www.myvolk.co.za

Slaaptydstories in Afrikaans

Gebreekte Beskuitjies

Hier is seker een van die mooiste stories wat ek gehoor het. Hoe wens ek dat ek die betrokke seuntjie se naam ken, maar ek ken dit nie, en daarom sal ek hom sommer Tommy noem. Ek is seker die engele sal verstaan.

Tommy was ‘n arm seuntjie wie se Vader werkloos was. Sy Moeder het ander mense se wasgoed gewas vir 'n paar sjielings. Die hele gesin het in een vertrek in die agterbuurt van Londen gewoon.  Maar ten spyte van daardie ongunstige toestande, het Tommy 'n hart van goud gehad.

Een sondagnamiddag, terwyl hy in die donker, nou straatjie naby sy huis gespeel het, het hy mense, aangetrek in hulle beste klere sien verbyloop.

Sy nuuskierigheid is geprikkel. “waar gaan hulle almal heen?” het hy aan een van sy maats gevra. “Hulle gaan seker kerk toe,” was die antwoord.

“Hulle gaan liedere sing, en daarna sal hulle lusiter na 'n man wat preek.”

“Nee,” het 'n ander seun gesê. “Hulle gaan nie almal kerk toe nie, maar hulle gaan na die Oesfees.”

“Na die wat?” het Tommy gevra.

“Na die Oesfees. Weet jy nie daarvan nie? Hulle neem ertappels, wortels, kool, en rape, en stapel dit voor die preekstoel op. Het jy nog nooit so 'n fees gesien nie?”

Tommy het erken dat hy nog nie so 'n fees gesien het nie.

“Hoekom gaan jy nie na hierdie een kyk nie?” het sy vriend gevra.

Tommy het gedink dat dit 'n goeie idee is, en toe het hy koersgevat na die diens. Dit was nie in 'n kerk nie, maar in 'n sendingsaal. Hy het daardie saal - die Hoxton market Mission - al voorheen gesien, want die naam was in groot letters bokant die deur. Hy was al 'n hele paar maal in daardie saal vir etes wanneer hy baie honger was. Hy en ander kinders het daardie liedere gesing, en toe het 'n vriendelike ou  man vir hulle vertel van die liefde van Jesus. Hy het aangesluit by ander mense wat daarheen gegaan het, en hy het by die deur ingeloer.

Hy is verras deur wat hy gesien het, want hy het nog nooit voorheen so iets gesien nie. Sy vriend was reg. Rondom die preekstoel was daar ertappels, wortels, kool en rape, en nog baie ander goed soos appels, lemoene, piesangs, groot trosse druiwe, en groot, heerlike brode - groter as wat hy nog ooit gesien het.

Uit pure verbasing het hy saggies gefluit. Die uitdrukking op sy gesig het getoon hoe verbaas hy was.  "Dit lyk of jy baie groot belang stel in alles,“ het 'n vriendelike stem gesê.

Tommy het omgekyk, en toe het hy begin weghardloop.

"Moenie weggaan nie; jy kan bly as jy wil.”

“Mag ek?” het Tommy gevra. “Maar waarvoor is al daardie goed?”

“Weet jy nie?” Wel, eenmaal per jaar bring elkeen iets wat in die aarde gegroei het, as bewys dat hulle erken dat alle goeie dinge van God kom en dat hulle dankbaar is vir die oes.“

"Moet hulle die goed self kweek?”

“Nee; dit kan ook nie hier gebeur nie omdat daar geen tuine is nie. Die mense spaar hulle pennies op en dan koop hulle iets en bring dit. Na alles verby is, word die goed aan die armes uitgedeel.”

“Moet almal iets bring?” het Tommy verleë gevra.

“Nee,” het die vriendelike dame gesê, “net diegene wat voel dat hulle iets wil bring. Baie van die mense het nie eens 'n paar pennies nie, en die Here verstaan alles.”

“Ek sal maar gaan,” het Tommy gesê.

Hy het omgedraai, en stil deur die stroom mense geglip. Toe het hy in sy sak gevoel. Ja, daar is dit nog - sy enigste pennie in die hele wêreld. Hy het dit net gister in die straat opgetel, en hy was van plan om dit te bêre en vir hom lekkers te koop.

“Miskien het hulle in daardie winkeltjie iets,” het hy vir homself gesê. “Ek hoop dit sal nie te klein wees nie. Daardie brode was so groot.”

Hy het die winkeltjie binnegegaan en begin rondkyk. Sal hy een van daardie suiglekkers koop? Nee, dit sal nie geskik wees nie. Hy het nog vir 'n rukkie gestaan en rondkyk.

O, daar is iets.

“Gebreekte beskuitjies - een pennie per pakkie.”

Beskuitjies? Ja, hulle sal deug. Want hulle is mos gemaak van iets wat in die grond gekweek is, net soos daardie groot brode wat hy gesien het. En daardie kardoese waarin die beskuitjies is, is glad nie te klein nie.

Tommy het een van die kardoese gekoop, die winkel dadelik verlaat, en teruggestap na die sendingsaal.

Hy het nie die moed gehad om na die voordeur te gaan nie, maar hy het geweet dat daar 'n agterdeur is, as dit maar net oop was -

Dit was.

Hy het senuweeagtig gevoel, want hy was bang dat iemand hom sou sien. Maar daar het nog mense ingegaan, sommige ook by die agterdeur. Hy het toe sommer saam met hulle ingeglip en gestap na die preekstoel waar die goed orals opgestapel was.

Styf in sy warm, vuil handjie, het hy die kosbare kardoes vasgehou.

“Gou nou! voordat iemand jou sien,” het hy gedink.

En langs een van daardie groot brode  het hy die kardoes neergesit.

Nimand het hom gesien dit doen nie, want daar was te veel mense, en die ander wat reeds in hulle sitplekke was, was te besig om te gesels.

Tommy het vir hom daar ver 'n sitplek  gesoek, en niemand nie, nie eens daardie vriendelike dame wat met hom gepraat  het, het geweet hy is daar nie.

Na die diens is hy terug na sy troostelose ou huisie, maar in sy hart het hy buitengewoon gelukkig gevoel. Ek is seker dat daar ook blydskap in die hemel was toe die engele kom vertel  het van sy mooi daad van opoffering. Daardie kardoes gebreekte beskuitjies is natuurlik daar gevind. Iemand het dit later ontdek by die groot brood en daar het trane gekom in die oë van daardie persoon waar hy gedink het aan die edele kinderliefde wat aanleiding gegee het tot die daad.

Hy het my later vertel dat hy gedink het dat dit die beste van al daardie gifte was.

Ek dink ook so, en julle?

Ook het dit my laat dink aan 'n storie wat Jesus vertel het van die arm weduwee wat eendag na die tempel gegaan en gesien het hoe die mense hulle offergawes gee, en toe ook haar twee geldstukkies in die skatkis gegooi het - die waarde daavan was omtrent een oortjie.

Toe het Jesus aan sy dissipels gesê: “Voorwaar Ek se vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkis gegooi het. Want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi; maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het.” Mark. 12:43-44.

Slaaptyd stories

Deel Vier

deur Arthur S. Maxwell

Posted 18 weeks ago