Twee spelers hou mekaar se hande in die lug vas terwyl die ander onderdeur moet loop. Die twee bepaal vooraf wie die lemoen en wie die suurlemoen gaan wees. Terwyl die spelers onderdeur die arms loop, sing die twee wat die arms omhoog hou 'Koljander, Koljander so deur die bos. My ma en pa kook lekker kos, my boetie verstik aan 'n druiwetros, die laaste een se kop word af gekap! Kiep, Kiep, Kiep Kap! Met die noem van Kap laat hulle dadelik hulle hande sak om die persoon wat op daardie stadium daar is toe te vou. Die gevangene word eenkant toe geneem en gevra waarvan hy hou, lemoene of suurlemoene, waarna hy agter daardie speler wat hy kies moet gaan staan.
Die speler wat gevang word, moet sy keuse tussen die twee maak sonder dat die ander spelers mag weet wat elk van die twee persone voorstel. As al die spelers klaar hulle keuses gemaak het, trek die twee spanne gewoonlik teen mekaar tou, en dit vind soos volg plaas, die twee spelers wat hulle arms omhoog gehou het, vat mekaar aan die voorarms vas terwyl elkeen se spanlede die speler voor hom om die lyf vashou. Die span wat eerste val is die verloorder.