www.myvolk.co.za

Rooiborsie vertraag die Trein

“Ja,” het ‘n groot lokomotief tot stilstand gebring, sommer net 'n klein rooiborsie!“ Twee dogtertjies het my hierdie storie vertel, en ek weet dat dit waar is, waant dit het in hulle dorp plaasgevind. En volgens wat hulle my vertel het, het die hele dorp baie lank oor die voorval gepraat.

Dit het een namiddag begin toe 'n goedere trein by die stasie uitgestoom het. Die trein was nie ver nie toe die kondukteur 'n rooiborsie al langs die trein sien vlieg.

"Kyk na daardie voël,” het hy vir die man by hom gesê: “hy volg ons mos.”

“Ja, waarlik! dit lyk al of hy onder die kondukteurswa wil invlieg. Hy sal seker netnou wegvlieg.”  Maar die voël het al langs die kondukteurswa gevlieg. En namate die trein vinniger geloop het, het die voël vinniger gevlieg. Later het die trein te vinnig gegaan en die arme voëltjie moes opgee. Hy het sommer daar op 'n boom gaan sit, en hulle het hom later nie meer gesien nie.

Waarom die kondukteur hom oor 'n voëltjie nou bekommer, weet ek nie, miskien was dit omdat die voëltjie so verleë en verlate gelyk het toe hy die stryd gewonne moes gee. Toe die trein by die volgende stasie stilhou, het hy besluit om te gaan ondersoek instel. En hoe dink julle, wat het hy gevind? Voor, half onder die wa, in 'n hoekie, was daar 'n nessie met drie ligblou eiertjies daarin!

Nou het hy geweet waarom daardie arme voëltjie so vinnig langs die trein gevlieg het. Waar sou die voëltjie nou wees? Sou dit die trein agtervolg het?

Hulle het by daardie stasie gebly so lank moontlik, en gehoop dat die voëltjie betyds sou opdaag, maar dit het nie gekom nie. Voordat die trein weer vertrek het, het die kondukteur met die masjnis gaan praat, en hom vertel van die nessie met die eiers.

Daardie masjinis het ook 'n baie sagte hart gehad soos die kondukteur, en hy het belowe om die lokomotief nie te laat ruk sodat die eiertjies nie miskien uit die nessie rol nie. Hy het die lokomotief altyd baie versigtig tot stilstand gebring.

So het hulle gery tot by die eindstasie, en weer terug. By elke stilhouplek het die kondukteur gaan kyk of die eiertjies nog veilig was.

Eindelik was die trein weer terug by sy ou stasie. Maar waar sou die rooiborsie wees wat hulle laas daar eensaam op die boom agtergelaat het?

De rooiborsie was nie baie ver nie, want eerlank het dit daar aangevlieg gekom, reguit na die nessie, en weer op die eiertjies gaan sit.

Maar wat nou gedoen? Die kondukteur kon baie maklik heeltemal van daardie nessie vergeet het, maar hy het nie. Hy het 'n baie sagte plekkie in sy hart gehad vir daardie voëltjie. Hy het die stasiemeester van die nessie vertel wat ook daarna kom kyk het.

Die stasiemeester het gevoel dat hulle die wa behoort af te haak en daar te laat staan totdat die eiertjies uitgebroei was, want hy het ook 'n baie sagte hart gehad, net soos die kondukteur en die masjinis. Maar hulle sou dit nie kon doen sonder die toestemming van die hoofkantoor nie, en om sake nog moeiliker te maak, was dit die enigste kondukteurswa wat hulle daar gehad het, en dit moes weer die volgende dag vertrek. Die groot vraag was of die hoofkantoor gewillig sou wees om betyds 'n ekstra wa te stuur net omdat daar 'n rooiborsie op die was wat hulle het sit en broei.

Dit sou hulle seker nie doen nie. Die stasiemeester het darem besluit om die hoofkantoor te bel en te doen wat hy kon. Die ergste wat hulle kon doen, is om te weier. Soos dit gewoonlik in sulke gevalle gaan, het die nuus van die rooiborssie en haar nessie baie gou versprei;  die kondukteur het daarvan gepraat; die masjinis het daarvan gepraat; en die kinders het daarvan gepraat totdat die hele dorp daarvan geweet het, en die mense het na die stasie gestroom om die nessie te sien.

Ook die koerante het van die storie gehoor; hulle het van die rooiborsie geskryf, en ook prente geplaas. Soos julle self kan begryp, het die koerantberigte groot belangstelling gaande gemaak.

Die nuus het so vinnig versprei dat ook die spoorweghoofkantoor daarvan te hore gekom het. Toe die stasiemeester dus die hoofkantoor bel om te vra of hulle nie 'n eksta konkukteurswa kon stuur nie, het die bestuurder dadelik ja gesê. Ook het hy gesê dat hulle die wa met die nessie op 'n stil plek moet trek sodat die rooiborsie haar eiertjies kan uitbroei.

Die ekstra wa het die volgende dag daar aangekom. Daarna het mevrou Rooiborsie dag na dag op die eiertjies gesit, terwyl honderde nuuskieriges - kinders en grootmense - haar kom beloer het. Eendag het iemand gesien dat daar kleintjies in die nessie was, en toe het daar weer net soveel mense kom kyk hodat die voëltjie haar kleintjies voer. Die eienaars van daardie spoorweg het beveel dat daardie wa daar moes staan totdat die kleintjies kon vlieg en die nes verlaat. Dit was om hierdie rede dat die rooiborsiegesin die gaste van die spoorweg was totdat hulle besluit het om elders te gaan woon.

'n Mens sou dink dat dit snaaks is dat daardie vier manne sulke moeite gedoen het net ter wille van 'n ou voëltjie! Maar dit laat ons besef hoe baie teerhartige mense daar nog in die wêreld is. Die bietjie wat hulle kon doen vir daardie ou rooiborsie het hulle groot vreugde verskaf.

Slaaptyd stories

Deel Vyf

deur Arthur S. Maxwell

Posted 13 weeks ago