Die ou huis word reggemaak

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Gerrald was net klaar met sy lys nuwejaarsbesluite. 

Hy kon nie eintlik sê waarom hy so 'n lys opgetrek het nie; miskien het hy dit gedoen net omdat die seun langsaan so 'n lys opgetrek het. Almal maak mos maar so.  Terwyl Gerald die lys betrag het, het hy begin wonder hoe lank hy by sommige van daardie besluite sou bly.

Hy het byvoorbeeld eerste op sy lys gehad: "Ek besluit dat ek altyd vroeg smorens sal opstaan."

Tweede het gestaan: "Ek besluit dat ek sal ophou om my sussie te terg."

"Hierdie een sal seker nie eens tot vanmiddag hou nie."

Die derde besluit het gelui: "Ek besluit dat ek Moeder elke dag met die werkies sal help, sonder 'n gesanik."

"Dis 'n goeie besluit, maar dit sal seker nie lank hou nie." Die volgende besluit het gelui: "Ek besluit om geen boek of blad te lees wat my Moeder afkeur nie." Gerald was nie so seker omtrent hierdie besluit nie, want hy het skielik gedink aan die "comics" wat hy in sy laai weggesteek het. 

Toe het daar gevolg: "Ek bsluit dat ek nooit weer 'n slegte woord sal sê nie."

"Maar wat die -", het Gerald uitgeroep, dog voor hy die woord gesê het, het hy hom bedwing, en hy het die sin voltooi deur te sê, "waarom het ek nou so 'n besluit neergeskryf?"

Op daardie oomblik het Moeder ingekom, en toe sy hoor waarmee Gerald besig was, het sy gevra of sy die lys kon sien. Moeder het geglimlag en gesê dat sy bly was dat hy besluit het om 'n nuwe begin te maak en van plan was om 'n soet seun te wees. 

"Maar ek wonder hoe lank dit sal hou," het sy met 'n glimlag gesê. Gerald het erken dat dit moontlik nie lank sou duur nie, "maar dit was darem interessant om die lys op te trek," het hy goedig gesê. "Al die seuns hier in die buurt het sulke lyste gemaak."

"Wel, dis seker 'n goeie plan om nuwe besluite te neem," het Moeder gesê, "maar ek het nooit groot geloof daarin gehad nie."

"Hoekom nie?" wou Gerald weet.

"Wel," het Moeder gesê, " net omdat mense nooit by daardie besluite bly nie. Vir my is dit soos 'n bouvallige ou huis wat 'n mens so hier en daar regmaak." 

"n Huis regmaak?" het Gerald laggend gevra. "Hoekom sê Moeder dit?" Wat het dit te doen met nuwejaarsbesluite?"

"Wel, ek sal jou 'n storie moet vertel om te verduidelik wat ek bedoel."

"Vertel die storie," het Gerald gesê want hy was baie lief vir stories. 

Toe het Moeder begin: "Baie lank gelede was daar 'n gesin in die ooste van die Verenigde State, wat besluit het om na die weste te trek soos so baie mense destyds gedoen het. Hulle het al hulle goed op hulle tentwa gelaai en in die pad geval. Nadat hulle 'n paar honderd myl gereis het, het hulle besluit om nie verder te gaan nie, en hulle het vir hulle daar 'n huis gebou. Maar die oudste seun was nie tevrede nie, hy wou nog verder gaan, en hy het ook. Hy het vir weke geloop, en eindelik het hy 'n plek gekry waarvan hy gehou het. Die grond was vrugbaar, en daar was baie water. Hy het daar vir hom 'n huisie aanmekaar getimmer en begin boer."

"Jare het verbygegaan. Ander mense het daar ingetrek. Eindelik was daar 'n klein dorpie wat later tot 'n stad gegroei het."

"Maar daardie seun - hy was nou al 'n bejaarde man, het bly woon in sy oorspronklike ou huisie. Hy was geheg daaraan. Laat die ander mense vir hulle mooi huise bou as hulle dit verkies, maar ek gaan in my ou huisie bly," het hy gesê. Maar die mense wou daardie lelike ou pondokkie nie daar hê nie, want dit het die hele buurt bederf. Hulle het geprobeer om dit van die man te koop, maar hy wou dit nie verkoop nie. 

"Eendag het daar twee deftige boere by sy huisie kom aanklop. Die man het hulle binnegenooi en gevra wat hulle wou hê."

"Ons het jou huis kom koop," het hulle gesê. 

"Nee, ek wil nie verkoop nie," het die ou man gesê. "Ek woon al vir baie jare hier, en ek wil hier bly totdat ek doodgaan."

"Maar ons is gewillig om jou 'n groot prys te betaal. Ons sal jou 100,000 dollars gee vir jou huis."

So baie geld het die ou man nog nooit gesien nie. Hy het gevoel dat hy nooit weer so 'n kans sou kry  nie, en hy het besluit om te verkoop.

"Die twee here het gesê dat hulle binnekort weer sou terug wees met die geld en die nodige dokumente vir ondertekening. 

"Toe hulle daar weg is, het die ou man se gewete hom begin kwel. Hy het vir homself gesê dat dit nie reg was om so baie geld te vra vir so 'n bouvallige ou plekkie nie. Dis nie eens  'n duisend dollars werd nie. Die voordeur het skeef gehang, en die vensters was stukkend. 

"Hy het toe gedink: "Wel, ek sal darem die huis 'n bietjie opknap," en hy het aan die werk gespring. 

"Eindelik was die twee manne weer terug, die koop is finaal deurgesit, en hulle het die geld betaal. Toe het die ou man gesê: "Ek hoop dat julle darem gemerk het dat ek die plek 'n bietjie reggemaak het vandag julle laas hier was."

"Wat het jy daaraan gedoen?" het hulle gevra. Jy moes jou  nie oor die huis bekommer het nie. Ons gaan dit dadelik sloop en 'n pragtige huis hier bou."

"Dit het hulle ook gedoen," het Moeder haar storie afgesluit, "en so gaan dit ook met ons mooi besluite."

"Ek kan nog nie verstaan wat Moeder bedoel nie," het Gerald gesê.

"Ek weet jy verstaan nog nie," het Moeder gesê, "maar die saak staan so: "Ons probeer altyd om alles wat verkeerd is in die lewe reg te dokter deur te sê 'ek besluit dit, en ek besluit dat,' maar dit help niks. Sien jy, Grald, die Here het die hele eiendom gekoop - dit wil sê: die hele mens - en Hy wil die ou huis afbreek en 'n pragtige nuwe huis bou. Al wat ons moet doen, is om Hom te vra om besit te neem van ons hart. Dan sal Hy ons hele lewe verander. Hy sal ons begeertes verander sodat ons nie verkeerde dinge sal doen en verkeerde woorde sal spreek nie. Ons sal nie lawwe ou 'comics' in ons laai wegsteek sodat Moeder nie kan sien nie."

"Verskoon my asseblief, Moeder," het hy skielik gesê; "daar is iets wat ek moet doen."

Vir 'n oomblik het Moeder nie geweet wat Gerald so skielik moes doen nie. Sy het geluister, en toe het sy gehoor hoe hy 'n laai ooptrek, iets uithaal en in die snippermandjie gooi. Die nuwe huis word alreeds gebou, het sy gedink!