Diamante en Robyne

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Doreen was baie in haar skik met haar verjaarsdaggeskenk. Maar natuurlik moes sy die volgende dag skool toe gaan en dit was eers die volgende aand dat sy weer tyd gehad het om na kosbare juwele te soek in haar juwelekissie.

Doreen het Mammie opgeruimd gehelp om die skottelgoed te was. "Sal ons vanaand weer probeer om ander juwele te vind? het sy haar Ma gevra. "Ek wil graag na meer robyne soek en ek wil hê dat Mamma my moet help, want ek weet nie waar om te begin nie."

"Ek weet waar jy een sal kry Doreen. Ken jy nie tekste waarin die hoofwoord met R begin nie?"

"Nou weet ek," het Doreen geantwoord, "ses dae kan werk gedoen word, maar op die sende dag moet dit wees 'n dag van volkome rus."

"Dit is mooi," sê Mammie. "Kan jy nie aan nog 'n teks dink wat van rus praat nie? Onthou jy nie wat die predikant nou die dag gesê het nie?"

"Bedoel Mamma die een wat sê 'Kom na My toe, almwat wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee'?"

"Ja, dis die een. Jy het sommer 'n paar mooi robyne gevind! En daar is nog ander soos hierdie een byvoorbeeld: 'Julle moet 'n regte weegskaal hê'." (Lev. 19:36)

"Wat beteken dit Mammie?"

"Dit beteken dat ons niemand moet tekort doen nie. Ons moet nie suinig wees nie, maar ons moet ruimhartig wees en liewer te veel gee as te min."

Doreen het die toeegoeddoek opgehang om droog te word en is toe na die voorkamer om Bybel te gaan haal. Sy het met haar juwelekissie op 'n lekker stoel gaan sit en daarin begin snuffel; sy het baie gou meer robyne ontdek, soos Mammie gesê het.

"Luister hier, Mamma," het sy uitgeroep, "ek het ook diamante gevind. Hier is 'n baie mooie: 'Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid'."

"Ja, dit is 'n goeie een en dit bevat 'n baie mooi belofte dat hulle wat dors het, versadig sal word."

Daarna het Doreen nog 'n baie mooi diamant gekry in Galasiërs 6:2: "Dra mekaar se laste."  Mammie het haar toe daarop gewys dat dit beteken dat ons geduldig moet wees met die swakhede van ander. "Net soos die Here geduldig is met ons swakhede, moet ons ook ander se laste help dra. Hy wil hê dat ons al ons kommer en sorge op Sy skouers moet werp. Hy het 'al ons krankhede op Hom geneem en ons smarte - die het hy gedra'."

"Hier kry ek weer 'n robyn,"" het Doreen gesê, "'Een  handvol rus is beter as altwee vuiste vol moeite'. Wat beteken dit Mamma?"

"Dit beteken dat ons moet strewe na rus in ons gemoed, want dit is die enigste soort rus wat werklilk rus is. As ons sulke gemoedsrus het, sal ons ons nie verknies oor allerhande dinge nie," het Mammie verduidelik.

"Beteken dit dat ons nie teleurgestel sal wees oor fietse en pophuisies nie, Mams?" het sy met 'n glimlag gevra.

"O ja, en om die waarheid te sê, is dit ook die gouste en beste manier om enige ding te kry wat ons wil hê. As ons die hele saak voor die Here lê en Hom vertel wat ons baie graag wil hê, sal Hy sorg dat ons dit so spoedig moontlik kry as dit goed vir ons sal wees. Dit is wat 'gemoedsrus' in die Here beteken. Soms moet ons 'n lang tyd wag, maar as ons ons in die wil van die Here berus, sal die tyd gou verbygaan. Wanneer ons uiteindelik die dinge kry wat ons graag wou gehad het, sal ons bly wees dat ons dit nie gouer ontvang het nie."

"Wel, het Doreen gesug, "dit was regtig 'n wonderlike hoofstuk hierdie, dit het sulke mooi diamante en robyne in gehad."

"Ja, ek dink ook so. Dit is een van my gelilefkoosde hoofstukke van die Bybel. Onthou ook hierdie diamant: 'Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid'." (Pred. 12:1)   (Word vervolg)