Drie kleinhondjies

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Hier is nog 'n storie van 'n dogtertjie wat baie lief was vir honde. Om die waarheid te sê, wou hierdie dogtertjie so graag 'n hondjie hê dat sy jare om een gebid het. Ek weet, want sy het my self vertel.

Eendag, jare gelede, h et haar Pappie vir haar 'n gitswart patryshondjie huis toe gebring. Hy het so geblink   en hy was vir haar so mooi, dat sy hom "Beauty" genoem het. Sy het vir haarself gesê "Hier het ek nou 'n antwoord op my gebede." Maar dit was tog nie, want net 'n rukkie later moes haar Pappie trek na 'n woning in 'n groot stad en daar was nie plek vir honde nie, selfs nie vir ' n klein hondjie nie. Arme Dorie, want dit was haar naam, moes toe maar vir Beauty aan 'n ander dogtertjie gee.

Maar Dorie het aangehou bid en etlike maande later het haar Pappie na 'n ander stad verhuis waar daar plek was vir 'n hond. Hulle het skaars in hulle nuwe huis ingetrek toe 'n klein hondjie eendag daar by hulle aankom.
"Nou is my gebede regtig verhoor!" het Dorie uitgeroep en sy het die hondjie Gipsie genoem. Maar nog was dit nie die antwoord op haar gebede nie, want net die volgende dag was Gipsie weg en hy het nooit weer teruggekom nie.

"Sal ek dan nooit 'n hondjie van my eie hê nie?" het Dorie gesê toe sy daardie aand gebid het. "Dis nou al so lank dat ek bid en bid."

Naby hulle nuwe woonplek het daar 'n dame gewoon wat gehoor het van die dogtertjie wat al so lank bid om 'n hondjie, maar wat nog nooit daarin geslaag het om haar hondjie te behou nie. Dit het ook gebeur dat daardie dame meer hondjies gehad het as wat sy wou en toe het sy gedink "Waarom sal ek nie vir daardie ou dogtertjie 'n hondjie gee nie?" En toe het sy haar maar een gegee.

Toe ek Dorie eendag ontmoet het, was sy tog te gelukkig. "My gebede is eindelik verhoor," het sy my vertel.

"Ek is baie bly - en wat is die naam van die hondjie wat jy nou het?" het ek gesê.

"Peper," het sy geantwoord.

Maar dis darem 'n baie snaakse naam vir 'n hond, is dit nie?