Gered deur 'n Vliegtuig 

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Hierdie verhaal verskil van die ander in hierdie boek, maar ek wil dit graag aan julle vertel, want dit gaan oor een van daardie goeie dade wat vrede en vriendskap onder die nasies van die wêreld bring.

Vroeg in April 1926 het twee Spaanse vlieëniers vanaf Kairo, in Egipte, na Bagdad, in Irak gevlieg. Dit is 'n lang en gevaarlike reis, want die grootste gedeelte daarvan gaan oor uitgestreke woestyne waar daar geen mens woon nie, en waar dit natuurlik onmoontlik is om of kos of water in die hande te kry in geval van 'n noodlanding. 

Hulle het 'n end sonder enige moeilikheid gevlieg, maar toe hulle oor die Siriese woestyn gaan, het hulle verdwaal. In 'n poging om weer die regte pad te kry, het hulle so baie hot en haar gevlieg dat hulle brandstof opgeraak het, en hulle is gedwing om op die sand neer te stryk. Hulle het by hulle omtrent genoeg kos gehad vir drie dae, dus het hulle 'n tydlank versuim in die hoop om ander vliegtuie te sien oorgaan.

Maar hulle wss so ver weg van die gewone roete van die vliegtuie, dat daar regtig geen hoop was dat een daarlangs sou verbyvlieg nie. Die hele dag het hulle net die lug dopgehou en gehoop om gered te word,  maar tevergeefs. Dit was vreeslik warm en hulle het geen skaduwee gehad behalwe die bietjie koelte onder die vlerke van die vliegtuig nie. Die volgende dag het hulle water begin opraak, en die moontlikheid om van dors om te kom het hulle in die gesig gestaar. Eindelik het hulle besluit om te begin aanstap in 'n laaste poging om hulp te vind.

Intussen is daar telegraaf- en radioboodskappe heen en weer tussen Kairo en Bagdad gestuur. Kairo het verneem of die Spaanse vlieëniers veilig daar aangekom het; en die mense in Bagdag het geantwoord dat hulle niks van hulle gehoor het nie. Die mense het baie besorgd geword, want dit was bekend dat hulle min kos en water met hulle saamgeneem het. 
Op die môre van die derde dag het die manne in bevel van die Britse Lugmag besluit om agt vliegtuie uit te stuur om die twee Spanjaarde te soek. Hulle het nie gevra van watter land hulle kom nie; in nood, het hulle geweet, was hulle broers. Vier dae lank het die Britse vleigtuie oor die lengte en breedte van die Siriese Woestyn gevlieg. Hulle het orals gekyk of hulle nie die vermiste vliegtuig kon opmerk nie. Eers die agtermiddag van die vierde dag het een van die vliegtuie die vermiste vliegtuig gewaar; maar tot die teluerstelling van die manne was die Spanjaarde nie daar nie. 

Moeg en uitgehonger, met rou voete en 'n droeë tong, het die Spaanse kaptein oor die woestynsand aangesukkel. Dit was die sesde dag na die noodlanding. Sy waterkan was reeds lankal leeg, en hy het nie meer kos gehad nie. Sy vliegtuig het myle van hom af gestaan, terwyl hy oor die sand aansukkel om hulp te kry. 

Die wind het opgekom en het nou geweldige stofwolke oor die woeestyn gewaai sodat mens niks kon beken nie. Hy het soos 'n binde voortgestrompel. Sou hulp ooit opdaag? 

Hoor daar? Wat was dit? Dit het gegaan of 'n bekende geluid al nader en nader kom. Dit was die gedreun van 'n vliegtuig. Met nuwe hoop het hy opgekyk. Hy was reg. 'n Oomblik later het een van die Britse vliegtuie naby hom neergestryk. Net betyds is die man gered.

Toe is hulle terug en het die ander vlieënier gevind. Hy het vyf-en-twintig myl en die kaptein vyf-en-veertig myl ver van hulle vliegtuig af gedwaal.

Toe die nuus Spanje bereik en die verhaal in die koerante vertel is hoe die Britse loodse dae lank deur verblindende sandstorms na die twee Spanjaarde gesoek het, was die hele land baie opgewonde. Die koning en sy regering het hulle dank betuig en die Britse ambassade in Madrid het duisende boodskappe ontvang van die mense van Spanje wat van die dapperheid en goedheid van die Britte gehoor het. 

Die twee lande het dus nader aan mekaar gekom ten gevolge van hierdie goeie daad in die woestyn. En is dit nie beter as oorlog en moeilikheid soek nie? Natuurlik is dit; en as al die mense van al die nasies altyd sou probeer om mekaar te help, hoe 'n gelukkige plek sou hierdie aarde nie gewees het om op te woon nie!