Die "Ek-weet-dit" Dogtertjie

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Een

deur Arthur S. Maxwell

Ek weet nie of julle haar ook ken  of nie. Muiskien ken julle haar, so nie, dan ken julle seker iemand net soos sy. Hierdie dogtertjie wat ek geken het, het gedink dat sy omtrent álles weet en sy was maar net agt jaar oud. Wanneer haar Pappie vir haar iets vertel het, was haar antwoord gewoonlik "Ek weet dit". Of as Mammie vir haar iets nuuts gewys het, byvoorbeeld in 'n winkelvenster, het sy altyd gesê "O, ek het dit al tevore gesien."  Sy wou eenvoudig nie erken dat daar iets was wat sy nie geweet het nie. Dit was heeltemal onmoontlik om haar met iets te verras.

Wanneer haar Mammie haar na die winkel geneem en vir haar 'n nuwe sambreel gekoop het vir haar verjaarsdag - en haar gevra het of sy daarvan hou - was dit haar antwoord: "Wel, ek het in elk geval verwag dat ek 'n sambreel sou kry."

Natuurlik wou niemand graag so 'n dogtertjie uitneem nie. Wanneer daar mense na  hul huis gekom het om die kinders na 'n partytjie te nooi, het hulle gewoonlik gesê "Ons wil hierdie keer hê dat net die seuns moet kom." Hulle was te welopgevoed om te sê wat hulle van daardie dogtertjie gedink het, maar haar Pappie het geweet wat geskeel het.

Eendag was daar groot opwinding in die huis van Juffrou "Ek-Weet-Dit". Pappie het gesê dat hy net vir haar alleen Londen toe gaan neem. En was sy nie in haar skik nie! Om te dink dat sy die enigste een was wat sou gaan!

In die trein op weg, het hierdie dogtertjie se Pappie probeer om die reis vir haar interessant te maak. In stede dat hy sy koerant gelees het, het hy na plekke gewys waarvan meeste ander dogtertjies graag iets sou wou geweet het.

"Ek weet dit," het sy elke keer gesê, ek onthou dat ek dit voorheen gesien het."

Eindelik het Pappie daarvoor moeg geword en toe maar nie weer probeer nie.

"Veronderstel dat jy my sou verloor in Londen, wat sal jy maak?"

"Ek sal huis toe gaan," het die juffroutjie gesê asof dit haar glad nie sou ontstel nie.

"Maar  hoe?"

"Wel, ek sal na die stasie toe loop en dan op die trein klim."

"Hoe sy sal jy die pad na die stasie ken?"

"O, dis maklik - ek....eee...ek ken dit."

Sowat 'n uur later was hulle op Trafalgarplein waat hulle gestaan en kyk het na die standbeeld van Nelson wat daar so koud en alleen op die hoë pilaar gestaan het. Daar was 'n skare van mense wat heen-en-weer gegaan het, maar die dogtertjie het hulle nie eens gesien nie. Sy het te veel belang gestel in die brons leeus en die man daar bo op die pilaar. Sy wou nie erken dat dit iets nuuts vir haar was nie en eindelilk het sy haar omgedraai om Pappie tog daaroor uit te vra.

"Waarom," wou sy weet, "staan daardie man, wat net een arm het, daar bo op die paal?"

Sy het stilgebly en rondgekyk. Maarwaar haar Pappie gestaan het, was nou niemand nie.

"Pappie!"

Daar was geen antwoord nie.

"Pap-pie-iiiiiii!"

Nog was daar geen antwoord nie. Pappie was weg en sy was heeltemal alleen.

Nou het sy begin dink oor wat sy gesê het toe haar Pappie gevra het oor die pad huis toe. Sy het na die honderde mense gekyk wat daar by haar verbygestroom het in alle rigtings, sy het die hoë geboue gesien en die baie busse en motors wat verbygevlieg het en eindelik het sy begin besef dat sy nie die pad huis toe geken het nie. Daar was honderde busse en hoe sou sy weet watter een om te neem huis toe? Sy het nie eens die naam van die stasie geken waarheen sy moes gaan nie.

Toe het sy begin huil. Vir 'n tydjie het dit gelyk of niemand van haar enige notisie neem nie. Al die mense het baie haastig gelyk. Ná 'n rukkie het 'n groot, fris konstabel oor die straat na haar toe aangekom. Hy het gebuk en haar vriendelik gevra wat geskort het.

"Ek is verdwaal," het sy huilend gesê.

"Verdwaal! Dis snaaks, met wie was jy saam?" het die groot polisieman gevra.

"My Pappie en hy is nou weg."

"Waarheen is hy?"
"Ek weet nie. Boe-hoe-hoe!"

"Wel, dan sal jy maar saam met m y moet kom."

"Nee, ek wil nie na die polisiestasie toe gaan nie! Boe-hoe-hoe!"

"Ek kan jou seker nie hier laat staan nie, jy sal moet saamkom. Maar ons sal jou Pappie opspoor, daarvan kan jy seker wees."

Hulle het nie te ver geloop nie toe sy 'n bekende stem hoor roep daar van agter af: "Girlie!"

"O, ek is so bly dat Pappie gekom het! ek het gedink dat ek heeltemal verdwaal het."

Sommer daar op Trafalgarplein het Pappie haar teen hom vasgedruk.

"Sien jy kind, ek wou maar net sien of jy regtig die pad huis toe ken soos jy gesê het en ek het 'n rukkie vir jou weggekruip."

Van daardie tyd af, wanneer daardie dogtertjie in die versoeking gekom het om te sê "Ek weet dit", het sy dadelik gedink aan die groot polisieman en Trafalgarplein - en dan het sy haar bedwing.  'n Goeie les vir haar beterweterigheid!