Die smeltkroes van 'n Oorlog

"Die galgtou se strop": Paul Kruger se vrees

Op 22 Januarie in 1877 het Theophilus Shepstone met 'n afdeling van 23 polisie Pretoria binnegery. Hy was 'n spesiale gesant van lord Carnavon, minister van kolonies van 1874 tot 1878. Die oormoedige en ongeduldige Carnarvon wou he Shepstone moet Transvaal oorreed of dwing om Britse gesag te aanvaar as eerste tree op die pad na 'n federasie van al die kolonies en republieke in Suid-Afrika onder die Britse vlag.

Shepstone het as seun van twee jaar saam met die Britse setlaars gekom en sy lewe lank 'n passievolle imperialis gebly. Gedurende die jare veertig en vyftig het hy feitlik sonder militere mag duisende swartes in Natal oorreed om na die reservate te trek wat hy vir hulle opsy gesit het. Hy het die eerste keer naturellereg in die administrasie van die gebiede ingevoer en daarmee 'n revolusie in naturellebeleid in Suid-Afrika ingelui. Die Zoeloes het hom die erenaam "Sometseu", die Groot Jagter, gegee. As diplomatieke agent aan die hoof van die admnistrasie van die Natalse swart gebiede was sy reputasie dat hy deur oorreding berge kon versit. 

Die wit mense in Transvaal was ongerus. In 1876 moes 'n kommando onder leiding van president Thomas Francois Burgers onverrigter sake  van 'n veldtog teen die Pedi's terugkeer en mismoedigheid het soos newels oor die politieke landskap gehang. Ook elders in Suid-Afrika was die stemming somber. In die tweede helfte van die jare sewentig het swart mense op baie plekke in Transvaal, Natal en die Transkei hulle onverbiddelik teen wit oorheersing verset. G.M. Theal, historikus van die koloniale era, praat tereg van "the most determined attempt ever made by the natives of South Africa to throw off European supremacy". Slegs die grootskaalse aanwending van goed gedissiplineerde soldate sou onbetwiste wit gesag kon opdwing. 

Niks het die verhoudinge tussen Brit en Boer so vinnig verbeter as 'n skielike, gedugte swart bedreriging nie, en Shepstone het dit geweet. Toe hy aan die einde van 1876 president Burgers van die Suid-Afrikaanse Republiek (ZAR) in kennis stel van sy voorgenome besoek, het hy die doel geformuleer as 'n ondersoek na swart verset en onrus in die vvoorafgaande jare en maiere om dit te voorkom. Geen melding is van anneksasie gemaak nie, en die hoop het opgevlam dat hy sou help om wit heerskappy stewiger te vestig. 

Met pres. Burgers oorhoops met sy Volksraad en sonder breë steun onder die burgers, het Shepstone begin om die Transvalers te oorreed om hul onafhanklikheid prys te gee. Een man het in sy pad gestaan. Shepstone sou later skryf dat van die drieduisend mense met wie hy gepraat het voordat hy op 12 April die gebied geannekseer het, net Paul Kruger volstrek geweier het om saam te stem. "[He] positively declined to enter into the discussion if it might involve the independence of the republic."

Terwyl Shepstone gepraat, gevlei en gesellig verkeer het, was die veldtog vir 'n presidentverkiesing aan die gang, met Burgers en Kruger as kandidate. Kruger was op ouderdom 52 bekend vir sy groot atletiese vermoë en moed, en sy onbetwiste vaardigheid as militêre bevelvoerder en onderhandelaar met swart kapteins en opperhoofde. Maar die beter opgevoede deel van die kieserkorps het geys by die geagte aan Kruger as president. Hy het weinig formele onderwys ontvang, was aartskonserwatief en kru - en boonop nog 'n Dopper. Geklee in die Doppers se tipiese kort swart baadjie, was hy met sy pyp in sy baadjiesak voor of in sy mond en sy spoegery in die openbaar 'n toonbeeld van die ruwe, ongekulstelde pionier. 

De Volkstem in Pretoria het geskryf dat dit 'n ewige skande wou wees as Kruger verkies word. In Kaapstad het die gedugte politikus John X. Merriman hom 'n takhaar genoem. Later sou Joseph Chamberlain, minister van kolonies van 1895 tot 1903, hom tipeer as 'n "ignorant, dirty and obstinate man who has known how to feather his own nest". 

Daar was mense wat 'n heeltemal ander man raak gesien het. John Buchan, die later bekende Engelse skrywer, het na sy "gnarled magnificence" verwys. In 1897 het lord Bryce, skrywer van 'n goeie boek oor Suid-Afrika, kenner van grondwette en later Britse ambassadeur in Washington, na hom verwys as "shrewd, dogged, wary, courageous,typifying the qualities of his people". Hy kon die staatsmanne van Europa uitoorlê omdat sy geleerdheid nie op boeke berus het nie, maar op wysheid versamel in 'n veelbewoë lewe. C. Louis Leipoldt, wat hom net voor sy dood ontmoet het, was vol bewondering vir die "rugged, rough-hewn, primitive old gentleman with an innate courtesy and sonorous, powerful voice, and rich and forceful vocabulary."

'n Manifes van Kruger vertoon 'n merkwaardige mengsel van fundamentalistiese godsdiens en populistiese politiek. Hy sê die Voortrekkers het duisende swartes op vlug laat slaan. In teenstelling daarmee gaan die republiek nou die kreeftegang en ly die mense omdat daar 'n goddelose koning aan die spits van sake staan. President Burgers eer nie die Sabbat nie, hy ry rond op Sondae, en van kerk en godsdiens weet hy niks nie.

Met groot moed, sterk oortuiging en passievolle toesprake het Kruger die boodskap by die Transvalers ingehamer dat hulle as volk net sou kan oorleef as hulle aan hul taal en godsdiens getrou bly en hul republikeinse onafhanklikheid bewaar. Hy was nie konsekwent in die wyse waarop hy die term "volk" gebruik het nie. Soms was die "oud volk", waarmee hy die oorspronklike Voortrekkers bedoel het, al wat by hom getel het. 

Ander kere het hy alle wit burgers van die staat as deel van die volk beskou en gesuggereer dat mense aan die staat eerder as aan 'n volksgemeenskap trou moet wees. En soms het hy die term amper op 'n moderne wyse gebruik deur van die volk te praat asof dit alle Hollands- of Afrikaanssprekende Afrikaners in die gebied van Suid-Afrika insluit. 

Maar die belangrikste element in Kruger se ideologie was sy siening van die volk as 'n groep mense wat, soos Israel, deur God geroepe is. Hy sou hulle straf wanneer hulle sondig en seën wanneer hulle berou toon. As hulle getrou is, sou God hulle militêr laat seëvier en as volk laat oorleef. Republikeinse onafhanklikheid was God se seën vir 'n getroue en gelowige volk.

Onder die Transvalers was daar geen groot geesdrif om alle Afrikaners onder een kombers te bring nie. Hulle was wantrouig teenoor die Engelsgesinde Kaapse Afrikaners met hule kwalik verbloemde houding van meerderwaardigheid teenoor die Transvaalse 'takhare." Vir Schalk Burger, een van Kruger se progressiewe opponente, was 'n Afrikaner 'n Transvaler, uit en gedaan. Hy het bygevoeg: "Enigiemand van buite die grense van die republiek moet beskou word as 'n vreemdeling, of hy nou van die Vrystaat, die Kolonie, Engeland of Holland kom."

Kort na Shepstone se anneksasie het Kruger die leiding geneem in die taak om verset te organiseer. Aanvanklik was dit moeilik, want die burgers was verlam deur 'n gevoel van magteloosheid en gebrek aan belangstelling. Kruger het aangehou. Twee keer het hy met 'n afvaardiging van drie na Londen gereis. Hy was onwrikbaar. Toe die Britte hom meedeel dat die meeste burgers volgens Shepstone ten gunste van anneksasie is, het hy kort en bondig geantwoord: toets dit in 'n referendum.

Dit wou Carnarvon allermins doen. In plas daarvan het hy die Transvalers probeer koop. Hy het 'n lening van £100,000 aangebied en saam daarmee besteding aan onderwys, spoorweë, paaie en 'n telegraafstelsel. Tariewe wat Natal en die Kaap op in- en uitvoer na Transvaal gehef het, sou besnoei word. Hollands sou op gelyke voet met Engels behandel word, maar nie vir altyd nie.En Transvaal sou selfregering binne 'n federale stelsel kry. 

Kruger was onbeindruk. Selfregering was 'n tatale lokval. Later sou hy aan die burgers sê hoe hy die aanbod van selfregering vertolk: "Hulle sê vir jou: "Sit eers jou kop in die galgtou se strop sodat ek jou kan ophang; daarna mag jy met jou bene skop seveel jy wil. 'Dit is wat hulle selfregering noem.'

Onder Kruger se aanvoering het die Transvaalse burgers al hoe meer in verset begin kom. Vreedsame verset was die eerste stap; 'n derde van die burgers het 'n protesskrif onderteken. Die ander Suid-Afrikaanse state het hule argwaan jeens Carnarvon se inmenging getoon. Die Volksraad van die Oranje-Vrystaat het gevra dat die Transvalers se onafhanklikheid herstel word. "Onze Jan" Hofmeyr en John X. Merriman, twee van die invloedrykste Kaapse politici, het daarop aangedring dat Brittanje moet vasstel wat die Transvalers werklik wil hê.

In Desember 1880 het die eerste monstervergadering by Paardekraal plaasgevind. Dit is deur duisende burgers bygewoon. Hulle het besluit dat die ou Volksraad weer moet vergader en het Kruger saam met Piet Joubert en M.W. Pretorius aangestel om aan die spits van die versetbeweging te staan, wat al hoe meer na 'n opstand begin lyk het. Op 11 Desember het 'n monstervergadering besluit om die republiek te herstel.

Die Britte se dunk van die Transvaalse mag was so laag dat hulle oortuig was dat die Transvalers na die eerste kanonskote uitmekaar sou spat. Dit was 'n fatale fout. Die Transvalers het nuwe gewere in die hande gekry en was knap skuts. Die veldslae was kort, kragtig en in Transvaal se guns. Op 27 Februarie 1881 is 'n Britse mag onder generaal George Pomeroy Colley, wat van Natal opgemasjeer het, by Majuba vernietigend verslaan. 

Carnarvon se federasieskema het aan skerwe gelê. 'n NuWe regering in London onder William Gladstone het besluit dat die situasie rampspoedig is. Brittanje het slegs 3,500 man in die hele Suid-Afrika tot sy beskikking gehad en Majuba was nie die eerste nederlaag nie. In 1879 is 'n Britse mag deur die Zoeloes verslaan, en hoewel die nederlaag gewreek is, was die Zoeloes steeds gedugte vyande. Uit Duitsland het die vermaarde staatsman Otto von Bismarck aan die Britse minister van buitelandse sake geskryf dat wit mense nie in die aangesig van swart stamme teen mekaar moet veg nie.

Die Britse generaals, diep gekwets deur die vernedering by Majuba, wou die stryd voortsit. Maar die Transvaalse driemanskap, met Kruger as leier, het gou laat blyk hoe duur so 'n stryd sou wees. In 'n proklamasie het hulle daarna verwys hoe die Hollanders hule land laat oorstroom het om die Spanjaarde te beveg en hoe die Russe Moskou aan die brand gesteek het om Napoleon te fnuik. 

Die Majuba-vernedering het bly spook, maar die Gladstone-regering wou die oorlog afsluit met die skyn dat die Britse eer en indirekte gesag behoue gebly het. Die Britte het die term "soewereiniteit" ontwerp om aan hierdie behoeftes te voldoen. Die anneksasie sou opgehef word, maar Brittanje sou voortgaan om 'n belangrike sê in Transvaal se buitelandse en naturellebeleid te hê. Vir Kruger was dit onbevredigend, maar dit was die beste wat beding kon word. Hy het gehoop om deur verdere onderhandelings bevrediging te kry. 

'n Nuwe politieke bewussyn het in Transvaal na vore gekom. Soos J.G. Kotzé, wat kort tevore as regter aangestel is, opgemerk het: "Dit het 'n sterk nasionale gevoel onder die Boere tot stand gebring; dit het hulle verenig en almal het hulle nou agter die staat geskaar." Die Transvaal van individualistiese pioniers wat hulle min aan die sentrale owerheid en sy gesag gesteur het, het tot die verlede behoort. kruger, self 'n pionier, het hulle getem.

'N Vrou se oorlog: Olive Schreiner se perspektief

Boerevroue het 'n merkwaardige rol gespeel in die oplewing van nasionale gevoel wat tot die ontrrekking van die Britse gesag gelei het. Olive Schreiner was die skerpste waarnemer van die Boerevroue. Sy was in daadie stadium 'n jong vrou in die oostelike distrikte van die Kaapkolonie en het dikwels as goewernante en onderwyseres op plase gewerk. Sy het later geskryf: "The Transvaal war [1880-1881] was largely a woman's war; it was from the armchair beside the coffee-table that the voice went out for conflict and no surrender. Even in the {Cape} Colony at the distance of many hundred miles Boer women urged sons and husbands to go to the aid of their northern kindred, while a marital ardour often far exceeding that of the males seemed to fill them."

Daar is vroeër reeds verwys na die sterk posisie van die Afrikanervrou in haar familie en gemeenskap. As 'n vroeë feminis het Schreiner gou die onderliggende faktore gesnap. As kinders het Afrikanerdogters dieselfde beperkte onderwys as hule broers ontvang en met hulle op gelyke voet in hul ouers se boedel gedeel. 'n Getroude vrou het 'n boedel gelykop met haar man gedeel in 'n gemeenskap van goed. Hulle was in vele opsigte gelyke vennote. Shcreiner het bygevoeg: "As a rule she not only brings to the common household an equal share of material goods, but, and this is infinitely of more importance, she brings to the common life an equal culture. "

The fiction of common possession of all material goods...is not a fiction, but a reality among the Boers, and justly so, seeing that the female as often as the male contributes to the original household stock."

Die pioniersomstandighede waarins so 'n groot deel van die Afrikanervroue meer as twee eeue geleef het, het die vrou se posisie verder versterk. Dit was sy wat die kinders gevoed, opgevoed, in godsdiens en die Boeretradisies onderrrig en vir hulle klere gemaak het. Wanneer hulle deur inboorlinge en wilde diere bedreig is, het sy soms langs haar man die dood getrotseer.

Die vroue was dikwels meer gegrief as die mans oor maatreëls wat die Britse gesag getref het oor dinge wat die huishouding raak. Hulle was hoogs ontstoke toe die Britte, in 'n poging om slawerny te versag, dit in die jare twintig en dertig van die negentiende eeu vir slawe moontlik gemaak het om hul baas of nooi hof toe te vat. Toe dit lyk of die Groot Trek momentum verloor, was dit die vroue in Natal wat gesweer het hulle sou nooit terugkeer nie. Schreiner het geskryf dat dit die Boerevrou was "who still today [die 1890's] has a determining influence on peace or war.' Soos sou blyk in die oorlog wat in 1899 sou uitbreek, was Schreiner merkwaardig versiende.

IMPERIALISTE EN JINGO'S


Buiten hul gemeenskaplike trots op die Engelse kultuur en lewenswyse en 'n sterk verbintenis tot die ryk was die Britte, en ook die Engelssprekendes in Suid-Afrika, geen homogene gemeenskap nie. Daar was selfs twee soorte Britse imperialisme. Die soort wat Shepstone en Carnarvon aangehang het, het Olive Schreiner vuriglik gehaat.

Britse imperialisme was 'n tweegesigdier. Die gesig wat die Britse ryk se aansien gered het, was liberaal en idealisties. Dit wou Afrika "ophef" en "beskaaf" deur die Christelike godsdiens en handel aan die mense te bring. Die idealistiese vorm het die missie van vrede, ontwikkeling, vooruitgang en vryheid vir mense op alle kontinente onder Britse gesag ernstig opgeneem.

In Suid-Afrika het die liberale imperialisme demokratiese regering en die nierassige stem voorgetstaan. Dit het die beskerming van die Britse vloot aan die kolonies in Suid-Afrika gebied sonder om te veel in hul interne sake in te meng. Dit het die sub-kontinent se hande met die wêreld versterk deur 'n gereelde vaart van stoomskepe in te stel. Dit het die ereste moderne bankgeriewe bekend gestel. In 1862 het Standard Bank van Londen sy eerste tak in die Kaapkolonie gestig. Saam met die Standard en ander 'imperiale banke' het groot handels- en beleggingsfirmas vinnig hul takke oor die binneland versprei. Teen die jare sewentig en tagtig het handelaars, bankiers, politici, en administrateurs al hoe meer aangevuur geraak deur die visie van 'n snel uitbreidende ryk in Suider-Afrika, gerugsteun deur moderne kommunikasiemiddele soos spoorweë en telegraaflyne, wat tot ver noord in Afrika se beskawende invloed versprei.

Sendelinge, wat hoofsaaklik Engelssprekend was, het die Christelike evangelie en die imperialistiese boodskap op afgeleë plekke verkondig, wat swart mense verstommend gou aangegryp het. 'n Veelvoud van bande wat nie geskaaf het nie, het Suid-Afrika hegger aan Brittanje begin bind. 

In 1899, aan die vooraand van die Anglo-Boereoorlog, het Andrew Murray, moderator van die NG sinode, in 'n roerende ope brief die Britse regering gevra om nie oorlog te maak nie. Die Britte met hul ryk was, in sy woorde, "the noblest, the most Christian nation in the world." Britse agressie sou Murray se vaste geloof aantas dat Brittanje staan vir vrede, order, vryheid, modernisasie en dieopheffing van ontwikkelende volke.

Maar Murray het tevergreefs gepleit. Die ander gesig van Britse imperialisme was aggressief, outoritêr en minagtend ten opsigte van "laer-"kulture. Dit het genadelose  agressie teen enige verset teen Britse belange ondersteun. "Jingoisme" het uit hierdie tak van die imperiale ideologie ontwikkel. Dit is gekenmerk deur luide, verglustige en chauvenistiese uitings van Britse patriotisme.

Die historikus Niall Ferguson het geskryf dat Brittanje sonder uitsondering in die naam van liberale imperialisme opgetree het, selfs wanneer hy aggressief sy eie belange bevorder het. Die gryp van die diamant- en goudvelde in Suid-Afrika het die Britte in die naam van glansryke ideale soos demokrasie, menseregte en die beskerming van die weerlose swartes en kleurlinge geregverdig. Joseph Conrad, Pools-gebore skrywer van die tyd, het die skynheiligheid van imperialisme in The Heart of Darkness as "robbery with violence" beskryf. Toe hy verneem dat Rudyard Kipling 'n vurige voorstander was van oorlog teen die Boererepublieke, het hy opgemerk "If I am to believe Kipling, this is a war undertaken for the cause of democracy. C'est a crever de rire." [Dis om van te lag]

Onder die Britse politici en koloniale burokrate was Joseph Chamberlain en Alfred Milner die vernaamste eksponente van 'n aggressiewe imperialisme ten opsigte van Suid-Afrika. Chamberlain, wat tussen 1895 en 1905 minister van kolonies was, het geglo dat dit Brittanje se roeping is om aan die "gekleurde rasse" in Afrika die Britse kultuur en beskawing te bring, wat na sy mening die hoogste was wat die wêreld nog geken het. Milner het opgemerk dat wanneer hy dink aan die diens wat Brittanje aan die mensdom bewys het, hy sy hoed afhaal in 'n onverbloemde eerbetoon teenoor die Union Jack.

Milner was op Oxford, waar hy en sy vriendekring die idee van die meerderwaardigheid van die Britse "ras" aangegryp het, wat volgens Charles Darwin se teorie die geskikste was om te oorleef. Hy was 'n man met 'n briljante brein; as mens was hy koud, hooghartig, selfs arrogant en onpersoonlik - karaktertrekke wat hom gediskwalifiseer het vir die Britse politiek, maar uitnemend geskik gemaak het vir 'n loopbaan in die akademie of koloniale burokrasie. Tot Suid-Afrika se ontsaglike skade het hy nie die akademie gekies nie.

Milner het hom self as 'n "Britsh Race Patriot" geskou, verbonde tot 'n ras verenig deur gemeenskaplike bloed en 'n gedeelde geskiedenis, taal en tradisies. Hierdie band was sterker en meer primordiaal as materiële bande. Vir hom was 'n ware jingo iemand wat nie onbeperkte imperiale uitbreiding voorstaan nie, maar wel geen perke ken in die hardnekkige vasklou aan dit wat deel van die ryk was nie. 

Die ryk was inderdaad vir Milner die grondslag van Britse mag en glorie. Waar engelssprekendes hulle in groot getalle vestig, moes die Britse vlag volg, en dit het Suid-Afrika ingesluit. Dit was omdat hy so hartstogtelik in die ryk geglo het dat hy so sterk daarop aangedring het dat die regering inmeng om Britse belange te beskerm eerder as om 'n beleid van laat-maar-loop te volg. "Society left to itself woud not right itself", het hy geskryf. 

Daar was geen selftwyfel of enige besef dat die regering se inmenging sake kon vererger en menslike leed meebring nie. Een frase wat hy geskep het, is amper 'n eeu na sy dood nog in die Oxford Dictionary of Quotations opgeneem. Dit was "damn the consequences." Milner was selfs bereid om oorlog te voer vir sy ideaal van 'n federale superstaat bestaande uit Brittanje, Australië, Kanada en 'n nuwe Suid-Afrika waarin elke kolonie afgevaardigdes na die imperiale parlement in Londen stuur. Dit was nie 'n federasie blankes wat hy in gedagte gehad het nie, maar van die Anglo-Saksiese ras, wat vir hom so onteenseglik meerderwaardig was. Die Afrikaners sou slegs 'n aanhangsel wees, en die miljoene bruin en swart mense weinig meer as behoorlik geadministreerde arbeiders. In 1979 het 'n gerespekteerde Britse joernalis opgemerk: "As a racist politician Milner is the only important British leader who deserves some comparison with Hitler. both looked forward to world domination by their own tribe of the white race; both engineered and provoked war to bring that vision nearer."

Cecil John Rhodes was 'n spesiale geval. Toe hy in 1870 as 17-jarige van Engeland in die Kaap aankom, was hy in sy eie woorde deur en deur 'n jingo. Hy het vinnig gevorder. Reeds in 1880 het hy 'n fortuin op die Kimberley-diamantveld versamel. Toe hy 37 jaar oud was, het hy De Beers Consolidated gestig, wat welra omtrent die hele diamantproduksie van Suid-Afrika en die grootste deel van die wêreld beheer het. Kort daarna het hy die beheer bekom van Consolidated Gold Fields of South Africa, een van die grootste goudprodusente, en van die British South Africa Company, wat die speerpunt was vir die stigting van Rhodesië. 

Daar was amper geen perke aan Rhodes se imperialistiese visie nie. Hy het gepleit dat die Britse invloed in die wêreld vinnig en daadwerklik uitgebrei moet word en dat in Afrika dit minstens tot die Zambezi en verder na Uganda moet strek. Wat Rhodes anders as Chamberlain en Milner gemaak het, was sy weiering om na die politici en burokrate in Londen se pype te dans.  Die Kaapse regering was nie bloot Londen se imperiale agent nie, maar 'n feitlik outonome sub-imperiale agent wat gelyktydig Kaapse en Britse belange bevorder. Dit moes dus self die verantwoordelikheid aanvaar om nuwe gebiede in die ryk in te lyf en 'n federasie in suid-Afrika onder die Britse vlag en Kaapse leiding tot stand te bring. 

Rhodes het nie net baie geld gehad nie. sy vriende het van die "sheer natural power of his mind" gepraat, sy magnetiese persoonlikheid en sy geweldige dryfkrag in die nastreef van sy missie om die kaart rooi te verf. Daar was ook 'n donker kant, wat spreek uit die opmerking dat hy iemand was met 'n "eerterangse verstand en tweederangse beginsels". "Elke man het sy prys," so het hy geglo, en nie gehuiwer om dit op die proef te stel nie.

Deels opportunisties maar ook deels opreg het Rhodes 'n diplomatieke offensief geloods om die harte en gesindhede van die Kaapse Afrikaners te wen sodat hulle die rol van sub-imperiale agente kon begin speel. By hom was daar niks van die minagting wat so duidelik uit Milner en Chamberlain of sekere plaaslike politici se houding teenoor koloniste gespreek het nie. Sir Gordon Sprigg, Kaapse eerste minister, het byvoorbeeld gepraat van die "demon of ignorance and prejudice" wat die Afrikaners pla. 

Rhodes, veel ryker en suksesvoller as enigiemand onder die Kaapse Engelse, het geen geheim gemaak van sy bewondering en waardering vir die Kaapse Afrikaners nie. Terwyl welgestelde Kaapse Engelse huise in die Georgiaanse of Victoriaanse styl gebou het, het Rhodes vir hom 'n huis in die Kaaps-Hollandse styl laat oprig deur 'n argitek, Herbert Baker, wat die styl "the finest domestic architecture in the world" genoem het. Hy het dit 'n Hollandse naam gegee, Groote Schuur. Die Kaapse Afrikaners het hom omhels. Jan Smuts wou later oor hul passie skryf: "The Dutch are perhaps a suspicious people, but when they do come to put their trust in a man..." then the trust becomes almost religious, such was their faith in Rhodes..."

In die loop van die jare tagtig het Rhodes amper die onmoontlike reggekry: hy het die Kaapse Afrikaners se "koloniale patriotisme" en sy eie sub-imperialisme met mekaar versoen sonder om trompop met Paul Kruger se republikanisme te bots. 

Die gemengde seën van goud

Nadat hy in 1883 president geword het, het Kruger ook buite sy konserwatiewe kring begin respek afdwing, maar tog het hy gesukkel om die staat op te bou. Die staat se geldsake was so benard dat Standard Bank geweier het om dit nog krediet te gee. Kruger het nooit opgehou om op sy reise deur die platteland die burgers moed in te praat nie. 'n Uitkoms sou daar wel wees, so het hy hulle verseker. Plotseling het dit gekom: die ontdekking 1886 van die Witwatersrandse goudveld. Dit was ryker  as wat 'n mens kon droom. Nog nooit in die wêreld se geskiedenis het die ontdekking van minerale 'n agterlike, landelike gmeneenskap so dramaties en radikaal getransformeer as dié van Transvaal nie. 

Transvaalse goud was skielik op die wêreld se lippe. Goud was besig om die grondslag te word van die nywerheidslande se finansiële stelsel en binne 14 jaar sou die plaaslike myne 'n kwart van die wêreld se goud produseer. Dit sou Suid-Afrika se politiek die volgende sestig jaar oorheers. 

Groot buitelandse beleggings het van 1886 begin instroom, veral van Engeland. Binne twee jaar was 44 myne in bedryf met 'n produksie ter waarde van £1,3 miljoen en meer as 100,000 mense in diens. Na tien jaar het die bedryf goud ter waarde van £32 miljoen geproduseer. Binne 'n paar jaar het Johannesburg se wit bevolking opgeskiet van nul in 1886 tot meer as 50,000. Slegs 6,000 was burgers en die oorgrote meerderheid van die res Britte. 

Johannesburg was groot, ru, kru, opwindend en plofbaar. Daarteenoor was Pretoria, die hoofstad, stil, rustig en vervelig. Die goudmyne het die wêreld  se briljantste ingenieurs en beleggers gelok, en ook die grootste skuim onder die geldskieters, konkelaars en misdadigers. Aan die spits van Johannesburg se sosiale piramide was die mynhuise se base, die "Randlords" met hul fabelagtige rykdom. Ver onderkant hulle was die professionele lui wat die mynbedryf bedien het, dan die wit mynwerkers en heel onder die swart trekbarbeiders wat in die myne gewerk en in onooglike kampongs gewoon het. 

In die stad was daar 300 kroeë, wat omtrent almal agterkamertjies vir kommersiële seks gehad het. In die strate was daar swerms mynwerkers, prostitute, wasvroue en bediendes. Afrikanerboere wat deur droogte of veesiektes van hul plase verdryf is, het in stygende getalle 'n bestaan in die stad gesoek. 

Hulle het baksteenmakers, taxibestuurders en transportryers geword. Kruger het Vrededorp vir hierdie onderlaag van arm Afrikaners opsy gesit. Groot buitelandse maatskappye het die goud- en die steenkoolbedryf oorheers. Die rol van buitelandse kapitaal was nie tot die myne beperk nie. Ook buite die Witwatersrand het vreemde kapitaal die ekonomiese bestel grootliks getransformeer. Tussen 'n derde en die helfte van die landbougrond het in die besit van maatskappye onder die beheer van vreemdelinge gekom. Hulle het verkies om swartes eerder as blankes op die plase te hê, waarop hulle selde self geboer het. 

Die jong Jan Smuts  het na sy eerste besoek geskryf dat 'n ekonomiese revolusie  die ou boeregemeenskap ondermyn op 'n wyse wat selfs gevaarliker is a die Britse politieke aanslag op die Republiek. Volgens president M.T. Steyn van die Vrystaat het die stryd om te oorleef al hoe swaarder geword. "Kapitalisme het sy verskyning in Suid-Afrika gemaak en kapitaal, die vyand van die arbeid, het sy seekatpote om alle vorme van arbeid geslaan."

Paul Kruger het onmiddelik besef dat goud, wat die republiek van sy finansiëele sorge bevry het, sy ware voortbestaan bedreig. Hy het die Uitlanders wat uit alle oorde ingestroom het, verdra omdat hulle ekonomies onmisbaar was, maar glad nie vertou nie. Hy was oortuig dat hulle voortdurend besig was om die staat te ondermyn. En die Uitlanders het inderdaad gou vervreemd geraak van die politieke bewindhebbers, en hulle in elke opsig as hul minderes beskou. 

Kruger was vasbeslote dat goud en die skielike ekonomiese welvaart sy republiek nie polities en kultureel sal ondermyn nie. Selfs voor die ontdekking van goud het hy 'n plan vir die vestiging van plaaslike nywerhede aanvaar om die ekonomie selfversorgend te  maak. Individue of maatskappye het deur die sogenaamde konsessies die uitsluitlike reg ontvang om artikels soos drank, seep, bakstene, leer en dinamiet te vervaardig, en swaar beskermende invoertariewe is gehef. Krete van onsteltenis het uit die Kaapkolonie opgegaan, wat gerieflik vergeet het hoe swaar hulle vroeër die republiek se goedere belas het. 

Die meeeste mynbase, wat hul koste so laag moontlik wou hou, was bittere teenstanders van die beleid, omdat dit gelei het tot hoëe spoorwegtariewe en dinamietpryse. Kruger se geneigdheid om  konsessies aan onbekwame familie, vriende en ondersteuners te gee, het die ontevredenheid laat toeneem. Die staat se onvermoë om genoeg goedkoop swart arbeid na die myne aan te dryf, het die mynbase se grootste punt van kritiek geword. 

Maar die tekortkominge van Kruger se staat moet in perspektief beskou word. Geen staat, veral nie 'n agterlike staat soos die ZAR, sou dadelik gereed wees vir 'n stad wat soos 'n paddastoel opgespring en die skielike invloei van duisend immigrante nie. In die omstandighede het kruger se regering goed gevaar met die verskaffing van 'n behoorlike administratiewe stelsel vir Johannesburg en die kleiner stede en dorpe, en met die aanstelling van meesal bekwame amptenare om hulle te bestuur. Na 1895 het die opknapping van die sentrale staatsadministrasie versnel. Genoeg voedsel het Johannesburg bereik. Vreemde kapitaal kon die republiek sonder belemmering invloei en die belasting van 5% op verklaarde wins was billik. Die spoorweg- en paaienetwerk is verbeter. 

Kruger se onderwysbeleid was konserwatief in die sin dat dit op godsdiens berus het. T.F. Burgers, wat die bybel uit die skool wou hou, het aan sy dogter geskryf dat die Boek koring en kaf meng en dat 'n mens self die koring moet uitsoek. Vir Kruger was die Bybel "die fondament van alles", waarop ook die onderwys geskoei moes word. 

Kruger het ook aangedring op die "landstaal" (Nederlands, die offisiële taal) as voertaal. In 1892 het die staat sy finansiering van staatskole wat Engels gebruik, gestaak. In 1895 het Kruger onomwonde verklaar: "Elke poging om die gebruik van Engels uit te brei, sal meewerk tot die vernietiging van die landstaal."

Van die begin af het Kruger geprobeer om Hollandse immigrante te lok. Met sy besoek aan Nederland in 1884 het hy aan sy gehore vertel hoe getrou die burgers bly aan die taal en geloof wat  hulle van Nederland gekry het. "Ons stryd is ten nouste hiermee verweef," het hy uitgeroep. 

Die gevolg was 'n stroompie van ongeveer 5,000 Nederlandse immigrante: "Kruger se Hollanders," soos hulle bekend geraak het. Van hulle het die administrasie aansienlik versterk, alhoewel daar nog heelwat wanadministrasie oorgebly het. Daar was dr. Willem Leyds, die staatsadvokaat, wat bestempel is as Kruger se regterhand, en dr. Nicolaas Mansvelt, superintendent van onderwys. Teen 1897 was daar altesame 306 Hollanders in 'n staatsdiens van 1,958 amptenare.

Die Hollanders was nie gelief nie. Baie was arrogant en het poste beklee waarna Transvalers geaspireer het. (In 1897 was slegs 682 amptenare gebore Transvalers.) Die koerant Land en Volk het die Hollanders knaend aangeval. Maar hulle sou ten volle in die Afrikaanse gemeenskap opgeneem word en uit Hollandse geledere sou later ook Hendrik Verwoerd kom, wat in die jare sestig van die volgende eeu amper al die Afrikaners sou begeester. net soos die nog klein stroompie Duitse sendelinge en hul nasate was die Hollanders puik toevoegings tot die Afrikanergemeenskap.

Die "Progressiewe" was Kruger se sterkste teenstanders. Hul leier was Piet Joubert, die kommandant-generaal, en in hul geledere was knap, ondernemende burgers soos Louis Botha, J.H. (Koos) de la Rey, Carel Jeppe, Ewald Esselen, Schalk Burger en die joernalis Eugene Marais. In 1893 het Kruger Joubert in die presidentsverkiesing net naelskraap verslaan. Die Progressiewe het die ondersteuning van ongeveer 'n derde van die verteenwoordigers in albei kamers van die wetgewende gesag gehad het.

Die Progressiewe wou die modernisasie van die republiek versnel deur ontslae te raak van die onbekwame ou Krugermanne wat sekere sleutelposisies beklee of konsensies gekry het. Hulle wou ook korrupsie en wanadministrasie uitskakel, 'n meer progressiewe onderwysstelsel invoer en die politieke debat in 'n moderne idioom voer. Die heel belangrikste vir hulle was die snelle uitbreiding van die stemreg sodat Brittanje geen ekskuus kon hê om die republiek te vernietig nie. Ludwig Krause, in Cambridge opgelei as prokureur, het later geskryf dat Kruger en sy volgelinge die Uitlander-eise om stemreg teengesstaan het net omdat dit hul eie party sou verswak. Voglens hom is die oorlog veroorsaak deur selfsugtige politici aan albei kante. Kruger wou die stemreg toeken op voorwaarde dat immigrante eers naturaliseer. Sy traagheid om te hervorm, het Brittanje 'n stok in die hand gegee. 

Die stemregdebat het veral gegaan oor 'n wet van 1890 wat bepaal het dat immigrante die stemreg eers na 14 jaar kon verwerf en wat 'n Tweede Volksraad ingestel het vir Uitlanderbelange. 

Hierdie wet was vir die Uitlanders die simbool van al hul wrewel. Omdat 'n presiese volkstelling nog nie moontlik was nie, het Kruger sy beleid op die dryfsand van gissings gebou. Hy het geglo dat daar slegs 30,000 burgers is wat kan stem teen ongeveer 70,000 Uitlanders wat vir die stemreg sou kwalifiseer as dit dadelik beskikbaar sou wees. Dit was vir hom 'n nagmerrie dat die swaar verkreë onafhanklikheid van sy republiek met 'n oorwig van stemme vernietig kon word. Hy was nie vatbaar vir rede nie tot dit te laat was. Sy knap jong adviseur Jan Smuts het later geskryf dat Kruger die Boer se karakter versinnebeeld "in sy helderder en donderder fasette." 

Die stemregkwessie was egter vir Joseph Chamberlain en Alfred Milner 'n voorwendsel, nie die werklike rede vir inmenging in Transvaal nie. Selfs al is die stemregkwalifikasies dramaties verlaag, soos Krause wou hê, sou Brittanje heel waarskynlik redes aangevoer het waarom dit onnodig is dat Britse onderdane die proses van naturalisasie ondergaan voordat hulle kwalifiseer. Kruger het tereg geglo dat Brittanje nie in goeie trou onderhandel nie. 

Wat hy nie besef het nie, was dat hulle oorlog wou hê omdat hy halsstarig was en die sneller modernisasie van die republiek verhinder het nie. Die eintlike rede hoekom die imperialiste hom uit die pad wou hê, was dat hy in soveel opsigte innoverend, pragmaties en soepel was. Onder hom was die ZAR besig om te ontwikkel tot 'n dinamiese en doeltreffende staat. Met die kragopwekker van goud was dit vinnig op pad om al die state in Suid-Afrika polities en ekonomies te oorheers. Dit was Chamberlain en Milner se nagmerrie, en hulle wou betyds oorlog maak om dit te voorkom. 

"John Bull Afrikaner": Rhodes, die vryer

Die Kaapse Afrikaners het 'n meerderwaardige houding gehad teenoor die Groot Trek en die twee republiekies wat aanvanklik so gesukkel het. Hy was heeltemal bereid om die noordelike Afrikaners raad te gee, al was dit ongevraag. min van hulle het Kruger as 'n bedrewe politikus beskou. Republikeinse onafhanklikheid of die behoud van die Hollandse taal, wat Kruger so hoog op prys gestel het, het nie veel by die leiers van die Afrikanerbond getel nie. Die bond het nie daarin belang gestel om alle Afrikaners in die hele Suid-Afrika op 'n etniese basies te verenig nie. Hulle wou hê dat Transvaal sy tariefmure afbreek en dat die republieke en kolonies in een staat verenig word onder die Britse vlag.

Nietemin was daar ook solidariteit. Hofmeyr het aan die Britse eerste minister geskryf dat suidelike en noordelike Afrikaners aan mekaar verbonde voel deur al di bande van gedeelde afkoms, taal en godsdiens. Hulle het ondertrou en was vriende. "Their worngs are our wrongs and services rendered to them are services rendered to us."

Maar Rhodes het al hoe meer wrywing laat ontstaan. Hy het, nadat hy sy groot slag in Kimberley geslaan het, na Kaapstad verhuis. Hy het die politiek betree as parlementslid van Barkly-Wes, 'n kiesafdeling met hoofsaaklik Britse delwers en Afrikanerboere, wat hom herhaarldelik herkies het. Van die staanspoor het hy die Afrikanerbond en Jan ("Onze Jan") Hofmeyr, die leier, die hof gemaak met sy amper onweerstaanbare aura van geldmag, nederigheid en charisma. Hy het homself 'n Afrikaner genoem in die inklusiewe betekenis van die term wat De Zuid-Afrikaan reeds in 1830 bepleit het. 

Die briljante Edmund Garrett, redakteur van die Cape Times en vurige Rhodes-ondersteuner, het die term John Bull Afrikaander geskep as deel van sy argument dat Brittanje en Rhodes ook in die belang van die Kaapse Afrikaners en uiteindelik van alle wit Suid-Afrikaners optree.

Die politiek van Rhodes en Hofmeyr het vinnig verstrengel geraak. Rhodes het sy steun gegee vir die Afrikanerbond se aandrang op godsdiensonderrig in skole, die skrapping van die die belasting op brandewyn en wyn, beskerming teen goedkoop invoerprodukte wat die plaaslike boere finansieël ondermyn, en die uitsluiting van die "kombers-stem" (die stem van tradisionele swartes) van die kieserslys.

Rhodes se mees grandiose projek was 'n Britse "Grootpad na die Noorde", wat van Kaapstad deur die huidige Botswana na Midde-Afrika en miskien selfs tot in Kairo sou strek. Dit moes 'n belangrike handelsroete word en terselfdertyd lei tot die vestiging van die Britse gesag oor Betsjoeanaland, Matabeleland en Masjonaland. Vroeg in die jare tagtig het allerlei ontwikkelings die verwesentlking hiervan bedreig. In 1882 het grensboere die twee republieke Stelleland en Gosen aan die Transvaalse wesgrens uitgeroep en die ZAR het hulle provisioneel geannekseer. In 1883 het Duitsland die gebied noord van die westelike deel van die Oranjerivier geannekseer en in 1884 'n Duitse protektoraat uitgeroep. 

Die moontlikheid dat die ZAR en Duits-Suidwes-Afrika by mekaar kon aansluit, was nie vergesog nie en het groot kommer in Kaapstad en Londen gebaar. Rhodes en Hofmeyr het saamgestem dat die Duitse invloed streng beperk moet word. Rhodes was gretig om die republieke in Stellaland en Gosen in die kiem te smoor en moontlike weswaartse uitbreiding van die ZAR te fnuik. 

Wat die taak makliker gemaak het, was die veranderende diplomatieke toneel. Na nog 'n besoek van drie Transvaalse afgevaardigdes, o.a. Kruger, aan Londen het Brittanje besonderhede van 'n Londense Konvensie (1884) bekend gemaak. Dit het finaal die gewapende botsing van 1880 - 1881 in Transvaal afgesluit. Paul Kruger, wat in 1883 president geword het, was veel meer tevrede daarmee as met die konvensie van twee jaar vroeër en sou dit nie graag in gevaar wou stel nie.

Volgens die konvensie kon Brittanje naturellewetgewing in die ZAR nie meer veto nie. Al wat van Britse "soesereiniteit" oorgebly het, was dat die ZAR geen verdrae met ander Europese moonthede of stamme wes of oos van sy grense mag sluit sonder Britse toestemming nie. Europeërs moes in die republiek volle burgerregte geniet en daar moes nie nadelige tariewe op Britse produkte gehef word nie. Aan Transvaal is 'n wesgrens gegee wat net 'n klein stukke van Stellaland en Gosen ingesluit het. 

Kruger sou graag 'n neutrale grootpad wou gehad het, maar was nie besonder gretig om weswaarts uit te brei nie. Hy was vol vertroue dat as hy oor die grootpad toeskietlik is en Brittanje sy sin gee, die ZAR toegelaat sou word om noord- en ooswaarts uit te brei en ook 'n hawe te bekom. Hy het nie geprotesteer toe Brittanje wes en noordwes van die ZAR 'n kroonkolonie in die suide en 'n protektoraat noord daarvan uitroep nie.  Jare later sou dit die protektoraat Betsjoeanaland word. 

Die eintlike botsing was oor vryhandel. Vroeër wou die Kaap geen tolunie met die brandarm republieke in die OVS en die Transvaal hê nie. Na die ontdekking van goud en die verskuiwing van die ekonomiese swaartepunt na die Witwatersrand het die Kaap skielik 'n tolunie en vryhandel in 'n gemeenskaplike Suid-Afrikaanse mark bepleit. Kwalik verskuil was die Kaapse begeerte dat dit die eerste stap moes wees op die weg na 'n verenigde Brit-Suid-Afrika met die Kaap as senior lid. 

Kruger was glad nie hiervoor te vinde nie. Hy het 'n tolunie verwerp en hoë invoertariewe op Kaapse goedere gehef. Hy het geweier dat die Kaapse spoorlyn oor die Transvaalse grens loop tot tyd en wyl die ZAR se spoor na Delagoabaai voltooi is. 'n Verenigde Suid-Afrika moes volgens hom onder 'n republikeinse vlag wees. Intussen moes die ZAR tot 'n sterk en onverbonde staat opgebou word. Hy het daarop aangedring dat die Kaapse Afrikaners hom en sy Republiek in 'n ware Afrikaanse gees bystaan. Die Transvaalse Volksraad het besluit dat daar geen wesenlike beleidsverandering sou wees voordat die ZAR 'n eie hawe het nie. 

Die omsingeling van die ZAR

Vir Hofmeyr was Kruger se verwerping van 'n tolunie 'n bitter pil en dit het hom verder in Rhodes se arms gedruk. Toe Kruger oor vryhandel ontoeskietlik blyk te wees, het die Afrikanerbond se leiding hom daaraan herinner hoe solidêr die bond en sy volgelinge tydens en na die gewapende botsing van 1880 - 1881 met hul Transvaalse broers was.

Maar die ZAR se ontoeskietlikheid het sake vertroebel. 'n Komitee van die bond, onder andere Hofmeyr, het in 1887 aan Kruger 'n memorie gestuur wat lui: "Ons moet met leedwese erken dat daar 'n verkoeling te bespeur is van die warm gevoel van die gehegtheid aan die saak van die Transvaalse broers. Ons vrees dat tensy sake 'n ander loop neem dit weldra onmoontlik sal wees om weer soveel simpatie as destyds in die Kaapkolonie te kry."

Kruger het op sy beurt vermoed dat Rhodes planne het om die ZAR te omsingel deur die anneksasie van die gebiede rondom die republiek, en hom so te isoleer. Hy het geglo dat Rhodes in hierdie planne vir Hofmeyr in die sak het. In 1890 het Hofmeyr Kruger in Pretoria besoek en die ZAR probeer oorreed om 'n konvensie te onderteken wat sou behels dat die republiek nie Swaziland beset en verder na Kosibaai uitbrei nie. Volgens Hofmeyr wou hy maar net oorlog voorkom, en hy kon in elk geval niks verander aan die bewoording wat Britse amptenare opgestel het nie. Kruger het driftig uitgeroep: "Jy is 'n verraaier, 'n verraaier van die Afrikanersaak."

Kruger se ergste vermoedens is bevestig deurdat Hofmeyr Rhodes al hoe meer sy sin gegee het. In 1889 het Rhodes die British South Africa Company gestig met die oog daarop om die Britse vlag in Matabeleland en Masjonaland te hys. Hofmeyr het geen beswaar gehad nie en het hom laat oortuig dat hierdie imperiale avontuur sowel 'n Britse as 'n Afrikanerprojek was. Met Hofmeyr en die Afrikanerbond se ondersteuning het Rhodes in 1890 eerste minister van die Kaapkolonie geword en aangebly as voorsitter van die BSA. Die bond het dit ook goedgekeur dat De Beers Consolidated sy diamantmonopolie behou. Of Rhodes vooraanstaande bondsmanne omgekoop het, is onseker, maar dit is betekenisvol dat van die leiers in hierdie tyd elke 'n aansienlike aantal aandele in De Beers en in BSA bekom het. 

Hoe vinniger die Witwatersrandse myne goudstawe na Londen gestuur het, hoe meer het Rhodes en die vurige imperialiste in Londen bekommerd geraak. Die ZAR het die Kaap verbygesteek wat uitvoer betref en het vinnig die Suid-Afrikaasne ekonomie begin oorheers en die Britse oppergesag begin uitdaag.

Om hierdie nuwe bedreiging uit te skakel, het Rhodes alles in sy vermoë gedoen om die ZAR te verongeluk. Ondanks al die druk het die ZAR geweier om by 'n spoorweg- en tolunie aan te sluit. In 1894 is die spoorlyn na Delagoabaai voltooi en daardeur het die ZAR toegang tot 'n nie-Britse hawe verkry. Die republiek het nou die meeste van sy handel met die buiteland hierdeur gekanaliseer.

Rhodes was erg gefrustreerd en bekommerd. Masjonaland en Matabelaland was nie 'n eldorado nie, die magnate in Johannesburg het hom in die die goudmynbedryf oorskadu en sy hoop op 'n Suid-Afrika onder die Britse vlag het vinnig vervaag. Die aartsdobbelaar Rhodes het nou sy grootste waagstuk aangepak. Hy sou die omverwerping van die ZAR organiseer met die samewerking van Joseph Chamberlain, minister van kolonies in die kabinet van lord Salisbury, wat in 1894 aan die bewind gekom het, en sir Hercules Robinson en sir Graham Bower, onderskeidelik die Britse hoë kommissaris en die imperiale sekretaris in Kaapstad.

Op 29 Desember 1895 het Rhodes se groot vertroueling Leander Starr Jameson aan die hoof van 'n afdeling van 500 man, gewerf van die BSA se private leër, Transvaal binnegeval. Jameson en Rhodes se hoop was dat die inval politieke onstuimigheid aan die Witwatersrand sou veroorsaak wat sou uitloop op 'n Uitlanderopstand. Dit moes dan die voorwendsel word vir ingryping deur die Britse hoë kommissaris, wat Britse soewereiniteit oor Transvaal sou uitroep ten einde die vrede te bewaar. 

Die inval was 'n ramp. Die invallers is vinnig gearresteer en Rhodes moes bedank as eerste minister. Sy vriendskap met Hofmeyr was daarmee heen. Al was Hofmeyr ook hoe toegeeflik teenoor Rhodes, het hy nie aggressie teen die Boererepublieke geduld nie. Die Jameson-inval was klinkklare bewys dat die man wat Hofmeyr altyd voorgehou het as 'n werklike bondgenoot van die Afrikaners hulle op 'n siniese en skandelike wyse bedrieg het.

Selfs die Britse konserwatiewe establishment was erg verleë en het hulle gedistansieer van Chamerlain, wat klaarblyklik aandadig was. Rudyard Kipling, die hofdigter van 'n jonger generasie, het in sy koerant, Ons Land, 'n vurige veroordeling van die Jameson-inval geplaas. "Die dolksteek waarmee gepoog is om die Afrikanerdom vir goed in die republieke te verlam, het 'n elektriese skok an die nasionale hart gestuur. Die Afrikanerdom het ontwaak met 'n erns en bewustheid...Deur die hele Suid-Afrika het 'n nuwe gevoel golwend gegaan."

Hofmeyr het nie tot 'n openlike breuk met Rhodes oorgegaan nie, en 'n deel van die Afrikanerbond se ondersteuners het hom eers verwerp toe hy die bond in die verkiesing van 1898 met 'n jingobeleid onder die leidng van Gordon Sprigg beveg het.  Die bond het nou nuwe steun gekry in die vorm van Engelssprekende liberale wat met misnoeë moes toesien hoe 'n groot deel van die Engelse gemeenskap hulle by Rhodes en onder die jingovlag skaar. Ondser die nuwe bondgenote was John X. Merriman en twee lede van die Schreiner-familie, William en Oive. Die bond het die verkiesing naelskraap gewen. Die nuwe ministerie was hoofsaaklik 'n Afrikanerbondregering, met William Schreiner as eerste minister. Hy het die Sprigg-kabinet, wat pas bedank het, verwyt dat dit geen simpatie getoon of versoenende gebaar gemaak het teenoor die ZAR as 'suster-republiek' nie. Maar die ondersteuning van 'n paar Engelse liberale vir die AFrikanerbond kon nie voorkom dat oor die hele Suid-Afrika 'n al hoe bitterder konflik tussen die twee wit "rasse" ontwikkel nie. 

Die koms van nuwe manne: Smuts en Steyn

In 1895 het Kruger 70 geword, maar die Jameson-inval het nuwe lewe in hom geblaas. Omdat hy seker was dat Brittanje oorlog wou hê, het hy sy republiek se burgers veel beter bewapen. Hy het 'n klein staande leër op die been gebring. Hy het die ZAR se administrasie opgeknap en knap, jong Afrikaners aangestel. Onder hulle was Jan Christiaan Smuts. Saam met Marthinus Theunis Steyn, wat in 1896 president van die OVS geword het, het ons hier twee van die merkwaardigste manne wat nog op die politieke toneel gekom het. Albei was onder die heel eerste moderne Afrikaners.

Smuts is in 1870 op 'n plaas naby Riebeek-Wes gebore in 'n sterk Afrikanerbond-huis. Hy het aan die Victoria-kollege op Stellenbosch gestudeer en daarna aan die Universiteit van Cambridge 'n graad in die regte verwerf. F.W. Maitland, een van die beroemde Cambridge-geleerdes, het Smuts bestempel as een van die briljanste studente wat hy ooit onderrig het. Smuts het Rhodes 'n paar maande voor die Jameson-inval nog sterk verdedig. Hy het sy Britse burgerskap laat vaar en na Pretoria getrek, wat hom as 'n man met 'n "ysere-wil" bestempel het. 

Merriman, wat Smuts goed geken het, het opgemerk dat hy 'n buitengewoon knap politikus is, en daarmee saam 'n filosoof en gekultiveerde man met groot intellektuele gawes. Hy het die reputasie gehad dat hy "shifty" sou wees, maar volgens Merriman het hy dié reputasie na altyd verdien hie. Hy het inderdaad by Afrikaners, veral by sy opponente, die bynaam "Slim Jannie" gehad, wat 'n hele paar betekenisse gehad het: baie intelligent, maar ook geslepe, slu en ontwykend. Hy was ongetwyfeld die vernuftigste wit politikus van die twintigste eeu, iemand wat verskeie kere 'n nuwe politieke basis vir homself moes skep. 

Marthinus Theunis Steyn, in 1857 gebore, was 'n man met ander eienskappe. Hy was die eerste Vrystaatse president wat in die republieke gebore is. Sy pa se plaas was net buite Bloemfontein en hy kon van vroeg af met sy ouers saam omgaan met die hoofsaaklik engelssprekende elite in die hoofstad - die Brands, Fichardts, Fischers en Frasers. Steyn het met Tibbie Fraser getrou, en met haar in Engels gekorrespondeer.

In Nederland, waar hy in die regte gaan studeer het, was sy Nederlands so swak dat hy sy studie in Londen gaan voltooi het. Hy het in 1889 regter in Bloemfontein geword en in 1896  president van die OVS. Hy is nie beskou as besonder briljant nie, maar was bekend vir sy moed, groot sjarme, sterk karakter en gesonde oordeel. 

Terwyl daar vrede was, het Steyn as republikein noue aansluiting by die ZAR gesoek, maar kultureel het hy hom meer die die tweetalige wit gemeenskap in die Kaap-kolonie vereenselwig. Merriman, wat die toenemende jingoisme onder die Engelssprekendes verfoei het, het in Steyn 'n geesgenoot gevind. Abraham Fischer het uit Bloemfontein

Hermann Gililomee

Die Afrikaner: 'n Biografie

Tafelberg Uitgewers

ISBN 978-0-624-04181-8