie was sy op pad huis toe met die goed. Maar sy het nie te ver geloop nie, toe merk sy dat twee honde haar volg. Moontlik het hulle die kaas of iets geruik. Hoe dit ook al sy, hulle het al nader gekom en eerlank het hulle begin ruik aan die sak.

"Voert, julle honde!" het sy gesê en die sakkie bokant haar kop gehou. Maar die honde wou nie luister nie. Pleks dat hulle weggegaan het, het hulle begin opspring na die sak.

"Voert! voert!" het Barbare geskree, maar die honde het aangehou opspring.

Barbara het toe 'n bietjie bang geword en sy het begin hardloop, maar die honde het saam gehardloop en sy kon nie van hulle ontslae raak nie. Hulle het begin blaf en dit het haar nog banger gemaak.

Barbara het 'n kort paadjie gekies oor 'n kaal erf, maar dit moes sy nie gedoen het nie, want daar het drie ander honde gespeel en hulle het kom aansluit by die ander twee. Toe sy halfpad oor die kaal erf was, was daar sewe of agt honde om haar. Almal het geblaf en opgespring en probeer om die goed by te kom wat sy in die sak gehad het.