Nag ou Grote!
Hendrik Christo Viljoen
Hendrik Christo Viljoen, OVD, Pr.Ing, (31 Augustus 1937 - 13 Januarie 2023) was 'n ingenieur, akademikus, en algemeen bekend as die “Vader van die Tegnopark” (Stellenbosch). Hy behaal die grade B.Sc., B.Ing. (Elektrotegniese Ingenieurswese, swak- en swaarstroom) aan die Universiteit van Stellenbosch (1959). Later verwerf hy die grade M.Ing. (Elektroniese Ingenieurswese) en Ph.D. (Ing), albei aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy agtereenvolgens as Senior Lektor, Professor in Elektroniese Ingenieurswese, Dekaan (Ingenieurswese) en Viserektor (Bedryf) werksaam is. Hy was getroud met Hana Stehlik. Die egpaar het drie kinders en sewe kleinkinders. In die openbare domein maak hy onder andere bydraes op die terreine van die uitsaaiwese en produk-innovasie en -ontwerp, en die genealogie.
Gerhardus Christian Coetzee
Gerhardus Christian Coetzee (gebore 8 April 1955 in Boksburg, sterf 12 Januarie 2023), beter bekend as Gerrie Coetzee, is 'n oudbokser en Suid-Afrika se beste swaargewigbokser tot nog toe. Coetzee, wat in 'n Gereformeerde huis gebore is, was die eerste bokser uit Afrika wat om die wêreldswaargewigtitel meegeding het, en ook die eerste wat dit gewen het toe hy in 1983 vir Michael Dokes in Richfield, Ohio, in die tiende ronde uitgeslaan het. Oor sy loopbaan het hy 33 keer gewen, ses keer verloor en een keer gelykop geveg. Van sy 33 oorwinnings het hy 21 gevegte met 'n uitklophou beklink.
Mark Pilgrim
Mark Pilgrim (20 September 1969 – 5 Maart 2023) was 'n Suid-Afrikaanse mediapersoonlikheid wat talle radio- en televisieprogramme aangebied het, veral as 'n DJ op 5FM, 94.7 Highveld Stereo, 94.5 Kfm, Hot919 en toe Hot102.7fm. Op televisie het hy beide seisoene van Big Brother South Africa, die eerste seisoen van Big Brother Africa en die M-Net-speletjieprogram Power of 10 aangebied.
George Louw
George Louw (1 Maart 1939 – 5 Mei 2023) was ’n uitgewer en Afrikaanse digter en dramaturg. Sy vader was ’n broer van die digters N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw.
Jani Allan
Jani Allan (11 September 1952 - 25 Julie 2023) was 'n Suid-Afrikaanse joernalis, rubriekskrywer, skrywer en omroeper. Sy het tussen 1980 en 1989 bekend geword as 'n Sunday Times joernalis. Sy was in die 1980's die mees geleesde rubriekskrywer van die koerant en publiseer rubrieke soos Just Jani, Jani Allan's Week en Face to Face. Op die hoogtepunt van haar roem het haar koerant in 1987 'n Gallup-peiling gelas om 'die mees bewonderde persoon in Suid-Afrika' te vind, en sy het eerste gekom. In 2015 beskryf Marianne Thamm van die Daily Maverick Allan as 'die invloedrykste skrywer en rubriekskrywer in die land'.
Theuns Stofberg
Theuns Stofberg (6 Junie 1955 – 23 Augustus 2023) was die kaptein van die Suid-Afrikaanse nasionale Springbokrugbyspan vir vier toetse tussen 1980 en 1984. Hy word onthou vir sy spoed en sy grootte, altwee merkwaardig vir 'n flank in daardie tyd, en altwee faktore wat gewoonlik nie saamgaan in rugby waar grootte regtig saak maak nie. Hy was Suid-Afrika se sewe-en-dertigste Springbokkaptein.
Ian McIntosh
Ian McIntosh (24 September 1938 - 5 April 2023) was 'n voormalige Zimbabwies-Suid-Afrikaanse rugbyafrigter. Hy was gedurende 1993 en 1994 hoofafrigter van die Springbokke. McIntosh het naby Bulawayo grootgeword.
McIntosh het nooit as speler vir sy land gespeel nie, maar het in die 1970's kennis gemaak met afrigting onder toesig van die destydse afrigtingsdirekteur van die Walliese Rugbyunie, Ray Williams.
Mangosuthu Buthelezi
Mangosuthu Buthelezi (27 Augustus 1928 - 9 September 2023) was 'n Zoeloehoofman en politikus. Hy is ook die stigter en voormalige leier van die Inkatha-Vryheidsparty (IVP). Vanaf 1994 tot 2004 het hy as die minister van Binnelandse Sake in die kabinette van Nelson Mandela en Thabo Mbeki gedien. Mangosuthu (Gatsha) Ashpenaz Nathan Buthelezi is op 27 Augustus 1928 in Mahlabathini in die Unie van Suid-Afrika gebore. Aan die einde van die 1940's het hy by die ANC-jeugliga (ANCYL) aangesluit. Met verloop van tyd het hy kommunisme verwerp en sy rug op die African National Congress gekeer.
Derek Watts
Derek Watts (22 Augustus 1948 - 22 Augustus 2023) was 'n Suid-Afrikaanse veteraanjoernalis en anker van die vlagskip aktualiteitsprogram op M-Net, Carte Blanche. Derek Watts is op 22 Augustus 1948 in Hillbrow, 'n voorstad in die hart van Johannesburg, Suid-Afrika, gebore. Hy het later na Bulawayo, die tweede grootste stad in Suid-Rhodesië (vandag Zimbabwe), verhuis toe hy vyf jaar oud was en het daar grootgeword.
George Ballot
George Ballot (3 September 1946 - 30 September 2023) was 'n Suid-Afrikaanse verhoog-, TV- en rolprentakteur. Hy is veral bekend vir sy rol as Skollie in die TV-drama Vyfster en die rolprent Vyfster: die slot.
Raymond Ackerman
Raymond Ackerman (10 Maart 1931 - 6 September 2023) was die stigter van die Pick n Pay-supermarkketting en een van Suid-Afrika se suksesvolste kleinhandelaars. Hy het een van die mees sprekende voorbeelde van geslaagde entrepreneurskap in Suid-Afrika geword. Ackerman se doel was altyd gemeenskapsbetrokkenheid, diens aan die samelewing en die nastrewing van familiewaardes en daarna eers die winsmotief.
Hannes Strydom
Johannes Jacobus 'Hannes' Strydom (13 Julie 1965 in Welkom – 19 November 2023) in Mpumalanga) was 'n Suid-Afrikaanse rugbyspeler wat tussen 1993 en 1997 vir die Springbokke op slot uitgedraf het. Hy was 'n lid van die span wat die Rugbywêreldbeker 1995 gewen het. Hy het aan Pearson High School in Port Elizabeth gematrikuleer en die skool se A veld is na hom vernoem. Hy was later 'n apteker in Pretoria en die eienaar van die Pharma Valu-groep van apteke.