Brood uit die hemel

(VIND DIE AUDIO WEERGAWE ONDERAAN DIE BLAD)


Oom Attie se Slaaptyd stories


Deel Drie

deur Arthur S. Maxwell

"Wel, dinge is maar donker," het Pappie gesê, "en ek sien nie hoe ons gaan deurkom nie. Maar ek glo nog die Here gaan ons help."

"Ek hoop Hy gaan - spoedig," het Mammie ernstig gesê, want sy het maar alte goed geweet hoe min kos daar in die spens oor was.

"Ek was nog nooit in so 'n moeilikheid nie. Geen geld in die huis nie en dit is nie ons skuld nie. Ek wonder wat gaan gebeur," het Pappie gesê.

"Ek weet nie, my man, ek is net bekommerd oor die kinders. Hulle sal netnou hier wees vir ete en hier is nie 'n krieseltjie brood in die huis nie."

"Is die laaste brood op?" het Pappie geskok gevra.

"Ja, die laaste brood," het Mammie bedroeg geantwoord.

"Dan is dit sekerlik tyd dat die Here uitkoms geen," het Pappie gesê.

Op daardie oomblik het die agterdeur oopgevlieg en die drie kinders het ingestorm gekom, uitasem van die lang pad die rant uit en - soos gewoonlik - dood van die honger.

"Wat is daar om te eet Mamma," het die oudste gevra. Mammie het na Pappie gkyk. Sy het op die oomblik nie geweet wat om te sê nie.

"Ek is bevrees die Here het dit nog nie gestuur nie,"  het sy gesê.

Die kinders se gesigte het lank geword. Niks om te eet nie? Dit was vreeslik!

Hulle het geweet dat Pappie nie werk het nie en dat hy swaar kry, maar daar was darem nog altyd iets vir hulle om te eet.

"Mamma," het die jongste na 'n oomblik se stilte gesê, "as daar niks kos in die huis is nie, hoekom vra ons nie vir Jesus om vir ons kos te stuur nie? Ek is seker Hy sal ons nie laat omkom nie en ek is so honger."

"Dis al wat ons kan doen," het Pappie gesê. "Kom ons kniel nou hier om die tafel en ons bid."

Sonder om verder te praat, het hulle gekniel - Pappie, Mammie en die drie kinders - en hulle het by die Here gepleit om vir hulle brood te stuur om te eet soos Hy in Sy Woord beloof.

Nou het dit so gebeur dat juis op hierdie middag twee dames wat aan dieselfde kerk as hierdie huisgesin behoort het, oor hulle gepraat en gewonder hoekom hulle hulle nie meer sien nie.

"Ek dink daar is iets verkeerd," het die een gesê, "of anders sou hulle seker gister by die diens gewees het."

"Ja, dis waar," het die ander een gesê. "Ek dink ons moet hulle gaan besoek en uitvind of hulle nie dalk iets nodig het nie. Ek verstaan haar man is al 'n hele ruk sonder werk."

"Nou toe," het die eerste dame voorgestel, "kom ons gaan sommer nou."

'n Paar minute later was die twee vroue op pad na die woning van hierdie arm huisgesin. Dit was nogal ' n ver ent o m te loop en die pad het teen 'n steil rant uitgegaan.

Hulle was amper die steilte uit toe 'n bakker se afleweringswa baie vinnig by hulle verbyry. En wat dink julle het daardie oomblik gebeur? Wel, glo dit as jy wil, maar die deur het oopgevlieg en 'n brood het op die grond geval. 'n Oomblik later was dit of die wiele 'n knik vang, want die afleweringswa het woes geskud en nog brode vlieg by die oop deur uit.

Heeltemal onbewus van wat agter aangaan, het die bestuurder maar voortgegaan en binne 'n paar oomblikke het hy uit die gesig verdwyn.

Hier was nou 'n probleem vir die twee vroue. Oor die hele pad lê pragtige bruin brode - goeie kos wat binne 'n paar minute fyn getrap sou word deur die druk verkeer op die pad. Dit het tog te sleg gelyk om die goeie kos so te mors. En omdat die afleweringswa nie weer omgedraai het nie, het die twee besluit om die brode op te tel.

Dit het 'n rukkie geduur voordat hulle almal opgetel het, maar eindelilk staan hulle daar aan die kant van die pad, elkeen met 'n arm vol brode.

"Wat gaan ons nou met hulle doen?" het een, glimlaggend, maar tog 'n bietjie bekommerd, gevra.

"Ek weet nie," het die ander laggend gesê. "As ons weet aan wie hulle behoort, kon ons hulle teruggeneem het, maar ons weet nie. Al wat ek kan dink, is dat ons hulle maar moet saamneem en kyk wat gebeur."

"Nou ja, kom dan, want my arms word al moeg," het die ander een gesê.

So het hulle dus aangestap en by die hekkie van di e huuis waarheen hulle op pad was, gekom. Hulle het met die paadjie opgestap, aan die deur geklop en met die arms vol brode gestaan. Hulle het weer geklop.

Mammie het die deur oopgemaak en wat die twee dames gesien het, het trane in hul oë laat kom. Want daar was Pappie en die drie kinders nog oop hul knieë om die leë tafel.

'n Oomblik later het hulle almal opgestaan en hulle oë het geglinster, so verbaas en opgewonde was hulle.

"Jesus het vir ons brood gestuur!" het die jongste uitgeroep. "Ek het geweet Jesus sal ons gebede verhoor."

"Ja," het Pappie dankbaar en aangedaan gesê, "Jesus het gestuur en ver meer as wat ons kon waag om te vra. Dit is waarlikwaar brood uit die hemel." Ja, so sorg ons hemelse Vader.

 
"E