Die Seun wat altyd die beste was

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Albert het 'n baie snaakse idee in sy koppie gehad. Vir hom was alles wat hy gedoen of gesê het altyd 'die beste.'

Toe hy nog baie klein was, het hy eendag aan sy Moeder gesê: "Dink Moeder nie dat my tande sterker is as enige ander seun s'n nie?" Eendag het hy weer gesê: "Ek kan vinniger eet as enige ander seun, kan ek nie Moeder?" 

Toe hy ouer was het hy gesê: "Ek kan vinniger ry met my fiets as enige ander seun - ja, baie vinniger, nie waar nie, Moeder?"

Hy was seker dat niemand sulke mooi huise soos hy met sy blokkies kon bou nie. Eendag het hy gesê dat hy seker was, en dit het almal laat lag. Dit was natuurlik alles baie snaaks, maar Albert se Moeder het glad nie van hierdie swakheid van hom gehou nie. Dit was glad nie mooi om te hoor hoedat iemand homself die heeldag prys nie; en hoe gouer dat seuns en dogters dit weet, hoe beter sal dit vir hulle wees. So het Albert se Moeder altans gedink, en sy het gewonder hoe sy vir Albert kon help om daardie slegte gewoonte af te leer. 

Eendag het sy vir Albert gesê dat sy 'n partytjie gaan gee spesiaal vir hom, en dat sy twee of drie seuns gaan noooi wat hy nog nooit gesien het nie. Albert was baie in sy skik met die idee, en hy het gretig uitgesien na die partytjie. 

"Moeder," het hy gesê, "ek is seker dat my partytjie die beste gaan wees wat iemand nog ooit gehad het."

"Ek dink dit sal," het Moeder gesê.

Eindelik het die groot dag aangebreek, en drie van die opgeruimdste seuns wat Albert nog ooit gesien het, het by die huis opgedaag. Hulle was so vriendelik dat Albert gewens het dat hulle sommer daar kon bly om altyd met hom te speel. Moeder het hulle laat speel en laat resies hardloop, en daar was 'n vreeslike lawaai in die tuin. Na 'n tydjie het Moeder gemerk dat daar 'n vreemde uitdrukking op Albert se gesig was, asof hy nie tevrede was met die verloop van sake nie.

Maar sy het niks gesê nie. Eindelik het sy hulle laat resies hardloop. Hulle moes na die groot appelboom hardloop en weer terug. Albert het alles uitgehaal wat hy het, maar hy het laaste gekom. 

Toe het die seuns met hulle fietse resies gejaag, en weer het Albert laaste gekom. In sommige van die resies het Albert tweede of derde gekom, maar hy was nooit eerste nie. Later het hulle binnenshuis gespeel, en een van die seuns, Jerry, het so 'n mooi kasteel met Albert se blokkies gebou dat selfs Albert moes erken dat dit die mooiste was. 
Toe dit etenstyd was, het Albert besluit dat hy sou opmaak vir alles wat hy verloor het deur so vinnig koek te eet dat sy Moeder hom moes waarsku dat hy moontlik kan verstik. Eindelik is die besoekers weg, en Moeder het aan Albert gevra hoe hy die partytjie geniet het. "Dit was nie te sleg nie," het hy gesê.

"Jy het vir my nie heeltemal gelukkig gelyk nie," het sy gesê.

"Hoe weet Moeder dit?" het Albert gevra. "Ek kon dit in jou gesig sien," het Moeder gesê, "en ek dink ek weet wat geskeel het."

"Daar het niks geskeel nie," het Albert gesê.

"O, daar het," het Moeder gesê: "Jy het glad nie daarvan gehou om te sien hoe daardie seuns jou wen, en dinge beter kan doen as jy nie."

Albert het doodstil gebly, en Moeder het geweet dat sy die spyker op die kop geslaan het. 

"Die enigste tyd toe jy daardie seuns gewen het, was toe jy die koek so vinnig geëet het, en dit was regtig nie 'n mooi ding om te doen nie, weet jy?"

Albert het vreeslik gebloos, en vir 'n rukkie het Moeder niks gesê ne.

"Weet jy, Albert, niemand kan altyd die beste in alles wees nie. Jy kan nie, en ek kan nie. En dit sou ook nie goed wees vir ons nie. As ons altyd eerste wil wees in alles, sal ons nooit gelukkig wees nie, want daar sal altyd ander mense wees wat ons sal wen. 

Ons mag natuurlik die beste wees in sommige dinge, maar ons moet gewillig wees om toe te gee dat ander in sommige dinge beter as ons is. Sien jy wat ek bedoel?"

Albert het iets gesê, maar Moeder kon nie mooi hoor of dit ja of nee was nie; maar van daardie dag af het Albert nie meer so baie geroem nie.