Die Skipbreuk

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

"Help! Ons vergaan!"

Daar ver in die Stille Oseaan het die boot Helen B. Sterliln in 'n vreeslike storm beland. Golwe so groot soos berge het teen hom geslaan. Water het in sy ruim begin instroom en dit was duidelik dat hy nie veel langer meer bo water kon bly nie.

Die kaptein het 'n noodsein oor die radio laat uitstuur. Atemit sou iemand dit opvang. Daar was min hoop, want hulle was honderde myle van die land af en vir sover die kaptein kon vasstel, was daar geen ander skip naby genoeg om die noodsein op te vang nie.

Die storm het vererger en die dapper matrose het besef dat die einde naby was. Die radio-operateur het aangehou die noodsein uitstuur.

Baie myle daarvandaan was die Australiese slagskip Melbourne op weg na sy tuishawe. Meteens het sy radio die noodsein van die Helen B. Sterling opgevang. Onmiddellik het hy van koers verander en in die rigting van die sinkende skip gevaar. Ure het verbygegaan. Intussen het die Helen B. Sterling wat deur die kwaai golwe geteister is, staid begin sink. Sou die Melbourne betyds kom? Dit het byna onmoontlik gelyk.

Die kaptein van die sinkende skip het eindelik die volgende boodskap uitgestuur: "Ons kan nie nog 'n uur uithou nie. Die ruim is vol water, die golwe slaan bo-oor ons. Ons is besig om die reddingsbote te laat sak, maar niemand sal in  hierdie see kan leef nie. Vaarwel!"

Van die kaptein van die Melbourne het die bemoedigende boodskap gekom: "Hou moed! Ons sal betyds kom." Die kaptein van die Melbourne het sy woord gehou. Net voor die Helen B. Sterling gesink het, het die groot slagskip daar aangekom en die bemanning van die Sterling veilig afgehaal.

Soms is seuns en dogters net soos die Sterling. Miskien ken julle sulke mense. Hulle wil doen wat reg is en hulle worstel teen die dinge wat verkeerd is. Maar die storms van versoeking kom en dit is ontmoontlik om hulle te weerstaan. As dit gebeur, is daar net een ding om te doen en dit is om die noodsein uit te stuur: "Ek vergaan! Kan nie nog 'n uur langer uithou nie!"

Jesus sal die noodgeroep hoor. Van ver af kan Hy ons gedagtes lees (Ps. 139:2) Hy sal dadelik antwoord: "Ek sa betyds kom. Hou moed!"

Dit is nie nodig om te "beswyk" of aan die kwaad toe te gee nie. Jesus sal red. Maar maak seker dat julle betyds tot Hom roep om hulp.