Die Verstekeling

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Jare gelede was daar 'n klein stoomboot wat in 'n vreeslike storm beland het in die Atlantiese Oseaan. Vir drie dae is die skip rondgeslinger deur die golwe van die onstuimige see. Die een m as is losgeskeur en die stuur was buite werking.

Teen die einde van die derde dag het die storm vererger. Die lug was byna swart en die arme matrose het skielik besef dat hulle in 'n baie gevaarlike posisie verkeer het. Skielik, terwyl dit gedonder en geblits h et, is daar gerapporteer dat daar 'n gat in die skip was.

Die pompe is dadelik in werking gebring, m aar al gou is daar ontdek dat die water vinniger instroom as wat die pompe dit kon uitpomp.  Die manne het vir 'n hele uur wanhopig gewerk, maar tevergeefs. Toe hulle besef dat dit 'n hopelose taak was en dat die skip sou vergaan, het die kaptein bevel gegee dat hulle die reddingsbootjies moes te water laat.

Tot almal se groot ontsteltenis is daar gevind dat nog net een skuitjie onbeskadig was - die ander was so beskadig dat hulle baie gou gesink het. Daar was dus niks anders om te doen as om die hele bemanning in die een skuitjie te laai nie.

Die matrose het vinnig ingeklim en die skuitjie was stampvol. Daar was nog net 'n plekke oor vir die kaptein wat tot die laaste op die skip gebly het.

Net toe hy oor die kant wou gaan met die touleertjie, is daar 'n geroep gehoor en hy het omgekyk. Toe het hy 'n vreemde jong seun aangehardloop sien kom. Sy gesig was baie vuil en sy klere stukkend. Hy was 'n verstekeling.


Waar hierdie seun weggekruip en hoe hy aan die lewe gebly het sedert die skip uit die hawe vertrek het, het die kaptein nie geweet nie en daar was nie tyd om te vra nie.

"Kom seun, maak gou," het die kaptein geskree terwyl hy opsy gestaan het, "daar is die leer, klim af!"

Dit was nie nodig om die seun te soebat nie, binne 'n oomblik was hy oor die kant van die skip en in die reddingsboot. Hy het die laaste plekke volgemaak.

"Kom!" het die manne vir die kaptein geskree, want al sou sy koms hul eie lewens in gevaar stel, wou hulle hom nie agterlaat nie.

"Trek weg!" het hy vir manne geskree. Hy het goed geweet dat as hy ook nog in daardie skuitjie sou klim, sou dit omkantel en almal sou verdrink.

Die manne het weggetrek en nie een oomblik te gou nie. Hulle was net mooi weg van die skip af toe hy op sy sy in die woeste waters begin sink met die kaptein nog aan boord.

Ná verskriklike ontbering in daardie skuitjie, het 'n ander skip hulle gered sodat hulle uiteindelik almal weer tuis was. Maar nooit het daardie verstekeling die groot opoffering van die kaptein vergeet nie. Daardie heldedaad van die kaptein het die seun se hele lewe verander. Hy het gevoel dat hy die prys wat vir sy lewe betaal is, waardig moet wees. In sy sak het hy altyd die portret van die kaptein gedra en wanneer hy sy verhaal vertel, het hy die portret uitgehaal, na die kaptein gewys en gesê "Hy het sy lewe vir my gegee."

Hierdie verhaal help ons om te verstaan wat Jesus vir elkeen van ons gedoen het. Hy is die Kaptein, ons is die verstekelinge. Ons het glad nie verdien om gered te word en 'n plek te kry in Sy heerlike tuiste nie. Maar Jesus het gesterf om dit moontlik te maak en hoewel dit, baie jare gelede is toe Hy die groot offer vir ons gegee het, geld daardie offer vandag nog vir elke seun en dogter. Net soos daardie verstekeling later van die kaptein se heldedad vertel het, so behoort ons ook maar te bly te wees om aan ander te vertel alles wat Jesus vir ons gedoen het. Ons moet altyd gereed wees om te sê "Hy het vir my gesterf."