Die Klein Prinses

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Maggie! Maggie! Dit is Moeder wat roep - sy het haar dogtertjie geroep vir die middagete. 

Maar daar was geen antwoord nie.

"Maggie! Maggie!" het Moeder weer geroep. Nog was daar geen antwoord nie.

"Dis snaaks," het Moeder vir haarself gesê. "Ek wonder waar sy is? Ek sal moet gaan kyk."

Moeder het gaan soek, en eindelik het sy Maggie agter die afdak in die tuin gevind. Sy was besig om haar popwaentjie heen-en-weer te stoot, en sy het geprobeer om baie belangrik te lyk. 

"Maggie, het jy my nie hoor roep nie?" het Moeder stroef gevra. 

"Ek glo nie ek het nie," het Maggie geantwoord onderwyl sy maar nog heen-en-weer stap. "Ek mag gehoor het, maar sien Moeder-"

"Maar jy moet verstaan dat wanneer ek jou vir ete roep, moet jy dadelik kom."

"O", het Maggie met die grootste erns gesê, "ek is 'n prinses."

''n Prinses!" het Moeder gesê terwl sy hard geprobeer het om nie te lag nie. En van wanneer af?"

"Van netnou af."

"Nou goed my klein prinses, maar sorg dat jy kom eet wanneer Moeder roep." 

"Ek kan nie kom nie," het Maggie nog net so ernstig gesê, want, sien Moeder, prinsesse maak net soos hulle wil."

"Maak hulle?" het Moeder uitgeroep. "Wel, ek glo nie herdie een gaan maak soos sy wil nie. Kom nou dadelik; jy kan na ete weer gaan speel."

Maggie het nou besef dat dit baie raadsaam sal wees om dadelik te gaan eet, want dinge kan miskien verkeerd loop.

Ongelukkig was die ete nie na Maggie se sin nie, en sy het besluit dat sy geen kos wil hê nie. 

"Maggie, eet jou kos," het Moeder gesê. "Jy sal jouself net siek maak as jy nie eet nie. Jy het dan altyd jou boontjies en ertappels en kool so smaaklik geëet."

"Maar ek het nie vandag lus daarvoor nie," het Maggie gesê, onderwyl sy haar bord kos wegstoot soos watter groot dame. 

Moeder het strak na haar gekyk.

"Wel, wat makeer nou?" het sy gevra. 

Maggie het geantwoord: "Ek is 'n prinses, en as ek my kos nie wil hê nie, hoef ek dit nie te eet nie."

"Is jy gesond?" het Moeder gevra.

"Ja, ek is heeltemal gesond, dankie," het Maggie uit die hoogte geantwoord, sodat moeder nie kon help om te lag nie. 

"Maar, Maggie, waar kom jy aan hierdie verspotte idee? Wie het jou vertel dat jy 'n prinses is?"

"O, dis 'n geheim."

"Ek weet, maar jy sal tog seker vir Moeder vertel, sal jy nie?" 

"Sal Moeder belowe om dit aan niemand te vertel nie?"

"Ja, ek belowe."

"Wel, die dogtertjie langsaan het my vertel. Sy sê dat my naam Maggie is, en dat dit 'n verkorting van Margaret is, en dat Margaret 'n prinses is. Dus is ek ook 'n prinses, en ek hoef bevele van niemand te neem nie. Ek kan eet wat ek wil, en sê wat ek wil, en -"

"Maggie, dit is 'n belaglike idee wat jy in jou kop het. Dink jy nou regtig dat prinsesse maar kan maak net soos hulle wil."

"Kan hulle dan nie?" het Maggie weer baie ernstig gevra. "Dit is wat daardie dogtertjie my vertel het."

"Maar wat weet sy daarvan?" het Moeder gesê. "Baie meer nog as ander dogtertjies moet prinsesse versigtig wees wat hulle doen - veral as hulle nog klein is. Toe prinses Margaret so oud soos jy was, moes sy haar stip hou aan die program wat vir haar opgestel was. Sy moes byvoorbeeld elke oggend om sewe-uur uit die bed wees-"

"En het sy dadelik opgestaan?"

"Natuurlik het sy," het Moeder gesê. "Daarna het sy gaan eet, toe 'n bietjie gaan wandel, en toe met haar lesse begin."

"Moet prinsesse dan ook skoolgaan?"

"Hulle moet baie hard leer," het Moeder geantwoord. "Alhoewel Prinses Margaret nie na 'n gewone skool gegaan het nie, het sy 'n spesiale onderwyeres gehad wat haar geleer het. Die hele oggend moes sy skoolgaan, en om eenuur moes sy haar middagete geniet. Dit was haar nie geoorloof om te sê dat sy nie van die voedsel hou nie. In die namiddag het sy weer gaan wandel, en daarna was dit weer lesse tot vieruur. na die aandete het sy vroeg bed toe gegaan."

"Dus kon sy nie maak net wat sy wil nie," het Maggie half teleurgestel gesê

"Nee, glad nie," het Moeder gesê. "Dit sou nie vir haar goed gewees het nie. Jy sien, die koning en die koningin wou hê dat sy as deftige, goedgemanierde dame moes groot word; as sy stout en ongepoets was, sou sy so groot geword het en dan sou niemand van haar gehou het nie."

Toe was daar 'n rukkie stilte. 

"Moeder," het maggie eindelik gesê, "is Moeder heeltemal seker? Moet alle prinsesse baie soet wees?"

"O, ja," het Moeder gesê

Ek dink dat ek dan maar sommer 'n gewone dogtertjie wil wees," het Maggie peinsend gesê.
 
Slaaptyd stories
Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell