Die hand wat gehelp het

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)


Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Mev. Groenewald het daardie nag vir die twintigste keer na die horlosie gekyk.

"Halftwaalf, en so 'n storm buite! Waar kan my seun tog wees? Ek hoop nie hy is in die moeilikheid nie. Hy word tog so wild en ongehoorsaam deesdae."

Baie bekommerd het sy by die kombuistafel gekniel en met haar hande om die Bybel gevou, het sy die Here gevra om haar liewe Lewies te beskerm, hom veilig huis toe te bring en sy hart te verander.

Eindelik, lank ná middernag, was daar geluide op die werf. Skynbaar het Lewis gekom en hy was nou besig om sy fiets weg te sit.

'n Paar minute later het hy ingekom. Hy het baie bleek en moeg gelyk.

"Hallo Mamma," het hy gesê, "nog nie gaan slaap nie? Ek gaan sommer dadelik inkruip. 'n Bietjie moeg."

"Dis baie laat," h et Mammie gesê. "Het iets gebeur, Lewies?"

"Ek sal Mammie môre-oggend daarvan vertel," het hy geantwoord en kamer toe gegaan.

Mammie, taamlik bekommerd, het gevolg. "Lewies, wat het gebeur?"

"Wel," het hy gesê, "Adriaan en ek het 'n snaakse ondervinding gehad omtrent 'n uur gelede. Ons was besig om deur die storm huis toe te ry, toe ons skielik voel dat ons baie vinnig afdraend gaan. Dit was stikdonker en omdat ons nie ligte aan ons fietse het nie, was dit baie moeilik om te sien waar ons ry. Skielik het ek 'n hand op my skouer gevoel wat my trek. Ek het gedink dis Adriaan en na hom geroep. Hy skree toe vir my dat hy ook 'n hand op sy skouer gevoel het en weer gedink dis myne. Ons hou toe stil en klim van ons fietse af, wonderende wat dit beteken. Adriaan sê toe dat hy tot onder in die leegte toe gaan loop en ek het ook besluit om maar my fiets te stoot. Toe ons daar kom, kry ons 'n hoop klippe oor die pad. As ons daarin vasgery het, was ons altwee seker vannag dood."

"Dankie Here," het Mammie gesug en sy het Lewies se hare gestreel. "Ek is so bly Hy het vir jou gesorg."

"Maar Mamma, hoe kan die Here iets daarmee te doen hê?"

"Lewies, hoe lat was dit toe jy die hand op jou skouer gevoel het?"

"Seker so 'n uur gelede. Ja, dit was omtrent halftwaalf."

"Ek was toe besig om vir jou te bid. Daarom is ek seker dat die Here iets daarmee te doen gehad het. Hy het 'n engel gestuur om jou vannag te beskerm, Lewies."

"Dink Mamma so?" het Lewies gevra.

"Ek is seker Hy het," het Mammie geantwoord, "want Hy wil hê jy moet jou hart aan Hom gee. Ek hoop jy sal eendag." Hierop het sy Ma hom gesoen en gaan slaap.

Toe Lewies alleen was,  het hy oor alles gelê en dink. Dit was of hy nog daardie hand op sy skouer voel. Was Mammie tog reg? As sy was, dan was hy 'n baie ondankbare seun, nie so nie? Moes hy nie ten minste die Here dankie sê vir Sy beskerming nie? Hy was oortuig dat hy moes. Daarom het hy weer opgestaan en by sy bed gekniel in gebed - die eerste maal vir 'n geruime tyd.

Mamma, wat geluister het, het die beweging gehoor.

Daardie nag was die keerpunt in Lewies se lewe. Daar langs sy bed het hy sy hart aan die Here gegee en van toe af was hy 'n ander seun....danksy sy Mammie se  volgehoue gebede.

 
"E