Deur sy hond gered

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

Joppie en sy susters en hulle maatjies het onder by die meer, baie baie gelukkig gespeel. Party het geroei, ander het vis gevang. Joppie, alhoewel maar net vier jaar oud, was 'n dapper kêreltjie en hy het die water ingestap met sy kort beentjies net so ver as wat hy kon gaan - of ten minste net so ver as wat sy broekie dit toegelaat het, want hy het geweet dit moes nie nat word nie. 

Joppie se hond, Wagter, het daar saam met die ander kinders rondgespeel. Hy was 'n pragtige kollie, vol lewe, en net so lief vir Joppie as Joppie vir hom. 

Skielik, terwyl Joppie in 'n ander rigting geloop het, trap hy in 'n diep gat water en raak heeltemal weg. Een van die meisies het gesien wat gebeur het, en sy het dadelik om hulp begin skreeu, wat die ander ook dadelik begin doen het. Niemand het geweet wat om te doen nie, en twee of drie het huis toe gehardloop om Joppie se Pappie en Mammie te gaan roep. Die ander klompie het op die wal gstaan en skreeu en huil, net asof dit sou help! 

Die enigste een wat nie sy kop verloor het nie, was Wagter. Hy het dadelik gesien wat die posisie is en met 'n sierlike sprong het hy die water ingetrek om sy maatjie te red. Vinnig het hy na die plek waar Joppie weggeraak het, geswem en toe die klein knapie weer 'n slag bo kom, het Wagter hom agter aan sy broekie gegryp en met hom wal toe begin swem het.

Hy het dit ook bereik en uitgeklouter, maar toe party van die kinders naderstorm om Joppie te vat, was dit aof hy besef dat hulle hulpeloos is. Hy het hulle weggedruk en met Joppie in sy bek aangestap na die seuntjie se huis toe. En hy het hom werklikwaar al baie ver oor die veld gedra voordat hy Joppie se ouers gekry het. Hulle was albei uitasem soos hulle gehardloop en geskrik het, want hulle het verwag dat Joppie reeds verdrink het. Hulle verbasing om die snaakse bondel in Wagter se bek te sien, kan mens jou voorstel. 
Wat Wagter betref, hy het sy las saggies voor die ouers neergesit, en toe daar sag staan en tjank, asof hy nog nie seker was of hy die seuntjie betyds gered het nie. 

Die verskrikte ouers het by hulle kind neergeval on hom weer probeer bykry. Dit het 'n rukkie geduur, maar eindelik was daar lewe. Joppie het sy oë oopgemaak, en hulle het geweet dat alles reg was.

Hoe bly was hulle nie almal nie! Maar niemand was so bly soos Wagter nie! Jy moes hom sy stert sien waai het toe hy op pad huis toe vooruit stap! Hy  het sy plig gedoen en hy was bly daaroor. En die ete wat hy daardie aand gekry het, was groter en lekkerder as wat hy in sy wildste hondedrome ooit kon gedroom het.