My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Tolgooi 

Jare gelede was die tolle nog met die hand uitgekerf en 'n skroef is as punt ingesit, wat op sigself 'n kuns was. So 'n tol was elke seun se trots. Om sy selfgemaakte tol vinnig in die rondte te laat draai, het enige seun se oë laat blink. Vandag is die speletjie nog steeds gewild by seuns en dogters, en baie mooi tolle kan in die winkels gekoop word. 

Om tol te speel, neem die speler 'n stuk tou of 'n dun riempie, lek dit aan die een punt nat en druk dit dan met die duim en voorvinger teen die tol se punt vas. Dan word die tou versigtig al in die rondte om die tol gedraai sodat die toustrepe styf teenmekaar lê. Die tou word tot bo by die tol se breë kant gedraai. Die tou behoort net lank genoeg te wees met 'n stertjie van so tien sentimeter om aan vas te hou.

Bo-aan die tou word 'n pennetjie of 'n sterk stokkie vasgemaak sodat die tou in die middel van die stokkie is. Die tol word nou tussen die dium, ringvinger en pinkie vasgehou terwyl die stokkie tussen die wysvinger en middelvinger vasgekryp word. Die hand word 'n entjie opgelig en die tol met 'n skerp gooibeweging gelos. Die tou word steeds vasgehou. Die tol tref die grond se punt eerste en begin spin sodra dit die grond raak. Daar word gekyk wie se tol die langste spin. Die spelers kan mekaar se tolle ook "pitch", met ander woorde hulle probeer hul maats se tolle raakgooi om dit te laat ophou draai. Mettertyd raak elke kind se tol vol merke soos dit deur die ander spelers raakgegooi is.

Die kinders tel ook die tol op die plat handpalm op sodat dit verder in die speler se hand draai, of dit word met die tou opgetel en verder laat draai. Hulle noem dit klimtol.

 
 
 
 
Mail
Call