Die leë Posbus

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Die kinders was vreeslik opgewonde! Basil en Vera se oom het hulle genooi om 'n maand by hom te kom vakansie hou op die plaas, en Moeder het gesê dat hulle maar kon gaan!

Hou sou vir 'n maand bly.

Vir 'n hele maand! 

Daar was 'n baie groot doenigheid om klaar te maak vir die heerlike vakansie. Hulle het planne gemaak, klere ingepak, en heerlike drome gedroom. Eindelik het die dag aangebreek, en Oom het hulle self kom haal. Hulle het die motor vol gelaai van koffers, reistasse en sulke goed. 

Toe het die groetery gekom.

Basil en Vera het nie daaraan gedink nie. Dit was heerlik om weg te gaan, maar dit was glad nie lekker om afskeid te neem en Moeder so alleen agter te laat nie. Daar was 'n knop in Basil se keel toe hy moes groet, en Vera moes net trane afvee. 

"Julle moenie vergeet om gereeld te skryf nie." het Moeder gesê, en daar was ook trane in haar oë, alhoewel sy geprobeer het om gelukkig te lyk. "Ons sal sekerlik skryf," het Basil uitgeroep, "ons sal nie vergeet nie."

"Ons sal elke dag skryf," het Vera plegtig belowe. En toe is hulle daar weg. 

Twee dae later het daar 'n poskaart gekom om te sê dat hulle 'n lekker rit gehad en veilig aangekom het. Dit was al. 

Elke more en elke aand het Moeder na die posbus gegaan, hopende dat daar 'n brief mag wees, of selfs 'n poskaart, maar daar was niks. Moeder het haar baie bekommer oor die kinders; miskien is hulle siek, of dalk was daar 'n ongeluk. Sy kon skaars glo dat hulle moontlik vergeet het om te skryf. 

Om die waarheid te sê het hulle skandelik vergeet! Hulle het die lewe op die plaas so geniet dat hulle nooit gedink het aan skryf nie. Hulle was die hele tyd aan die gang, en Basil en Vera het eenvoudig nie tyd gekry om te skryf nie. Daar was so baie ander kinders in die buurt, en so baie speletjies dat hulle nooit aan Moeder gedink het nie.

"Moeder sal nie omgee nie," het Basil eendag gesê toe Vera gesê het dat dit hoog tyd was om te skryf. "Moeder weet dat alles goed gaan; ons hoef ons glad nie te bekommer nie. En daar is ook nie tyd nie, want ons moet nog klaarmaak vir die partytjie." 

Altyd wanneer hulle 'n brief van Moeder ontvang het, het hulle gesê: "Ons sal more skryf." Maar 'more' het nooit gekom nie. Dit gaan dikwels so. Hulle was te besig. So het die maand verbygegaan. 

Intussen het Moeder tweemaal elke dag - elke more en elke aand - na die posbus daar by die hekkie gestap. Die bus het leeg gebly, en haar hart was so swaar soos lood. "So," het sy gesê, "dan het hulle so gou vergeet! Hulle gee nie genoeg om om te skryf nie."

Sy het haar so bekommer dat sy eindelik siek was, en die dokter moes kom. Die dokter het sommer geraai wat geskort het, en omdat hy die kinders so goed geken het, het hy self aan hulle geskryf. 

Basil en Vera was verslae. Moeder siek! Dit was te vreeslik!

Hulle het besluit om dadelik te skryff, en was dit nie 'n mooi brief nie! Hulle het dit saam opgestel, en hulle het Moeder vertel hoe lief hulle haar het, en dat hulle ondraaglik baie na haar verlang. Toe Moeder dus weer een oggend oggend na die posbus gaan, was daar 'n lang brief van die kinders. Dit het haar sommer beter laat voel. 

As Basil en Vera maar net eerder geskryf het sou hulle al daardie verdriet kon verhoed het! Hulle sou hulle Moeder baie gelukkig gemaak het. Kan dit wees dat iemand mieskien wag op 'n brief van een van julle? Hoor ek iemand sê ja?

Moet dan nie langer uitstel nie; skryf dadelik! 

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell