Die Kat voorsien die geld

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Dit is 'n ware verhaal omtrent twee seuns en 'n kat. Dit het jare gelede gebeur in die stad Bath, Engeland. Die seuns en hulle Moeder en suster het van Wallis gekom om evangeliedienste by te woon in 'n groot tent in die stad.

Die gesin was arm en geld was baie skaars. Omdat hulle nie baie vakansies kon bekostig nie, het hulle gevoel dat hierdie reis na Bath iets besonders was en  hulle het alles baie geniet.

Een donderdagmôre het Moeder die seuns geroep en hulle meegedeel dat hulle dit nie kan bekostig om langer te bly nie en dat hulle moes klaarmaak om die volgende dag te vertrek. 

Bertie en Willie was baie teleurgestel en  hulle kon nie verstaan waarom hulle moes vertrek terwyl die ander mense gebly  het nie. Hulle het gereken dat dit nie regverdig was nie en hulle het Mammie gesoebat om hulle te laat bly. Maar sy het hulle weer laat verstaan dat die geld op was en dat hulle sal moet huis toe gaan.

"Maar kan ons Jesus nie vra om ons die geld te stuur nie?" het die seuns gevra. "Hy het baie geld en Hy wil tog seker hê dat ons al die dienste moet bywoon."

"Julle kan Hom vra," het Mammie gesê en die volgende môre - die môre wat hulle sou vertrek - het hulle neergekniel en Jesus gevra om hulle een pond te stuur sodat hulle vir die naweek kon bly.

Toe is hulle van die losieshuis na die groot tent, gelowende dat Jesus hulle gebed sal verhoor. Hulle het aan niemand gesê dat hulle daardie dag miskien sou vertrek nie en hulle het ook niemand gegroet nie.

Naderhand was dit namiddag. Die kinderdiens was verby en die seuns was op weg terug na die losieshuis. Daar het nog geen geld opgedaag nie en dit het gelyk of hulle tog maar sou moes huis toe gaan.

Om by die losieshuis te kom, moes die seuns deur die stad gaan van Beechen Cliffs af tot by Walcot. Gewoonlik het hulle met die laer-Walcotweg gegaan, maar hierdie keer het hulle in Paragonweg ingedraai - waar 'n aantal groot huise in 'n halfmaan gestaan het.

In daardie dae was daar 'n staanplek vir kebkarre by die hoek van Paragonweg en die kinders het graag daar gespeel. Terwyl hulle ook daar gespeel het, het Bertie, wat tien jaar oud was, skielik na sy broer geroep.

"Willie, kom kyk hier!" het hy gesê onderwyl hy na 'n kennisgewing in die venster van 'n dokter se huis gewys het, net oorkant die kebstaanplek.

Willie het daarheen gehardloop en saam het hulle die kennisgewing gelees:  VERLOOR  Duur Persiese Kat. Enigeen wat die kat aan  hierdie adres terugbesorg, sal 1 pond beloning ontvang.

Die seuns was vreeslik opgewonde. Dink net daaraan! Een pond-beloning. Dit was juis die bedrag wat hulle Jesus gevra het om hulle te stuur. Hulle kon sommer die geld al in hul sakke voel. Nou sal hulle mos kan aanbly! En sal Mammie nie bly wees nie! Die enigste moeilik nou, was om die kat te vind.

"Ons moet daardie kat kry," het Willie gesê.

"Ons sal hom kry," het Bertie gesê.
Maar waar sou hulle soek? Die stad was groot en hy kon ver gedwaal het - en hulle het nie meer veel tyd gehad nie, want binne 'n uur of twee sal hulle moet vertrek.

Terwyl hulle geloop het, was die kat gedurig in hul gedagtes. Die een oomblik het dit vir hulle onmoontlik gelyk en die volgende het hulle die kat in hul verbeelding in hulle arms gehad.

Hulle het nie te ver geloop toe hulle iets gehoor het nie. Hulle het dadelik vasgesteek en doodstil gestaan, vreeslik opgewonde.

"Miaau! Miaau!"

Willie het na Bertie gekyk...en Bertie na Willie. Kan dit wees - kan dit moontlik wees?

Hulle het in die rigting van die geskreeu geloop en daar het hulle 'n kat gekry. Dit was 'n pragtige Persiese kat en hy het so groot gelyk dat die seuns bang was om aan hom te vat.

"Dit moet die dokter se kat wees!" het hulle albei tegelyk uitgeroep. Maar hoe sou hulle hom tuis kry?

"Bly jy hier en hou hom dop," het Bertie gesê, "dan sal ek gou na die dokter se huis hardloop."

Die dokter se huis was nie te ver nie en binne ' n paar minute was Bertie terug met die dokter se kneg. Ja! dit was die dokter se kat.

Vreeslik bly is die seuns hulle Ma om haar te vertel hoe Jesus hul gebed verhoor en dat hulle nie daardie aand sal moet huis toe gaan nie.

Die volgende dag het hulle die dokter besoek, hy het hulle dadelik die beloning gegee en hulle bedank omdat hulle sy kat gevind het. Moeder het die plan om huis toe te gaan, laat vaar en hulle het gebly totdat die dienste afgesluit is.

Is dit nie wonderlik wat Jesus sal doen om kinders se gebede te beantwoord nie?

En dit is ook geen wonder dat beide Willie en Bertie vandag sendelinge in Afrika is nie!