Die Kinders van die Vuurtoring

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Baie ver hiervandaan het 'n vuurtoring op 'n rotsagtige strand gestaan. Elke nag het sy lig oor die donker, gevaarlike waters geskyn. Stadig het die lig gedraai, helder, dof, helder, dof, om gedurig te waarsku teen die rotse. Skepe wat verbyvaar, het veilig na die hawe toe geseil. Wanneer die kapteins die lig sien, het hulle geweet dat alles reg is.

Winter en somer het die lig geskyn. Deur lang, kalm, sterverligte nagte, deur wind en storm, het die lig nooit doodgegaan nie. Hoe donkerder dit was, hoe helderder het dit geskyn; hoe vreesliker die storm, hoe blyer was die kapteins om die lig te sien. In daardie verre, eensame vuurtoring het 'n man, sy vrou, en twee kinders, Henry en Jane, gewoon. Dit was 'n stil en eentonige lewe vir hulle. Hulle huis was die lang vuurtoring. Die lig bokant hulle was die middelpunt van hulle lewe. Hulle was daar met die een doel om die lig aan die brand te hou. 

Een aand, terwyl dit skemer geword het, het Vader met die steil, nou trappies opgeklim, soos hy al so baie maal tevore gedoen het, om die lig aan te steek. Na 'n paar minute het hy teruggekom, bleek en siek. 

"Ek is siek," het hy gesê en in 'n stoel neergeval. Moeder het baie besorgd na hom toe gehardloop want dit was vir haar duidelik dat hy sterwend was. Op die oomblik was alles deurmekaar, en die kinders het daar gestaan, bekommerd en verskrik. Nadat hulle Vader in die bed gehelp het, het Henry gepraat. 

"Moeder," het hy gesê, "wat van die lig?"

"Gaan kyk," het sy gesê, "ek kan nie nou nie."

Dus het Henry en Jane die vertrek baie stil verlaat en met die koue, donker trappe opgeklim. Die nag het gedaal. 'n Storm het opgesteek! Donker wolke het voor die maan verbygevlieg. Onder het geweldige golwe teen die rotse geslaan, en die skuim het soos slange gesis as dit in die wilde see terugval. 

Die lig het gebrand, maar daar was iets verkeerd. Oor die see was dit donker en die groot ligstraal van die vuurtoring het oor die land geskyn. "Jane!" het Henry geskreeu, "die toring draai nie. Die skepe sal nooit die lig sien nie. Wat gaan ons doen?"

"Kan jy die masjien aan die gang kry?" het Jane gevra. 

"Ek sal probeer," het Henry gesê.
Henry het dikwels gesien hoe sy pa dit doen en hy dink toe hy sal dit ook regkry. Maar hy het gou uitgevind dat daar 'n ernstige fout was; iets het verkeerd gegaan met die masjien. Dit was stukkend en hy kon dit nie regmaak nie. 

"Wat gaan ons doen?

"Daar is nog net die handewiel," het Henry gesê. "Maar jy kan dit nie alleen draai nie." 

"Nee, maar ons kan dit saam draai," het Henry gesê. "Onthou, Jane ons is die kinders van die lig."

"Ek sal jou help," het Jane geantwoord. 

Hulle het die groot handwiel gegryp, en hulle het dit begin draai. Die toring het beweeg, en hulle was baie bly. Die skepe sou tog die lig sien. Uur na uur het hulle voortgewerk. Geen nag het nog ooit so lank gelyk nie. Hulle hande was naderhand seer en vol blase. Hulle arms het moeg geword. Minute het soos ure gelyk, en ure soos jare. Hulle was so moeg dat hulle later bgin huil het. Buitekant het die storm losgebars en dit het om hulle gedreun. Onder, het Vader op sterwe gelê en Moeder het gehuil waar sy by hom gewaak het. Maar tog het hierdie kinders van die lig aangehou draai, draai, draai. Verskriklik moeg en hartseer het hulle aangehou draai totdat 'n dowwe, grys lig in die ooste aan hulle gesê het dat hulle taak agter die rug was. 

Kapteins het daardie nag die lig gesien en God gedank daarvoor. Tog het hulle nooit kon droom wat daar in die vuurtoring plaasgevind het en van die heldedaad van die twee jong kinders wat getrou op hulle pos gebly het nie. 

En net soos Henry en Jane die lig deur die lang, donker nag aan die brand gehou het, so wil die Here hê dat elke kind van Hom die lig Sy liefde moet laat skyn in 'n donker, houe wêreld. Hoe donkerder dit om ons is, hoe helderder moet ons lig wees. Hoe erger die storm, hoe beter moet dit brand. 

Nog hartseer nog vermoeienis moet toegelaat word om dit uit te doof. Daar gaan baie skepe verby wat na ons kyk vi rtroos en leiding en vriendelikheid. Dus moet ons as kinders van die lig, dit brandend hou deur die nag.