Die boek wat nie wou brand nie

(Vind die Audio Weergawe onderaan die blad)

Bettie het haar Pappie baie liefgehad. En sy het gevoel dat haar Pappie, alhoewel sy nog sewe boeties en sussies het, haar die liefste gehad het,  van hulle almal. Moontlik het sy so gevoel omdat sy die oudste was.

Pappie was 'n predikant, en onder sy kosbaarste besittings was 'n Bybel wat 'n vriend hom jare gelede present gegee het. Hy het altyd daardie Bybel by die kerk en by die huisgodsdiens gebruik. 

Eendag, toe Bettie en haar Pappie alleen in die studeerkamer was, het hy ewe ernstig aan haar gesê: "Bettie nie een van ons weet wat in die toekoms mag gebeur nie, maar as daar iets verkeerdloop-as-e-e-daar iets met my gebeur-"

"Moenie so praat nie, Pappie", het Bettie hom in die rede geval: "daar sal niks met Pappie gebeur nie."

"Nee, ek hoop nie so nie," het Pappie met 'n glimlag gesê, "maar as daar iets met my gebeur, dan moet jy my Bybel vir jou vat as jou eie."

"Baie dankie, Pappie," ek sal dit my hele lewe lank op prys stel."

Van daardie dag af het Bettie spesiale belang gestel in die Bybel, al het haar Pappie dit nog gebruik soos in die verlede. Met tye het sy na die studeerkamer gegaan en die Bybel sorgvuldig afgestof, en ook so bietjie daarin gelees. Sy het gevoel dat dit alreeds haar boek was, en dat dit altyd vir haar 'n aandenking van haar Pappie sal wees.

Nie lank daarna nie het haar Pappie siek geword. Die maande het verbygegaan en sy toestand het vererger. Eendag, nadat hy almal gegroet het, het hy heengegaan.

Bettie was verskriklik hartseer, en haar enigste troos was die gedagte dat Pappie sy Bybel - sy kosbaarste besitting - aan haar gegee het. Sy het dit daar op die tafel in die studeerkamer gelaat waar dit gelê het, omring van al die ander boeke in die biblioteek. 

Elke dag het sy na die sitkamer ggaan om 'n bietjie daarin te lees. Daar het trane in haar oë gekom by die gedagte dat dit sy boek was en dat hy dit spesiaal aan haar gegee het.

Maar eendag het daar 'n vreeslike ding gebeur. Terwyl hulle nog gesit en praat het, het hulle skielik die brandweer gehoor, en haar vriendin het gesê: "Ek wonder wie se huis dit vandag is?"

Hulle het by die venster uitgekyk, en skielik het Bettie gegil.

"Dit is ons huis!" het sy uitgeroep. "Kyk net die vlamme!"

Hulle het so vinnig as wat hulle kon daarheen gehardloop. Daar was al 'n hele komp mense, en twee brandslange was op die vlamme gerig onderwyl brandweermanne vensters stukkend slaan in 'n poging om nog iets uit die huis te red.

Bettie wou sommer deur die skare breek om die huis binne te gaan, maar die mense het haar gekeer. Sy het 'n polisieman gevra om haar te help om in die brandende huis te kom. 

"Daar is iets in die huis wat ek moet red," het sy gesoebat.

"O, nee, juffroutjie, jy kan nie daar ingaan nie. Dis die ene vlamme daar binne en jy sal tot houtskool verbrand," het hy gesê.

"Maar ek moet ingaan," het Bertie gesê, "ek moet ingaan, los my!"

"Dit spyt my," het die polisieman gesê, "dis onmoontlik; kyk selfs die brandweermanne het nou opgegee."

Bettie was vreeslik hartseer. Sy het nou besef dat dit 'n hopelose saak was. Hoe spyt was sy dat sy nie liewer by die huis gebly het nie, sy moes nooit daardie namiddag uitgegaan het nie!

Daar tussen al die mense het sy vreeslik eensaam gevoel; sy het nog nooit so troosteloos in haar hele lewe gevoel nie. Toe het sy aan Jesus gedink.

"Ag, Here," het sy in haar enigheid gebid, "red tog my Bybel - Pappie se Bybel. Moenie laat dit verbrand nie. Moenie laat dit verbrand nie! Asseblief Here!"

So het sy aangehou bid terwyl die vlamme in die gebou gedreun, en daardie ou huis wat sy so liefhet, verteer het. Na sowat twee uur, toe die vuur hom heeltemal uitgewoed het, het nog net die twee gewels gestaan.

'n Hele ruk later is lede van die gesin toegelaat om in die puin rond te kyk, en Bettie was een van die eerstes om dit te doen. Sy het dadelik die plek gesoek waar die studeerkamer was - sy het dit maklik herken aan die verbrande boeke wat aan haar Vader behoort het.

Dit het vreeslik gelyk!

Sy het die plek herken waar die lessenaar gestaan het - Pappie se lessenaar, en daar het sy gesoek. 

Wat sien sy daar! Kan dit wees? Dit kan nie wees nie!

Ja, dit was haar Bybel. Pappie se Bybel! 

Vinnig het sy dit opgetel en daarin begin blaai. Daar was geen teken van brand aan daardie Bybel nie; sy het dit goed beskou, maar dit was glad nie beskadig nie!

Ek weet dat dit die waarheid is, want Bettie het dit self aan my vertel. Sy het my ook iets anders vertel. Sy het gesê dat daardie Boek van haar, wat so wonderbaarlik bewaar gebly het, die middelpunt geword het in die nuwe huis wat die gesin laat bou het. Al die kinders het daarin belang gestel, en hulle het ag geslaan op die boodksappe daarin. Almal van hulle het hulle harte aan die Here gegee. Vandag is al daardie kinders groot, maar telkens kom hulle terug na daardie huis om te kom kyk na die Bybel wat uit die brand gered was - daardie wonderlike Boek wat nie wou brand nie.
 
Slaaptyd stories
Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell