Gered deur 'n ui

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

In die vroeë dae in Amerika, toe die Westelike State nog in hulle ontwikkelingstadium was, moes die predikante baie hard wer. Hulle het arbeidskringe gehad en hulle moes van die een na die ander groep gelowiges ry om die evangelie te verkondig, kinders te doop, huwelike te bevestig, en die Avondmaal te bedien. Soms was hulle vir maande van die huis af weg, en hulle het duisende myle per jaar te perd gery.

Meneer Matthews was een van hierdie soort predikante. Hy het 'n baie groot arbeidskring gehad wat vir honderde myle in alle rigtings gestrek het, en waar sy pligte hom gedurig geroep het. Met sy baie werk, en 'n gesin van twaalf kinders, het hy dit soms maar swaar gehad. 

Toe hy eendag weer tuiskom na 'n lang afwesigheid, het hy gevind dat sy seun Jack nie die werk klaar gemaak het wat hy hom gegee het nie. Hy was baie kwaad, en hy het Jack 'n goeie pak gegee. Vader het aangedring op stipte gehoorsaamheid. 

Dit was vir Jack 'n baie groot vernedering, veral daar hy gevoel dat hy die pak nie verdien het nie. Dit was te veel vir Jack, en hy het besluit om die huis te verlaat. 

Sy suster, Margaret, wat omtrent so oud soos hy was, het hom gesoebat om dit nie te doen nie, maar hy wou nie luister nie. Sy het hom gevra om eers 'n paar dae oor die saak te dink, maar hy was vasberade.

Die volgend oggend was hy weg, met 'n besluit in sy hart om nooit weer na sy Vader se huis terug te kom nie. 

Margaret het met Jack gesimpatiseer, en sy het haar Vader geblameer vir wat gebeur het. Sy wou toe niks meer met haar Vader se godsdiens te doen hê nie. 

Sy het met verloop van tyd meer verbitterd geraak. Sy het byna nooit met haar ouers gepraat nie, en sy het beslis geweier om die huisgodsdiens by te woon. Sy wou nie meer haar Bybel lees nie, en het ook nie meer gebid nie. In haar hart het sy 'n besluit geneem dat sy nooit 'n Christen sou word nie, nooit nie!

Van die dag af dat jack weg is, het hulle nooit van hom gehoor nie. Dit het Margaret baie aangetas, en dit het haar hart verhard. 

Een oggend, terwyl Moeder besig was met die bereiding van die middagete, het sy 'n ui nodig gehad, en daar Margaret in die nabyheid was, het ys haar geroep en gesê: "Margaret, ek het nog 'n ui nodig vir hierdie bredie. Sal jy nie asselief vir my een gaan haal nie?"

"Waar is die uit?," het Margeret kil gevra.

"Hulle is in die stoor op die solder," het Moeder geantwoord. "Wees versigtig as jy met die leer opklim. Bring sommer 'n hele paar terwyl jy tot gaan."

Sonder 'n woord, of selfs 'n glimlag is sy daar weg. Dit was baie lank dat sy laas geglimlag het, en sy het net haar kans afgewag om ook weg te loop. Haar plan was om na Jack te gaan soek.

Sy is na die stoor, en het met die leer op die solder geklim; daar het sy die oop uie gesien wat vir die winter gebêre is. Sy het ses van die uie geneem en wou net weer met die leer afklim, toe sy iemand onder hoor loop. Iemand het na die leer toe aangestap gekom. 

Wie sou dit wees? 

Sy het geraai dat dit haar Vader moet wees, en hy was die laaste persoon wat sy op daardie oomblik wou sien. Skielik het daar weer 'n vlaag van woede in haar hart opgewel. Sy wou nie het hom praat of hom selfs sien nie! Maar wat kon sy nou doen?

Daar het 'n ou deur teen die muur op die solder gestaan. Sy het besluit om agter daardie deur te gaan wegkruip, en sy is op haar tone daarheen. Binne 'n paar oomblikke was haar Vader op die solder. 

Sy was vreeslik bang dat hy daar daar sou ontdek. Sy het haar asem opgehou en gehoop dat hy gou sou loop as hy niemand daarbo kry nie. 

Maar hy het nie geloop nie. Margaret het 'n geluid gehoor asof iets saggies op die vloer neerplof, en sy was vreeslik bang. Na so 'n rukkie het sy haar Vader hoor praat. Sy het gewonder of iemand saam met hom op die solder geklim het. 

Nee. Hy was besig om te bid! 

Daar het Margaret geluister na die wonderlikste gebed wat sy nog ooit gehoor het - en sy kon nie daarvoor weghardloop nie. Sy moes bly en elke woord hoor.

Vader het vir sy gesin gebid. Vir elke kind, van die oudste tot die jongste. Vir Margaret ook, en veral vir Jack. Toe hy by Jack se naam kom het hy bitterlik begin huil asof sy hart totaal gebroke was. Hy het God gevra om hom te vergewe omdat hy so kwaad vir Jack was, en hy het God gesmeek om met Sy Gees in Jack se hart te werk en hom weer terug te bring. 

Margaret was totaal verslae. 

Dus het Vader tog vir Jack lief, en wil hy hom baie graag terug he!

En wat meer is, hy het vir haar, Margeret, ook gebid - sy wat so onbeskof teenoor hom was, en so verbitterd van die dag af dat Jack weg is! Sy het geweet dat sy nie so vir haar Vader gebid het nie. 

Skielik het sy gevoel dat sy dit glad nie meer kon uithou nie. Sy moes iets doen of haar hart sou breek. 

Toe Margaret daar agter die deur uitkom, was Vader net besig om sy oë af te vee - hy was nog op sy knieë.

"Vader, ek is baie jammer," het sy gesê terwyl sy haar arms om sy nek slaan en uitbars in trane.

"Ons is almal bitter jammer, Margaret," het hy gesê. En van daardie oomblik af was alles weer reg. Moeder het begin ongeduldig word omdat Margaret so lank wegbly; sy kon nie verstaan waarom sy so lank wegbly nie. Maar toe sy Vader en dogter so liefderyk daar sien aankom, met die spore van trane nog op hulle gesigte, het sy dadelik geraai wat gebeur het; sy het hulle tegemoetgesnel, en skoon vergeet van die bredie. 

En glo dit as julle wil, daardie aand het Jack onverwags tuisgekom. 

)Jack het later self predikant geword, en Margaret ius met 'n predikant getroud.)

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell