Die geheimsinnige Perderuiter

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)
Wie van julle is so gelukkig om 'n Ouma te hê? Wel, die van julle wat Ouma's het, moet tog julle Ouma vra om julle te vertel wat alles met haar gebeur het toe sy nog 'n dogtertjie was. Ek is seker dat julle baie interessante stories sal hoor.

Ouma McAlpine kon baie interessante verhale uit haar kinderjare vertel. Al was sy al byna tagtig jaar oud, kon sy nog alles baie goed onthou, en hoe graag het die kinders na haar stories geluister! Een aand was Frank en Bessie by haar huis, en dit was ook nie te lank nie of hulle het by Ouma geneul om vir hulle 'n storie te vertel. 

"Toe, Ouma, asseblief, vertel ons net een storie," het Bessie gesoebat.

"Ja, toe Ouma, asseblief; vertel ons net een storie," het Bessie gesoebat. 

"Ja, toe Ouma," het Frank ook gesoebat. "Onthou Ouma dat Ouma belowe het om ons te vertel van die geheimsinnige perderuiter?"

Daar was 'n glimlag op Ouma se gesig.

"Nou, goed, kinders," het Ouma gesê, "sit nou mooi stil, en dan sal ek julle vertel."

Frank en Bessie het so teenaan Ouma gaan sit as wat hulle maar kon, en hulle was die ene aandag, want hulle het geweet dat hulle iets baie interessants gaan hoor. "In Oktober maand sal dit presies vyf-en-sewentig jaar gelede wees dat ek 'n klein dogtertjie van vyf jaar was, maar ek sien alles nog asof dit gister gebeur het.

"Maar om my storie te begin, moet ek nog verder teruggaan," het Ouma gesê. "Omtrent honderd jaar voor daardie tyd het my grootvader Engeland verlaat om hom in Amerika te gaan vestig. Hulle het in Nieu-Engeland begin boer, en toe die kinders groot was, het hulle hulle eie huishoudings begin. My Vader is in een van daardie gesinne gebore. Toe hy nog 'n jong man was, het hy gehoor hoe die mense vertel van die wonders van die Weste.

"Daar ver, war die son ondergaan, het hulle gesê, was daar myle en myle van bosse waarin die grootste bome wat mense nog ooit gesien het, groei. En die grond was vreeslik vrugbaar - daar was alles wat 'n mens se hart kan begeer.

"My Vader het baie belangstellend na hierdie stories geluister, en hy wou ook daarheen gaan. Hy het die saak met my Moeder bespreek, en eindelik het hulle definitief besluit om na die Weste te trek. "In daardie dae was daar nog nie treine nie, en ook nie paaie nie. Dit het 'n reis van drieduisend myl beteken oor groot grasvlaktes, deur bosse, en oor berge. Al hulle goed was gelaai op 'n tentwaentjie, getrek deur twee osse."

"Vertel ons van die tentwa," het Bessie gesê.

"Wag 'n bietjie," het Ouma gesê, "ons het nog nie by die regtige storie gekom nie. Die meeste van die waens was gemaak van sterk planke; en hulle was lank en skraal sodat hulle ook as skuite kon gebruik word om oor riviere te kom. 

"Gewoonlik het 'n hele paar gesinne saamgereis, vir geselskap en vir beskerming teen die Rooihuide wat maar altyd gereed was om die trekkers aan te val. Hulle het die Blankes beskou as indringers wat hulle grond kom afneem."

"Het Ouma in een van dardie tentwaens gery? het Bessie gevra, en haar oë was groot van verwagting. 

"O ja," het Ouma gesê, "ek het." Soos ek gesê het was ek vyf jaar oud toe die trek begin het; ek kan alles nou nog so helder sien."

"Hoe lank het dit geneem, Ouma?" het Frank gevra. 

"Dit het ons langer as ses maande geneem," het Ouma gesê. "Ons het ons huis in April verlaat, sodra die sneeu gesmelt het, en dit was al Oktober toe ons die berg Hood in Oregon in die weste die eerste maal gesien het. Daar was agt waens in ons trek; dag na dag het ons maar stadig aangery net so vinnig as wat die osse kon voortgaan; en dit was baie warm.

"Sommige dae was dit verskriklik warm, en ons het almal baie dors geword. Ek dink dat die osse die hitte meer gevoel het as ons, want hulle moes nog die swaargelaaide wa trek. Eendag het ons vir myle en myle gery sonder water. Skielik het die osse gaan staan, en hulle wou nie 'n tree verder nie. Vader het hulle uitgespan, en toe hy die juk afgooi, het hulle begin draf. Hulle het die water vir meer as 'n myl ver geruik."

"Het Oupa hulle weer gevang?" het Frank gevra. "O, ja," het Ouma gesê. "Ons het hulle maklik weer gevang; hulle was maar net dors. En toe het ons verder gery."

"Maar daardie geheimsinnige perderuiter," het Bessie gevra; wanneer het hy gekom."

"Moenie so haastig wees nie," het Ouma gesê "ons sal nog by hom kom. Daar het nog eers ander dinge gebeur. Waar ons so dag na dag, week na week, en maand na maand voortgery het, het die osse naderhand uitgeput geraak, en hulle pote was baie seer. Vader kon hulle nie te veel laat rus nie, want ons het geweet dat ons oor die berge moes wees voor die kapok begin val, anders sou dit vir ons noodlottig wees, en boonop was ons voedsel byna gedaan. Ons moes elke dag baie min eet, want Vader het gesê dat as ons vertraag word, mag ons van honger omkom.

"Die osse het al swakker geword, en Vader het meer bekommerd gelyk. Maar ons het steeds weswaarts gery, en eindelik het ons teen die Cascade-berge uitgeklim. Dit was vir my 'n raaisel hoe mense daar kon uitkom, want dit was vreeslik rotsagtig en daar was geen pad nie. Baiemaal was dit so amper of die wa het omgeval. Maar ons het voortgegaan, altyd hoër. Die osse se tonge het uitgehang, en Vader het agter die wa help stoot. 

"Eindelik  was ons bo-op die berg, en daar in die verte kon ons die berg Hood sien, met sy sneeubedekte piek. Ons het geweet dat daar nog 'n lang ent was om te ry, en tog het ons gevoel dat die reis byna oor was. 

"En toe, een oggend, is een os dood. Daardie berg was vir hom te veel. Daar het ons gesit met net een os. Vader was ten einde raad. Hy het met ander mense van die geselskap gepraat, en alhoewel hulle baie jammer vir hom was, kon hulle niks doen nie. Ook hulle osse was uitgeput, en hulle voedsel was byna op. Hulle het gevoel dat hulle sonder ons sal moet voortgaan, en hulle het.

"Ons het vreeslik neerslagtig gevoel toe ons die laaste wa sien verdwyn teen die steil berghelling af. En daar het ons gesit, bo-op die Cascade-berge, maar net een os, en met voedsel genoeg vir omtrent drie dae."

"Dit het begin donker word, en dit was baie koud. Vader was bevrees dat dit mag kapok, en wat sou dan van ons word. Ons het vuurgemaak en iets berei om te eet. Ek het gaan slaap, en Vader en Moeder het gesit en praat oor die verknorsing waarin ons was."

Eindelik het Vader aan Moeder gesê: "Maar die goeie God wat ons sover op die reis gebring het, en bewaar het in so baie gevare, sal ons tog seker nie nou verlaat nie. Kom laat ons ernstig tot die Here bid om uitkoms te stuur." Toe het hulle twee daar gekniel in die donker in die koue en die Here vertel wat gebeur het, en hulle het gesê dat hulle hulle nou op Hom verlaat om redding te bring. Daarna het hulle gaan lê en probeer om te slaap.

"Stadig het die nag verbygegaan. Die sterretjies het helder in die lug geskitter. Eindelik was dit middernag, toe tweeuur, toe drie-uur. Net omtrent dagbreek het Vader hom verbeel dat hy iets hoor. Hy het geluister.

"Daar kom iemand aan, dis die geklap van perdepote wat ek hoor."

"Sou dit Rooihuide wees?" het Moeder gefluister.

"Ek weet nie," het Vader gesê, maar sy stem was heeltemal bedaard. "Ons moet opstaan en kyk."

"Hulle het langs die wa gaan staan en luister, en die geklap het al nader gekom.

"Skielik het iemand in die donker geroep: "Haai julle daar!"

"Wie is dit?" het Vader geroep. 

"'n Vriend," het die stem gesê. 

"In die skemerte het Vader 'n man te perd gesien, en hy het 'n handperd by hom gehad. Vader het dadelik na die vreemdeling gestap. 

"Is jy in die moeilikheid?" het die geheimsinnige ruiter gevra. 

"Ja, ons is," het Vader geantwoord; "ons is in groot moeilikheid. Een van my osse is dood, en hier sit ons met feitelik geen kos nie." 

Toe het die vreemdeling sy verhaal vertel. "Omtrent tweeuur vanoggend het ek skielik wakker geskrik,en dit was of 'n stem vir my sê: "Daar is iemand in die moeilikheid op die berg; gaan help hom." Ek het dadelik opgestaan en my twee perde opgesaal en vertrek. Ek was vasbeslote om aan te hou ry totdat ek die man vind. Wat kan ek vir jou doen?

"Die geheimsinnige perderuiter het ons na sy huis geneem en kos gegee. Ook het hy ons 'n os geleen sodat ons ons reis in veiligheid kon voltooi."

"Wat was die naam van daardie geheimsinnige perderuiter?" het Frank gevra. 

"Hy het ons nooit sy naam vertel nie," het Ouma gesê. "Hy het gesê dat ons hom maar die kolonel moes noem, en so het ons hom altyd genoem. 

"Maar hoe het hy die boodskap gekry dat Ouma in die moeilikheid was?" het Bessie gevra. 

"Wel, dis die wonderlikste deel van die verhaal, want in daardie dae was geen telefoon of telegraaf geriewe nie. Al wat Vader kon doen was om God van sy verknorsing te vertel, en Hy het die hulp gestuur. 

"In al die dae van my lewe het ek nog nooit daardie vreeslike nag op die berge vergeet toe God die geheimsinnige perderuiter gestuur het om ons te red nie. En, kinders, julle moet onthou dat die grote God wat ons liefhet, nooit Sy kinders vergeet nie. "

"God is vir ons 'n toevlug en 'n sterkte; as hulp in die benoudhede is Hy in hoë mate beproef."

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell