Die paadjie skoonmaak

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Die Paadjie van die voordeur tot by die hekkie het baie lelik gelyk. Grassies en onkruid het oral deur die gruis gegroei. Iemand wat daar verbystap, kon maklik dink dat daar nie mense in die huis woon nie.

Maar hy sou verkeerd gewees het. Daar was mense in die huis, maar die mense het baie meer daarvan gehou om te speel as om die onkruid uit te trek.

Eendag het Pappie besluit dat dit darem nou te erg is en dat hy moes optree. "Vanmiddag," het hy gesê, terwyl al vier kinders aan tafel gesit en eet het, "gaan ons almal die voorste paadjie skoonmaak. Dit is 'n skande soos dit daar lyk."

Toe hy dit sê, was dit asof al die koppe skielilk begin hang het.

"Dit sal die hele agtermiddag neem" het Gerrie gesê.

"Ek sal nie kan help nie," het Flip gesêm "want ek moet gaan rugby speel."

"En ek sal ook nie kan help nie, want ek moet my vriendin, Esther, agtermiddag gaan besoek," het Rina gesê.

"Ek hou nie daarvan om onkruid uit te trek nie," het Ronnie, die jongste, gesê.

"Maar ons gaan agtermiddag hierdie paadjie skoonmaak," het Pappie beslis gesê. "Ek is nou net al moeg vir jul verskonings. Ons moet mos almal help om voor ons voordeur skoon te hou."

"Hoekom laat Pappie nie 'n sementpaadjie maak nie?" het Gerrie gevra.

"Of teer dit," stel Flip voor.

"Ek sou dit graag wil doen, as julle sal betaal. Dit sal omtrent R100 kos."

"Allawêreld, ek sal nie R100 vir 'n paadjie btaal nie," het Flip gesê.

"Daarom gaan ons almal die een wat ons het, skoonmaak," het Pappie gesê.

"Ag, ek haat dit om onkruid uit te trek," het ronnie weer gesê.

"Ek ook," het Gerrie bygevoeg, "en as ons eers begin, sal dit ons ure neem. Miskien nog die hele week!"

"Maar jy het nou net gesê dit is net een middag se werk," het Pappie hom herinner.

"Ek was verkeerd, Pappie, ek moes 'n maand gesê het," antwoord Gerrie.

"Hoe langer ons hier sit, hoe langer dink ons sal dit duur. Ek dink dat as ons saamstaan ons dit binne ' n uur en 'n half sal kan klaalmaak," sê Pappie.

"Ek dink nie so nie," het Flip gestry.

"Ek ook nie," het Ronnie bygevoeg.

"Wel ons gaan probeer," het Pappie gesê. "Ek het 'n plan en ek dink dit gaan werk. Ek gaan die paadjie in vyf dele verdeel - een vir elkeen van ons. Ronnie s'n sal kleiner wees as ons s'n, want hy is baie kleiner as ons. Dan gaan ek twee pryse uitloof. Die eerste prys - tien sent - sal gaan na die een wat eerste sy deel mooi skoongemaak het, en die tweede prys - vyf sent - vir die een wat eerste sy emmer vol onkruid uitgetrek het. Vir elke bykomende emmervol betaal ek 'n verdere vyf sent. Nou wat dink julle daarvan?"

"Dis nie 'n slegte plan nie," het Gerrie gesê.

"Wanneer begin ons?" het Flip gevra.

"Ek gaan sommer nou dadelik aan myne begin," het Ronnie gesê en in 'n kits was hy by die deur uit.

"Dis nie regverdig nie," het Rina gesê, "ons moet almal gelyk begin.

"Toe Pappie, kkom merk gou vir ons die paadjie af," het Flip geesdriftig gesê. "Ek wil die eerste prys hê."

"Ek kom," het Pappie geantwoord. "Oor vyf minute kan ons begin. Kry julle solank elkeen 'n skerp mes of stok om die onkruid mee uit te haal."

"Hoera," het almal geskree terwyl Pappie die paadjie solank verdeel.

"Nou moet julle almal mooi na hierdie horlosie kyk," het Pappie gesê toe hy weer inkom. "Dit is nou twee minute voor drie. Ons begin almal om drie-uur. Ons hou nie op voor die werk klaar is nie en dan sal ons hier kom kyk hoe lank dit ons geneem het. Is julle almal gereed? Een, twee, drie - weg is ons!"

Nie 'n enkele minuut is verspeel nie en die grassies en onkruid het vinnig in die emmers beland.

Nie een het 'n woord gepraat nie, hoewel 'n steun so nou en dan verraai het dat 'n grassie taamlik vasgesit het. Vyf minute, tien minute, 'n kwartier, het verbygegaan. Toe kondig 'n luide geskree van Flip aan dat sy emmer tot oorlopens toe vol is.

"'n Vyf vir die volgende vol emmer!" het Pappie uitgeroep.

Die onkruid het vinnig minder geword en Gerrie het die volgende prys gewen, terwyl Rina die derde prys gewen het.

Alhoewel hulle almal te besig was om dit op te merk, het die paadjie vinnig skoner geword. 'n Uur en vyftien minute het verbygegaan.

"Klaar!" het Ronnie geskree.

Die ander het verbaas omgekyk. Die klein knapie het dit regtig gedoen. Op sy deel van die paadjie was daar nie 'n enkele grassie te sien nie.

"Pragtig, Kleinman!" het Gerrie geskree, "ek is nie ver agter jou nie."

Hy was nie. Vyf minute later was hy ook klaar. Toe Rina en toe Flip. Nog voor half-vyf was hulle almal terug by die horlosie.

"Kyk bietjie daar," het Pappie gesê terwyl hy sy vuil vingers 'n bietjie vryf "Het ek nie iemand hoor sê dat dit 'n maand sal duur nie?"

"Wat van die pryse," het Flip gevra.

"Ek het hulle," het Pappie gesê "Dit wys ons net weer eens wat gedoen kan word as almal hand bysit," het hy bygevoeg toe hy aan elkeen sy prys oorhandig.

(LW: Toe dié storie geskryf is, was 10c en 5c baie geld - veral vir 'n kind.)

Slaaptyd stories
Deel DRIE

deur Arthur S. Maxwell

"A 

Om die dam Perderoete