Die Laaste blad aan die boom

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

"Kom Francis,, kom laat ons na die eetkamer gaan om 'n bietjie te speel," het Freda aan  haar maat gesê. Dit was Freda se verjaarsdag en sy het die seun wat 'n rukkie tevore langs hulle kom woon h et, genooi om saam met haar te kom eet.

"Laat ons liewer in die kombuis speel," het Francis voorgestel, "ons moenie in die eetkamer speel nie."

"Maar hoekom nie?"

"Omdat die ou tannie daar is, en....."

"Die ou tannie!" het Freda uitgeroep, "maar dis dan my ouma."

"Ek is jammer, maar sal sy nie kwaad wees as ons daar raas nie?"

"Nee glad nie, jy ken nog nie vir ouma nie, sy wil graag hê dat ons met speel waar sy is. Kom maar."

Hulle is toe eetkamer toe waar Freda vir Francis aan haar ouma voorgestel het. Ouma het hulle so vriendelik gegroet dat al sy vrees verdwyn het.

"Ouma sal seker nie omgee as ons hier speel nie, sal Ouma?" het Freda gevra.

"O nee, glad nie, ek sien julle graag speel, dit laat my ook sommer weer jonk voel."

Met Mammie se hulp was die kinders gou besig om te speel. Hulle het blindemannetjie, soek die vingerhoed en ander kinderspeletjies gespeel. Ouma het ook sover as sy kon, hartlik deelgeneem, die lawaai het haar glad nie gesteur nie, ook nie toe Freda, as blindeman, vir Francis rondom haar stoel gejaag het nie.

Eindelik was die kinders moeg en toe het hulle langs Ouma by die vuur kom sit. 

"Ouma, vertel vir ons 'n storie," het Freda gesoebat, "Ouma kan sulke lekker stories vertel."

"'n Storie? Wel, wat sal ek tog vertel?"

"Vertel vir ons van die dae toe Ouma nog 'n dogtertjie was," het Freda gesê, want sy het nooit moeg geword van Ouma se vertellings van haar jongdae nie.

"Dis baie, baie lank gelede," het Ouma gesê, "maar ek onthou nog sommige van die dinge wat ek gedoen het toe ek jonk was. Ek het jou al baie daarvan vertel, maar daar is een ding waaraan ek spesiaal vanaand gedink het toe julle kinders hier ingekom het."

"Vertel ons dan daarvan," het Freda gretig gesê.

"Ek is bevrees dit is nie 'n ware storie nie en dit is 'n bietjie treurig."

"Soveel te beter," het Freda geantwoord terwyl sy reggeskuif het om nou regtig lekker te sit en luister. "Ek hou vreeslik van treurige stories."

"Nou dan sal ek julle vertel. Terwyl ek vanmiddag hier gesit het, het ek begin dink aan al die kindertjies wat ek geken het toe ek nog 'n dogtertjie was en ook aan my eie broers en susters."

"Het u broers en susters gehad?" het Francis gevra.

"O ja, en ons het mekaar baie liefgehad. Ons het 'n liewer Moeder gehad en ons was 'n baie gelukkige gesin. Ons het saam skoolgegaan - soos die skole in daardie dae was - en ons het graag gespeel en rondgehardloop net soos julle. Maar die tye was baie swaar in daardie dae, ons het nie al die geriewe gehad wat mense deesdae het nie, maar ons het darem die lewe baie geniet."

Ouma het stilgebly en 'n bietjie gesug toe sy terugdink aan daardie dae wat vir altyd verby was. Toe het sy voortgegaan.

"Die jare het vinnig verbygegaan, maar namate h ulle verbygegaan het, het ek gesien hoe al die kinders - seuns en dogters - wat saam met my op skool was, groot geword en ontwikkel het in manne en vroue. Ek het die huwelike van baie van hulle bygewoon en later het hulle self mammies en pappies geword. Ek het hulle kinders gesien en met hulle gespeel. Maar die jare het verbygegaan en hulle het die een na die ander ontslaap. Net soos die herfsblare afval van die bome, het hulle ook stadigaan afgeval en nou waar ek hier sit, het ek gedink dat van daardie hele groep ou skoolmaats, is ek die enigste een wat oorgebly het - ek alleen. En dit laat my dink aan 'n gediggie wat ek een maal gehoor het. Dit het gegaan oor die laaste herfsblad aan die ou tak van 'n boom, wat daar vingeralleen sit, nes of dit nie wil loes nie."

Ouma het weer stilgebly, die kinders was ook doodstil en daar was trane in Freda se oë.

"Ouma, moenie eensaam voel nie," het sy liefdevol gesê.

"O nee," het Ouma dapper gesê, "ek voel glad nie eensaam nie. En dit is juis waarom ek so bly is dat julle hier by my kom speel het. Jy sal iemand ooit alleen laat voel nie."

Op daardie oomblik is daar aan die deur geklop. Dit was iemand wat kom sê dat dit tyd was vir Francis om  huis toe te kom. Toe hulle so deur die gang loop, het Francis in Freda se oor gefluister: "Ek is so bly dat ons nie in die kombuis gebly het om te speel nie, en jy?"

"Ja, ek ook. Is Ouma nie liefies nie? Dit sou vreeslik wees om haar te laat voel dat sy in die pad is."

"Ja," het Francis gesê, "ek wil haar graag weer kom besoek as jy nie omgee nie."

Miskien is daar ander ou mense, hier en daar, wat ook voel dat hulle soos die laaste herfsblaar aan die boom is en wat vreeslik verlang na die liefde en medelye van ander - veral van kinders.