Die Geheimsinnige Posorder

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Dit was drie dae voor Kersfees en die vooruitsigte vir die Vensters was alles behalwe rooskleurig. Lang siektes het al die spaargeldjies opgeëet en op daardie oomblik was daar nie 'n krummeltjie brood in die huis nie. Hulle het nooit iemand van hulle moeilikhede vertel nie, en hulle wou dit nou ook nie doen nie, maar dinge het bra donker gelyk.

Klein Miemie het daardie môre skool toe gegaan sonder ontbyt. In die middag het sy verskriklik honger huis toe gekom, maar daar was nog niks om te eet nie. Sy het Moeder in trane gevind, want Vader het pas tuisgekom van nog 'n lang soektog na werk, heeltemal mismoedig, en sy voete het gebloei. 

"Moeder," het Miemie gesê terwyl sy na haar toe loop, "ek glo nie Jesus wil hê ons moet van honger doodgaan nie." Moeder het haar trane afgevee. "Ek glo nie Hy sal ons laat doodgaan nie," het sy gesê, "maar ek wens Hy wil iets vir ons doen."

Terwyl sy gepraat het, was dit of sy weer moed skep. Sy het na die ou klavier wat hulle nog besit het, toe geloop en die bekende ou lied begin speel: "Die Here sal voorsien."

"Kom ons bid nog eenmaal," het sy gesê. "Ek kan nie glo dat Jesus ons sal vergeet nie."

Dus het hulle al drie in gebed gekniel en die liewe Here gevra om uitkoms in hul donker nood. Terwyl Moeder van haar knieë af opgestaan het, het sy skielik gesê, "Ek glo ons sal binne tien minute 'n brief gaan kry met 'n posorder in."
"Ek hoop jou geloof word nie beskaam nie, Vroutjie," het Vader gesê. "Ons het dit nodig."

"Miemie," het Moeder gesê, "gaan wag vir die pos by die hekkie. Dit sal nou hier wees. Daar is 'n brief met 'n posorder in."

Miemie het gelag en buitentoe gehardloop om die posbode te gaan ontmoet. "Het jy 'n brief vir my?" het sy hoopvol gevra. "Wel, ek het een vir jou Moeder," het hy geantwoord, terwyl hy dit aan haar oorhandig. Miemie het daarmee teruggehardloop. 

"Maak dit gou oop!" Moeder het dit gedoen, en jou waarlik waar daar val 'n posorder vir ses sjielings uit! "Wat het ek julle gesê?" het sy glimlaggend gevra. "Nou kan ons iets koop om te eet. Die Here voorsien tog, né? Al is dit brood en botter."

Eienaardig genoeg, net die volgende dag het 'n man aan die voordeur geklop en gevra of Pappie gewillig is om drie dae te kom werk. Natuurlik was hy maar te bly.  Toe val ander werkplek oop en die Vensters het van daardie dag af tot nou toe nog nooit weer gebrek gely nie. Daardie Kersfees was een van die gelukkigste in hulle lewens, alhoewel daar nie baie kos in die spens was nie. 

Jy sal nooit vir Miemie of vir haar ouers vertel dat Jesus nie Sy kinders help in tyd van nood nie. Hulle weet Hy help!