Freddie se Swakheid

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Freddie was soos baie seuns en dogters wat ek ken. Wanneer sy Moeder hom 'n werkie gee, het hy altyd iets anders gehad wat hy moes doen. Wanneer Moeder byvoorbeeld sê: "Freddie, kom droog gou vir my die skottelgoed af," dan het hy gekom met 'n teenvoorstel, soos, "Ek sal liewer die tafel afdek."

Of as Moeder miskien sê: "Gaan gou na mevrou Jones en leen vir my 'n half pond botter," het Freddie voorgestel: "Kan ek nie liewer steenkool in die stoof gooi nie."

Hy wou altyd iets anders doen; nooit was sy Moeder hom gevra het nie, en dis iets wat later baie lastig kan word.

Eendag- dit was 'n baie besige dag vir Moeder - het Moeder gesê; "Freddie, dek asseblief vir ons die tafel; ek het die hele dag hard gewerk, en nou voel ek so moeg. Toe, wees 'n soet seun, en dek die tafel."

"Ek wil nie die tafel dek nie," het Freddie gesê; "kan ek nie liewer die hoenders gaan kos gee nie?"  

"Maar ek wil hê dat jy die tafel moet dek," het Moeder beslis gesê. "Die hoenders kan nog wag."

"Ek weet," het Freddie gesê, "maar ek wil liewer die hoenders gaan kos gee."

"Nou ja, gaan gee hulle dan maar kos," het Moeder gesê, want sy was te moeg om nog met hom woorde te wissel."

Freddie is speel-speel daar weg om die hoenders te gaan kos gee. Hy het nog eers sy bal 'n bietjie rondgeskop, en ook met 'n ander seun gesels. Hy was so tydsaam dat dit amper donker was toe hy terugkom. Toe hy inkom, was hy verbaas om te sien dat die tafel nog ongedek was. 

"Gaan ons dan nie vanaand eet nie?" het hy gevra.  Daar was geen antwoord nie. "Moeder!" Moeder!" het hy geroep. Nog was daar geen antwoord nie. 

Hy het na sy Moeder begin soek en geroep: "Moeder! Moeder!" Toe het hy die agterdeur oopgemaak en weer na sy Moeder geroep. Hierdie keer het sy Moeder uit die huis van hulle bure geantwoord: "Is dit jy Freddie?"

"Wanneer kom Moeder?" het hy gevra; "en die tafel is nog nie gedek nie."

"Ek wil nog rukkie met mevrou Jones gesels," het sy Moeder gesê. "Wag jy maar daar, ek sal net-nou terug wees."

Toe is sy Moeder weer terug in mevrou Jones se huis, en sy het die deur toegemaak. 

Die arme Freddie het nou sommer baie mistroostig, en honger ook gevoel; het het eensaam op 'n kombuisstoel gaan sit. "Ek wonder waarom Moeder my aandete vergeet het? het hy homself afgevra. "Sy het dit nog nooit voorheen gedoen nie." 
Toe het hy onthou dat sy hom gevra het om die tafel te dek, en dat hy dit nie gedoen het nie, maar die hoenders gaan kos gee het. "Miskien gaan Moeder my nie vanaand aandete gee nie."

Dit was baie stil daar alleen in die skemerdonker, en 'n paar trane het oor sy wange gerol. Toe het die kombuis deur skielik oopgegaan en Moeder het ingekom. Freddie was nog nooit in sy lewe so bly om sy Moeder te sien nie. 

"Moet ek nou maar die tafel dek?" het hy gevra voor Moeder nog 'n woord kon uitkry. "Ek sal dit baie gou doen." 

"Nou ja goed, dek gou die tafel," het Moeder gesê. "Ek was van plan om jou sonder aandete bed toe te stuur, maar ek dink jy het nou jou les geleer."

Freddie het baie fluks tafel gedek. 

"Ek sal jou sterk aanraai om in die toekoms die werk te doen wat ek jou gee, en om dit dadelik te doen," het Moeder gesê.

"Ek sal," het Freddie gesê; "ek belowe Moeder dit."

Mag Freddie nooit sy belofte vergeet nie!