Daardie Appelliefies

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)

Oom Attie se Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Gerald was baie lief vir appelliefies. Om die waarheid te sê, hy was so lief daarvoor dat dit baie swaar vir hom was om in die tuin te loop sonder om een te pluk. Het ek gesê een?  Ek moes eerder gesê het 'n hele paar, want - en ek is jammer om dit te sê - wanneer niemand gekyk het nie, het Gerald sommer sy sakke en sy hande vol gepluk.

Sy Ma was ook baie lief vir appelliefies, om nie eens te praat van sy Pa nie, wat baie graag in die bossies gesnuffel het om te proe hoe smaak die verskillende appelliefies.

Eendag het Pappie weer in die tuin rondgesnuffel, hopende om 'n paar lekker appelliefes te vind. Maar hy het niks aan die stoele gevind nie, want hulle was kaalgestroop. Daar was nie een enkele appelliefie te sien nie. Selfs daardie grote wat Pappie so dopgehou het om ryp te word, het verdwyn. Dit het gelyk of 'n baie sterk wind die stoele sommer kaalgestroop het.

"Ek sou graag wou weet wie nou al hierdie appelliefies afgepluk het?" het Pappie vir homself gesê. "Dit kan tog nie Gerald wees nie, want ek het hom al so baie gewaarsku om dit nie te doen nie. Dis heel moontlik die voëls, of miskien het Mammie hulle gepluk vir konfyt, maar sy het niks daarvan gesê nie."

Op daardie oomblik het iemand hom hartlik toegeroep: "Hallo Pappie! Kom kyk na al die goed in my tuin." Dit was Gerald en Pappie het toe gaan kyk na Gerald se tuintjie.

"Kyk na hierdie blomme Pappie, is hulle nie pragtig nie?"

"Wel, hulle is regtig mooi. Dis ook baie mooi appels wat jy het."

"Ja hulle is. Ek hoop niemand sal hulle pluk nie, behalwe natuurlik ek."

"Jy is baie gesteld daarop," sê Pappie.

"Wel, dis niks minder as reg nie, ek het dan byna 'n hele jaar vir hulle gewag. Ek het die boom bemes, natgegooi en skoon gehou, natuurlik is ek daarop gesteld wie hulle plek. As klein boetie aan hulle raak, sal ek hom wiks."

"O so," het Pappie gesê terwyl hy so oor Gerald se tuin kyk - en toe sien hy skielik 'n klompie groen goed wat so half met 'n koolblaar toe was. Gerald het gesien waarheen sy Pa se oë dwaal en toe hy probeer om sy voet voor die goed te hou terwyl hy sommer geesdriftig weer oor sy tuin begin gesels het.

"Dis 'n groot sonneblom daardie," het hy gesê terwyl hy taamlik gebloos het. Maar Pappie het nie nou belanggestel in sonneblomme nie....maar hy het danig belanggestel in die kool.

"Dis mooi kool wat jy het. Ek moet gelukwens Gerald. Laat ek 'n bietjie die hart van hierdie een voel. Hy behoort nie op die blare van sulke mooi kool te trap nie."
Gerald het sommer baie rooi geword toe Pappie buk en aan die kool begin voel.

"Ek het nie geweet dat jy appelliefieplante in jou tuin het nie," het Pappie 'n bietjie kortaf gesê toe hy weer orent kom.

"Nee, ek het nie gehad nie," het Gerald ongemaklik gesê.

"Maar waar kom hierdie skille dan vandaan?" het Pappie gevra.

"Hulle kom van daar anderkant af," antwoord Gerald.

"Ek is baie hartseer. Ek het gemeen dat ek my seun kon vertrou. Dink jy nie dat dit baie gemeen van jou was om al die appelliefies af te pluk nie, aangesien jy geweet het dat ons die hele jaar al vir hulle gewag het nie? Het jy dan nooit gesien hoe ek hulle vertroetel en versorg het nie?"

Gerald het nou besef dat dit juis die woorde was wat hy 'n rukkie tevore oor sy appels gebruik het en hy het baie skaam gekry.

"Dis darem vreeslik, jy moet dit asseblief nie weer doen nie. Aangesien jy jouself so goed gehelp het aan my appelliefies, sal ek nou maar 'n paar van jou appels probeer."  Pappie het die bestes begin pluk.

"Ag nee, Pappie, moenie my appels pluk nie! Hulle is myne, ek het hulle self gekweek," en sommer begin huil.

"En wat dan van my appelliefies?" het Pappie gevra onderwyl hy begin hap aan die beste appel. "As ons dit uitwerk op ses appelliefies vir een appel, dan maak ek aanspraak op al die appels aan hierdie boom."

"Maar pappie moet hulle nie almal pluk nie! het Gerald smekend gesoebat.

"Nou ja, goed, maar op een voorwaarde."

"En wat is dit?"

"Dat jy my belowe om nooit weer goed te neem wat nie aan jou behoort nie."

"Ek belowe."

"En ja, onthou die gulde reël wat sê dat jy aan ander moet doen wat jy aan jouself gedoen wil hê."

Gerald het hierdie les onthou. Die volgende jaar het hy sy eie appels gepluk, terwyl Pappie al die appelliefies gehad het wat hy wou hê.