Die Tweeling se Fiets

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Hans en Henk het saam 'n seunsfiets besit. Hulle het gewoonlik taamlik goed oor die weg gekom, maar somtyds wou hulle die fiets altwee op dieselfde oomblik hê, wat natuurlik onmoontlik was. Solank as wat hulle gewillig was om die minste te wees, was alles wel; maar wanneer een 'n bietjie selfsugtig geword het en die ander een kwaad, dan was daar moeilikheid. 

Eendag het altwee baie opgewonde die huis ingestorm. 

"Moeder!" het Hans wat eerste binne was, geskreeu. Omdat hulle nie dadelik antwoord gekry het nie, het hulle aangehou "Moeder!" skreeu so hard as wat hulle kon. Eindelik het Moeder verskyn en sy wou weet hoekom hulle so lawaai. 

"Ek wou fiets ry," het Henk gehyg, "en Hans het my gekeer."

"Henk is so vies hy wil nie die fiets inbring nie," het Hans geskreeu. "Hy het dit buite op die sypaadjie laat staan; en hy moet dit gaan haal." 

"Hoekom moet ek dit inbring as hy dit gery het?" het Henk gevra. 

"En hoekom moet ek dit inbring as dit sy beurt is om te ry?" het Hans gevra. 

"Stadig, stadig," het Moeder vermaan. "Wat maak dit tog saak? Gaan haal julle altwee dadelik die fiets. Julle kan dit nie daar buite laat staan nie. Dit sal wegraak." 

"Maar hoekom moet ék dit gaan haal? het Henk gevra. 

"Wel, julle gaan altwee en bring dit dadelik in," het Moeder gebiedend gesê, "en geen verdere praatjies nie."

Baie omgekrap en brom-brom het die tweeling stadig af hekkie toe geloop waar hulle hulle goeie fiets laat staan het. 
Twee minute later was hulle weer by die huis. 

"Moeder, Moeder, Moeder!" 

"Dis weg!"

"Wat is weg?" 

"Ons fiets."

"Dis baie jammer," het Moeder gesê, alhoewel dit nie juis gelyk het of sy baie sleg daaroor gevoel het nie. 

"Maar as julle dit nie daar buite laat staan het terwyl julleg estry het oor wie dit moes inbring nie, sou dit nie nou weg gewees het nie."

"Wat sal ons doen?" het altwee tegelyk gevra. "Ek weet nie," het Moeder geantwoord. "Gaan kyk maar weer of dit nie daar is nie." 

Hulle het hierdie keer mekaar se hand gevat en gaan kyk. Hulle was baie stil. Toe hulle by die hekkie kom, wie anders sou hulle sien as Pappie en hy was besig om op 'n fiets te ry wat ver te klein vir hom was.  Hans en Henk het oopmond na hom gekyk.

"Dis ons fiets!" het hulle gelyk geskreeu.

"Is dit regtig?" het Pappie gevra. "Ek kry dit hier buite en toe dag ek ek gaan so 'n entjie ry - terwyl julle twee so hewig twis." 

"Dis nou my beurt," het Henk gesê toe Pappie afklim, "as jy dit nie wil hê nie, Hans." 

"Toemaar," het Hans gesê, "ek sal wag, Henk."

Dit was voorwaar 'n baie mooi gebaar! Vir die res van die dag het hulle baie lekker gespeel asof daar niks gebeur het nie.