www.myvolk.co.za

Posted 49 weeks ago

Slaaptydstories in Afrikaans

Terug van die Strand

Nellie en Frankie was onderweg na die strand. Hoe gelukkig was hulle nie! Daar was niks waarvan hulle so baie gehou het as om op die sand te speel, of in die vlak water te loop nie.

“Ek wil julle darem net aan een ding herinner,” het Pappie gesê toe hy daar stilhou. “Onthou dat hulle albei nuwe skoene aanhet. Trek julle skoene uit sodra julle by die strand is, en sorg dat hulle nie verloor nie.”

“Ja Pappie,” het hulle albei gesê “ons sal.” Maar hulle het nie eintlik gedink wat hulle gesê het nie, want in hulle verbeelding het hulle al in die water rondgestap.  

Toe die motor stilhou, het die twee opgewonde kinders uitgespring, en reguit na die water gehardloop. Skielik het Nellie haar skoene onthou; sy het hulle uitgetrek en gesit waar sy seker was dat sy hulle weer sou vind. Maar Frankie was so gretig om by die see te kom dat hy byna met skoene en al in die water in is. Hy het sommer sy skoene daar uitgeskop, hulle laat lê net waar hulle geval het, en hy is die water in. Hoe heerlik het hulle daar gespeel!

Toe hulle moeg gespeel was in die water, het hulle sandkastele gebou, reisies gehardloop, en toe weer in die water geloop. Hulle was so besig dat hulle nooit die keer van die gety opgemerk het nie, en die water het al hoër en hoër gestyg tot by die plek waar Frankie se skoene lê.

Eindelik, te gou soos hulle gereken het, het Pappie vir hulle geskreeu om terug te kom. “Dit is tyd om huis toe te gaan: kom jou julle twee.”

Toe was daar ‘n gesoek na skoene. Nellie het hare gekry, want sy het hulle op 'n veilige plek gelaat. Maar Frankie se skoene was nêrens te sien nie. Hy was nie eens meer seker van die plek waar hy hulle gelaat het nie, want dit was nou alles toe onder die water!

Hulle het gesoek en gesoek, maar tevergeefs. Daar was geen skoene nie. Pappie het gesê dat Frankie baie agtelosig was, en dat hy kaalvoet sal moet huis toe gaan. Maar Nellie het gesê dat sy nog 'n paar slippers in die motor het, en dat Frankie hulle solank kan aantrek.

So is hulle dan huis toe; Nellie met haar nuwe skoene aan, en Frankie met Nellie se ou slippers. Frankie het glad nie daarvan gehou om meisie-skoene te dra nie; hy wou sy skoene hê. Ook Pappie en Mammie was ontevrede, want hulle sou weer 'n nuwe paar skoene moes koop. “Miskien kan ons weer gaan soek,” het Pappie gesê.

“Dit sal nie help nie,” het Moeder gesê. “Die skoene sal by die tyd al diep in die see wees.”

“Wel, ons kan darem maar gaan kyk,” het Pappie gesê, “Dit sal in elk geval geen kwaad doen nie.”

Die volgende oggend is hulle almal weer na die see toe om na Frankie se skoene te soek. Maar, vreemd genoeg, was dit hierdie keer Pappie en Mammie wat uit die motor geklim het; Nellie en Frankie het bly sit. Hulle het gesê dat hulle 'n rukkie wou wag, maar het nie gesê waarom nie. Dit was vir Pappie en Mammie snaaks, en hulle het toe maar alleen gaan soek.

Daar, alleen in die motor, het Nellie en Frankie by die agterste sitplek neergekniel en begin bid. Nellie was maar nege jaar, en Frankie net sewe jaar oud. Maar hulle het geglo dat Jesus kinders liefhet en hulle graag help wanneer hulle in die moeilikheid is. Hulle het gebid dat Frankie se skoene gevind mag word! Ses maal het hulle dieselfde gebedjie oor en oor gebid.

Toe het hulle Pappie en Mammie vinnig sien terugkom na die motor toe. Hulle was baie blymoedig en opgeruimd.

“Kyk!” het Nellie uitgeroep. “Kyk wat dra Pappie daar!”

“My skoene! My Skoene! het Frankie uitgeroep. Ja, hulle het die skoene gevind, en onbeskadig ook. Pappie het hulle gevind nie ver van waar die motor stilgehou het nie. Waarom hy hulle juis daar gevind het, kon niemand sê nie, maar almal was dankbaar, veral Nellie en Frankie, wat toe vertel het wat hulle gedoen het terwyl Pappie en Mammie na die skoene gaan soek het.

Dit is so 'n kleinigheid om oor te bid, sê julle. Ek weet. Dit was maar net 'n paar skoentjies! Maar waarom nie? Jesus stel belang in al die klein dingetjies van ons lewe. Het Hy dan nie van die mossies gesê, "Nie een van hulle is voor God vergeet nie?” Ja, Hy het, en Hy het verder gesê, “Julle is meer werd as baie mossies.” Kukas 12: 6,7.

Ons moet dus nie versuim om oor klein dingetjies sowel as groot dinge te bid nie. Nie een van ons gebede - nie 'n enkele een nie - word deur God vergeet nie.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 49 weeks ago

Afrikaanse Spotprent vir die Dag

  © Zapiro Daily Maverick 1/8/2019 #Zapiro

Posted 49 weeks ago

Slaaptydstories in Afrikaans

Die Inbreker

Muriel het van die skool af gehardloop gekom.

“O Moeder,” het sy uitgeroep, “hoor net hier; al die meisies in my klas gaan na Jenny se partytjie aanstaande Donderdagaand.

"Gaan hulle?” het Moeder gesê, en sy het hard geprobeer om belangstelling te toon, want sy was baie moeg. “Dit sal baie lekker wees.”

“Maar dis nie al nie,” het Muriel gesê; “byna almal van hulle het my vertel dat hulle die pragtigste nuwe rokke gaan he - rokke van die mooiste goed.”

“Dan voel hulle seker baie bly,” het Moeder gesê. “Ja,  maar wat van my? Ek kan tog nie in my ou rok gaan nie.”

“Jou rok is nie so oud nie,” het Moeder gesê. “Jy het dit dan nou die dag op jou verjaarsdag gekry. Hoe dit ook al sy, ek sien glad nie hoe ek ‘n nuwe rok teen Donderdag kan klaarmaak nie.”

Muriel het glad nie die moee trek op Moeder se gesig gesien by die gedagte aan nog 'n rok maak nie. “Moeder!” het sy uitgeroep, “Moeder wil tog nie sê dat ek nie 'n nuwe rok vir Donderdag kan hê nie? Ek moet dit eenvoudig he! Ek kan nie dink om na Jenny se party te gaan daarsonder nie. Wat sal hulle van  my dink? Al die ander meisies sal nuwe rokke hê, en daar sal ek wees in daardie ou katoenrokkie! Ek moet eenvoudig 'n nuwe rok hê.”

Daardie uitdrukking van blye verwagting wat op Muriel se gelaat was toe sy die eetkamer ingehardloop  gekom het van die skool af, het nou plek gemaak vir 'n vreeslike vies uitrdukking. Hoe meer sy aan die sogenaamde onreg gedink het, hoe leliker het die uitdrukking op haar gesig geword. Geleidelik het sy toegee aan n baie slegte bui.

Sy het begin huil, met haar voet op die vloer gestamp en gesê, “Ek wil 'n nuwe rok hê!”

“Maar, kyk nou,” het Moeder gese. “Dis mos glad nie mooi vir 'n meisie om so tekere te gaan nie. Wat sou Jenny daarvan sê as sy jou nou kon sien?”

“Ek gee nie om wie my sien nie,” het Muriel in trane gegil.

“Kyk hier, Muriel”, het Moeder gesê. “Jy maak glad nie mooi nie. Jy is seker baie moeg. Gaan ddadelik na jou kamer. Ek sal jou ete later bring.”

Muriel het die vertrek woedend verlaat, en sy is die trap op na haar kamer toe. Later het Moeder haar aandete gebring. Sy het nie veel gesê nie, en sy het net lank genoeg vertoef om klein Jimmie in die bed te sit. Jimmie het hom aan die hele affêre nie gesteur nie, maar dit was darem vir hom snaaks dat Muriel so vroeg gaan slaap het.

'n Hele paar uur het verby gegaan. Muriel het probeer slaap, maar sy kon nie. Haar gewete het haar wakker gehou. Sy het geweet dat sy baie jammer behoort te wees oor haar gedrag, maar iets het haar teruggehou om dit te herken.  Sy het rondgerol in haar bed, en nog 'n uur het verbygegaan, en toe nog een. Eindelik het sy aan die slaap geraak.

Dit was vir haar of sy nog skaars aan die slaap was toe iets aan haar neus getrek het. Dit was Jimmie.

“Sus, Sus,” het hy gese, “Ek is bang. Mag ek by jou kom slaap?”

Muriel het regop gesit.

“Wat makeer, Jimmie?” het sy gesê, en die outjie opgetel langs haar.

“Het jy nie gehoor nie?” Die geraas daar onder!“

"Nee,” het Muriel gese. “Ek het geslaap. Wat se soort geraas was dit?”

“Iemand stap daar onder rond,” het Jimmie gese.

Muriel het geluister. Dit was 'n baie donker nag, en stil. 'n Koel luggie het deur die venster ingewaai. Die eetkamerhorlosie het twee-uur geslaan.

“Dis al twee-uur,” het Muriel gese. “Niemand kan nou nog daar onder wakker wees nie.”

“Maar daar is iemand daar onder, ek het hom netnou gehoor,” het Jimmie gese.

“Jy moes dit ook gehoor het.”

Skielik het Muriel se hart begin bons, en sy het sommer baie bang geword. Sy was nou seker dat sy ook iemand hoor loop het.

“Het jy gehoor,” het Jimmy gevra.

“Ja,” het Muriel gesê. “Ek wonder-”

“Dink jy dis 'n inbreker?” het Jimmie fluisterend gevra.

“Dit kan wees,” het Muriel gesê, en nou was sy regtig baie bang.

“Wat sal ons doen?” het Jimmie gevra. “Dink jy hy sal ons seermaak?”

Muriel het nie geweet wat om te sê nie. Sy wou eers haar kop toetrek. Toe het sy onthou hoe sy eendag aan die meisies by die skool gesê het was sy sou doen as sy ooit 'n inbreker teekom. Sy het 'n oomblik gedink.

“Daar is dit weer!” het Jimmie bang gefluister, en sy sussie begin vasklem.

“Jimmie,” het Muriel gese, “weet jy wat, ek sou baie graag wou sien hoe 'n inbreker lyk, net eenmaal, sodat ek die meisies by die skool kan vertel.”

“Ek wil nie een sien nie,” het Jimmie gese.

“Sal jy saam met my kom as ek onder toe gaan?” het Muriel gevra. “Ek sal na jou kyk.”

Jimmie het gehuiwer, maar hy het darem saam gegaan. Hulle het uit die bed geklim, en is op hulle tone na die deur, en het dit oopgemaak.

Die skarniere het so geraas dat hulle amper weer terug bed toe is. Maar hulle het mekaar se hande styf vasgehou, en stilletjies na die trap gegaan.

Hulle het so 'n rukkie gewag, en toe is hulle verder.

K-r-a-a-k! het een van die trappe weer gegaan. Weer het hulle gewag. Toe is hulle verder. Kraak! Kraak! het die trappe geraas.

“Hy sal ons hoor,” het Jimmie gewaarsku, “Laat ons teruggaan.”

“Wag maar 'n bietjie,” het Muriel gefluister, en sy hand 'n druk gegee. “Ons is amper daar. Kyk daar is lig in die eetkamer. Ek moet sien hoe 'n inbreker lyk, want ek mag nooit weer die kans kry nie.”

“Maar sal hy ons nie seermaak nie?” het Jimmie gevra.

“Ons sal vinnig weghardloop,” het Muriel gesê.

Hulle was nou onder in die gang.

Stilletjies het hulle na die deur gesluip. Dit was op 'n skrefie oop. Muriel het dit nog so 'n klein endjie oopgestoot. Toe weer 'n bietjie, en toe nog 'n bietjie. So is die deur al wyer en wyer oopgestoot todat Muriel gemeen het dat sy nou sou kon inloer.

Jimmie het haar hand baie styf vasgehou terwyl sy ingeloer het.

“Muriel! het 'n stem uitgeroep, en 'n skêr het grond toe getuimel.

"Moeder!” het Muriel uitgeroep.

Hulle het na mekaar gekyk.

“Moeder! Wat doen Moeder hierdie tyd van die nag hier? Dit is al amper half-drie, en Moeder lyk so moeg.

"Ek maak sommer 'n rok,” het Moeder gesê.

“Tog nie my rok nie”, het Muriel uitgeroep. “O, dit is! Moeder moes dit nie gedoen het nie. Ek verdien dit nie. Moeder moes nie so laat wakkergebly het nie. en Moeder is so moeg!”

Sy het haar Moeder omhels. “Ek is so jammer,” en toe het sy begin huil.

“Toe maar, toe maar,’ het Moeder gesê. "Die rok is bykans klaar. Kom laat ons nou almal gaan slaap. Maar wat doen Jimmie hier?”

“Muriel het gesê dat ek 'n inbreker sou sien as ek saam met haar kom, en nou is daar nie een nie,” het Jimmie teleurgestel gesê.

“Ek is jammer,” het Muriel gesê, toe hulle saam boontoe is, “maar Mammie is tog seker baie beter as 'n inbreker, is sy nie?”

Slaaptyd stories

Deel Twee

deur Arthur S. Maxwell

Posted 49 weeks ago

Wie is ek? #trotsAfrikaner Blog

Ken jy my, Afrika?

My moed plant ʼn 1652-kruis, aan die suidpunt van Afrika
en my bloed vloei Bartholomeüsnagstrepe oor die oseaan
Ek wuif die Pruise vaarwel, te voet na Amsterdam, en te skip na die Suide soos die nuwe horisonne my roep
en my Germaanse trots die Krugers en Kriges en Kleynhanse word dit wat met Duitse durf die aarde oopkloof om hoop en lewe te bring

Vanaf die kroon se eilande kom ek Iers, en Skots, en Engels hieraan, om vir sy majesteit, en later haar majesteit, se ryk die son nooit te laat ondergaan

Maar hierdie hartsland verdeel my lojaliteite en ek kies my eie bo die nou vreemde
Ek trek

Ek trek deur Vegkop en Blaauwkrans en Weenen en staan vas voor die oormag tot die rivier bloei.

Ek trek
Ek trek tussen wit tente en kruise deur tot in my eie republieke en my eie vlae en my eie lied

En ek sing
ek sing in my eie woorde oor my eie vryheid en my eie toekoms
En ek bou en plant en groei

En my Gelofte word versoeningsbloed wat plaasmoordstrepe oor mielielande, en wingerde en velde vloei
Tot vryheidshorisonne weer roep.

Ek is Afrikaner
Ek ken jou Afrika, maar ken jy my?
Ek is Afrikaner, en as trek lê my spore diep
Ek is Afrikaner, en my spore word nie somaar deur winde van verandering uitgewis nie
Ek is Afrikaner
Ken jy my, Afrika? Want ek…ek ken jou.

Geleen van Orania Blog

#share

Posted 51 weeks ago

Wie is ek? #trotsafrikaner Blog

Posted 51 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis

29 Mei 1959: Engelssprekendes praat Afrikaans

Die Wonder van Afrikaans-fees van die FAK het die land so aangegryp dat ‘n Engelstalige dagblad se straatplakkate op die dag gelui het. “Vandag praat ons Afrikaans”, en sy hoofartikel vir die eerste keer in die geskiedenis in Afrikaans was. Engelsmeduimskole het spontaan aan die vieringe meegedoen en getuig van “uitstekende geesdrif”.

Posted 51 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis

28 Mei 1881: Prof. DF Malherbe gebore

Daniel Francois Malherbe is in Daljosafat, naby Paarl, gebore. Hy het grootgeword in ’n sfeer wat gedruk was in liefde vir land, volk en taal. Sy vader, PJ Malherbe, was ’n wynboer wat op 14 Augustus 1875 een van die stigterslede van die Genootskap van Regte Afrikaners was. 

In die Gedenkschool der Hugenoten, waar hy saam met AG Visser en Totius gestudeer het, is sterk nadruk gelê op vaderlandsgeskiedenis en Bybelkunde.

Posted 51 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis

27 Mei 1914: Instelling van die Hertzogprys

Die ontstaan van die Hertzogprys kan teruggevoer word tot 1907 toe die Vrystaat verantwoordelike bestuur verkry het. Genl. JBM Hertzog, destydse Minister van Onderwys, het in 1908 ’n nuwe onderwyswet deur die Vrystaatse parlement aangeneem gekry wat dubbelmedium-onderwys verpligtend maak en hoër besoldiging aan volkome tweetalige onderwysers vasstel. 

Verset breek onder ’n aantal eentalige Engelse onderwysers en Engelse ouers uit. Drie inspekteurs word afgedank weens moedswillige pogings om die wet te verongeluk. Na aanleiding van sekere woorde wat genl. Hertzog sou gebruik het, word ’n laseraksie deur een van die inspekteurs, ene Fraser, teen die Minister ingestel. Fraser wen die saak, en genl. Hertzog moet £25 (R50) skadevergoeding en die hofonkoste betaal. 

Die openbare gevoel ten gunste van genl. Hertzog was so sterk dat ’n insameling om sy hofonkoste te bestry, ’n saldo van £1 200 (R2 400) gelaat het. Hierdie bedrag is aan die Akademie geskenk om die beste letterkundige werk in Afrikaans te bekroon. Die skenkingsakte van 27 Mei 1914 het onder meer bepaal dat “alleen werk van die eerste rang zal beloond worden”. 

Die eerste toekenning is in 1915 aan Totius gedoen vir Trekkerswee. Met instemming van die skenker, het alle letterkundige werk vanaf 1923 vanselfsprekend in aanmerking gekom. In 1928 is die rotasiestelsel ingestel, en die drie genres kom om die drie jaar aan die beurt, beginnende by poësie, dan drama en daarna prosa.

Posted 51 weeks ago

Vandag in die Geskiedenis

24 Mei 1917: Saamwerk-Unie gestig

Onder leiding van adv. EG Jansen is die “Saamwerk-Unie van Natalse vereniging” in die Gedenksaal van die NG Kerk in Pietermaritzburg gestig. Soos die naam aandui, was dit die doel om die verskillende vereniginge onder Afrikaners in Natal te verenig om sodoende Afrikaners in die provinsie tot hegte en eendragtige optrede aan te spoor. 

Dit was bo alle twyfel een van die belangrikste gebeurtenisse vir die vestiging van Afrikaans as taal en vir die Afrikaner in Natal. Op die eerste bestuursvergadering is dit aan Mev. MM Jansen opgedra om ’n “skema vir Eksamen in Afrikaans” op te stel. Die skema is deur mev. Jansen in September 1917 voorgelê, en so is die eerste eksamen in Afrikaans in Suid-Afrika gebore – ’n eksamen wat vandag nog bestaan. 

Reeds in die eerste jaar van die eksamen het 406 kandidate daaraan deelgeneem, van wie 316 buite Natal, onder wie name soos CR Swart, LW Hiemstra en Avril Malan voorkom. In 1974 het nie minder nie as 19 729 kandidate aan die taaleksamen van die Saamwerk-Unie deelgeneem, van wie die helfte nie-blankes was. 

In die bevordering van Afrikaans het hierdie taaleksamens dwarsdeur Suid-Afrika ’n belangrike rol gespeel. Meer nog, die Saamwerk-Unie het deur sy jaarkongresse en verskillende komitees – die historiese kommissie, wedstrydkommissie, uitleenbiblioteekkommissie, Voortrekkerkommissie, besoekkommmissie, onderwyskommissie – die Afrikaners in Natal bymekaar gehou, geïnspireer om te werk en te stry vir sy eie reg en sy eie erfenis.

Foto: Die goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen, en sy vrou, Mabel Jansen, omstreeks 1951. Hulle was in 1917 betrokke by die stigting van die Saamwerkunie.

Posted 51 weeks ago