Die seun wat graag krieket gespeel het

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Ek ken 'n seun wat graag krieket gespeel het. Krieket is die nasionale spel van Australië maar word ook in Suid-Afrika en Engeland gespeel.

Dit het lank geduur voordat die seun goed kon speel. O ja, hy kon taamlik goed kolf en hy kon ook 'n bietjie boul. Maar hy kon nie leer om uit te wees nie.

"Wel," hoor ek julle sê, "dis seker die maklikste ding om te leer."

Maar dit is nie - ten minste dit was nie vir die seun waarvan ek julle nou gaan vertel nie. Solank as hy daar voor die penne kon baljaar met die kolf, was hy so opgeruimd en vriendelik as 'n mens maar 'n seun wil sien, maar sodra die bal sy paaltjies laat klap het, het hy in 'n vurige klein duiweltjie verander. Hy het altyd geskree dat hy nie regtig uit is nie en dat hulle hom kul. Soms het hy die kolf neergegooi en weggestap asof hy 'n hele bottel kasterolie uitgedrink het. Natuurlik is dit nie die manier om uit te wees nie, maar dit het lank geduur voordat Jan dit geleer het.

Wel, een aand het die hele gesin buite op die grasperk krieket gespeel. Jan - dit is natuurlik nie sy regte naam nie - het daarin geslaag om almal te oorreed om te kom krieket speel - Pappie, Mammie, sy broers en susters en selfs die buurkinders. Hy het dit terdeë geniet. Eerlank het sy beurt om te kolf, aangebrieek. Sus was die bouler.

Die eerste bal het hy pragtig na die wegkant gedryf. "Was dit nie 'n pragtige dryfhou daardie nie, Pappie?"

Pappie het ten volle saamgesten en Sus het die tweede bal afgesuur.   Jan het nie kop of stert van daardie bal geweet nie en toe hy omdraai, was sy paaltjies plat.

"Uit!" het die hele klomp veldwerkers geskree.

"Ek is nie uit nie," het Jan geskree en daar het sommer trane in sy oë gekom. "Ek is nie uit nie, ek sal nié uit wees nie. Die bal het te vinnig gekom - Sus het te hard geboul!"

Natuurlik het almal geskater van die lag en dit het Jan net slegter laat voel.

"Gee die kolf vir Piet," het Pappie gesê.

Piet het nader gestap om die kolf oor te neem, maar Jan wou nie die kolf gee nie.

"Ek is nie uit nie, ek is nie uit nie!" het Jan huilend geskree.

"Maar jy is Jan en jy moet die kolf nou vir Piet gee. Dit dit nou mooi vir Piet," het Pa gesê.

En toe het daar 'n eienaardige ding gebeur. Jan het sy paaltjies uit die grond gepluk en met die kolf onder sy arm net so vinnig as hy kon, laat spat. Dit het so snaaks gelyk dat niemand juis vir hom kon kwaad voel nie.

"Ek sal met hom afreken," het Pappie gesê terwyl hy agter Jan aan koersvat.

"Wat makeer Jan?" het Pappie gevra toe Jan die kolf, bal en paaltjies op die garagevloer neergooi.

"Nie een sal nou speel nie," het Jan kwaai gesê.

"Reg genoeg, hulle behoort aan jou en jy kan met hulle maak soos jy wil, maar jy onthou seker die reël dat as jy saans klaar gespeel het, jy bed toe moet gaan, né?"

"Ek wil nie gaan slaap nie," het Jan brom-brom gesê.

"O, maar klein seuntjies wat te moeg is om krieket te speel, is veels te moeg om nie in die bed te wees nie. Gaan nou dadelik kamer toe!"

Brom-brom het Jan toe maar kamer toe gegaan. Nadat hy klaar gebrom het, het Pappie ook kamer toe gegaan.

"Slaap jy al, Jan?"

"Nee."

"Onthou jy nog daardie rolband wat ons by die mallemeule gesien het? Hoe die karretjies die een bult op en die ander af gegaan het?"

"Ja, Pappie."

"Verskeie kere op en verskeie kere af?"

"Ja, baiemaal."

"Wel Jan, die lewe is ook so. Miskien nog net meer op en af."

"H'm".

"En krieket is ook so, Jan. Baie op en baie af en gewoonlik gebeur dit wanneer ons dit nie verwag nie."

"H'm." Dit het gelyk of Jan onder die komberse wegraak.

"En ons moet leer om onder alle omstandighede opgeruimd te wees."

"Ek is baie vaak," het 'n klein stemmetjie gesê.

"Wel, my seun, slaap lekker en moenie vergeet wat ek jou vertel het nie!"

"Nee, Pappa."

Jan het nie vergeet nie en die volgende keer het hulle baie lekker krieket gespeel.


Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete