Alabama Studentegeselskap
Vier studente, Barend Smith (Leier), Eskin Horn (Sekretaris), Bokkie van der Merwe (Tesourier) en Aucamp Muller kry die gedagte om 'n boereorkes op die been te bring - die jaar is 1943. Dit héét die Alabama Boereorkes. Vier-en-sestig jaar later, en die Alabama Studentegeselskap het voor nagenoeg 1,2 miljoen mense opgetree!
Vrydagoggend, 11 Desember 2015 om 11h00 bring ek hulde aan die ongelooflike groep op Radio Vryheid ♪luister♪. Sou jy dit mis, kan jy inskakel om 21h00 op dieselfde dag, en luister na 'n heruitsending op SAUKNuus Radio ♪luister♪
Musiek waarmee 'n ieder en elk grootgeword het, lief geword het! Sarie Marais. Wys my die ster van Liefde, Daar kom die Alabama, Horlosie in die sak, Pollenys, Kom jy saam?, Mooifontein en Die jawoord is uit! is maar van die honderde liedjies wat ons saam gesing of geneurie het.
Voorwaar 'n trotse Afrikaanse uitvoerproduk, wat selfs in 1985 in Taiwan in nege optredes voor ongeveer 20,000 musiekliefhebbers opgetree het. Met die omvorming van die Alabama Studentegeselskap in 2007 na Alabama Produksies, het die spoggroep teen 'n gemiddeld van 35 optredes 'n jaar, in 2240 konserte opgetree. Dit sluit 'n toer na die destyde Rhodesië en die Republiek van die Kongo in.
Hul verskyn vir die eerste op Nasionale televisie in 1976 - en doen wéér so 'n verdere twee-en-twintig keer. Die heel eerste groep het uit 'n skamele dertig lede bestaan. Die PUK-owerheid was aanvanklik taamlik skepties oor die groep en was huiwerig om amptelik erkenning aan hul te gee.
Alle inkomstes wat destyds uit kaartjieverkope op die toer verkry is, is aan die Reddingsdaadbond geskenk. Kostuums het hoofsaaklik uit ongebleikte linne bestaan met die mans in wit broeke en hemde met wynrooi skouerbande. Die dames het voortrekkerrokke gedra. Die opbrengs uit hul heel eerste toer was nagenoeg £500.
In 1944 verander die naam na "P.U.K. Alabama Boereorkes." Fondse wat ingesamel word is aan die PUK Boufonds geskenk vir die bou van die studentesaal, wat vandag die Totiussaal heet. In 1960 ontvang die Alabama Studentegeselskap die eerste plek vir Studente-orkeste tydens die Afrikaanse Studentebond se kongres in Heidelberg, Transvaal. In 1962 word die eerste opreette "Aggenee Bettie" op die planke gebring.
1965 verander die naam weer; hierdie keer na die naam wat ons almal ken - Die Alabama-Studentegeselskap. 'n Aantal operettes wat self geskryf is, is met groot sukses opgevoer. Nesco du Toit het 'n leidende rol in die skep van die operettes gespeel. In 1967 is die huidige revue-styl onder leiding van die eertydse musiekregisseur, Johan van Rensburg, begin. Hy is vandag die ere-president van Alabama.
Louis Drummond (Johan se broer) het hom in 1973 as musiekregisseur opgevolg. In 1980 het Jans Jonker die leisels oorgeneem. Pieter de Bruin het in 1988 die leisels by Jans Jonker oorgeneem.
Aan die begin van 1986 is weggedoen met die orkes en is daar oorgeslaan na begeleidingsbande. Die laaste revue-program (na 40 jaar van revue) word aangebied in 2007 voor sy omvorming na 'Alabama-Produksies.'
Volgens die Beeld van Saterdag, 22 April 2006, verduidelik Pieter de Bruin, musiekregisseur van die Alabama, met 'n vonkel in sy oog dat die revue-styl "outyds geword het" en hulle daarom 'n nuwe rigting ingeslaan het. "Waar die Alabama aanvanklik eers uitgestaan het met die revue, het almal dit begin doen, want dit is 'n lekker ding vir skole om aan te vang." Van Rensbrug het tydens die Alabama se jaarlikse oefenkamp ook sy opgewondenheid uitgespreek oor die nuwe rigting en gesê dat die groep besig is met baanbrekerswerk.
'n Ander faktor wat die verandering te weeg gebring het, was die studente. "Hulle het begin sê dat dit nie meer heeltemal hulle scene is nie. Hulle wil iets meer komteporêr doen."
Ekonomiese oorwegings het ook 'n groot rol gespeel. "Dit is vreeslik duur om 'n volledige stel op te rig. Dit kos R90,000 vir so 'n stel." Na klein veranderings die laaste twee jaar om die water te toets, het hulle toe besluit om heeltemal te verander, maar die mooi goed, soos die studentesprankel, te behou.
Op 17 en 18 Augustus 2007 tree die Alabama geselskap in Potchefstroom
op die verhoog om hul tuisstad se gehoor te
betower.
Na 63 jaar in die vermaaklikheidsbedryf doen die
Alabama-studentegeselskap dit steeds met hul
onblusbare lus vir die lewe en die splinternuwe
produksie, Tutti Frutti, is geen uitsondering op die
verlede se sukses nie.
“Ons bereik vanjaar 'n besonderse mylpaal in ons
geskiedenis, asook in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse
musiekbedryf. Geen ander Suid-Afrikaanse
kunstenaar bestaan al so lank soos Alabama
nie, en ons het werklik ons bestaansreg verdien oor
die jare,” sê Glenn Cunniff, projekbestuurder van Alabama.
Volgens Pieter de Bruin, musiekregisseur, het hulle
besluit om die liedjiekeuse vir vanjaar se produksie
so wyd as moontlik te maak ten einde aanklank te
vind by Alabama se groeiende gehore.
“Kom kies jou “favourite favourite” uit die Tutti
Frutti-pakkie - jy sal dit hier kry! “ Alabama bring
vanjaar hulde aan die Crooners, Beatles, Creedance
Clearwater Revival, die 80’s asook die lewende
legendes in Afrikaanse musiek. Die keuse van musiek
strek vanaf die 50’s tot en met die hede en sluit
treffers in soos Jou hart is weer myne, The wonder
of you, Bella Bella Signorina, She loves you, I heard
it through the grapevine, Wake me up before you gogo,
Hemel op Tafelberg en Kyk hoe lyk ons nou.
Tans bied Alabama-Produksies elke 2de jaar 'n groot musiekblyspel / musikale produksie op kampus aan onder die Alabama-handelsmerk, om steeds vir studente die geleentheid te gee om hulle talente op die uitvoerende kunstegebied te kan uitleef. Dit sluit in, onder andere 'Back to the 80's - the totally awesome musical', Persreën - die musiek van Johannes Kerkorrel, 'Grease' - the musical en 'Breaking up is hard to do.
Tot op hede het die Alabama naam al reeds 31 langspelers, 1 kortspeler, 17 laserskywe en dubbel laserskyf uitgegee. Die Alabama-Studentegeselskap ontvang in 1969 die Mini-Sarie toekenning van die destydse Springbok-radio. Van hul snitte is ook al ingesluit by die jaarlikse 'Afrikaanse Treffers' laserskyf.