My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Cornelius Jaco Langenhoven 

Cornelis Jacob Langenhoven (13 Augustus 1873 - 15 Julie 1932) was 'n Suid-Afrikaanse skrywer, redakteur en politikus. Hy het as skrywersname C.J. Langenhoven en Sagmoedige Neelsie gebruik. Sy rol in die Afrikaanse literatuur en kultuurgeskiedenis was formidabel. Langenhoven is gebore in 1873 op Hoeko, Ladysmith. Hy het later verhuis na Oudtshoorn en het uiteindelik hul bekendste burger geword.

Hy wou oorspronklik teologie studeer maar het later besluit op die regte. In 1893 verhuis hy na Stellenbosch waar hy aan die Victoria Kollege studeer en hom as advokaat bekwaam. Min is bekend van die tyd wat hy daar deurgebring het, net dat hy dit beskryf het as 'n woestynlewe. In 1894 raak Langenhoven verloof aan Helena de Vries, maar haar vader beëindig die verlowing in 1896 omdat Langenhoven te onseker was oor sy lewe en loopbaan.

Langenhoven trou in 1897 met weduwee Lenie van Velden, tien jaar ouer as hy. Hy verwys in sy geskrifte altyd na haar as "Vroutjie". Hulle het een kind gehad, 'n dogter genaamd Engela, wat in 1901 gebore is.

Hy praktiseer as 'n prokureur maar wend hom later tot die joernalistiek. In 1912 word hy redakteur van die koerant Het Zuid-Westen (Nederlands vir die suidwester), waar hy sy lewensrigting vind. Hy wy hom daaraan toe om die nuwe taal, Afrikaans, te bevorder. Hy is ook 'n stigterslid van die nuwe Afrikaanse koerant Die Burger en lewer gereeld bydraes onder die skuilnaam Sagmoedige Neelsie.

In 1914 word hy lid van die Parlement van Suid-Afrika waar hy hom verder daaraan toewy om Afrikaans as amptelike taal erken te kry. Hy word agtereenvolgens lid van die Kaapse Provinsiale Raad, die Volksraad en die Senaat.
“Die meerderheid is reg, die minderheid opreg.” — C.J. Langenhoven

Langenhoven het aanvanklik skepties gestaan teenoor die moontlikhede van Afrikaans, wat toe nog in sy kinderskoene as skryftaal gestaan het. Hy het egter later 'n vurige voorstander geword van alles wat Afrikaans is en het as skrywer so 'n omvangryke oeuvre opgebou (sy Versamelde Werke beslaan sestien dele) dat hy selfs beskou word as die man wat die Afrikaners leer lees het.

“Moenie 'n ander beskuldig dat hy sy oë oopgehou het onder die gebed nie; hy het maar net gekyk of joue toe was.” — C.J. Langenhoven

C.J. Langenhoven se bekendste werk is Die Stem van Suid-Afrika wat hy in 1918 geskryf het. Die musiek daarvoor is in 1921 deur M.L. de Villiers gekomponeer. 'n Passasie uit Die Stem vorm vandag 'n deel van die Volkslied van Suid-Afrika.

Benewens dit het sy skryfloopbaan amper elke genre aangeraak, van poësie tot spookstories. Hy het verskeie werke in Afrikaans vertaal, onder andere die Rubaiyat of Omar Khayyam. Hy het nuwe Afrikaanse gesegdes geskep en het selfs 'n liefdesgedig (in bogtaal) aan sy hond geskryf.

 
 
 
 
Mail
Call