My Volk
Die Trekpad van 'n Nasie

Die vorming van 'n nuwe gemeenskap 

 

Die Kaap van 1488 - 1854: Die vorming van 'n nuwe gemeenskap
Deel II
INLEIDING
Teen die 15de eeu het Khoisan- en Bantoesprekende volke reeds in baie dele van Suider-Afrika nedersettings tot stand gebring. Hoewel hierdie groepe 'n gemeenskaplike oorsprong gehad het, het duisende jare van afsondering die ontwikkeling van uiteenlopende kulture, tale en bestaanswyses meegebring. Daarna is hulle weer deur ekonomiese wisselwerking in aanraking met mekaar gebring en het hulle 'n heterogene Suid-Afrikaanse gemeenskap gevorm. Die uitbreiding van Europese invloed, wat aan die Kaap begin en na die binneland uitgekring het, sou die samestelling en aard van die Suid-Afrikaanse samelewing in die volgende vier eeue ingrypend verander.
Die Portugese het eerste om die vasteland geseil, maar dit was die Nederlanders wat 'n permanente Europese nedesetting aan die Kaap gestig het. Die handelsmotiewe en monopolistiese beleid van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (V.O.C.) het tot 1795 'n deurslaggewende invloed op alle aspekte van die Kaapse geskiedenis uitgeoefen. Die invoer van slawe sedert die vroeë jare van die nedersetting het alle lae van die gemeenskap ingrypend geraak, veral op die gebied van arbeids- en rasseverhoudinge. 'n Ander belangrike faktor was die grenssituasie en die aanraking tussen gemeenskappe met diepgaande kultuurverskille wat hier plaasgevind het. Een van die slagoffers van dié aanraking was die Khoikhoi. Die verbrokkeling van hul kukltuur teen die einde van die 17de eeu is verder verhaas deur hul onvermoë om die dryfkrag van Blanke uitbreiding die hoof te bied.
Die oorname van die Kaap deur Brittanje en die outokratiese houding van die Britse amptenare in die eerste dekades van die tweede Britse besetting het heftige reaksie van sowel die burgers as die Bantoe- en Khoisansprekende volke uitgelok, en selfs ook van die Britse nedersetters wat in 1820 in Oos-Kaapland gevestig is. Outokrasie, tesame met  nuwe filantropiese wetgewing rakende die vrye gekleurdes en 'n veranderlike grensbeleid, het gelei tot 'n grootskeepse uittog van boere uit die grensdistrikte van die kolonie in die dertigerjare van die 19de eeu. Tot 1853 was die Kaap konstitusioneel nog steeds 'n onontwikkelde kroonkolonie maar in dié jaar is die Cape of Good Hope Constitution Ordinance deur die Britse parlement bekragtig en het die Kaap verteenwoordigende regering gekry.
--- --- ---
Hoofstuk 4
Die eeu van ontdekkingsreise: Maurice Boucher
Sedert die vroegste eeue van die geskrewe geskiedenis het mense van rondom die Middellandse See ontdekkingstogte langs die kus van Afrika onderneem. Die dryfveer was die handel, want hulle was op soek na goud, edelstene, ivoor, barnsteen, speserye en ander minder eksotiese ware waarvoor daar 'n vraag in die stede en dorpe van die antieke wêreld was. In die 15de eeu v.C. het die Egiptenare reeds deur die Rooi See na die geheimsinnige Land van Punt gevaar, en vyf eeue later het seevaarders wat Hiram van Tirus aan koning Salomo verskaf het, die legendariese Land van Ofir met sy goudskatte aan die ooskus van Afrika (moontlik die huidige Somalië) bereik. Die Feniciërs van Tirus en Sidon het die stad Carthago aan die  kus van Noord-Afrika gestig, en hul seevaarders het verby die Suile van Herakles (die Straat van Gibraltar) die Middellandse See uitgevaar om die stormagtige Atlantiese Oseaan aan te durf. Hanno van Carthago het in die 5de eeu v.C. met 'n vloot van sestig drieriemgaleie tot by die Golf van Guinee gevaar. Volgens die Griekse geskiedskrywer Herodotos het Feniciese seevaarders in Egiptiese diens reeds omstreeks die jaar 600 v.C. in 'n drie jaar lange reis die Kaap die Goeie Hoop van oos na wes omseil, maar hy het self aan dié verhaal getwyfel.
Die ooskus van Afrika is deur die jare gereeld deur Griekse kooplui en handelaars uit Indië en Jemen besoek, met die gevolg dat dit teen die begin van die Christelike jaartelling tot by Zanzibar en Dar-es-Salaan bekend was. Die roete langs die weskus is egter lank geblokkeer deur Kaap Bojador, die punt anderkant die Kanariese Eilande waarvandaan niemand teruggekeer het nie. Die paar waaghalsige Portugese en Katalaanse seevaarders wat voor die 15de eeu n.C. hier verby gevaar het, het spoorloos verdwyn.
Portugese ontdekkingsreisigers verken die kus
Die opkoms van die Islam en die verspreiding daarvan deur Noord-Afrika en tot in Spanje teen die vroeë 8ste eeu n.C. het Europa van kontak met Afrika suid van die Sahara afgesny. Die groot deurvoermark vir goedere wat deur die karavane oor die woestyn gebring is, was die hawe van Ceuta in Marokko. Die verowering van Ceuta deur die Portugese in 1415 het seevaarders van dié nasie aangevuur tot reise na die suide, wat hulle voor die einde van die 15de eeu óm die Kaap die Goeie Hoop na die Indiese Oseaan sou voer. Die grondlegger van dié onderneming was die infante dom Henrique (1394-1460), derde seun van Jan I van Portugal en die Engelse prinses Philippa van Lancaster, of, soos 'n 19de-eeuse biograaf hom genoem het, "prins Hendrik die Seevaarder".
Hendrik was teenwoordig by die verowering van Ceuta en het hom voorgeneem om vas te stel wat anderkant die Moslemlande van Noord-Afrika lê. Hy het gehoop om in aanraking te kom met die legendariese priester Jan, wat na bewering oor die Christene van Ethiopië geheers het, en om so die vyande van die Christendom te omsingel. 'n Ander moontlike doelwit was die ontdekking van 'n seeroete na Indië.
Met dié doel voor oë het Hendrik die verfyning van navigasiehulpmiddele bevorder en ontdekkingsreise verby Kaap Bojador aangemoedig. Vroeë pogings om om die kaap te seil, het misluk, maar in 1434 het Gil Eanes uiteindelik daarin geslaag. Die roete na die suide was nou op, en teen 1461 het Portugese seevaarders reeds ver langs die weskus van Afrika af gevaar. Nouliks tien  jaar ná Hendrik se dood het Portugese skepe reeds die ewenaar oorgesteek.
Hendrik se neef, koning Jan II, wat van 1481 tot 1495 oor Portugal geheers het, het voortgegaan om ontdekkingsvaarte aan te moedig. In twee reise tussen 1482 en 1486 het die seevaarder Diogo Cao die mond van die Kongorivier en die kus van die huidige Angola en Namibië tot 1 800 km van die Kaap die Goeie Hoop verken. Hy is voor die kus van Namibië oorlede, en dit was Bartolomeu Dias de Novaes wat die eerste om die suidpunt van Afrika gevaar het.
Bartolomeu Dias, soos hy bekend geword het, het in Augustus 1487 van Lissabon vertrek as bevelvoerder oor twee klein karvele en 'n voorraadskip. Hy het in Desember by die kus van Namibië aangedoen, waar hy die voorraadskip met 'n kernbemanning agtergelaat het. Hierna het hy die oop see in gelaveer om aan teenwinde te ontkom. Die karvele het uiteindelik weer oos geswenk, maar verskeie dae het verbygegaan sonder dat hulle land in sig gekry het. Dit was al laat in Januarie 1488, en die Kaap die Goeie Hoop was reeds omseil. Eers toe Dias n oord begin vaar, het hy uiteindelik weer land bereik, blykbaar naby die huidige Visbaai, noordoos van die monding van die Gouritsrivier. Hier het die Portugese Khoikhoi-herders  met baie vee gesien, en hulle het die plek Bahia dos Vaqueiros (Baai van die Veewagters) genoem. Hulle het voortgevaar op soek na water, en op 3 Februarie in 'n baai geanker wat hulle Sao Bras genoem het - die huidige Mosselbaai. Die vaart is voortgesit tot by Bahia de Lagoa (Algoabaai), waar die uitgeputte bemanning geëis het dat hulle moet omdraai. Daar is ooreengekom om die kus nog 'n paar dae langer te verken, en die verste punt wat die skepe bereik het, was die mond van òf die Groot Visrivier òf die Keiskamma.
Op die terugvaart het hulle verskeie plekke aangedoen, onder  meer naby die mees suidelike punt van Afrika, wat eerlank die naam Kaap Agulhas sou kry, en in Valsbaai, wat Dias die Baai tussen die Berge genoem het. In Julie 1488 het die karvele weer aangesluit by die voorraadskip, wat die meeste van sy bemanning ná aanvalle deur vyandige strandbewoners verloor het. Die voorrade is na die ander skepe oorgeplaas en die voorraadskip vernietig. In Desember 1488 het die ekspedisie weer tuisgekom ná 'n betekenisvolle vaart wat die seeroete na Indië ontsluit het. Dit was met goeie rede dat Dias die kaap wat die ingang na die onbevare see bewaak, Cabo de Boa Esperançc (Kaap die Goeie Hoop) genoem het.
--- --- ---
Die Portugese padroes
Vir die vroeë Portugese ontdekkingsreisigers was dit belangrik dat dié wat ná hulle sou kom, kon sien dat Portugese soewereiniteit gevestig is oor die kuste wat hulle verken het. Daarom het hulle die later beroemde padroes op hul vaarte saamgeneem. 'n Padrao was 'n kalksteensuil met 'n kruis bo-op. Op elkeen was die Portugese wapen uitgebeitel, asook 'n inskripsie met besonderhede oor die reis, en elk van die padroes was aan 'n Christelike heilige opgedra. Diogo Cao se eerste padrao, opgedra aan Sint Joris, is op die suidelike landpunt van die Kongo-rivier opgerig, en die laaste, wat tans in feitlik onbeskadigde toestand in Berlyn bewaar word, by die teenswoordige Kruis-kaap. Dias se eerste padrao is op 12 Maart 1488 by Kwaaihoek, wes van die mond van die Boesmansrivier, opgerig. Fragmente van dié suil is in 1938 deur die historikus Eric Axelson van Kaapstad daar ontdek,  en die gerekonstrueerde padrao, die oudste geproklameerde gedenkwaardigheid in Suid-Afrika, word by die Universiteit van die Witwatersrand bewaar. 'n Replika is in 1941 op die oorspronklike plek geplaas. Dias het 'n tweede padrao op 6 Junie 1488 by die Kaap die Goeie Hoop opgerig, maar dit is nooit opgespoor nie. Die volgende maand het hy 'n derde padrao aan die kus van Namibië opgerig. Daarvan het fragmente bewaar gebly.
--- --- ---
Vasco da Gama bereik Indië
Nege jaar het verbygegaan voordat die Portugese op Dias se ontdekking van die seeroete na die Indiese Oseaan voortgebou het. Koning Jan II het reeds aan die nierkwaal gely wat in 1495 sy dood sou veroorsaak. Bowendien het die roete na Indië om die Kaap minder winsgewend gelyk toe Christophorus Columbus in Maart 1493 bekend maak dat hy Indië bereik het deur wes oor die Atlantiese Oseaan te vaar. Dit was natuurlik 'n vergissing, maar sy prestasie in die diens van Spanje het daarop gedui dat die Portugese miskien liewer op hul steeds lonender handel met Wes-Afrika moes konsentreer. Pedro de Corvilha, 'n gesant van Jan II, het Indië egter in 1488-1490 oor Egipte bereik en die handelsmoontlikhede daar en aan die ooskus van Afrika raakgesien. Die Verdrag van Tordesilhas van 1494, wat die onderskeie handelsfere van Spanje en Portugal bepaal het, het die Kaapse seeroete aan die Portugese oorgelaat, en Manuel I, Jan II se opvolger, het 'n tweede ontdekkingsvaart na die Ooste beplan, met Vasco da Gama as bevelvoerder.
Da Gama het op 8 Julie 1497 van Restelo naby Lissabon vertrek met vier skepe. Vier maande later het die ekspedisie 'n baai aan die Kaapse weskus bereik, wat Da Gama die Baai van Sint Helena genoem het. Hier het hulle Khoikhoi teëgekom, en een van hulle is aan boord van die bevelvoerder se skip, die Sao Gabriel, geneem. Hier hy kos en klere gekry en is daarna weer aan land gesit. 'n Misverstand het egter ontstaan toe 'n Portugees van die land na die skepe geroep het om weer aan boord geneem te word. 'n Boot is gestuur om hom te haal, maar die Khoikhou het klaarblyklik gedink dit is 'n aanval. Hulle het die Portugese aangeval, en Da Gama en 'n paar van sy metgeselle is in die skermutseling gewond.
Die Kaap is op 22 November omseil, en drie dae later het die skepe Mosselbaai binnegevaar. Hier het hulle weer Khoikhoi teëgekom, maar hulle kon slegs een os deur ruilhandel verkry. Die Khoikhoi het duidelik geskrik toe 'n groot geselskap aan land kom om water te soek, en skote moes gevuur word om hulle te verjaag. Toe die Portugese uit die baai wegseil, is die houtkruis en padrao wat hulle hier opgerig, deur die Khoikhoi omgegooi.
Teenwinde en -strome het die ekspedisie daarna vertraag, en eers op 25 Desember het Da Gama die kus van Pondoland bereik en dit Natal (Kersfees) genoem. Vroeg in 1498 het die Portugese skepe uiteindelik met die Arabiere in Oos-Afrika in aanraking gekom en is die grondslag vir 'n lang verbond met die sultans van Malindi gelê. Hiervandaan het Da Gama se skepe met die hulp van 'n Arabiese loods na Kalikkoet in Indië gevaar, waar hulle op 20 Mei 1498 aangekom het.. Die terugreis is gekenmerk deur siekte en dood,  maar op 20 Maart 1499 is die Kaap weer omseil, en laat in Augustus is Da Gama in Lissabon as held verwelkom.
In die 16de eeu het Portugese seevaarders die Suid-Afrikaanse kus gereeld besoek. António de Saldanha het Tafelbaai in 1503 binnegevaar en was die eerste Europeër wat Tafelberg uitgeklim het. Hy is lig gewond in 'n skermutseling met Khoikhoi ná onenigheid oor 'n ruiltransaksie. Sulke onenigheid het maar alte dikwels voorgekom, gewoonlik vanweë gebrekkige kommunikasie.
Ná Saldanha se besoek is die destyds nog naamlose baai Saldanhabaai genoem. Eers teen die begin van die 17de eeu het die naam Tafelbaai inslag gevind en het die ankerplek verder noord weer op sy beurt die naam Saldanhabaai gekry.
Die Suid-Afrikaanse kus was nooit van groot belang vir die Portugese nie, want hul belange in Afrika was elders. Daar was geen handelsvoordele in Suid-Afrika nie, geen belofte van goud nie, en bowendien was die betrekkinge met die inheemse bevolking swak en het die verraderlike kus meer as een skipbreuk veroorsaak. Daar bestaan dus vandag min tekens daarvan dat die Portugese meer as 'n eeu lank die Kaapse seeroete oorheers het. Selfs die meeste van die name wat hulle aan baaie en landpunte langs die kus gegee het, het lank reeds verdwyn, en hul padroes het verbrokkel.
Engelse en Nederlandse handelsmaatskappye
Begeerlike blikke is mettertyd op die monopolie van die Portugese konings gewerp. Van vroeg in die 16de eeu het Franse seerowers die ryk belaaide Portugese galjoene aangeval, en die Engelse het nie agtergebly nie. Reeds in 1509 was die Franse in die Mosambiek-kanaal, en twee dekades later het die broers Parmentier van Dieppe die Indonesiese eilandgroep bereik. Vir die Engelse was Francis Drake se omseiling van die wêreld in 1577-1580 die aansporing tot verdere uitbreiding ter see. Drake, wat ná sy vaart deur koningin Elizabeth I tot ridder geslaan is, het in Junie 1580 verby die Kaap gevaar ná 'n geslaagde veldtog teen Spaanse skepe en nedersettings in die Stille Oseaan. Die volmaakte winterweer het die Portugese bewerings oor storms en gevaar vir skepe oënskynlik weerspreek. "This Cape," het die kroniekskrywer van Drake se reis gemeld, "is a most stately thing and the fairest Cape we saw in the whole circumference of the earth."
'n Verdere spyker in die doodkis van die Portugese monopolie was die vereniging van die Portugese kroon met dié van Spanje in 1580 onder die Spaanse koning Filips II. Hierdeur het die Portugese handel die aandag getrek van Pilips se aartsvyand, Engeland, en van sy provinsies in die Nederlande, wat openlik teen hom in opstand was. Die Engelse het hulle eerste laat geld. Teen 1588 is Drake se wêreldreis deur Thomas Cavendish nagedoen, en drie jaar later het James Lancaster Tafelbaai binnegevaar, gevolg deur Benjamin Wood in 1596.
Die klimaat was nou gunstig vir die stigting van die groot nasionale handelsmaatskappye wat die handel met die Ooste tot aan die einde van die 18de eeu sou oorheers. Die Engelse Oos-Indiese Kompanjie ("The Company of Merchants of London trading with the East Indies") het in Januarie 1601 sy oktrooi van Elizabeth I ontvang. Sy eerste vloot is 'n  maand later onder James Lancaster uitgestuur en het Tafelbaai in September bereik. Opmerklik  is dat Lancaster sy manne op die Red Dragon suurlemoensap laat drink het, wat hulle gevrywaar het van die skeurbuik wat ander skepe se bemannings geteister het. Die Red Dragon het in 1603 na Engeland teruggekeer, en Lancaster is tot ridder geslaan vir die verdrae wat hy met Indonesiese vorste aangegaan het. Die Engelse het hulle later grootliks op die Indiese subkontinent toegespits, veral Madras, Bombaai en Kalkutta.
Reeds voor 1580 was die Nederlanders aktief in die vragvaart van Lissabon. Hulle het die ware wat deur die Portugese uit die Ooste gebring is, dwarsdeur Europa vervoer. Onder Filips II het dié handel egter steeds moeiliker geword, en die Nederlanders het besluit om die Portugese by hul bronne aan te durf. In 1592 het 'n groep Amsterdamse kooplui die broers Cornelis en Frederik de Houtman na Lissabon gestuur om inligting oor die Kaapse seeroete in te win.
Toe die eerste vloot in 1595 deur die Amsterdamse handelaars uitgestuur is, het Cornelis de Houtman as opperkoopman saamgegaan. Die vloot se aankoms in Mosselbaai in Augustus, waar hulle met die Khoikhoi handel gedryf het, was die eerste Nederlandse aanraking met die land wat hulle anderhalf eeu lank sou bestuur. De Houtman het in Augustus 1597 van Java teruggekeer, en ander Nederlandse maatskappye het ook vlote na die Ooste gestuur. Die naam Tafelbaai is te danke aan die besoek deur 'n vloot onder die bevel van Joris van Spilbergen in 1601.
Die mededinging tussen die verskillende Nederlandse handelsgroepe was nie in landsbelang nie, en in 1602 het die regering van die Nederlandse republiek aan 'n verenigde maatskappy 'n oktrooi met wye magte verleen wat terselfdertyd aan die handelsondernemings wat in die nuwe maatskappy opgegaan het, 'n m ate van outonomie toegestaan het.
--- --- ---
Die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie
Die "Vereenigde Oost-Indische Compagnie", of V.O.C., het 'n federale struktuur gehad en bestaan uit ses handelskamers wat losweg aan mekaar verbonde was. Dié van Amsterdam het die eerste plek beklee, gevolg deur Seeland, en die ander vier was in Delft, Rotterdam, Enkhuizen en Hoorn gesetel. Die hoogste gesag het berus by 'n liggaam bekend as die Here XVII, wat bestaan het uit agt verteenwoordigers van Amsterdam, vier van Seeland, een van elke ander kamer, en een wat om die beurt uit een van die kamers buite Amsterdam verkies is. Die State-Genraal van die reppubliek het die maatskappy in naam beheer, en vanaf 1749 was die nasionale stadhouer ook die hoofdirekteur. Die maatskappy het uit die staanspoor op die Verre Ooste gekonsentreer, waar dit die Portugese feitlik uitgedryf en sy vernaamste mededinger, die Londense maatskappy, op 'n afstand gehou het. In 1609 het die V.O.C. 'n permanente administrasie in Indonesië ingestel, waarvan die hoofkwartier tien jaar later by Batavia (Djakarta) op die eiland Java gevestig is. Binne sestig jaar het die V.O.C. 'n uitgebreide netwerk van nedersettings en comptoirs besit, wat die Kaap en selfs Ceylon (tans Sri Lanka) en Japan ingesluit het.
--- --- ---
Besoekers uit Frankryk en Denemarke
In die eerste helfte van die 17de eeu was die Engelse en die Nederlandse kompanjies die vernaamste mededingers om handelsgeleenthede anderkant die Kaap die Goeie Hoop, maar namate die mag van Portugal afgeneem het, het ander volke ook 'n deel van die buit probeer inpalm.
'n Kortstondige Franse Oos-Indiese Kompanjie is in 1604 gestig, en in 1642 het kardinaal Richelieu 'n Oosterse Kompanjie gestig, wat op Madagaskar gekonsentreer het. Die ontginning van die handel met die Verre Ooste is ná 1664 deur ander maatskappye aangepak, maar het geëindig in 'n magstryd met Brittanje in die 18de eeu, waarin die Franse die onderspit gedelf het. Franse skepe was in 1620 en 1622 in Tafelbaai, maar hulle het meer belang gestel in Saldanhabaai as moontlike verversingspos. Die seevaarder Etienne de Flacourt het die moontlikhede van dié baai besef toe hy dit in 1648 en 1655 besoek het.
'n Deense Oos-Indiese Kompanjie is in 1616 gestig. Dit was die voorloper van ander Deense maatskappye, wat meegebring het dat Deense skepe ook die Kaap gereeld aangedoen het. Hul eerste vloot het Tafelbaai in Julie 1619 onder bevel van Ove Giedde bereik. Giedde was op pad na Ceylon, maar Tranquebar aan die Koromandel-kus, gestig in 1620, het die vernaamste Deense handelsentrum in Indië geword.
Vir Portugal se opvolgers in die handel met die Ooste was die Kaap 'n waardevolle aanloopplek om kos en water te kry en hul bemanning van skeurbuik te laat herstel. Handelsbetrekkinge het tussen die besoekers en die inheemse bevolking ontstaan, maar dit is duidelik dat die koms van die Europeërs die Khoikhoi-gemeenskap onder groot druk geplaas het.
--- --- ---
Die poskantoorklippe
Oor die jare het die Kaap 'n bymekaarkomplek van seevaarders en 'n nuttige "poskantoor" vir boodskappe geword. Berigte van besoeke deur skepe is op klippe uitgebeitel, en gou het dit die gewoonte geword om briewe onder die klippe te laat. Hierdie oorblyfsels uit 'n vervloë tydvak, waarvan 'n paar in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad bewaar word, verskaf die name van bevelvoerders van skepe, hul roetes en die datums van hul aankoms en vertrek. Hierby is soms 'n aanwysing gevoeg, soos: "Heare under looke for letters", deur Richard Blyth van die London in 1622. Die briewe is saamgebind en in 'n omslag (dikwels teerdoek) toegedraai. Soms is briewe by 'n betroubare Khoikhoi agtergelaat om aan 'n ander skip te gee.
Die Portugese het reeds vroeër 'n ander metode gebruik: Toe Pedro de Ataide in 1501 uit Indië in Mosselbaai aankom, het hy 'n brief in 'n skoen aan 'n boom opgehang. In Saldanhabaai het skeepsoffisiere soms briewe in 'n bottel aan 'n paal vasgebind, of onder 'n houtbaken met 'n opskrif begrawe.
--- --- ---
Planne vir 'n nedersetting aan die Kaap
Die Engelse het die eerste aan 'n nedersetting aan die Kaap gedink. In Julie 1620 het die vlootbevelvoerders Humphrey Fitzherbert en Andrew Shilling namens hul koning "stil en vreedsaam" van Tafelbaai besig geneem, maar Jakobus I het nie belang gestel in dié geskenk nie. Sewe-en-sewentig jaar sou verbygaan voordat 'n gebeurtenis plaasgevind het wat die Nederlanders as permanente nedersetters na die Kaap sou bring. Die Nieuw-Haerlem, 'n Nederlandse Oos-Indiëvaarder op pad huis toe van Batavia, is deur 'n skielike suidoostewind aan land gedryf. Heelwat van die vrag is gered, en die kaptein, wat sy reis op 'n ander skip voorgesit het, het onderkoopman Leendert Jansz opdrag gegee om met 'n groep manne agter te bly. 'n Tydelike fort is opgerig, en hier het die manne 'n jaar deurgebring voordat hulle deur die retoervloot van 1648 aan boord geneem is. Jansz en 'n koopman in dié vloot, Matthys Proot, is deur die Here XVII versoek om verslag te doen oor die Kaap as moontlike verversingspos vir Nederlandse skepe. Die Remonstrantie wat hulle op 26 Julie 1649 ingedien het, het aanbeveel dat 'n fort aan Tafelbaai oipgerig en 'n tuin aangelê word. 'n Jong man wat met die retoervloot van 1648 gevaar het, Jan van Riebeeck, is later gevra om hierop kommentaar te lewer.
Die Here XVII het die bevindinge van die Remonstrantie op 22 Augustus 1650 goedgekeur en in Desember 1651 het die Amsterdamse kamer van die V.O.C. Van Riebeeck aangestel as leier van 'n ekspedisie wat die Kaap die Goeie Hoop tot sy uitgestrekte handelsryk moes voeg.
--- --- ---
Aanbevole leeslys
'n Volledige lys van outeurs, publikasiedatums, titels en uitgewers sluit die hoofstuk af.
--- --- ---
Hoofstuk 5
Die Kaap onder die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie: Maurice Boucher
Die besluit van die Here XVII van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie in 1650 om 'n versterkte verversingspos aan die Kaap die Goeie Hoop te stig, het 'n nuwe tydvak in die geskiedenis van Suider-Afrika ingelui. Europeërs het die toneel permanent betree, en hul koms sou 'n diepgaande uitwerking hê op die maatskaplike strukture van die inheemse bevolking, die politieke en ekonomiese ontwikkeling van die subkontinent en groepsverhoudings in 'n toenemend komplekse rassesituasie. Dit het alles egter nog in die verskiet gelê toe Jan van Riebeeck Tafelbaai op 6 April 1652 op die Drommedaris binnevaar as bevelvoerder van 'n groepie van sowat negentig mans, vroue en kinders wat op dié skip en die Goede Hoop, Reijger, Walvis en Oliphant uitgestuur is om die verversingspos aan die Kaap te beman.
Jan van Riebeeck se take
In geen stadium was dit die V.O.C. se oogmerk dat die Kaap die Goeie Hoop 'n vastrapplek vir Europese vestiging in die binneland moes word nie. Die nedersetting het net een doel gehad: om die handel tussen die moederland en sy handelsryk in Oos-Indië winsgewender te maak. Die Kaap moes by 'n gerieflike halfwegpunt op die lang seereis na en van die Ooste 'n veilige hawe aan die Kompanjie se skepe bied, en die welsyn van die matrose, wat dikwels aan koors en skeurbuik gely het, bevorder. Die kommandeur, wie se status in 1691 permanent tot dié van goewerneur verhef is, was 'n amptenaar van die V.O.C., net soos die lede van die Politieke Raad wat hom moes bystaan. Sy vernaamste plig was om die opdragte van die Kompanjie met die minste onkoste uit te voer. Die administrasie aan die Kaap het slegs beperkte gesag gehad. Vir die h ele duur van die Kompanjiesbewind was dit ondergeskik aan die gesag van die Here XVII, en tot 1732 ook aan dié van die Goewerneur-generaal en sy Raad in Batavia. Die uiters stadige verbindings van die tyd het wel 'n  mate van outonomie moontlik gemaak, maar selfs dit is beperk deur gereelde besoeke van senior amptenare van die Kompanjie, soos kommissarisse of vlootadmiraals, wat tydens hul verblyf voorrang geniet het bo die kommandeur of goewerneur aan die Kaap.
Die Kompanjie se prioriteite blyk duidelik uit die opdragte wat Van Riebeeck gekry het. Hy moes 'n fort bou (kyk beskrywing hieronder) om die garnisoen te beskerm teen wilde diere en aanvalle van die land of see. Hy moes besoekende skepe in Tafelbaai help en 'n tuin aanlê om groente, vrugte en graan vir die skeepsbemanning te kweek. Hy is uitdruklik aangesê om goeie verhoudings met die inheemse bevolking te handhaaf sodat genoeg vee van hulle geruil kon word. Die beskerming van sy eiendom, voldoende voorrade en handelswins was die V.O.C. se vernaamste oogmerke aan die Kaap, en latere ontwikkelings - soos bykomende bouwerke vir verdediging, die bou van herstelgeriewe vir skepe enn die verkoop van surplusgoedere - het slegs hieruit voortgevloei.
--- --- ---
Jan van Riebeeck
Jan van Riebeeck was die oudste seun van die skeepschirurgyn. Hy is op 21 April 1619 in die stadjie Culemborg gebore, en het in 1639 na die Verre Ooste vertrek as tweede skeepschirurgyn op die Hof van Holland. Voor die kus van Sierra Leone het hy skipbreuk gely, en daarom eers in Julie 1640 in Batavia aangekom.  Hy het die Kompanjie goed gedien as klerk en agent in Indonesië, Indo-China en Japan en is in 1646 tot koopman bevorder. Aantygings dat hy, teenstrydig met die Kompanjie se regulasies, vir eie gewin handel gedryf het, het 'n skaduwee gegooi op sy terugkeer na Nederland in 1648. Tydens sy terugreis het hy 18 dae aan die Kaap deurgebring terwyl die oorlewendes van die Nieuw-Haerlem aan boord geneem is. In 1649 trou hy met Maria de la Queillerie en in 1651 word hy aangestel as kommandeur van die nuwe verversingspos aan die Kaap die Goeie Hoop. Hy het tien jaar lank, van April 165 tot Mei 1662, aan die Kaap gebly. Van 1662 tot 1665 was hy hoof van die Kompanjie se administrasie in Malakka in Maleisië, waar sy vrou in 1664 aan pokke sterf het. Hy het sy laaste jare in Batavia deurgebring, waar hy in 1667 met sy tweede vrou, Maria Scipiom, getrou het. Hy is op 18 Januarie 1677 oorlede.  (In die boek, by dié gedeelte, is 'n afbeelding ook van Jan van Riebeeck se handtekening.)
--- --- ---
Die eerste fort
Die Fort de Goede Hoop is gebou op die terrein van die huidige Parade, naby 'n stroom wat later die Liesbeek genoem sou word. Die Fort was vierkantig, omring deur 'n sloot, en met bastionne op die hoeke wat die name Drommedaris, Walvis, Oliphant en Reiger gekry het. Die mure was van klei en die geboue binne die mure van hout, maar dié is gou vervang deur 'n tweeverdiepinggebou van klip. Die konstruksie van die Fort was moeilik. Die harde grond, die strawwe,  nat winterweer en die uitputting van die garnisoen het vordering vertreeg. Op 26 September 1652 teken Van Riebeeck in sy dagregister aan: "Ende begond 't volck al vrij te murmereren over den continuelen moeijelijcken arbeijt aen de fortificatie." Hoewel al die mans, vroue en kinders, wat tevore in houthutte en tente gewoon het, teen dié tyd hul intrek in die Fort kon neem, is die werk eers laat die jaar daarna afgerond. Die kleimure was egter nie teen die Kaapse winterweer bestand nie. Om 1654 het die Walvis-bastion ingesak, en daarna h et die Fort geleidelik begin verval. Op die voorstel van Zacharias Wagenaer, Van Riebeeck se opvolger, is 'n terrein in 1665 aangewys vir die oprigting van 'n nuwe, vyfkantige klipgebou wat die Fort moes vervang.
--- --- ---
Eerste prestasies en terugslae
Ná die eerste strawwe winter en die terugslae wat dit veroorsaak het, het die tuin wat Jan Hendrik Boom versorg het, vrugte en groente begin lewer, en meer plante, wingerdlote en bome is ingevoer. Die koringoes was egter swak, rys het glad nie geaard nie, en die beperkte getal werkers, dikwels verswak deur siekte, was onwillig om  hul pligte op die landerye na te kom. Matrose op verbygaande skepe is soms ingespan, maar die Here XVII was nie ten gunste daarvan dat hulle as arbeiders gebruik word in 'n n edersetting wat juis bedoel was om 'n hersteloord te wees nie. Die inheemse herdersbevolking het geen ondervinding van die akkerbou gehad nie, daar was nie genoeg bandiete nie, en Van Riebeeck se voorstel om Chinese arbeiders in te voer, het in Batavia geen reaksie uitgelok nie. Uiteindelik het hy voorgestel dat immigrasie deur Europeërs aangemoedig moes word om die arbeidstekort te verminder, die nedersetting se afhanklikheid van amptenare te verminder en koste te besnoei. Hiertoe was die Here XVII nog nie bereid nie, maar die kommandeur het toestemming gekry om van sy eie amptenare vry te stel. In Februarie 1657 is nege van hulle toegelaat om hulle in twee groepe as boere langs die Liesbeek te vestig.
Hierdie boere was nog onderhewig aan die beheer van die Kompanjie. Hulle kon weens oortredings hul vryburgerstatus verloor en het geen politieke pligte gehad nie. Hulle het dienspligtig gebly, en hoewel hulle vir twaalf jaar van grondbelasting vrygestel was, is hulle nie aangemoedig om met die Kompanjie te kompeteer nie. Hul produkte moes hulle aan die Komanjie verkoop teen vasgestelde pryse. Dié beperkings het reeds in 1658 die eerste ontevredenheid onder die vryburgers veroorsaak. Die graanpryse het die akkerbou nouliks die moeite werd gemaak, en die boere het al hoe meer van intensiewe gemengde boerdery oorgeslaan na skaap- en beesboerdery op die oop veld.
Die kommandeur se klein garnisoen kon sy talle verpligtinge, waaronder die verskaffing van voorrade aan besoekende skepe, nouliks nakom, en die invoer van slawe is as die klaarblyklike oplossing vir die arbeidstekort van sowel die Kompanjie as die vryburgers beskou. Slawerny was reeds wyd verspreid in die Oosterse ryk van die V.O.C., en in die vroeë jare van die Kaapse nedersetting het verskeie amptenare, nder wie Van Riebeeck self, slawe as huisbediendes besit. Dwarsdeur die Kompanjietyd en selfs daarna sou die Kaap van slawe-arbeid afhanklik wees.
Die lank gevestigde tradisie van ruilhandel tussen die Khoikhoi en besoekende skepe is ook ná 1652 voortgesit, maar met twee belangrike verskille. Die Khoikhoi kon nie altyd in die nedersetting se vraag na vee voorsien nie, en die bewerking van weivelde deur die nuwe aankomelinge uit Europa het inbreuk gemaak op hul gevestigde weidingsregte.
Die behoefte aan 'n groter mark vir die veeruilhandel en die begeerte om edelmetale te ontdek, het aanleiding gegee tot goed georganiseerde ontdekkingstogte, wat amptenare diep die binneland in gevoer het. Só is Saldanhabaai, die Hottentots-Hollandberge en die Land van Waveren (Tulbach) bereik. Ná die botsing tussen die Khoikhoi en die Nederlanders in 1659-1660 het Jan Danckaert tot by die Olifantsrivier in die noorde deurgedring, terwyl Pieter Cruijthoff met die Nama kontak gemaak het.
Jan van Riebeeck se tien jaar as kommandeur is deur sowel prestasies as terugslae gekenmerk. 'n Hawehoof is in Tafelbaai gebou, wat dit minder gevaarlik gemaak het om daar te land, maar die beskerming van die kleifort het heeltemal ontoereikend geblyk. Landbouproduksie is verbeter, maar die intensiewe akkerbou wat noodsaaklik was om die Kaap selfstandig te maak, is nie tot stand gebring nie. Toe hy i n Mei 1662 na Batavia vertrek, het hy 'n Blanke gemeenskap van sowat 260 vryburgers, amptenare en lede van hul gesinne agtergelaat. Die latere geskiedenis van die V.O.C. se buitepos aan die Kaap wentel in 'n hoë mate om die interaksie van sy uiteenlopende bevolking. Tot aan die einde van die Kompanjiestyd was sy vernaamste vwetekenis op die wêreldtoneel egter dié van aanloopplek vir skepe, van sowel Nederland as ander state, in 'n tyd van toenmende internasionale wedywering om die oppergesag in die Verre Ooste.
Die Kompanjie se mense aan die Kaap
Net vyf van die bewindhebbers wat Van Riebeeck opgevolg het, was langer as hy in die amp: Simon van der Stel (1679-1699), Mauritz Pasques de Chavonnes (1714-1724), Hendrik Swellengrebel (1739-1751), Rijk Tulbagh (1751-1771) en Joachim van Plettenberg (1774-1785). Die titel goewerneur, wat reeds aan IJsbrand Goske (1672-1676) en Joan Bax (1676-1678) toegeken is, het tydens Simon van der Stel se ampstermyn dié van kommandeur permanent vervang. Van al die kommandeurs en goewerneurs is net Swellengrebel in die kolonie gebore. Die meeste van die 18de-eeuse goewerneurs het ook die rang van raadslid van Indië gehad, en 'n mens kan verstaan dat 'n amp met soveel prestige besonder gesog was.
Die senior amptenare aan die Kaap en die lede van die Politieke Raad het 'n elite-hiërargie rondom die goewerneur gevorm. Onder hulle was die sekunde (die tweede hoogste amptenaar), die hoofde van die verskillende afdelings van die administrasie, die bevelvoerder van die garnisoen, en die fiskaal, wat ná 1690 regstreeks aan die Here CVII verantwoordelik was. Dié fiskaal-independent se taak was om korrupsie op alle vlakke te bestry, veral wat die skeepvaart betref, maar sy amp het aan hom baie mag en voordele besorg, en die fiskaal was algemeen gehaat. Eers in 1793, teen die einde van die Kompanjjietyd, is die onafhanklikheid vandie fiskaal beëindig.
Baie van die senior amptenare aan die Kaap en ook heelwat van laer rang, was beskaafde en intelligente mense van goeie sosiale stand. Die sekretaris van die Politieke Raad tussen 1684 en 1694, Johannes Guillelmus de Grevenbroeck, het bv. 'n verhandeling in Latyn geskryf oor die Khoikhoi,  en 'n Latyns-Khoikhoi-woordelys opgestel.
Die maatskaplike en intellektuele kloof tussen die amptenare en die gewone mense - hoofsaaklik soldate en matrose, maar ook ambagslui en landbouers - was baie groot. Net soos die amptenare was hulle nie uitsluitlik van Nederlandse oorsprong nie, maar het Duitsers, Skandinawiërs, Vlaminge, Switsers en Franse ingesluit. Die Gereformeerde belydenis was meer as 'n eeu lank die enigste wat aan die Kaap toegelaat is, maar in 1780 het die Lutherane ook godsdiensvryheid verkry. Tevore was hulle - soos Rooms-Katolieke dwarsdeur die Kompanjiestyd - aangewys op die bediening van kapelane en preisters op verbygaande skepe.
Vir die manskappe van die garnisoen was hul pligte dikwels drukkend en die vooruitsigte op bevordering swak. Drostery, gewoonlik na skepe, het dikwels voorgekom, selfs al was die strawwe vir dié wat gevang is, streng. 'n Ander uitweg was om tydelilke verlof te vra en 'n kontrak met 'n boer aan te gaan, gevolg deur 'n versoek om ontslag uit die diens van die Kompanjie en vryburgerstatus.
Van 120 in 1660 het die getal Kompanjiesdienaars aan die Kaap gestyg tot 1 000 in 1745, en vyftig jaar later was dit ongeveer dubbel soveel. Voor die einde van die 17de eeu was daar egter reeds meer vryburgers as amptenare, en teen 1795 was die verhouding 15:2.
Die vryburgers
Met Van Riebeeck se vertrek uit die Kaap in 1662, het die getal vryburgers reeds aangegroei van die oorspronklike nege in 1657 tot 130, waarvan 37 vroue en kinders was. Die nedersetting was nog beperk tot die Tafelvallei en die oewers van die Liesbeek, maar tussen Maart 1677 en die koms van Simon van der Stel in Oktober 1679, het agt boere regte op landbougrond of weiveld by Houtbaai en Hottentots-Holland, langs die Eersterivier en oos van die Tygerberg verkry.
In 1780, toe daar 10 500 vryburgers was, het die Kompanjie se gesag gestrek oor 'n gebied van die Oranje in die noorde tot aan die Groot Visrivier in die ooste. Die binneland was yl bewoon deur Blankes, en in die hele kolonie was daar net een dorp van belang,  nl. die hawe in die skadu van Tafelberg wat vanaf die middel van die 18de eeu as Kaapstad bekend gestaan het.
Die toename in die burgerbevolking was grotendeels die gevolg van natuurlike aanwas, tesame met die ontslag van mans in diens van die Kompanjie, want behalwe in die jare 1685-1707 was daar geen skema om immigrante na die Kaap te bring nie. Ander bronne van toename was vroue en kinders wat hulle by hul mans kom aansluit het, die bemanning van vreemde skepe wat hulle aan die Kaap gevestig het, en amptenare op pad terug na die Ooste wat verkies het om in die Kaap te bly. In 1688 het die Here XVII 'n groepie weesmeisies uit Rotterdam gestuur om aan die Kaap mans te vind, en 'n hele aantal mans is getroud met vroue op verbygaande skepe.
Die vrystelling van slawe het 'n verdere groepie tot die vrye gemeenskap toegevoeg, die sg. "vryswartes". Hulle was hoofsaaklik voormalige slawe van Indiese en Indonesiese herkoms, hoewel sommige van Afrika of Madagaskar afkomstig was. Hul getal is versterk deur bevryde bandiete, hoofsaaklik van Oosterse  herkoms, en 'n aantal Chinese wat Batavia onwettig binnegekom het.
Daar was ook politieke bannelinge wat uit Nederlands-Indië na die Kaap gestuur is omdat hulle deur die owerheid daar of deur hul eie familielede as 'n bedreiging beskou is. Dié klein groepie het in afsondering van die Kaapse gemeenskap gelewe, met 'n staatstoelaag en 'n eie gevolg van slawe en bediendes. Laastens was daar 'n aantal vrye Asiate wat besluit het om hulle aan die Kaap te vestig. Een van  hulle, Abdol Garisch van Amboina, het Tafelbaai op 'n Britse oorlogskip bereik en 'n waardevolle hoftolk geword.
Die enigste n oemenswaardige en aanvanklik samehangende groep wat die kolonistegetal aan die Kaap in die vroeë jare aangevul het, is deur die immigrasieskema van 1685 na die nedersetting gebring. In Frankryk het Lodewyk XIV die Edik van Nantes herroep en daarmee die laaste waarborg van geloofsvryheid vir dié land se bedreigde Calviniste vernietig. Die stroom Franse Protestantse vlugtelinge na ander Europese lande het gou 'n vloed geword, ten spyte van alle pogings om dit te stuit. Baie van hulle was hulpbehoewend en kon moeilik 'n heenkome in die vreemde kry. Dit is dus verstaanbaar dat sommige die V.O.C. se aanbod van 'n vry passaat na die Kaap aanvaar het, om daar 'n nuwe lewe te begin. (Meer hieroor hieronder.)
--- --- ---
Die Hugenote
Ongeveer 225 Franse vlugtelinge het tussen 1688 en 1700 na die Kaap verhuis. Hulle was hoofsaaklik boere, maar baie van hulle was in hul geboorteland plaasarbeiders of ambagslui. Een of twee, soos Jean Prieur du Plessis uit Poitiers, het as chirurgyn gepraktiseer. Onder die weiniges wat klaarblyklik van 'n hoër stand was, was die koopmansdogter Anne Souchay, wat met die boer Philippe Foucher getrou het, die Taillefert-gesin van Château-Thierry, die skoolmeester Paul Roux van Orange, die koopman Jacques de Savoye uit Ath in Hainaut, en sy toekomstige skoonseun Pierre Meyer uit Dauphiné. Sterk faktore wat die groep aanvanklik saamgebind het, was hul kerk en die Franse predikant wat na die Kaap gestuur is om na hul geestelike behoeftes om te sien, Pierre Simond uit Dauphiné. Sy terugkeer na Europa in 1702 het die Franse gemeenskap van hul vernaamste steunpilaar beroof. Geen Franssprekende predikant het hom opgevolg nie. Die Franse taal het vinnig uitgesterf, en teen die middel van die eeu was daar slegs 'n paar mense oor wat nog kon Frans praat. Plaasname in die omgewing van Franschhoek herinner egter vandag nog aan die plekke van oorsprong van sommige van dié nedersetters, en die Franse bydrae tot die Suid-Afrikaanse bevolking word in verskeie bekende vanne weerspieël, o.a. Roux, Du Toit, Lombard, De Villiers, Du Plessis en Malherbe.
--- --- ---
Simon van der Stel
Simon van der Stel is op 14 Oktober 1639 gebore aan boord van die skip waarmee sy vader na Mauritius op pad was as nuwe kommandeur. Sy moeder was deels van Indiese herkoms. Ná sy vader se dood in Ceylon (Sri Lanka) het Van der Stel in Batavia gewoon tot 1659, toe hy na Amsterdam vertrek het. Daar het hy koopman geword en tydens die oorlog teen Frankryk in 1672-1678 as infanterie-kaptein gedien. Toe Van der Stel in 1679 aan die Kaap aan bewind kom, het hy opdrag gekry om die ekonomiese welvaart van die nederstting te bevorder. Hy het begin deur grond in erpag aan koloniste te gee in 'n nuwe distrik wat ter ere van hom Stellenbosch genoem is. Die welslae van dié stap het meegebring dat  hy verdere plase toegestaan het in die noordooste, in die streek wat Drakenstein genoem is ter ere van die besoek van kommissaris-generaal Hendrik Adriaan van Reede tot Drake(n)stein in 1685. Van der Stel het ook 'n merkbare verbetering in die gehalte van Kaapse wyn teweeggebring, baie bome aangeplant en die Kompanjiestuin deur die kweek van inheemse plante 'n gedaanteverwisseling laat ondergaan. Hy het 'n lang reis na Namakwaland onderneem op soek na koper en ander minerale, die Kaap se verdedigingstelsel  gereorganiseer en die finansies só knap hanteer, dat die jaarlikse tekorte drasties verminder is. Simon van der Stel het in Februarie 1699 afgetree en hom op sy landgoed Constantia aan die boerdery gewy. Hy is op 24 Junie 1712 oorlede. (Sy sierlike handtekening word ook in dié gedeelte getoon.)
--- --- ---
In 1679 het Simon van der Stel die erfpagstelsel van grondbesit in Stellenbosch ingevoer, en in 1686 is dit na Drakenstein uitgebrei. Hier is die Franse gevestig, elk met 'n voorraad saad, gereedskap en vee, waarvan die koste aan die Kompanjie terugbetaal moes word. Die erfpagstelsel met bykomende weiregte op Kompanjiesgrond het tot 1717 voortgeduur en is uitgebrei na alle streke wat in dié tyd vir boerdery oopgestel is, bv. die Land van Waveren, waar Van der Stel se seun, Wilhem Adriaen in 1700 erfpagplase toegeken het. Ná 1717 het die Kompanjie meer as twee dekades lank geen grond in erfpag toegeken nie, maar teruggekeer na die stelsel van leningsplase waarvoor daar jaarliks "rekognisie" betaal moes word. Goewerneur Swellengrebel se besluit in 1743 om 'n deel van 'n leningsplaas ná betaling van 'n kontantbedrag in erfpag om te sit, was nie suksesvol nie, en het nie daarin geslaag om boere oor te haal om op hul bestaande plase te bly en sodoende die uitbreiding van die kolonie te stuit nie.
Die koms van soveel nuwe nedersetters in die laat 17de eeu en die gevolglike uitbreiding van die landbou het tot oorproduksie gelei. 'n Tekort aan goedkoop arbeid, hoë vervoerkoste en die V.O.C.  se berperkende bemarkings- en prysbeleid het bygedra tot 'n depressie in die akkerbou wat die kleinprodusent swaar getref het. Net die groot koring- en wynprodusente kon kop bo water hou. Die rykes het die bykomende voordeel gehad dat hulle hul mededingers kon oorbie wanneer die lonende vleis-, wyn- en bierkontrakte, wat aan die suksesvolle bieërs 'n gewaarborgde mark vir hul produkte verskaf het, opgeveil is. Vir dié wat swaar deur die depressie getref is, was daar ander moontlikhede. Sommige het geëmigreer, en 'n klompie het in diens van die Kompanjie getree, maar van groter belang was die beweging enersyds na die hawenedersetting aan Tafelbaai en andersyds na die binneland.
In die hawestadjie was daar verskeie lonende werkgeleenthede. In die loop van die 18de eeu het 'n aantal welgestelde burgers hulle hier gevestig. Hulle wou graag die geriewe van die stadslede geniet en het dus werkgeleentheid aan ander verskaf. Die boere van die binneland het die dienste van middelmanne gebruik om hul produkte te verkoop en voorrade te verkry. Besoekende skepe het agente nodig gehad om na hul belange om te sien. Losies vir skeepsoffisiere was ook 'n lonende bedryf, en op 'n laer vlak het kroeë en eethuise gefloreer. Die vryswartes, van wie 'n paar aabnvanklik met 'n mate van sukses geboer het, het toenemend na Kaapstad getrek, waar hulle moontlik soveel as 20 persent van die bevolking uitgemaak het. Hulle was vissers, kleinhandelaars en vakmanne, en het 'n belangrike rol gespeel in die huisvesting en vermaak van reisigers op verbygaande skepe. Blankes was ook op dié vlak werksaam, en daar was ten minste een vennootskap tussen 'n vryswarte en 'n vryburger, wat teen die middel van die 18de eeu saam 'n kroeg besit het. Die vryswartes en vryburgers het gelyke status in die gemeenskap gehad, maar in die tweede helfte van die eeu was daar toenemende diskriminasie, wat 'n mate van wetlike steun geniet het.
Die trekboere na die binneland
Die beweging na die binneland was nou gekoppel aan die oorgang van akkerbou na veeboerdery. Veeboere het minder kapitaal en arbeid geverg, en was nie so blootgestel aan die risiko's wat met die vervoer van bederfbare goedere oor swak paaie saamgehang het nie. Die trekboerbeweging het momentum gekry toe Wilhem Adriaen van der Stel in 1703 gratis weipermitte begin uitreik het, en die klein fooi wat vanaf 1714 daarop gehef is, het die beweging nie gestrem nie. Die uitbreiding na die binneland het gepaard gegaan met jagtogte, wat nie net vleis aan die boere verskaf het nie, maar ook hul kennis van dié geweste aangevul het. Die toename in veetroppe en die uitputting van die bestaande weiveld het boere al hoe verder van die bewoonde gebiede laat trek, en die regering se pogings om dié beweging met die bepaling van grense te stuit, was nie geslaag nie. Die proklamasie van verdere nuwe distrikte nadat Stellenbosch in 1682 van die Kaap geskei is, was slegs die erkenning dat die Kompanjie die beweging nie kon beheer nie. Die distrik Swellendam is in 1745 geproklameer en die distrik Graaff-Reinet in 1786.
Teen die einde van die Kompanjiestyd was meer as twee derdes van alle boere in die kolonie veeboere. Die ylheid van die Blanke bevolking in die binneland kan afgelei word daarvan dat die gemiddelde bevolkingsdigtheid van die hele gebied wat deur die Nederlanders bewoon is, slegs sowat twee persone per km² was. Dié van die veeboergebiede in die binneland was hoogstens een persoon per 10 km², en dié van die woestynagtige streke minder as die helfte hiervan.
In die geïsoleerde binneland het die trekboer in 'n veel groter mate selfonderhoudend geword as sy eweknie in Suidwes-Kaapland. Die ekonomie en lewenstoestande was primitief. Kontak met markte was moeilik, en vir die boere aan die grens het dit byna nie bestaan nie. Ingevoerde ware was duur, en die trekboere het geleer om self vir hul kos, klere en gereedskap te sorg. So 'n lewe aan die rand van die gemeenskap van die kolonie het onafhanklikheid en individualisme gekweek, maar het groot sosiale en kulturele isolasie meegebring.
Die burgers en die Kompanjie
Nooit tydens die byna anderhalf eeu van Kompanjiesbestuur aan die Kaap het die burgers enige vorm van deelname in besluitneming op die hoogste regeringsvlak gehad nie, en ook op laer vlak het hulle slegs beperkte seggenskap gehad. Alle ondergeskikte rade met burgerverteenwoordiging was onder die beheer van amptenare, selfs ná die hersamestelling van die Raad van Justisie in 1783. Bowendien het die finale aanwysing van burgerlede tot enige openbare liggaam - selfs kerkrade - by die goewerneur en die Politieke Raad berus. Simon van der Stel het in 1682 'n belowende begin met plaaslike bestuur op die platteland gemaak toe hy vier burgers as heemrade op Stellenbosch aangestel het, maar drie jaar later is hulle onder die toesig van 'n amptenaar, die landdros, geplaas. Dit het in alle plattelandse distrikte die gebruik word, en die heemrade moes deur die Politieke Raad in hul amp bevestig word. Dit is dus duidelik dat die Kompanjie se administrasie teoreties volle beheer oor die vryburgers het het, selfs al het sy gesag in die praktyk nie tot in die uithoeke van die kolonie gestek nie.
Nogtans het die burgers reeds sedert Van Riebeeck se tyd nie geskroom om by die owerheid te kla wanneer hul belange in sake soos die toekenning van grond, die vasstelling van pryse, arbeid, die ruilhandel, belasting, huurgeld en militêre diens geraak is nie. Algaande is burgerraadslede en heemrade as die verteenwoordigers van die volk beskou, maar soms het die owerheid korte mette gemaak met klagtes. Toe 'n afvaardiging van Franssprekendes onder leiding van hul predikant, Pierre Simond, in 1689 'n afsonderlike gemeente aanvra, is hulle deur Van der Stel en die Politieke Raad betig vir hul separistiese neigings. In dié geval is die goewerneur se beslissing deur die Here XVII tersyde gestel, maar latere versoeke van die Franse om hul taalregte te behou, is koel ontvang.
Die burgers se vyandigheid teenoor die bevoorregte amptenary het tot 'n openlike botsing gelei toe 'n groep vooraanstaande burgers Wilhem Adriaen van der Stel in 'n tyd van oorproduksie en arbeidstekort tussen 1705 en 1707 daarvan beskuldig het dat hy en ander vooraanstaande amptenare self boer en die mark tot hul eie voordeel manipuleer. Dié protes het regstreeks uit die toekenning van die vleis- en wynkontrak ontstaan, en een van die leiers, Henning Hüsing, 'n welgestelde veeboer, se eiebelang in die saak blyk uit die feit dat hy pas tevore die vleiskontrak aan gunstelinge van die goewerneur verloor het. Die goewerneur se uitgebreide boerdery by Vergelegen in die Hottentots-Holland, die ongeoorloofde manier waarop verbeterings met Kompanjiemateriaal en deur Kompanjiedienaars daar aangebring is, en die algemene hooghartigheid van die Kaapse amptenare het wydverspreide ontevredenheid veroorsaak.
Hüsing en sy neef Adam Tas het getuienis van wanpraktyke deur amptenare onder die burgers versamel. 'n Klagskrif is opgestel en met die retoervloot van 1706 aan die Here XVII gestuur, maar Van der Stel het daarvan te hore gekom en met dieselfde vloot 'n getuigskrif met 240 handtekeninge na Nederland gestuur, hoewel die manier waarop dié handtekeninge verkry is, hoogs bedenklik was.
Die goewerneur was egter nie bereid om sake daar te laat nie, en hy het Tas in hegtenis geneem, sy lessenaar gekonfiskeer en deursoek. Nog vier leiers van die protes, o.a. Hüsing, is aangehou en na Nederland gedeporteer, terwyl ander protesteerders gevange gehou is in die kerker van die Kasteel wat as die Donker Gat bekend gestaan het. Sommige het hierna hul aantygings teruggetrek en aan Van der Stel nuttige "bekentenisse" verskaf, maar ander het volhard, o.a. een van die leiers, Jacobus van der Heiden. Hüsing en sy metgeselle het die vryburgers se klagtes onder die aandag van die Here XVII gebring, en in April 1707 het die besluit om Van der Stel en ander vooraanstaande amptenare na Nederland te ontbied, die Kaap bereik. Die goewerneur se plaas sou in vier verdeel en die geboue gesloop word.
Ná sy terugkeer na Nederland het Van der Stel hom probeer regverdig deur die publikasie van 'n Korte deductie - van 172 foliobladsye! - waarin die aantygings van tirannieke optrede, misbruik van arbeid en 'n nadelige ekonomiese beleid weerlê is. Sy argumente was egter onoortuigend en is gevolg deur 'n repliek van sy teenstanders in die vorm van 'n Contra-deductie (1712), gesteun deur dokumentêre getuienis wat Van der Heiden en Tas versamel het.
Hier het die vryburgers die oorwinning behaal, hoeel die probleem van grondbesit deur amptenare eers in 1716 opgelos is, toe nuwe klagtes onder die aandag van 'n besoekende kommissaris, Abraham Douglas, gebring is. Dwarsdeur die 18de eeu het die burgers ekonomiese eise gestel, veral vir vrye handel, maar hulle is eers in 1792 toegelaat om met hul eie skepe aan die seehandel deel te neem.
--- --- ---
Rijk Tulbagh
Hierdie geliefde Kaapse goewerneur is op 14 Mei 1699 in Utrecht in Nederland gedoop en het op sestienjarige leeftyd by die V.O.C. in diens getree. Hy het op 3 Julie 1716 in die Kaap aangekom en is in 1739 tot sekunde bevorder onder sy swaer, Hendrik Swellengrebel. Op 27 Februarie 1751 het hy Swellengrebel as goewerneur opgevolg en dié amp tot sy dood op 11 Augustus 1771 beklee.
Tulbagh was 'n gekultiveerde mens en het 'n lewendige belangstelling gehad in die flora en fauna van die Kaap. Vandag word hy egter veral onthou vir sy aanpassing van die sg. weeldewette wat in Batavia uitgevaardig is om uitspattighede onder die amptenare te beperk (bekend as die Prag-en-Praalwette). Sy wet van 1755 het bepaal dat slegs die goewerneur sy koets met 'n wapenskild mag versier en dat net hy en lede van die Politieke Raad hul koetsiers in livrei mag klee. Laer amptenare en hul vroue is verbied om sonsambrele te dra. Vroue mog ook nie mantels dra wat met fluweel of sy gebordeer was nie. Die destydse mode van rokke met slepe is verbied, en alle oorbodige vertoon by begrafnisse moes vermy word. Tulbagh was ook verantwoordelik vir die kodifisering van die slawewette van die kolonie en het baie gedoen om die gevolge van die pokke-epidemie van 1755 en 1767 te temper. Die nedersetters het groot waardering gehad vir sy weldadigheid, verdraagsaamheid en mensliewendheid, en hom die erenaam "vader" Tulbagh gegee. (Sy sterk en swierige handtekening verskyn in dié gedeelte.)
--- --- ---
Laat in die 18de eeu het die stryd tussen burgers en Kompanjie nuwe vorms aangeneem. Sowel die burgers van Kaapstad as die boere van die binneland was nog steeds ontevrede oor ekonomiese beperkings, maar hul standpunt is nou deur politieke oorwegings beïnvloed. Hierdie breër benadering tot die griewe van die burgerbevolking was duidelik in die protes van die Kaapse Patriotte van 1778. Daarmee is 'n veldtog ingelui vir die verbetering van die posisie van die burgerbevolking, wat hulle teen dié tyd reeds nou verbonde aan die kolonie gevoel het en steeds vyandiger teenoor die bestuur van die Kompanjie gestaan het.
Die protes het sy ontstaan gehad in geheime samekomste in Mei 1778 in Kaapstad en die verspreiding van 'n pamflet waarin burgerregte bepleit is. 'n Burger-afvaardiging van vier lede het in Oktober 1779 aan die Here XVII 'n versoekskrif oorhandig waarin hulle vra vir die opheffing van beperkings op privaathandel, 'n einde aan die inmenging en bevoorregting van amptenare, die vrye verkiesing van burgers in rade waarin hulle verteenwoordiging geniet, 'n mate van seggenskap in die besprekings van die Politieke Raad en beter verteenwoordiging in die Raad van Justisie. 'n Verdere versoekskrif in April 1782 het hierbenewens 'n volslae skeiding tussen die wetgewende en regterlike mag aanbeveel. Die ongewilde fiskaal-independent Willem Cornelis Boers is veral vir kritiek uitgesonder vanweë sy afpersery en willekeurige optrede.
Die vyandigheid van die burgers het daartoe gelei dat Boers in 1783 bedank het, maar die V.O.C. het net beperkte toegewiwngs aan die petisionarisse gedoen. Vrye verkiesings het hulle van die hand gewys, maar burgerverteenwoordiging in die Raad van Justisie is vergroot. Amptenare se deelname aan die handel is opnuut verbied, maar die oppergesag van die Kompanjie se administrasie het onaangetas gebly.
Hierop het die burgers "gecommitteerde representanten" aangewys wat nuwe afgevaardigdes na Nederland gestuur het. Dié het hulle regstreeks tot die State-Generaal gewend en dus die Kompanjie omseil. Versoekskrifte is in Mei 1785 en April 1786 aan die State-Generaal voorgelê, maar dit het weinig opgelewer. Die Kaapse Patriotte-beweging is verswak deur onenigheid in eie geledere, tesame met 'n verandering in die politiek toestande in Nederland nadat die Oranjegesindes in 1787 weer die mag verkry het. Burger-ontevredenheid in Suidwes-Kaapland het egter toegeneem namate die gesag van die regering tydens die laaste jare van Kompanjiebestuur verswak het, en voro 1795 is reeds eise om onafhanjklikheid of regstreekse bestuur deur Nederlandse staat gestel.
Die leiers van die Patriotte-beweging was vooraanstaande burgers. Hul denke is deur buitelandse strominge beïnvloed. veral die patriotte-beweging teen die heersende Oranjehuis in Nederland., die kritiek op bestaande sosiale en politieke strukture wat uit die Verligting voortgevloei het en die onafhanklikstryd van die Amerikaanse kolonies teen Brittanje.
Ná die aankoms van die laaste goewerneur, C.J. van de Graaff, in 1785 het  bestuursprobleme toegeneem. Vanweë sy spandabelheid het die Kompanjie in 1790 drastiese besuinigingsmaatreëls ingestel, en die jaar daarna is Van de Graaff herroep. Vanaf 1792 is die bestuur deur kommissarisse-generaal waargeneem. Die eerste twee, Sebastiaan Cornelis Nederburg en Simon Hendrik Frykenius, het vrye handel toegestaan, maar hulle ongewild gemaak deur belastingverhogings. Die derde, Abraham Johannes Sluysken, wat hulle in 1793 opgevolg het, het die laaste twee jaar van Kompaniebestuur behartig teen die agtergrond van ekonomiese bankrotskap en openlike opstand in die grensdistrikte Graaff-Reinet en Swellendam. Dié probleme was nog onopgelos toe Brittanje die Kaap in 1795 beset het.
Die onrus in Graaff-Reinet was die gevolg van ontevredenheid met die Kompanjie se grensbeleid soos toegepas deur die ongewilde landdros Honoratus Christiaan David Maynier (1760-1831). Maynier het die burgers verantwoordelik gehou vir die verslegting van verhoudinge met die Xhosa. Ná 'n byeenkoms van boere op 6 Februarie 1795 is boere gedwing om die distrik te verlaat. 'n Voorlopige regering, die "algemene volkstem", is saamgestel, en in Augustus is Friedrich Carl David Gerotz as waarnemende landdros aangewys. 'n Kommissie wat deur Sluysken gestuur is om die gesag van die Kompanjie te herstel, het gefaal.
Die opstand van Junie 1795 in Swellendam was 'n protes teen die ekonomiese en Khoikhoi-beleid van die Kompanjie, 'n Gewapende mag het landdros Faure afgesit, 'n revolusionêre Nasionale Konvensie in die lewe geroep en Hermanus Steyn tot "nasionale" landdros benoem. 'n Maand later het die Nasionale Konvensie 'n vrye republiek uitgeroep. Die terminologie van die opstandelinge in albei distrikte weerspieël die demokratiese ideale van die tyd en van die Franse Revolusie.
Die slawe
In 1795 was daar volgens die amptelike telling sowat 17 000 slawe aan die Kaap - dus meer slawe as burgers. Sowat 97 persent van hulle was in die besit van burgers, en vanweë die groter arbeidsbehoefte van die akkerbou as die veeteelt was meer as 90 persent van die slawe in die suidelike deel van die distruk Kaapstad en die suid-sentrale deel van die distrik Stellenbosch gekonsentreer. Vroeg reeds was daar meer manlike slawe as Blanke mans, en die streng maatreëls teen ongehoorsaamheid en ander oortredings deur slawe weerspieël duidelik die vrees vir 'n slawe-opstand.
Die Kaapse slawe was uit verskeie dele van Indië en Oos-Asië afkomstig, asook van Madagaskar en die vasteland van Afrika, veral die gebied tussen Delagoabaai en Zanzibar. Die V.O.C. het verskeie skepe uitgestuur om slawe in Madagaskar en Oos-Afrika te verkry, en sowel die burgers as die Kompanjie het slawe uit die Ooste ingevoer of van besoekende skepe gekoop. Die toestand van die slawe wat in die groot groepe ingevoer is, was dikwels jammerlik, en selfs tydens die kort vaart van Madagaskar was daar baie stergevalle, ontsnappingspogings en muiterye. Ook aan die Kaap het baie slawe probeer ontsnap.
Die Kompanjie het sy slawe hoofsaaklik as algemene arbeiders gebruik, maar 'n aantal was vaklui, soos timmermans en messelaars, en ander het as huisbediendes, tuiniers en veewagters gewerk. Die meeste van die Kompanjie-slawe is in die slawelosie in Kaapstad gehuisves wat weldra die grootste bordeel op die dorp geword het. 'n Groot deel van die kinders in die slawelosie was die buite-egtelike nasate van Blanke vaders. Slawe in besit van die Kompanjie kon self geld verdien, en daar is beter na die kinders se opvoeding en kerstening omgesien as wat die reël was onder die kinders van burgers se slawe.
Die Kompanjie het gewoonlik die slawe se oorspronklike name behou, maar die slawe van die burgers het meestal nuwe name gekry. Veral die name van maande en Bybelse of klassieke name soos Simson, Benjamin, Adonis en Apollo was gewild. Op die platteland was die slawe meestal plaasarbeiders of huisbediendes, maar veral in Kaapstad was daar baie wat 'n ambag beoefen het, en sommige slawe is trouens deur hul eienaars toegelaat om self geld te verdien.
Hoewel die Kaap in wese 'n gemeenskap van klein slawe-eienaars was, het die besit van slawe 'n sekere status verleen en beklemtoon dat die Blanke elite bo hande-arbeid verhewe was. Nogtans was nie alle burgers slawe-eienaars nie. In 1750 het sowat die helfte van die burgers geen slawe besit nie, terwyl sowat 60 persent van die slawe-eienaars net een tot vyf slawe besit het. Slawebesit op groot skaal was beperk tot die rykste grondbesitters, en in 1750 was daar net sewe welgestelde boere wat meer as vyftig slawe gehad het.
Slawe was eiendom, maar nie heeltemal sonder regte nie. Hoewel eienaars "redelike straf" kon toedien, kon slawe oor mishandeling kla. Baie slawe is op 'n paternalistiese wyse goed behandel, maar ander het barbaarse wreedheid verduur. In 1702 is 'n boer van Drakenstein, Jan Schepping, bv. daarvan aangekla dat hy sy slaaf Jan se vel met 'n roskam van sy rug afgeskuur het. 'n Kwarteeu later het Jan Steenkamp van die Paarl twee slawe doodgeslaan.
Slawe kon deur hul eienaars vrygestel word, maar ná 1708 moes vrysteling deur die Kompanjie goedgekeur word en was dit toenemend aan voorwaardes onderhewig. Slawe is dikwels ná die dood van hul eienaar ingevolge sy testament of op besluit van die oorlewende eggenoot vrygestel, maar 'n ontleding van die vrystellingsyfers vir die jare 1715-1791 toon dat jaarliks minder as 0.2 persent van die totale slawebevolking vrygestel is. In Brasilië en Peru was dié syfer minstens vyf keer so hoog. Die kerstening van 'n slaaf het nie outomatiese vrystelling meegebring nie, en dit was miskien deels as gevolg hiervan dat die Islam in die gebied rondom Kaapstad aansienlike steun onder die slawe geniet het. Dit is bevorder deur onderwysers soos Abdoella Kadi Abdoe Salaam, 'n Indoniese prins wat in 1767 na die Kaap verban is.
Die Kaapse Maleiers, wat vandag 'n etnologies gemengde groep is, was oorspronklik slawe of politieke ballinge uit Oos-Asië. Hoewel hul tale u itgesterf het, het hul Islamitiese geloof as band gedien, met die moskee en die Kran as middelpunt van hul kultuurlewe.
Die Khoisan en Xhosa
Die geleidelike uitskuiwing ná Van Riebeeck se vertrek van die landbougrens en die gereelde vee-ekspedisies na die binneland, het die Khoikhoi in nouer aanraking met die Nederlanders gebring. Die hawenedersetting se toenemende vraag na vee het tot die verarming van die Khoikhoi bygedra, en baie van hulle het na die kolonie gekom om op die plase as veewagters te werk of op die dorp as bediendes. Hierdeur is hulle onder die V.O.C. se wette geplaas. Verwoestende siektes soos pokke en skarlakenkoorts - veral die pokke-epidemies van 1713, 1755 en 1767 - het die ontbinding van die Khoikhoi-samelewing in Suidwes-Kaapland verhaas.
Aan die grens het die Khoisan lank weerstand teen Blanke indringing gebied. In 1715 is die eerste burgerkommando op die been gebring om die Khosan-bedreiging af te weer, en vanaf 1739 het kommandodiens verpligtend geword. Hoewel baie Khoisan hulle op die trekboerplase gevestig het, het ander die opmars van die grensboere teengestaan. Die regering het dit aan die boere oorgelaat om dié probleem te probeer oplos. Die gevolg was dat kommandodiens deel van hul lewenswyse geword het en dat honderde Khoisan gedood en hul kinders by boere ingeboek is. Op hul beurt het die Khoisan baie plase verwoes, en teen 1785 was hulle in beheer van groot dele van die Roggeveld en die Sneeuberge.
Wanneer 'n mens die groot sendingprestasies van die 19de eeu in oënskou neem, is dit verbasend dat daar tot aan die einde van die Kompanjie se bestuur so min vir die kerstening van die inheemse volkere gedoen is. Die enkele uitsondering, die Morawiese sending wat in 1737 begin het, is deur die gevestigde kerklike belange gou beëindig.
--- --- ---
Georg Schmidt
Die eerste Morawiese sendeling in Suid-Afrika, Georg Schmidt, het in Julie 1737 in die Kaap aangekom. Hy het toestemming gekry om naby een van die Kompanjie se  buiteposte onder die Khoikhoi te werk, en hy het met 'n groepie van hulle na Baviaanskloof naby die huidige Caledon getrek. Daar het hy die evangelie verkondig en die Khoikhoi in die landbou onderrig. Sy welslae het aandag getrek en baie Blankes, veral Lutherane, het sy werk gesteun. Toe Schmidt sy  bekeerlinge begin doop, het hy egter in botsing gekom met die Kaapse predikante, wat sy reg daartoe betwis het. In Maart 1744 was hy verplig om na Europa terug keer. Die Khoikhoi het hom egter onthou, en toe die Morawiërs in 1792 toegelaat is om na die Kaap terug te keer en die sendingstasie Genadendal by Baviaanskloof gestig het, het hulle ontdek dat Georg Schmidt se leringe nie heeltemal vergete geraak het nie.
--- --- ---
Tydens die Kompaniestyd was daar min kontak tussen die Blanke nedersetters en die Bantoesprekende Siotho-Tswana aan die noordgrens, maar die opmars van jagters, handelaars en trekboere na die ooste het Blankes so vroeg as 1702 in aanraking met die Xhosa gebring.
In die sewentigerjare het die Xhosa wes van die Visrivier in die Suurveld met die indringende trekboere kennis gemaak. Albei groepe was selfonderhoudende veeboere, maar hul stelsel van grondbesit het verskil. Vir die Xhosa was grond gemeenskaplike eiendom, terwyl die Blankes dit afsonderlik besit het. Mededinging om weiveld in die Suurveld was die trekboere se eerste grief.
In die Kompanjiestyd was die grens "oop", soos die historikus Hermann Giliomee dit stel. Só 'n grens is volgens hom een waar "twee of meer etniese gemeenskappe naas mekaar met botsende aansprake op die grond (bestaan) en geen gesag deur die partye as legitiem beskou word of in staat is om onbetwiste beheer oor die gebied uit te oefen nie". Dit was die posisie in die Suurveld, waar die Blankes geen hulp van die Kompanjie kon verwag en die Xhosa geen opperhoof gehad het nie.
Toe goewerneur van Plettenberg die oosgrens in 1778 besoek en die Gamtoosrivier - sedert 1771 die grens - oorsteek, het hy 'n paar hoofmanne van die Gwali-Xhosa oorgehaal om die Visrivier as die grens tussen die Kompanjie se gebied en dié van die Xhosa te erken. Daar was egter geen georganiseerde plaaslike bestuur vir dié streek wat die orde kon handhaaf nie, en die meeste van die Xhosa was nie bereid om die beloftes van 'n paar hoofmanne te eerbiedig nie.
Die verhouding tussen die Xhosa en die trekboere het gou versleg. In 1779 het 'n grensoorlog uitgebreek, die eerste in 'n ononderbroke reeks botsings waarvan die ernstigstes deur baie historici genommer word. By dié geleentheid het die Xhosa baie vee geroof, en in 1779 en 1780 is strafkommando's op die been gebring. Die Kompanjie, wat sy gesag wou handhaaf, het die boer Adriaan van Jaarsveld, wat later teen die Britse gesag sou rebeleer, tot kommandant  aan die oosgrens genoem, met die opdrag om die Xhosa uit die Suurveld te verdryf. In 1781 het hy met 'n gemengde mag van berede Blankes en Khoikhoi daarin geslaag en beslag gelê op vee, soos dit aan die grens gebruiklik was.
Die gesag van die Kompanjie is versterk toe die distrik Graaff-Reinet in 1786 gestig is, maar die boere was ontstoke teenoor die Xhosa, wat weer in groot getalle na die Suurveld getrek het. Die landdros van die nuwe distrik, die Duits-gebore Moritz Hermann Otto Woeke, was in 1792 verplig om te bedank. Die besluit van sy opvolger Maynier in November 1793, ná 'n tweede grensoorlog, om 'n vergelyk met die Xhosa te probeer tref, het gelei tot die verwerping van die Kompanjie se bestuur in 1795.
Uiteindelik sou die grens "sluit", tot nadeel van die Xhosa, maar dit is interessant om daarop te let dat dit tydens die jare van konflik aan die "oop" grens soms gerieflik was om'n bondgenootskap oor rasseskeidslyne heen aan te gaan, soos gebeur toe die aantal koloniste van Graaff-Reinet die kant van die Rharhabe-Xhosa oorkant die grens gekies het omdat albei die omverwerping van die Xhosa-kapteinskappe in die Suurveld wou bewerkstellig.
Die verdediging van die Kaapse seeroete
Die verdediging van die Kaapse seeroete is steeds deur die V.O.C. as 'n saak van lewensbelang beskou, en die verval van Van Riebeeck se kleifort het 'n sterker vesting noodsaaklik gemaak. Die bou van die Kasteel het egter nie doeltreffende verdediging aan die Kaap verskaf nie, want die besetting van die omringende berge - veral Duiwelspiek en Vlaeberg - sou die Kasteel baie kwesbaar maak. Die verdedigingswerke van die Kaap is egter nooit op die proef gestel nie.
--- --- ---
Die Kasteel
Die bouwerk aan die Kasteel het in Januarie 1666 onder goewerneur Zacharias Wagenaer begin. Die ontwerp was vyfhoekig, met 'n verdedigingsbastion op elke hoek, en was veel verskuldig aan die vestingbouplanne van Vauban, die meester-ingenieur van Lodewyk XIV. Die werk het stadig gevorder en is net in tye van internasionale spanning versnel. Baie van die werk is deur slawe, bandiete en soldate verrig. Teen 1674 kon die garnisoen die gebou betrek, en twee jaar later is die bastionne voltooi. Hulle is vernoem na die titels van die Prins van Oranje: Buuren, Leerdam, Oranje, Nassau en Catzenellenbogen. Goewerneur Bax het die grawe van die verdedigingsloot verhaas deur te bepaal dat elke man - ongeag sy rang - wat by die terrein verbykom, twaalf mandjies grond moes wegdra, en elke vrou ses. In Mei 1678 is die hoofingang aan die seekant voltooi, maar in 1684 het Simon van der Stel besluit om dit toe te maak en die huidige poort en toring tussen die bastionne Buuren en Leerdam te laat bou. Bo die poort het hy die wapens van die kamers van die V.O.C. laat uitbeitel, nl. van links na regs dié van Hoorn, Delft, Amsterdam, Middelburg, Rotterdam en Enkhuizen. Die "Kat", 'n skeidingsmuur dwarsoor die Kasteel se binneplaas, is in 1691 gebou, en 'n paar jaar later is nuwe wonings vir die goewerneur en die sekunde, en 'n raadsaal vir die Politieke Raad en Raad van Justisie daarin gebou.
--- --- ---
Vir die Kompanjie ws die vernaamste doel van die nedersetting om voldoende geriewe vir Nederlandse skepe te verskaf en siek matrose te versorg. Die see om Suider-Afrika was verraderlik, soos uit die talle skipbreuke geblyk het. Tafelbaai self was ook nie 'n ideale ankerplek nie, veral wanneer die sterk noordwestewinde in die winter waai, en in 1722 het sewe Nederlandse en drie Britse skepe tydens 'n storm skipbreuk gely, met swaar verliese aan staafgoud.
In 1743 het die Kompanjie begin met die bou van 'n beskermende seemuur vanaf die huidige Mouillepunt. Die werk is tot September 1747 voortgesit deur slawe en bandiete, maar toe is dit gestaak weens die onstuimigheid van die see. Die Kompanjie het sy kapteins opdrag gegee om in die winter in Valsbaai te anker. Dit het gelei tot die ontwikkeling van hawegeriewe by die huidige Simonstad.
Tot 1772, toe die V.O.C. vinnig begin agteruitgaan het, was Nederlandse skepe elke jaar aan die meerderheid. Daar was egter altyd baie skepe van ander lande ook. Hiervan was die meeste vanaf die sluiting van die Anglo-Nederlandse verbond in1688 tot die middel van die 18de eeu Engels. Baie jare lank, veral tussen 1735 en 1755, was die vreemde besoekers slegs Britse, Franse en Deense skepe, maar Nederland kon sy monopolie nie onbeperk handhaaf nie, en vanaf 1755 het al hoe meer skepe van ander lande ook Tafelbaai aangedoen.
Nederlandse en vreemde skepe het heelwat vername besoekers na die kolonie gebring, o.a. die Franse sterrekundiges Guy Tachard, Jean de Fontaney en La Caille, die Sweede natuurkundiges Anders Sparrman en Carl Pehr Thunberg, die Franse resiger en kunstenaar François le Vaillant en vooraanstaande krygsmanne en seevaarder soos Anson, Robert Clive en James Cook.
In die 18de eeu het die Frans-Britse mededinging om heerskappy in die Verre Ooste toegeneem, terwyl die mag van Nederland gekwyn het. Vyandelikhede tussen Frankryk en Brittanje het vlootmagte in groot getalle na die Indiese Oseaan gebring, en baie daarvan het die Kaap aangedoen. Tydens die Oostenrykse Suksessie-oorlog (1740-1748) was Nederland in naam neutraal, maar toe Brittanje in 1744 tot die stryd toetree en die Nederlandse provinsies drie jaar later deur Frankryk bedreig word, het dié land ook betrokke geraak by dié oorlog.
In 1748 het die V.O.C. deelgeneem aan 'n groot Britse aanslag op die Franse belange oos van die Kaap. Hiervoor is 'n Angl-Nederlandse ekspedisie in 1748 in Tafelbaai onder bevel van die Britse admiraal Edward Boscawen saamgestel. Dit was die grootste vloot ooit aan die Kaap, met dertien Britse vlootskepe, veertien Oos-Indiëvaarders uit Londen en ses skepe van die V.O.C. Die ekspedisie het oor 'n aansienlike militêre kontingent, o.m. vyftig lede van die Kaapse garnisoen, beskik. Die vloot het op 19 Mei vertrek om Mauritius (Ile de France) en Réunion (Bourbon) van die Franse te verower, maar die onderneming was 'n fiasko. Boscawen was lugtig om Mauritius se verdedigingswerke aan te val en die Nederlandsers het na Batavia weggevaar. Hierna het die Britte hul aandag op hul volgende doelwit, die Koromandel-kus, toegespits, maar hier was Boscawen se prestasie egter ewe onskouspelagtig.
Ná 1750 het die lang Anglo-Nederlandse bondgesnootskap begin uitrafel. Die republikeinsgesinde Patriotte se invloed het in Nederland toegeneem, en toe Nerderland in 1780 weier om Brittanje in die twis met sy Amerikaanse kolonies by te staan, het die Britte oorlog verklaar teen hul voormalige bondgenoot. Die Nederlanders het nou 'n ooreenkoms met Frankryk aangegaan, en 'n Franse garnisoen is tot 1784 na die Kaap gestuur.
Die V.O.C. se beheer oor die Kaap het nou vinnig sy einde genader. Die Franse Revolusie van 1789 het nuwe kragte in Europa ontketen. In Januarie 1795 het prins Willem van Oranje na Engeland gevlug en is die Bataafse Republiek in Nderland uitgeroep. In Desember 1795 het die staat die V.O.C. oorgeneem, en 'n paar jaar later was die Kompanjie tot niet. Toe was die Kaap egter reeds in ander hande.
Die Kaap is in September 1795 deur Brittanje verower met troepe onder die bevel van skout-adml. George Keith Elphinstone. Die eerste invalsmag het in Julie onder genl.-maj. James Henry Craig by Simonstad geland en na Muizenberg opgeruk, waar 'n afdeling onder genl.-maj. Alfred Clarke by hulle aangesluit het. Die Nederlandse weerstand was halfhartig. Die burgermag het hul bevelvoerders nie vertrou nie, daar was Britse ondersteuners onder die amptenare, en die Britte het bowendien nie as veroweraas gekom nie, maar as besettingsmag met die steun van die verbanne Prins van Oranje. Die kommissaris-generaal, Sluysken, het van Wynberg teruggeval en uiteindelik op 16 September 1795 by Rustenburg oorgegee.
Dit was die einde van 'n era, maar - vanweë die tydelike aard van die besetting - nog nie die begin van 'n nuwe tydvak nie. Die V.O.C. het aan die Kaap verdwyn, maar die ontwikkelinge tydens sy bewind van byna anderhalf eeu sou die sosio-politieke geskiedenis van die subkontinent nog lank beïnvloed: in rassekontakte, grenskonfrontasies, streekverskille en op alle vlakke van die verhouding tussen regering en regeerders.
--- --- ---
Aanbevole leeslys:  'n Volledige bronnelys met die outeurs, publikasiedatums, titels en uitgewers volg hier aan die einde van dié hoofstuk.
--- --- ---
Hoofstuk 6
Die besettings van die Kaap, 1795-1854: Basil A. le Cordeur
Die koms van die Britse bestuur in 1795 het aanvanklik min opvallende veranderinge in die leefwyse van die bewoners van die Kaap meegebring. Geografiese faktore het - soos in die verlede - verandering gestrem. Die groot afstande tussen die kolonie en dig bevolkte wêrelddele, die barre kus, die gebrek aan bevaarbare riviere waarop die binneland binnegedring kon word en die wisselvallige reënval, saam met 'n besonder yl bevolking en 'n gebrek aan goedkoop arbeid en gevorderde landboutegnieke, het meegebring dat die kolonie se produktiwiteit laag geblyhet. Die plaaslike mark was onderontwikkel, en bande met die buitewêreld sou afhanklik bly van verbygaande skepe totdat die kolonie'n uitvoerproduk van belang lewer.
Benewens hierdie omgewingsfaktore het diepliggende sosiale kragte verandering vertraag. In weerwil van die algemene opvatting, was die Kaap volgens historici een van die mees geslote en onbuigsame slawegemeenskappe in die tydvak van Europese kolonisering. In 1795 was die sowat 25 000 slawe die grootste enkele bevolkingsgroep van die kolonie, gevolg deur die 20 000 Blanke koloniste, 15 000 Khoikhoi en sowat 1 000 vryswartes. In die 18de eeu is die Kaapse samelewing al hoe meer oorheers deur 'n bevoorregte Blanke groep wat vasbeslote was om die skeidslyne tussen vry en onvry, Blank en Swart te behou en verder te verskans. Sedert die verskyning van I.D. MacCrone se klassieke werk Race Attitudes in South Africa in 1937 is aanvaar dat differensiëring op grond van ras aan die kolonie se grens begin het, maar lank voordat dié grens begin het, maar lank voordat dié grens ontstaan het, was dit reeds diepgewortel in die gevestigde westelike distrikte van die kolonie, waar dit ook lank ná die verdwyning van die grens verder ontplooi het.
Die opvattings van die Eeu van Verligting het ook geen noemenswaardige invloed op die kolonie gehad nie, ondanks die slagspreuke van die aktiviste van Graaff-Reinet en Swellendam in die laaste dekade van die 18de eeu. Dié rebelle is eerder deur eiebelang as ideologiese beginsels gemotiveer, en slegs in die westelike distrikte het die ideale van die Verligting die koloniste hoegenaamd beïnvloed.
Brittanje se beperkte oogmerke met die besetting van die Kaap in 1795 het ook daartoe bygedra dat die bestaande bestel in hoë mate gehandhaaf is. Die vernaamste strategiese doel van die Britte was om te verhoed dat Frankryk die Kaap beset. Brittanje se aanname dat sy eie besettings slegs tydelik sou wees, het veroorsaak dat die nuwe bewindhebbers hulle daarop toegespits het om die wet en orde te handhaaf en om hul nuwe onderdane se lojaliteit te wen. Die feit dat die Britse regering verwag het dat die kolonie selfonderhoudend gemaak moes word, het die goewerneurs se oortuiging versterk dat die delikate sosiale en politieke ewewig nie versteur momes word nie.
Tussen 1795 en 1814, terwyl die oorloë wat die Franse Revolusie en Napoleon ontketen het, in Europa gewoed het, het die Kaap drie keer van owerheid verwissel. Hierdie oorgangstyd is eers beëindig toe Nederland die Kaap ingevolge die Konvensie van Londen op 13 Augustus 1814 permanent aan Groot-Brittanje afgestaan het.
Die eerste Britse besetting (1795-1803)
Die Britse militêre bestuur wat die Kaap in 1795 oorgeneem het, was baie bewus van die wydverspreide plaaslike teenkanting teen hul aanwesigheid. Hoewel hulle beslis opgetree het wanneer dit gegaan het om hul houvas op die kolonie, het hulle die handhawing van bestaande wette en gebruike, met inbegrip van die Romeins-Hollandse regstelsel, eiendomsregte en die muntstelsel van die V.O.C. gewaarborg, en belowe dat geen nuwe belastings gehef sou word nie. Die Politieke Raad is vervang deur 'n goewerneur in wie alle burgerlike en militêre mag gesetel was.
Ná die Britse vloot onder Clarke en Elphinstone se vertrek na Indië, het genl. Craig die bestuur oorgeneem. Hy het sy taak knap en simpatiek uitgevoer. Agterstallige grondbelasting is kwytgeskeld, en die Raad van Justisie is vervang deur 'n Burgersenaat. Die lede van hierdie liggaam, wat groter bevoegdhede as sy voorganger gekry het, is deur die goewerneem benoem uit lyste wat die Burgersenaar self voorgelê het.
Die nuwe owerheid het ook ten volle gebruik gemaak van 'n sosiale verandering wat omstreeks 1780 begin het: die opkoms van 'n koloniale burgery, wat met die senior amptenarestand vermeng geraak het. In die tweede helfte van die 18de eeu het die heemrade hulle deur hul beheer oor sake soos grondbesit en arbeidskragte deeglik op die platteland laat geld en dié mag in 'n mate tot in die sentrale bestuursliggame uitgebrei. In weerwil van die nasionalistiese tradisie van die Afrikaner was die Afrikanergemeenskap nie egalitêr nie, maar toenemend in stande ingedeel. (Volgens André du Toit en Hermann Giliomee in Die Afrikaner se Politieke Denke het baie Blankes aan die Kaap hulle reeds teen die einde van die 18de eeu beskou as "in Afrika gewortel". Dié beskouing het uitdrukking gevind in die woord "Afrikaner" soos dit in hierdie boek gebruik word.)
Die plaaslike elite van betreklik welgestelde boere in die suidwestelike distrikte, wat die hiërargie van heemrade, kerklike ampsdraers en offisiere in die milisie oorheers het, het saamgewerk met die ander belangrike seksies van die Kaapse samelewing: die boere in ander streke, die ontwikkelende koopmansklas en die sentrale regering. Vanaf die begin van die Britse bestuur is daar ook doelbewus moeite gedoen om die guns van vooraanstaande Afrikaners te wen. Hierin het die sjarmante lady Anne Barnard, vrou van die sekretaris van graaf Macartney (Craig se opvolger as militêre goewerneur), 'n besonder aktiewe rol gespeel. Macartney se vrou het hom nie na sy nuwe pos vergesel nie, en lady Anne het as amptelilke gasvrou opgetree en die elilte van die kolonie by die Kasteel onthaal. Haar warm persoonlikheid en opregte belangstelling in hul leefwyse, het haar gewild gemaak, maar haar pogings opm die Afrikaners met die nuwe bewind te versoen, was nie besonder suksesvol nie, want die Afrikanerbevolking was sterk verdeel tussen dié wat bereid was om saam te werk (die "Anglomanne") en dié wat toenadering met veragting verwerp het (die "Jakobyne").
Die Britte se vernaamste taak was die herstel van die vrede aan die oosgrens van die kolonie, want die vlootbasis, Kaapstad, was vir sy vleisvoorraad van die binneland, en veral van Graaff-Reinet, afhanklik. Teen die laat 18de eeu het Blankes begin om die Gqunukhwebe en ander volke se besetting van die Suurveld tussen die Vis- en Boesmansrivier te betwis. Hul verbittering oor die versuim van die V.O.C.-bewind om hulle teen die Xosa te beskerm en die verbod om hulself te verdedig, het die koloniste van Graaff-Reinet die ongewilde landdros Maynier laat verjaag en 'n republiek laat uitroep juis in die week toe die Britse vloot aangekom het om die Kaap te beset. Kort daarna het Swellendam die voorbeeld gevolg.
Op hierdie bedreiging het Craig reeds kort ná sy aankoms beslis gereageer deur die toevoer van alle goedere - ook ammunisie - na Graaff-Reinet stop te sit. Toe 'n Nederlandse vloot wat gestuur is om die Kaap te herower, verplig is om oor te gee, het Graaff-Reinet hom aan die nuwe bewind onderwerp, maar nuwe probleme het dadelik opgeduik. Die boere het toestemming gevra om grond te beset anderkant die Visrivier, wat sedert die dae van Van Plettenberg die amptelike grens van die kolonie was. Net soos hul Nederlandse voorgangers het die Britte nie oor die middele beskik om die betrekkinge tussen die koloniste en die Xhosa doeltreffend te beheer nie. Craig het ernstig gewaarsku teen vyandige optrede teen die Xhosa of pogings om hulle hul grond te ontneem. "Met watter reg," het hy verontwaardig geëis, "vra julle my om julle toe te laat om grond te beset wat aan ander behoort? Watter reg het ek om aan julle ander mense se eiendom te gee? ... Dink 'n oomblik hoe julle sou voel as julle moet hoor dat ek selfs maar oorweging skenk aan 'n voorstel om julle van jul plase te verwyder en hulle aan ander te gee."
Ook Macartney het Blank en Swart vergeefs probeer oorhaal om die Visrivier as skeidslyn te aanvaar, en dwarsdeur die eerste Britse besetting was die grens 'n bron van onrus. Fort Frederick is by Algobaai opgerig sodat troepe daarvandaan uitgestuur kon word na plekke waar moeilikheid òf grensboere òf Xhosa ontstaan, en Maynier is as resident-kommissaris in Graaff-Reinet aangestel. Hy kon egter nie die orde handhaaf nie en het die boere vervreem deur hulle te verbied om gesteelde vee met kommando's te gaan terughaal. Uiteindelik was die koloniale regering verplig om hom terug te roep, maar die gebied het vlambaar gebly. Twee keer het die Khoikhoi saam met die Xhosa in opstand gekom, en die vrede wat die regering in 1803 gesluit het, het nie die onderliggende probleme opgelos nie. Toe die Kaap vroeg in 1803 ingevolge die Verdrag van Amiens aan die Bataafse Republiek oorgedra word, het die grens in 'n uiters onrustige toestand verkeer.
Die Bataafse bewind (1803-1806)
Die bewind van die Bataafse Republiek aan die Kaap word gewoonlik met die verspreiding van "verligte denke" geassosieer, maar inwerklikheid was dit konserwatiewer as wat algemeen geglo word. Die Nederlandsers het geglo hul bewind sou permanent wees. Daarom is Jacob Abraham Uitenhage de Mist, 'n lid van die Raad van Asiatiese Besittinge, wat in 1802 'n memorandum opgestel het met uitgebreide voorstelle vir hervormings in die regeringstelsel van die kolonie, as kommissaris-generaal na die Kaap gestuur om die nuwe bewind op vaste koers te plaas.
De Mist en die goewerneur, lt.-genl. Jan Willem Janssens, het hulle veral daarop toegespits om 'n ordelike bestuur vir die uitgestrekte kolonie te bewerkstellig. Hegter organisasie het gelei tot 'n groter sentralisering van mag en 'n meer outoritêre instelling, ten spyte van De Mist se sterk geloof in die soewereiniteit van die reg en die regte en vryhede van die individu. Die magte van die goewerneur is uitgebrei, en die heringestelde Politieke Raad het byna uitsluitlik uit Nederlanders bestaan, nie koloniste nie. Die Burgersenaat, nou die Raad der Gemeente genoem, het 'n benoemde liggaam gebly, en pogings is aangewend om sy funksies verder te beperk. Beheer deur die sentrale regering is uitgebrei deur 1804 drosdye op Uitenhage en Tulbagh te stig, distrikte in wyke onder 'n veldkornet ('n nuwe amptenaar) te verdeel en 'n weeklikse posdiens tussen die drosdye in te stel. Die belangrikste veranderinge op regsgebied was die stigting van 'n Raad van Justisie, waarin ses lede met regsopleiding gedien het, en die skeiding van die regspleging en die uitvoerende gesag.
Die opvatting dat die radikale aard van die ordonnansies oor kerksake en onderwys die koloniste geskok het, is nie korrek nie. Die selfstandige kerkbestuur wat die Kerkorde van 1804 tot stand gebring het, is inteendeel deur baie kerkrade en predikante gesteun. Burgerlike huwelike is ingestel, maar dié gebruik het nie veel verskil van die praktyk wat reeds onder die Kompanjie in swang was nie. Ook die Skoolorde van 1805, wat die onderwys wou sekulariseer om staatsamptenare op te lei, is deur die meeste koloniste verwelkom omdat hulle gehoop het dat dit 'n verbetering in formele onderwys sou teweegbring.
Geldgebrek het dit vir die Bataafse bewind onmoontlik gemaak om die probleme van die oosgrens met beslistheid aan te pak. De Mist en Janssens het gehoop dat hul administratiewe hervormings hulle 'n stewiger greep op die grensbewoners sou gee, maar om hulle te beskerm, was 'n ander saak. Janssens was verplilg om sy voorgangers se beleid te volg en bloot die vrede te probeer handhaaf. Die Khoikhoi is in lokasies gevestig, en dr. J.T. van der Kemp het by Bethelsdorp naby Algoabaai grond vir 'n sendingstasie verkry. Ander Khoikhoi is oorgehaal om uit die Suurveld terug keer en op Blanke plase te gaan werk nadat 'n regulasie uitgevaardig is waarvolgens werkgewers net arbeiders kon verkry nadat 'n amptelike kontrak voor amptelike getuienis onderteken is.
Janssens het nie oor die mag beskik om die seevierende Xhosa-krygers uit die Suurveld te verdryf nie, en hy het bloot 'n vaste grens tussen Wit en swart probeer handhaaf. Die Bataafse bewindhebbers het weldra besef dat hulle nie aan die gevestigde gewoontes en vooroordele wat die stabiliteit van die kolonie se sosiale struktuur gehandhaaf het, kon torring nie.
--- --- ---
Die Xhosa
Volgens tradisie het die Xhosa onderverdeel geraak in die Gcaleka van die Transkei en die Rharhabe van die Ciskei to Phalo in die tweede helfte van die 18de eeu 'n bruid moes kies. Sowel die Mpondo- as die Thembukoning het sy dogter se hand aangebied, en in 'n poging om nie een van hulle te na te kom n ie, het Phalo die raad gevolg van 'n wyse man wat gesê het: "Wat is groter as die hoofman se hoof? En wat is sterker as sy regterhand? Laat die een meisie sy hoofvrou wees, en die ander een die vrou van sy regterhand." Die verdeling van die Xhosaryk tussen die Gcaleka en Rharhabe is finaal beseël deur die skepping van Brits-Kaffrarië in 1847.
(Sterfjaar telkens in hakies.):  Phalo (1775); Gcaleka (1778) / Rharhabe (1782); Khawuta (1794) / Miawu (1782) / Ndlambe (1828); Hintsa (1835) / Ngqika (1829) / Mdushane (1829); Sarhili (1892 / Sandile (1879).
--- --- ---
Intussen is die oorlog tussen Brittanje en Frankryk hervat, en Brittanje was nou veel meer bewus van die strategiese en ekonomiese waarde van die Kaap as in 1795. Nadat Napoleon se plan om Brittanje binne te val, gefnuik is, het 'n Britse vloot na die Kaap gevaar. By Bloubergstrand, 25 km noord van Kaapstad, het genl.-maj. Baird se troepe die Nederlanders verslaan en op 10 Januarie 1806 het hulle gekapituleer. Die oorgawe van Kaapstad is by Papendorp (tans Woodstock) onderteken, en agt dae later het Janssens, wat na die Hottentots-Hollandberge teruggeval het, ook oorgegee.
Die tweede Britse besetting (1806-1814)
Weer eens het die Kaap Brits geword. Ook dié keer het dit na 'n bloot tydelike besetting gelyk, en die bestaande sosiale en politieke bestel is feitlik nie daardeur geraak nie. 'n Skrywer oor hierdie tyd skekts bv. die Burgersenaat se raksie soos volg: "Só volslae was die kontinuïteit van die Burgersenaat dat sy sittings nie eens onderbreek is nie. Van die aankoms van die Britse vloot op 4 Januarie tot 10 Januarie, die dag toe Kaapstad self beset is, het die Burgersenaat daagliks gesit om Janssens in sy krygsverrigtinge te steun; van 10 Januarie tot 18 Janarie, die dag van Janssens se kapitulasie, het hulle daagliks vergader om die nodige waens en perde aan die Engelse te verskaf."
Totdat Nederland in 1814 deur 'n verdrag afstand gedoen het van die Kaap, was daar geen sterk aansporing om administratiewe of ander veranderinge aan te pak nie. Die eerste goewerneur, graaf Caledon, het gou agtergekom dat die Britse minister van kolonies vanweë die oorlog in Europa geen hervorming wou oorweeg nie, en hy kon dus net 'n aar van sy beoogde veranderinge invoer. Een hiervan was om deur proklamasie 'n stelsel van rondgaande howe in te stel waarvolgens twee regters die platteland gereeld sou besoek. Hulle sou nie net siviele en kriminele sake verhoor nie, maar ook volledig verslag doen oor die toestand in elke distrik. In 'n kolonie waar feitlik geen verteenwoordiging in die bestuur bestaan het nie, was dit 'n belangrike stap in die daarstelling van 'n regstreekse skakel tussen die afgeleë streke en die regering in Kaapstad.
Caledon se opvolger, sir John Cradock, was besonder gewild by die koloniste vanweë die beslistheid en simpatie waarmee hy hul probleme benader het. Tydens Cradock se bewind is die eerste revolusionêre verandering in die oosgrensbeleid aangebring. Met sy ampsaanvaarding was daar volkome chaos in die Suurveld en was Blankes toenemend besig om hul leningsplase te verlaat. Vroeg in 1812 het lt.-kol. Johan Graham in opdrag van die goewerneur met 'n mag van soldate en burgers 20 000 Xhosa oor die Visrivier gedryf. Dit het die hele Suurveld vir vestiging deur Blankes beskikbaar gestel. Ten einde die grens te handhaaf, is 17 militêre poste opgerig, wat versterk sou word deur patrollies en die stigting van die garnisoendorpe Grahamstad in die Suurveld en Cradock.
Dit was die eerste keer dat die koloniale regering die grensprobleem kragtig aangepak het. Cradock was oortuig dat, tensy die binneland beveilig word, die behoud van die skiereiland nie gewaarborg kon word nie. En vir die eerste keer het die Britse regering die feit aanvaar dat militêre ingryping nodig was om die grens, en dus ook die kolonie, te behou.
In 'n breër sin was 18712 die keerpunt aan die grens, want die mag het nou in die hande van die Blankes oorgegaanomdat die imperiale regering beslis hul kant gekies het.  Britse mag is onbetwisbaar in die suurveld gevestig soos nooit onder die V.O.C. die geval was nie, en die Suurveldgrens is "gesluit".
Om  verskeie redes is die oorgangstyd gekenmerk deur'n hoë mate van kontinuïteit op die meeste terreine van die lewe in die kolonie, soos maatskaplike prosesse, ideologie en instellings. Terwyl die Britse owerheid in 1795 heelwat ontevredenheid onder die Nederlandse koloniste waargeneem en tereg 'n rebellie gevrees het, het hulle teen 1814 'n vennootskap met die dominante vryburgerklas bewerkstellig. Dit was te danke aan die bewindhebbers se toenemende steun vir die saak van werkgewers en slawe-eienaars en hul vereenselwiging met die standpunt van die grensbewoners oor Xhosa-beleid. Oor een kwessie het die nuwe owerheid egter lank onversetlik gebly: daar sou nie méér volksdeelname aan die bestuur wees as wat vermy kon word nie. Tog het die tempo van verandering toegeneem, en lank voor 1820 moes die Britse regering reeds erken dat die Kaap 'n kolonie was, en nie bloot 'n nedersetting nie.
--- --- ---
Die belangrikste grensoorloë
In die Suid-Afrikaanse geskeidskrywing het dit gebruiklik geword om die ernstige gevalle van botsing tussen Blankes en Swartes aan die oosgrens in 'n reeks "grensoorloë" in te deel, wat elkeen 'n nommer gekry het. In hierdie hoofstuk word verwys na die volgende:  Derde grensoorlog (1799-1803); Vierde grensoorlog (1811-1812); Vyfde grensoorlog (1818-1819); Sesde grensoorlog (1834-1835); Sewende grensoorlog, of "Oorlog van die Byl" (1846-1847); en Agtste grensoorlog (1850-1853).
--- --- ---
Ekonomiese veranderinge
Van die belangrikste kragte vir verandering aan die Kaap ná 1795 was ekonomies van aard. In die Kompanjiestyd was die Kaap deel van die wêreldwye Nederlandse handelstelsel, maar nou is dit betrek by die veel groter en dinamieser Britse imperiale stelsel, wat ander prioriteite gehad het. Die Nederlandse bestuur was dié van'n handelsmaatskappy wat soveel wins as moontlik wou maak uti sy handelsmonopolieë, terwyl die Britse imperiale bestuur dié van die moderne wêreld se eerste nywerheidsmag was. In die eerste dekades van die 19de eeu is die merkantilisme van die Kompanjie dus vervang deur die kapitalistiese ideologie van vrye handel, en slawerny deur vrye, hoewel streng beheerde arbeid.
Die strakke monopolieë en beperkings op binnelandse handel wat materiële vooruitgang onder die Kompanjjie so belemmer het, het eerste verdwyn. Daar is bepaal dat "elke man mag koop van wie hy wil, een kom en gaan waar hy wil, oor land of op see". Buitelandse handel is vir bevriende nasies opgestel, weliswaar op die grondslag van Ryksvoorkeur. Die Kaapse ekonomie het reeds in die tagtigerjare van die 18de eeu tekens begin toon van 'n toenemende gerigtheid op uitvoer, en met die Ryksvoorkeurbeginsel as prikkel het die uitvoerhandel nou sterk toegeneem. Die invoerhandel het eweneens toegeneem, grootliks vanweë die teenwoordigheid van die garnisoen en die toenemende getal Britse amptenare. Die landbou in Suidwes-Kaapland was sedert die stigting van die nedersetting aan die Kaapse mark gebonde, en teen die laat 18de eeu, binne twee dekades nadat die oostelike distrikte deur Blankes bevolk is, was daar duidelike tekens dat die landbou in die distrikte Graaff-Reinet en Swellendam ook al hoe meer markgerig begin raak. Dié proses is deur die koms van die Britte verhaas.
In 1813 is die belasting in Brittanje op die invoer van Kaapse wyn tot 'n derde van sy vorige vlak verminder, en teen 1822 het die inkomste uit wyn-uitvoer dié van alle ander Kaapse produkte saam oortref. Dit het die kolonie van volslae bankrotskap gered. Ongelukkig is die gehalte van die wyn nie verbeter nie, en toe Brittanje in 1825 en 1831 die Ryksvoorkeur begin terugtrak, het die Kaapse wynhandel 'n ernstige knou gekry.
Toe dit blyk dat wyn nie meer die kolonie se belangrikste uitvoerproduk kon wees nie, het die imperiale verbintenis opnuut sy onskatbare waarde vir die Kaapse ekonomie getoon. Teen die tweede kwart van die 19de eeu het Britse tekstielfabrieke reeds enorme hoeveelhede wol verwerk. Vanaf die twintigerjare het die Kaap hierop gereageer met 'n vinnige oorskakeling van die inheemste vetstertskape na merino's, en woluitvoer het vinnig toegeneem van 20 000 pond (9 000 kg) in 1822 en 200 000 pond (90 000 kg) in 1832 tot 12 000 000 pond (5 500 000 kg) in 1855. Teen 1840 was wol die kolonie se belangrikste uitvoerproduk en sou dit bly totdat diamante in die sewentigerjare ontdek is.
Hierdie toename in produktiwiteit en handel is ook deur ander ontwikkelinge bevorder. Verskeie bergpasse is gebou om die binnelandse distrikte toegankliker te maak, o.m. die Tulbaghpas in 1807, die Sir Lowryspas in 1830 en die Montagu-, Michells- en Bainskloofpas in die veertiger- en vyftigerjare. Die bou van 'n pad met 'n harde oppervlak oor die Kaapse Vlakte was ook van groot belang, en tussen die twintiger- en veertigerjare het die getal skepe wat die Kaap aangedoen het, verviervoudig.
In 1825 het Brittanje besluit om die geldeenhede van geannekseerde kolonies na sterling om te skakel. Dié stap het enorme verliese vir baie korttermynkrediteure meegebring, omdat die riksdaalder se waarde van 4s tot 1s 6d gedaal het. Die groter gesofistikeerdheid van die ekonomie blyk ook uit die stigting van versekeringsmaatskappye vanaf die dertigerjare en die oprigting van die eerste handelsbank, die Cape of Good Hope Bank, in 1837.
Die klein groepie aktiewe Britse handelaars wat hulle aan die Kaap gevestig het, het deur hul finansiële en handelsbande met Londen 'n voorsprong op plaaslike handelslui gehad. Algaande is die sakelewe - en ook die openbare lewe - deur dié klein Britse handelselite oorheers. Die getal kleinhandelsake in Kaapstad het vinnig toegeneem, en in 1822 is die Commercial Exchange in die lewe geroep.
Hierbenewens is produktiwiteit en die ontwikkeling van uitvoer ook deur die hervorming van die grondbesitstelsel gestimuleer. Die tradisionele stelsel van groot huurpagplase het groot nadele ingehou omdat grond maklik verkry kon word en daar min aanmoediging was om blywende verbeterings aan te bring. In 1813 het Cradock 'n reeks proklamasies uitgevaardig wat gemik was op die vrywillige omskakeling van bestaande leningsplase in permanente erfpag en uiteindelik volle besit. Ondanks dié stappe is daar tussen 1813 en 1840 altesame 'n verdere 31,5 miljoen acre (12 600 000 ha) vir 'n skamele £46 000 verkoop, terwyl die inkomste uit erfpagte minder as £14 000 per jaar bedra het, 'n jaarlikse pagsom van sowat een pennie per tien acre.
Ekonomiese ontwikkeling het stadig, ongelyk en lukraak plaasgevind, maar die veranderings van die eerste helfte van die 19de eeu was nie onbelangrik nie.
Slawe, Khoikhoi en sendelinge
Die impak van die Britse Ryk op die Kaap word deur min sake duidelliker geïllustreer as deur die nuwe klem op vrye arbeid. Die hoofrol in die veldtog teen slawerny in Brittanje is gespeel deur die filantrope, wat deur die evangeliese herlewing besiel is en in die Parlement op sowel morele en godsdienstige as ekonomiese gronde aansienlike druk teen die slawehandel toegepas het. In die laat 18de eeu het ook 'n nuwe opvatting van die behoorlike verhouding tussen meester en kneg teen die agtergrond van die nuwe industriële wêreldekonomie begin ontwikkel. Vir die verrysende sakeleiers was dit duidelik dat die behoeftes van industrialisering nie, soos dié van die vroeëre plantasie-ekonomie, deur 'n stelsel van slawe die beste gedien sou word nie, maar eerder deur vrye arbeid onder die dwang van morele en ekonomiese eerder as wetlike kragte. Die Britse regering het dus stappe gedoen om die invoer van slawe te verminder, en ná 1 Maart 1808 kon geen slaaf meer wettig in enige Britse hawe ontskeep word nie.
Die afskaffing van die slawehandel het die ernstige arbeidstekort aan die Kaap vererger en sowel die koloniste as die regering het hul blik op die Khoikhoi gerig om dié tekort aan te vul. Teen die einde van die 18de eeu het die Khoikhoi reeds finaal hul grond verloor, en aangesien hulle aan die arbitrêre magsuitoefening van hul meesters en die koloniale amptenare onderworpe was, was hul posisie in die praktyk swakker as dié van die slawe. Goewerneur Caledon se kode van 1809 was die eerste daadwerklike poging om die Khoikhoi onder die beskerming van die reg te plaas, maardit ook vir hulle moeiliker gemaak om nie by Blankes in diens te tree nie. Die boere het gebruik gemaak van die bykomende beheermiddels wat hulle kon toepas, en dié geïgnoreer wat met hul eie belange gebots het. Proklamasies oor inboeking in 1812 en 1819 het die arbeidsvryheid van die Khoikhoi verder beperk en hulle nog meer as ooit aan die mag van die Blanke boere en amptenare oorgelewer.
Juis in dié stadium, terwyl die rol van die Khoikhoi in die kolonie serbeidsmark die eerste keer ernstig deur die owerheid ondersoek is, het verteenwoordigers van die Christelike sendinggenootskappe, wat by die verrysende kleinburgery van Brittanje en Europa so gewild was, in die Kaap aangekom. As aktiewe voorstanders van kulturele verandering en mense met invloedryke kontakte in Brittanje was hulle 'n kragtige nuwe sosiale faktor.
In 1799 het dr. J.T. van der Kemp, die eerste sendeling van die Londense Sendinggenootskap, in die Kaap aangekom, en teen die twintigerjare het die Glasgow- en die Wesleyaanse Sendinggenootskap ook reeds florerende sendingstasies binne en buite die koloniale grense gehad.
Vanweë die klagtes wat Van der Kemp en kollega, James Read, in Londen ingedien het oor die mishandeling van Khoikhoi-arbeiders deur Blanke boere, het Cradock die nuwe rondgaande hof opdrag gegee om dié aantygings te ondersoek. Hoewel dit moeilik was om die meer as duisend getuies bymekaar te kry, is agt van die 62 aangeklaagde Blankes weens aanranding op knegte skuldig bevind. Die sg. "Swart Ommegang" van 1812 (sien verdere bespreking later) het 'n bittere erfenis van haat en wanbegrip nagelaat. Die Blanke boere was geskok deur die gedagte dat Khoikhoi-arbeiders op gelykheid voor die reg aanspraak kon maak, en drie jaar later het 'n groep grensboere die wapen opgeneem teen die owerheid om hul misnoeë oor dié onaanvaarbare maatreëls op die gebruiklike wyse te toon. Die Slagtersnekopstand is onderdruk deur 'n regering wat vasberade was om die oppergesag van die reg in die kolonie te handhaaf, maar die leiers is deur latere geslagte Afrikaners as martelaars beskou.
Die dwangkodes van Caledon en sy opvolgers het die Khoikhoi-arbeidsmag nie gestabiliseer nie. Die druk op die Khoikhoi het toegeneem, maar in die twintigerjare het hulle 'n gedugte kampvegter gekry: dr. John Philip, superintendent van die Londense Sendinggenootskap, wat groot invloed by belangrike politieke figure in Londen gehad het.
Ordonnansie 50
Philip was van mening dat dit tyd geword het om nie net enkele gevalle van onreg te bestryd nie, maar die hele regsposisie van die Khoikhoi op 'n nuwe grondslag te plaas. "Ek vra niks vir hulle nie," het hy teenoor die Britse minister van kolonies verklaar, "behalwe die reg om hul arbeid na 'n regverdige mark te bring." Die minister het die mosie van die filantroop Thomas Buxton in die Britse Laerhuis gesteun dat "opdrag gegee word om al die inboorlinge van Suid-Afrika effektief van dieselfde vryheid en beskerming te verseker wat die ander vrye inwoners van die Kaap, hetsy Engels of Nederlands, geniet". Die waarnemende goewerneur, genl. Bourke, het daarop in 1828 onder die invloed van 'n memorandum van die pragmatiese Stockenström Ordonnansie 50 uitgevaardig, "om die toestand van die Hottentotte en ander vrye gekleurdes aan die Kaap te verbeter".
Ordonnansie 50 het alle diskriminerende beperkings op die Khoikhoi afgeskaf en hulle voor die reg op gelyke voet met die Blankes geplaas. Hulle was nie meer verplig om passe te dra nie en kon wettig grond besit. Ordonnansie 50 word gewoonlik bestempel as die "Magna Carta van die Hottentotte" en 'n oorwinning vir Philip, maar tans beskou baie geskiedskrywers dit ten minste gedeeltelik as 'n reaksie van die koloniale bewind op die eise vir 'n beweegliker arbeiderskorps in die kolonie se vinnig ontwikkelende arbeidsmark.
Hoewel die ordonnansie nie ondubbelsinnig aan die Khoikhoi gelykheid voor die reg gewaarborg het nie, het dit hulle groter vryheid gegee om "hul arbeid na 'n regverdige mark te bring". Dit het die reeds onstabiele arbeidsmark hewig ontwrig en tot 'n toename in landlopery en misdadigheid gelei. Om die Khoikhou wat sonder grond was, te help om by die nuwe omstandighede aan te pas, het Stockenström in 1829 die Katrivier-nedersetting aan die oosgrens gestig, waar hulle hul as kleinboere kon vestig. Die koloniste het die bepalings van Ordonnansie 50 probeer teenwerk deur 'n Ordonnansie op Landlopery wat in 1834 deur die Wetgewende Raad bespreek is, maar die Britse regering het dit geveto, grotendeels vanweë vertoë deur die sendelinge. Dit was 'n swaar terugslag vir die ekonomiese voorregte en maatskapklike prestige van die kolonie se Blanke gemeenskap.
--- --- ---
Dr. John Philip (1777-1851)
Dr. John Philip het in 1819 met eerw. John Campbell na die Kaap gekom om verslag te doen oor die sendingstasies van die Londense Sendinggenootskap. Die  jaar daarna is hy as superintendent van die genootskap se stasies in Suider-Afrika aangewys. Hy was 'n ernstige man met uitsonderlike bekwaamheid en 'n sterk persoonlikheid, maar hy was ook eiesinnig, outokraties en, dikwels, verwaand en gewetenloos.
In 1828 het hy sy tweeledige werk Researches in South Africa gepubliseer, waarin hy diskriminerende regulasies teen die Khoikhoi aangeval het. Tot in 1834 het hy sy aandag veral toegespits op die veldtog vir die erkenning van die gelykheid van die Khoikhoi met die Blankes voor die reg. "Onafhanklik van gedrukte wette," het hy in sy boek verklaar, "bestaan daar sekere regte wat alle mense besit en waarvan hulle slegs deur klaqarblyklike onreg beroof kan word ... Die Hottentot het 'n reg op 'n billike prys vir sy arbeid, op vrywaring van wreedheid en onderdrukking, op die keuse van 'n woonplek en op die geselskap van sy kinders, en niemand kan hom van dié regte beroof sonder om die wette van die natuur en van volkerere te onteer nie..."
Teen die dertigerjare het Philip ook aandag aan die oos- en noordgrens van die kolonie begin gee. Volgens sy siening was die sendelinge in dié gebied agente deur wie die voordele van die Christendom en die Britse beskawing tot ver in die binneland van Afrika uitgebrei kon word. Aan die noordgrens het Philip opgetree as bemiddelaar toe verdrae met Waterboer, Adam Kok en Moshweshwe onderteken is. Aan die oosgrens het hy die Britse regering probeer oorreed om die gebiede van verskeie stamhoofde te annekseer, maar hierin het hy nie geslaag nie.
--- --- ---
Andries Stockenström (1792-1864)
Stockenström, wie se Sweeds gebore vader van 1804 tot 1811 landdros van Graaff-Reinet was, was betrokke by die Vierde Grensoorlog en is in 1815 deur lord Charles Somerset as landdros van Graaff-Reinet aangestel. In 1819 het hy die burgers van Graaff-Reinet in die Vyfde Grensoorlog aangevoer. In 1828 is  hy as kommissaris-generaal van die oostelike distrikte aangestel, en in 1829 het hy die Katrivier-nedersetting vir Khoikhoi sonder heenkome opgerig. Ontevrede met sy vaag omskrewe gesag bedank hy in 1833, maar in 1836 stel lord Glenelg hom as luitenant-goewerneur van die oostelike distrikte aan.
Stockenström het die filantrope nie klakkeloos gesteun nie. Hy was 'n besonder onafhanklike, verdraagsame en menslike persoon en bereid om die komplekse werklikhede van die kolonie se probleme te erken. Sy ampstyd was nogtans hoogs omstrede. Die koloniste en die goewerneur, sir Benjamin D'Urban, was verontwaardig oor sy kritiek op die D'Urban-stelsel in sy getuiejnis voor die
Gekose Komitee oor Inboorlinge in Londen en het sy aanvaarding van Glenelg se verdragstelsel met die hoofmanne teengestaan. Toe Stockenström in 1839 uit sy amp bedank, is 'n baronetskap en staatspensioen aan hom toegeken. In 1846 het hy die burgermagte in die Oorlog van die Byl aangevoer. Hy het die inmengingsbeleid van sir Harry Smith gekritiseer en hom beywer vir 'n vermindering van Brittanje se rol in Suid-Afrikaanse sake. In 1850 is hy tot die Wetgewende Raad verkies, en hy het meegehelp met die opstel van die Grondwet van 1854. Ná die instelling van 'n verteenwoordigende regering, het hy 'n lid van die Wetgewende Raad vir die oostelike distrikte geword.
--- --- ---
Die arbeidsprobleem is deur die vrystelling van die slawe vererger, veral in die westelike distrikte. Ná die afskaffing van die slawehandel, het die teenstanders van slawerny gehoop dat die vrystelling van slawekinders algehele vrystelling sou verhaas, maar dit was 'n langsame proses. Bowendien het slawe-eienaars die regulasies wat slawe se lot moes verbeter, verontagsaam of omseil. Die owerheid, daarop bedag om eienaars se politieke samewerking te behou, het hulle gesteun om hul arbeidskorps in toom te hou en het dikwels slegs nominale bykomende beskerming aan arbeiders verleen. 'n Verskeidenheid nuwe dwangmetodes is ingespan, soos die poging om hulle deur "opvoedkundige en sedelike transformasie" te omvorm en beheer. Geweld is egter nog dikwels deur meesters en owerheid gebruik, en dit is vandag duidelik dat die Kaap veral hiertoe geneig was.
Oor die jare het die anti-slawernybeweging sy doelwit van lotsverbetering na volkome vrystelling verskuif, en in 1833 het die Britse Parlement die Emansipasiewet aangeneem wat voorsiening gemaak het vir 'n inboektyd van vier tot ses jaar en gedeeltelike vergoeding vir slawe-eienaars. Die Blanke eienaars het heftig geprotesteer teen die ontoereikende vergoeding - uiteindelik slegs sowat 'n derde van die slawe se waarde - maar hierdeur het 'n groot hoeveelheid kapitaal in die kolonie in omloop gekom, wat o.m. in skaapboerdery en sake-ondernemings belê is.
Ná die "vrystelling" van hul Khoikhoi- en slawe-arbeiders was die Blanke koloniste vasbeslote om 'n nuwe afhanklike arbeiderskorps op te bou. In 1841 is die Ordonnansie op Here en Diensbodes uitgevaardig, wat kontrakbreuk strafbaar gemaak het. Só doeltreffend was die Blanke beheer oor grond, arbeid en kapitaal, dat geen kleinboerestand wat vir lewensonderhoud of die mark kon boer, ontwikkel het nie. Die siklus van lae lone en skuld het voortgeduur. Sowel die owerheid as die liberaalgesinde koloniste wou vry maar afhanklike loonarbeid hê, en toe hulle verteenwoordigende bestuur verkry het, het die koloniste onmiddellik hul heerskappy oor hul arbeidskorps probeer uitbrei. In 1856 is 'n Oronnansie op Here en Diensbodes uitgevaardig wat die strawwe vir kontrakbreuk deur arbeiders swaarder en beheer oor die beweeglikheid van arbeiders strenger gemaak het.
Brittanje het die kolonie dus op die pad na gelykheid voor die reg ongeag ras geplaas, maar die Blankes het hul beheer oor die ekonomiese  hulpmiddele - met inbegrip van die grond - behou. Die Kaapse Kleurlinge, afstammelinge van Khoikhoi, slawe en Blankes het 'n loonarbeiderskorps geword, en dit het lank geduur voordat 'n Kleurling-kleinburgery ontstaan het. Op sosiale vlak het hul ondergeskiktheid aan die Blankes voortgeduur.
--- --- ---
Die Slagtersnekopstand van 1815
In 1815 het Frederick Bezuidenhout van Baviaansrivier geweier om in die hof te verskyn op 'n aanklag van wreedheid teenoor 'n Khoikhoi-kneg. Toe 'n Blanke offisier en twaalf Khoikhoi-soldate (pandoers) gestuur word om hom in hegtenis te neem, het hy op hulle geskiet, maar hy is self doodgeskiet. Sy broer Johannes het gesweer om sy dood te wreek, met Ngqika onderhandel, en 'n rebellie aan die oosgrens laat ontstaan. Die opstand is by Slagtersnek onderdruk, en die leiers is in die openbaar opgehang. 'n Groot aantal mense is aangesê om die teregstelling by te woon, maar die galgtoue het gebreek en die veroordeeldes kon slegs met 'n tweede poging tereggestel word. Die opstandelinge was geen helde nie en het ook nie die steun van die deursnee-grensbewoners geniet nie. Hulle het bloot eiemagtig opgetree op 'n wyse wat tydens die Kompanjiesbewind gebruiklik geword het.
--- --- ---
Lord Charles Somerset en die oosgrens
In April 1814 het 'n nuwe goewerneur, lord Charles Somerset, in die Kaap aangekom Hy het 'n baie groot indruk op die bewussyn van die koloniste gemaak, en om sy persoon is 'n hele mitologie opgebou wat tot vandag voortbestaan.
'n Probleem wat Somerset byna voortudurend besig gehou het, was die beskerming van die grens. Ná Cradock se verdrywing van 20 000 Xhosa  uit die Suurveld, het ernstige oorbevolking en spanning oorkant die Visrivier ontstaan. Die blolhuisstelsel het nie daarin geslaag om Blank en Swart uitmekaar te hou, en onrus en veerowery het die Suurveld só onveilig gemaak dat Blankes nie meer daar wou woon nie. In 1817 het Somerset besluit om af te sien van die beleid van 'n vaste grens tussen Blank en Swart. Hy het 'n verdrag met Ngqika gesluit waarvolgens die stamhoofde vir hul hulp met die straf van veerowers beloon sou word. Ingevolge hierdie sg. "spoorwet" sou boere uit die kolonie vergoeding kon eis van die eerste Xhosa-kraal waarheen die spoor van gesteelde vee gelei het, maar dié reëling het misluk omdat Ngqika nie werklik die mag van 'n opperhoof gehad het nie. In 1818 is sy strydmag op die Amalinde-vlake by King William's Town verslaan deur dié van Ndlambe. Toe Somerset se troepe Ngqika in sy posisie herstel, het Ndlambe se toordokter Makanda (Nxele) met 10 000 Xhosa Grahamstad in 1819 aangeval.
Soos in 1812 het imperiale troepe die aanval afgeweer. Somerset het die geleentheid gebruik om te bepaal dat sowel Blankes as Swartes voortaan uit die gebied tussen die Vis en die Keiskamma gehou moes word en dat die gebied deur militêre poste en patrollies bewaak sou word.
Algaande het Somerset besef dat slegs 'n digter Blanke vestiging aan die kolonie se kant van die grens 'n doeltreffende buffer teen Xhosa-indringing sou wees. In 1819 het die Britse Parlement £50 000 vir 'n emigrasieskema na die Kaap bewillig,  in die eerste plek om die grensprobleem te probeer oplos, maar terselfdertyd om die heersende sosiale nood in Brittanje te verlig. Dié Britse immigrasie was dus nié 'n doelbewuste poging deur Somerset om die Nederlandse bevolking deur 'n Engelse vloedgolf te oorstroom nie.
Somerset se grensbeleid het nie 'n werklike oplossing gebring nie. Hy self het die gebied wat deur die Xhosa prysgegee is, nie as 'n "neutrale strook" beskou nie. Toe hy sy verdrag met Ngqika aangegaan het, het hy aan die minister geskryf oor die "gebied wat aldus oorgedra is" en verklaar: "Dit saan gelyk aan die mooiste stuk grond wat 'n mens kan kry, en tesame met die gebiede in die Suurveld waarop tot dusver nog nie beslag gelê is nie, sou dit moontlik oorweeg kon word vir sistematiese kolonisering." Indringing in die "neutrale strook" het van albei kante voortgeduur. Aan Blankes is plase in die gebied toegestaan, en Blanke handelaars was nog steeds daar aktief. Van hul kant is die Xhosa deur ernstige oorbevolking in hul gebiede na die sg. onbewoonde gebied gestu. In 1812 is die opeenhoping van mense aansienlik vererger deur die gedwonge intog van Xhosa uit die Suurveld en van groot getalle vlugtelinge van die Difaqane uit die noorde. Teen die vroeë twintigerjare was die keuses vir die Xhosa om aan hul moeilike situasie te ontsnap, reeds baie beperk.
Die ander beginsel van Somerset se grensbeleid - digte vestiging - was eweneens 'n mislukking. Die grond in die Suurveld was ongeskik vir die intensiewe akkerbou wat hy in die vooruitsig gestel het, en die meeste van die Britse Setlaars het weldra na die dorpe uitgewyk. In plaas daarvan dat hulle as versperring tussen Blank en Swart gedien het, het hulle 'n groot rol gespeel in die oopmaak van die grens vir 'n tweerigtingverkeer in mense, goedere en idees.
--- --- ---
Lord Charles Somerset (1767-1831)
Lord Charles Somerset was 'n lid van die aristokratiese Beaufort-familie en 'n afstammeling van die Plantagenets, voorsate van die konings van Engeland. Dit verklaar moontlik heelwat van sy trotse en outokratiese maar kragdadige benadering en houding. Ná 'n botsing met sy familie oor sy huwelik (hy het weggeloop en is by Gretna Green getroud), het hy weer met hulle versoen geraak en daarna in Badminton, famililewoning van die Beauforts, gaan woon. Hy het 'n militêre en politieke loopbaan gevolg, maar toe die pos van goewerneur van die Kaap hom aangebied is, het hy dit hoofsaaklik uit finansiële nood aanvaar, want dit het die aansienlike salaris van £10 000 per jaar beteken. Hy was geneig tot oordadigheid, maar soos die geskiedskrywer G.M. Theal dit stel: "Hy was so begerig soos enigiemand maar kon wees om die kolonie te verbeter en die welvaart van sy bevolking te bevorder, maar alles wat tot verbetering en bevordering kon dien, moes van hom self uitgaan." Hy het die oprigting van die Somerset-Hospitaal, die Commercial Exchange, die Suid-Afrikaanse Openbare Biblioteek en die Suid-Afrikaanse Museum gesteun en die kolonie se veestapel help verbeter deur op eie koste sowel volbloedperde as Devon-beeste en Southdown- en merinoramme in te voer. Sy politieke konserwatisme het hom op beter voet met die Afrikanerbevolking geplaas as met die Britse Setlaars, wat hy daarvan verdink het dat hulle "radikaal" was.
--- --- ---
Die vryheid van die pers
Die koms van die Britse Setlaars was ook in ander opsigte van groot betekenis vir die kolonie. Hoewel min van hulle in Brittanje die stemreg gehad het, het hulle uit 'n gemeenskap gekom waar sake van openbare belang ywerig en oopenlik beredeneer kon word. Bowendien het hulle vriende in Brittanje gehad deur wie hulle hul menings in invloedryke kringe bekend kon maak. Hoewel hul regstreekse politieke invloed maklik oordryf kan word, het hulle die toenemende groep kritici van die bestaande koloniale stelsel en veral van die outokrasie van die goewerneur aansienlik versterk.
Die politieke stryd teen Somerset se bewind is ontketen deur pogings om 'n vrye pers in die kolonie tot stand te bring. In 1823-1824 het die minister van klonies, lord Bathurst, teen die uitdruklike wens van die goewerneur magtiging verleen aan Thomas Pringle, 'n leier van een van die Setlaarsgroepe, en Abraham Faure, 'n predikant van die Ned. Gereg. Kerk, om 'n tweetalige maandblad, Het Nederduitsch Zuid-Afrikaansch Tijdschrift en The South African Journal, uit te gee. George Greig het terselfdertyd toestemming verkry om 'n weekblad, The South African Commercial Advertiser, te publiseer, onder redaksionele bestuur van Pringle en John Fairbairn.
Binne vier maande het die redakteurs met die owerheid oorhoop gelê. 'n Prokureur, William Edwards, is van laster aangekla nadat hy bewerings gemaak het oor onbevoegde en onregverdige optrede van amptenare. Die regering het gevrees dat verslae in die pers oor dié bewerings, wat nie heeltemal ongegrond was nie, die goewerneur en sy administrasie in 'n swak lig kon stel, en het dus aangedring dat Greig 'n deposito as sekuriteit moet verskaf of The Commercial Advertiser voor publikasie vir sensuur voorlê. Greig het geweier om aan dié eise te voldoen. Hy het die publikasie van sy koerant gestaak en is uit die kolonie gesit. Pringle is eweneens gewaarsku teen die publikasie van materiaal wat die owerheid se optrede kritiseer. Soos Greig het hy publikasie gestaak en 'n versoek tot die Britse regering  gerig om 'n vrye pers in die kolonie toe te laat.
Slagoffers van Somerset se eiemagtigheid het algaande in Londen bymekaargekom, en teen die middel van 1825 is in die Parlement aangekondig dat langverlof aan Somerset toegestaan is, maar in werklikheid het dit op sy terugroeping neergekom. Toe 'n simpatieker regering in Westminster aan die bewind kom, het Fairbairn die stryd in Londen voortgesitm, en in Julie 1828 het hy triomfantlik na die Kaap teruggekeer met 'n waarborg van die vryheid van die pers. Openbare beleid kon nou openlik bespreek word, onderworpe slegs aan die lasterwette. Vroeg in 1825 is 'n adviesraad van vooraanstaande amptenare ingestel, en twee jaar later het dié liggaam ook benoemde burgerlede gekry, hoewel werklik ingrypende grondwetlike veranderinge eers drie dekades later sou plaasvind.
Formele en informele verengelsing
Ná die tweede besetting van die Kaap het Brittanje dit toenemend wenslik geag om sy  nuwe besitting "na sy eie beeld" te herskep en vreemde wette, gebruike en instellings by dié van Brittanje aan te pas. Dié begeerte het nie bloot uit nasionalistiese oorwegings gespruit nie, maar was ook bedoel om die kolonie welvarender en makliker regeerbaar te maak.
Verengelsing was nooit die vernaamste doelwit van die Britse beleid nie, want die nuwe heersers wou hul Afrikaner-onderdane nie onnodig vervreem nie. Só 'n beleid was ook nie altyd prakties uitvoerbaar nie, bv. in tye van geldskaarste. Daar was egter verskeie amptenare, sowel aan die Kaap as in die ministerie van kolonies, wat vasbeslote was om 'n beleid van aggressiewe verengelsing tot sy logiese uiteinde te voer. Hoewel die strewe na verengelsing in die twintigerjare sy hoogtepunt bereik het, was dit nie - soos dikwels beweer word - lord Charles Somerset wat vir dié beleid verantwoordelik was nie. Sy voorganger, Cradock, was reeds uit die staanspoor vasbeslote om plaaslike instellings en beleid na Britse voorbeelde te herskep.
Vanaf 1822 het Somerset stappe gedoen om die gebruik van Engels op die meeste terreine van die openbare lewe te bevorder of verpligtend te maak. Onderwysers is ingevoer, en vanaf 1822 is gratis openbare skole op dorpe en in die platteland opgerig om onderrig in Engels te gee. Baie Nederlandssprekende ouers het sterk beswaar gemaak teen dié pogings om hul taal uit te wis en het geweier om hul kinders na die vrye skole te stuur.
Verengelsing is ook in die Ned. Geref. Kerk bevorder. Ná mislukte pogings om predikante in Nederland te werf, het Somerset Calvinistiese predikante uit Skotland aangestel. Die praktyk is ook ná Somerset se bewind voortgesit, en in 1837 het die helfte van die Ned. Geref. Kerk se Sinode uit Skotte bestaan. Die verengelsingsbeleid in die Kerk is egter nooit sistematies deurgevoer nie. Baie van die Skotse predikante het Nederlands aangeleer en sommige het met Afrikanervroue getrou.
Pogings om die staatsdiens te verengels, is met groter beslistheid aangepak. Lank voor die twintigerjare het dit die gebruik geword om die ou amptenare deur mense uit die moederland te vervang, en Cradock het van alle staatsamptenare 'n kennis van Engels vereis. In 1824 het Engels die enigste ampstaal van staatskantore geword, en hoë salarisse is aangebied om Engelssprekendes na die staatsdiens te lok.
Die Britse regshervormings was veral daarop gemik om die oppergesag van die reg en doeltreffender beheer oor die kolonie te verseker, maar in belangrike opsigte is dit ook gebruik om Nederlandse instellings en gebruike deur dié van Engeland te vervang. Hoewel die Romeins-Hollandse reg as sodanig behou is, is die hele sentrale en plaaslike stelsel van regspleging deur die Regsoktrooi van 1828 verander. 'n Hooggeregshof met 'n hoofregter en drie regters, onafhanklik van die uitvoerende mag, is ingestel. Die regters is goed betaal en moes regsopleiding hê. Die fiskaal is deur 'n prokureur-generaal vervang, en Britse regsprosedures, met inbegrip van die juriestelsel, is ingevoer. Die amp van landdros is afgeskaf en vervang deur dié van resident-magistraat, met beperkte regsbevoegdheid in siviele en kriminele sake.
Voorts is die geregtelike en uitvoerende funksies op plaaslike bestuursvlak geskei, hoewel die nuwe pos van siviele kommissaris om ekonomiese redes in die praktyk gewoonlik met dié van resident-magistraat saamgevoeg is. In 1828 het Engels die enigste taal in die howe geword. Dit het die Afrikaners aanstoot gegee en probleme veroorsaak, maar erger was die verlies van selfs die beperkte verteenwoordiging in die regering wat hulle voorheen geniet het deur die howe van landdros en heemrade, die Burgersenaat (wat afgeskaf is) en die regsbevoegdhede van die veldkornette, wat ook in dié tyd verdwyn het. Die howe was een van die vernaamste werktuie vir die uitbreiding van doeltreffende bestuur en van maatskaplike beheer deur Brittanje in die 19de eeu.
Somerset se taalbeleid is tot laat in die 19de eeu gehandhaaf. Toe verteenwoordigende regering in 1854 ingestel ils, is die gebruik van Engels. bv, verpligtend gemaak in die nuwe Parlement. Bowendien het die koloniste toenemend bewus geword van "informele" verengelsing, soos die oorplanting op die kolonie van Britse vorme van sosiale lewe, opvoeding, argitektuur en vryetydsbesteding. Sommige Afrikaners het dié ontwikkeling kragtig teengestaan, maar baie ander, veral in Wes-Kaapland, het hulle algaande nouer met die Britse leefwyse, kultuur en tradisies vereenselwig. In hierdie tyd het die kolonie sy duidelike Britse karakter aangeneem.

Die verdragstelsel en die Groot Trek
Die mislukking van Somerset se beleid van 'n "neutrale strook" en die groeiende bevolkingsdigtheid an die oosgrens, het meegebring dat die Xhosa al meer van hul grond verloor en die koloniste met verwoestende rooftogte feitlik oorweldig het. Van alle kante bedreig, het baie van die Ngqika hulle voorgeneem om - soos hulle dit self gestel het - hulle "nie te laat opbreek soos die Hottentotte nie". Die koloniale regering het egter geen stappe gedoen om 'n behoorlike polisiestelse in te voer nie en het op negatiewe en militêre maatreëls soos patrollies, kommando's en vergelding staatgemaak om die orde te handhaaf.
In Londen was die ministerie onder lord Grey deeglik bewus van die ondoeltreffendheid van dié beleid en veel meer in voeling met die filantropiese en hervormingsneiging van die tyd. Aan die einde van 1833 het die nuwe goewerneur, sir Benjamin D'Urban, die opdrag gekry om liewe 'n beleid van versoening aan die oosgrens in te voer, gebaseer op verdrae met die stamhoofde, die betaling van kontantsubsidies en die aanstelling van Blanke "residente" om stamhoofde van raad te dien en in bestuursake by te staan. D'Urban het egter sy hande vol gehad met ander probleme, veral die vrystelling van die slawe, en terwyl die soldate besig was om "die laase man oor die Keisikamma te jaag", het 12 000 Xhosa onder Maqoma en Tyhali in 1834-1835 die kolonie oor die volle lengte van die grens in klein roofbendes binnegeval. Tientalle vlugtelinge het na Grahamstad gestroom en Albanie en ander distrikte is byna heeltemal ontwrig.
Die troepe en kommando's het hulle toegespits op die vernietiging van die Xhosa se voedselvoorrade. Só baie Xhosa-vee is gebuit dat die Sesde Grensoorlog, soos ander van dié tyd, al dikwels met 'n veemark eerder as 'n oorlog vergelyk is. Hintsa is gedwing om vrede te sluit, en op 10 Mei 1835 het die goewerneur die stigting van die Provinsie Queen Adelaide, wat die hele gebied tussen die Keiskamma en Kei sou omvat, afgekondig. Later is daar van hierdie beleid van totale uitsetting afgesien, maar voordat die minister van kolonies oor dié feit ingelig was, het dit reeds luide verontwaardiging uitgelok onder die filantrope in Engeland, waar die Parlementêre Gekose Komitee oor Inboorlinge juis besig was om getuienis aan te hoor. Die nuwe minister van kolonies, lord Glenelg, was hoogs ontsteld oor die verwikkelinge aan die grens, en hy het D'Urban meegedeel dat hy van mening was dat die Xhosa "ruime regverdiging" gehad het vir hul inval in die kolonie. Hy het 'n luitenant-goewerneur met sy eie staf van amptenare in sowel die kolonie as Kaffrarië aangestel wat moes toesien dat die verhouding tussen Swartes en Blankes op 'n verdragstelsel en nie meer op vergelding gegrond sou wees nie. In hierdie pos het hy Andries Stockenström aangestel. Stockenström het verdrae met die Xhosa-hoofde onderteken waardeur die Provinsie Queen Adelaide ontruim sou word en hulle toegelaat is om na die gebied tussen die Vis en Keiskamma terug te keer. Gesteelde vee sou aan die grens deur stamverteenwoordigers (amapakati) en in Swart gebiede deur Blanke diplomatieke verteenwoordigers teruggekry word, asook met die samewerking van stamhoofde.
--- --- ---
Hintsa (ca. 1790-1835)
Hintsa, vanaf 1804 opperhoof van die Xhosa, was nie vir die inval in die kolonie in 1834 verantwoordelik nie, maar het wel toegelaat dat sy mense daaraan deelneem. Hy het ook skuiling aan vlugtelinge gebied en gesteelde vee uit die kolonie versteek. In April 1835 het Britse troepe en kommandolede sy gebied binnegegaan. Hintsa is gevange geneem, hangende die bevredigende afhandeling van sekere voorwaardes wat aan hom gestel is, o.m. dat hy sy mense moes oorreed om die vee wat die Britte van hom geëis het, terug te gee. Aan die Nqabara-rivier het Hintsa blykbaar probeer ontsnap, maar hy is van sy perd gesleur en het in 'n stroom inmekaargesak. George Southey, een van sir Harry Smith se Corps of Guides, het hom koelbloedig deur die kop geskiet. Later is sy liggaam ook deur die soldate vermink.
--- --- ---
Sarhili ("Kreli") (ca. 1809-1892)
Ná Hintsa se dood op 12 Mei 1835 is hy deur Sarhili opgevolg as opperhoof van die Xhosa en hoofman van die Gcaleka. Sarhili het 'n ooreenkoms met sir Benjamin D'Urban aangwegaan waardeur die verdrag wat sy vader gesluit het, bekragtig is, en in 1844 het hy 'n formele vriendskapsverdrag met goewerneur Maitland gesluit. Nogtans het hy en sy mense betrokke geraak by die Sewende en Agtste Grensoorlog. Hulle is ook besonder swaar getref deur die ontberinge wat gevolg het o p die doodmaak van vee in 1856-1857. 'n Aanval deur Sarhili op die Mfengu in 1877 het tot oorlog met die Kaapkolonie gelei, en in 1878 is sy strydmagte, saam met dié van Sandile, by Kentani verslaan. Sy mag is gebreek en die laaste hoofman van die Gcaleka het na Bomvanaland gevlug, waar hy gesterf het. In 1885 is Gcalekaland deur die Kaapkolonie geannekseer.
--- --- ---
Die verguisde verdragstelsel het op die kort termyn 'n aantal konkrete voordele meegebring. Die getal rooftogte het dramaties afgeneem, en die herwinning van vee en die vergoeding van eienaars het baie vinniger as ingevolge die D'Urban-stelsel plaasgevind. Die mate van sekuriteit wat dit aan die grens gegee het, het ook die ontwikkeling van die wolbedryf ná 1835 bevorder. Deur voor te gee dat hy die onafhanklikheid van die Xhosa-volkere erken, het die Britse regering egter probeer om die verantwoordelikheid en onkoste van grensbestuur te ontduik, en die periodieke uitbarstings van spanning het voortgeduur. Behalwe in die Suurveld was die oosgrens nog nie "gesluit" nie.
Die grensbewoners se onversadigbare honger na grond het 'n groot rol gespeel in die besluit van baie Afrikanerboere om die kolonie te verlaat en noordwaarts te trek. Baie van die boere wat aan die Groot Trek deelgeneem het, was vermoedelik dié wat nie genoeg grond in die beste dele van die kolonie kon kry nie en wat ná die omverwerping van D'Urban se anneksering van die Provinsie Queen Adelaide ook geen hoop meer kon hê om oos van die kolonie grond te kry nie. Die Groot Trek het min te make gehad met die ontwikkeling van 'n nasionale bewussyn by die Afrikaner, en die afkeer van die verengelsingsbeleid was ook minder fel as wat gewoonlik aanvaar word. Dit was eerder 'n opstand teen 'n regering wat op gevaarlike terrein beweeg het deur die "juiste verhoudings tussen heer en diensbode" te versteur deur o.m. die beleid van gelykstelling voor die reg, maar wat terselfdertyd hoegenaamd nie in staat was om die grensbewoners te beskerm  nie.
Selfs teen 1841 het net sowat 'n agtste van die totale Afrikanerbevolking die kolonie verlaat. Sommige van dié wat agtergebly het, het saam met hul Engelssprekende mede-koloniste in die grensgebiede aangebly, waar die leemtes in Strockenström se verdragstelsel uit die staanspoor duidelik geblyk het. Te veel is van die stamhoofde verwag en te min is deur die koloniale owerheid gedoen om wrywing tussen Blank en Swart te verhoed. Vroeg in 1846 het 'n familielid van
Sandile 'n byl in 'n winkel op Fort Beaufort gesteel, en die Sewende Grensoorlog was 'n voldonge feit.
--- --- ---
Sandile (1820-1878)
Sandile het van sy geboorte 'n verskromp3elde been gehad en was sowat agt jaar oud met sy vader se dood. Sy moeder, Suthu, het tot 1840 as regentes opgetree, en toe het Sandile opperhoof van die Rharhabe geword. Sy bewind is gekenmerk deur sy teenstand teen Blanke indringing in sy mense se gebied. Hy was betrokke by die Sewende, Agtste en Negende Grensoorlog, en ook die "Nasionale selfmoord" van die Xhosa in 1856-1857. Voor die Agtste Grensoorlog is hy tydelik as opperhoof afgesit en is Charles Brownlee in sy plek aangestel.
--- --- ---
Die Sewende en Agtste Grensoorlog
Die Oorlog van die Byl het langer as enige vorige grensoorlog voortgesleep, en die onkoste - nie net van materiaal en vervoer nie, maar ook vanweë die misbruik van hulpmiddele deur offisiere en koloniste - het die Britse tesourie geskok. Teen die einde van 1847 is die Xhosa se weerstand gebreek, en die nuwe goewerneur, sir Harry Smith, was vasbeslote om die verdragstelsel te beëindig. Hy het die gebied tussen die Vis en Keiskamma as die distrik Victoria-Oos geannekseer, en dié tussen die Keiskamma en Kei as die kroonkolonie Brits-Kaffrarië, met King William's Town as hoofstad. Al die stamhoofde is hierheen ontbied, en op 'n gegewe teken is 'n wa vol kruit opgeblaas. "Daar gaan die verdrae," het Smith verklaar. "Hoor julle? Geen verdrae meer nie." Nou sou 'n beleid van anneksering en regstreekse bestuur deur magistrate gevolg word. Amptelik is die grens opgehef, en saam daarmee die gedwonge skeiding tussen Blank en Swart.
--- --- ---
Sir Harry Smith (1797-1860)
Sir Henry George Wakelyn Smith was 'n veteraan van die Napoleontiese oorloë. Ná die val van Badajoz ontmoet hy die veertienjarige Spaanse meisie Juana Maria de los Dolores de Leon, wat van die gruwele daar gevlug het, en trou met haar. In 1829 het hy onder-kwartiermeester-generaal aan die Kaap geword, en toe oorlog aan die einde van 1834 aan die grens uitbreek, het hy die afstand van Kaapstad na Grahamstad te perd in ses dae afgelê. Tydens die oorlog was hy tweede in bevel onder die goewerneur, sir Benjamin D'Urban. In 1840 is hy na Indië verplaas, maar in 1847 het hy na die Kaap teruggekeer as goewerneur en hoë kommissaris.
Smith was 'n man met stuwende energie, groot morele moed en 'n sterk pligsbesef, maar - soos A.L. Harington in sy biografie (Sir Harry Smith - Bungling Hero) aantoon - is hy gekortwiek deur sy "neiging om gebeure, dinge en situasies te beskryf soos hy hulle wou hê". Hy het bv. verkeerdelik geglo dat hy goed oor die weg kom met die grensboere, en toe hy die Xhosa met sy gebruiklike toneelspel wou intimideer, was hul reaksie om ook vir hom toneel te speel.
--- --- ---
Smith was daarvan oortuig dat die sleutel tot die beheer van die Groot Trek - en Suider-Afrika - gelê het in die gebied tussen die Oranje en die Vaal, en in 1848 het hy dit in naam van die Britse Kroon geannekseer as die Oranjerivier-Soewereiniteit. Van Natal (reeds in 1843 geannekseer) deur Basoetoeland (tans Lesotho) tot in Oos-Kaapland was die grens tussen Blank en Swart dus nou in Britse hande, en dit was 'n swaar terugslag toe die meeste van die Trekkers Natal verlaat het om hulle op die Hoëveld te vestig, waar hulle verskeie reppublieke buite Britse beheer gestig het (word verder in Hoofstuk 11 bespreek).
Voordat nog iets gedoen kon word om die Britse gesag in die subkontinent te konsolideer, het Smith se beleid aan die oosgrens en in die Soewereiniteit misluk. Ten spyte van sy dramatiese dreigemente en kragdadige optrede kon die Inkosi Inkulu (Groot Opperhoof), soos Smith homself genoem het, geen orde aan die Xhosa opdwing nie. Die stamhoofde het hulle verset teen die aantasting van hul gesag, en hul stamlede het nie genoeë geneem met die inbreuk wat op hul grond gemaak is en met die bedreiging van hul gebruike nie. Daarom was hulle ontvanklik vir die profeet Mlanjeni se beloftes van 'n terugkeer na die ou gebruike. Toe Smith bowendien Sandile afsit en die Ngqika-kommissaris Charles Brownlee in sy plek aanstel, het opstand aan die hele grens uitgebars Die eerste keer sedert die begin van die eeu het dele van die Kleurling-bevolking van Oos-Kaapland, o.m. 'n derde van die bewoners van die Katrivier-nedersetting, saam met die Xhosa in opstand gekom.
Die Agtste Grensoorlog (1850-1853) was die langste van almal, en hoe langer dit voortgesleep het, hoe groter het die Britse regering se kommer oor die enorme koste daarvan geword. Smith is teruggeroep, en sy opvolger, genl. George Cathcart, het 'n skikking aan die stamhoofde opgedwing. Cathcart was 'n bekwame veldheer, maar sonder ervaring van koloniale bestuur, en hy het die grenskwessie hoofsaaklik deur 'n militêre bril beskou. Hy wou 'n verdedigbare grens skep deur die vestiging van 'n kkoninklike reserwe in die Amatolagebied en 'n reeks lojale stamme langs die oos-oewer van die Keiskamma. Brits-Kaffrarië, die sentrum van geweld aan die grens, sou as 'n afhanklike, afsonderlike staat gehandhaaf word en nie deel van die Kaapkolonie word nie.
Verder noord kon Smith ook nie die Britse gesag konsolideer nie. Om die Trekkers oorkant die Vaal oor te haal om hulle nie langer met die sake van die Oranjerivier-Soewereiniteit te bemoei nie, is hul onafhanklikheid formeel deur die Sandrivier-konvensie van Januarie 1852 erken. Ondanks die verontwaardigde protes van Kaapse spekulante het die Britte hulle al hoe meer uit die binneland onttrek, en in Februarie 1854 is die onafhanklikheid van die gebied tussen die Oranje en die Vaal deur die Bloemfontein-konvensie erken.
Die lang pad na verteenwoordigende bestuur (1834-1854)
Dwarsdeur die eerste dekades van die tweede Britse bewind het die koloniste die owerheid gereeld versoek om aan hulle 'n groter mate van verteenwoordiging in die bestuur van die kolonie te gee, maar dit is telkens deur die Britse regering beslis geweier, aanvanklik omdat die koloniste polities nie as ryp genoeg beskou is nie en omdat wetgewende vergaderings in Brits-Wes-Indië in die dertigerjare getoon het hoe sulke verteenwoordigende liggame pogings tot verbetering van de lot van die slawebevolking kon dwarsboom. Die minister van kolonies was ook oortuig dat die bevolking aan die Kaap te klein en yl versprei was en dat "die mag gou gekonsentreer sou wees in die hande van dié wat in of naby Kaapstad woon". Bowendien sou dit Engelse en Afrikaners teen mekaar in die harnas jaag.
Konstitusionele vordering aan die Kaap was dus eerder 'n uitvloeisel van hervormings in die hele Britse Ryk as die gevolg van druk uit die kolonie self. So het die Britse Reform Bill van 1832 aan die Kaap uitdrukking gevind in die vrystelling van die slawe, die ordonnansies oor plaaslike bestuur van 1836 en die instelling van 'n Wetgewende Raad bestaande uit vyf amptenare en vyf tot sewe benoemde koloniste in 1834.
In 1841 is nog 'n versoekskrif om groter verteenwoordiging in die regering deur die minister van kolonies, lord Stanley, afgewys omdat hy van mening was dat dit aan die Kaap besonder moeilik sou wees om aan die belange van al die bevolkingsgroepe reg te laat geskied, asook uit vrees vir die afskeidingsbeweging in die oostelike distrikte. Reeds sedert 1823 het dit in die oostelike distrikte - en veral Grahamstad - die gewoonte geword om met afskeiding te dreig sodra die ergernis oor plaaslike probleme 'n sekere vlak bereik het. Sommige voorstanders van afskeiding wou 'n heeltemal aparte kolonie in die ooste hê, ander het die oorplasing van die regeringsetel na die oostelike distrikte bepleit, en nog ander het 'n federale stelsel binne die kolonie voorgestaan.
Die Britse regering se weiering het veroorsaak dat die Kaapse aktiviste hul eise sterker begin stel het, juis in 'n tyd toe meer simpatie vir sulke versoeke in Brittanje ontstaan het. Die Durham-verslag oor die toekomstige bestuur van Kanada (1839) het aanbeveel dat die Kanadese koloniste groter vryheid kry om hulself te bestuur, en die aanhangers van die vryhandelsidee in Brittanje was van mening dat dit onvoordelig was om kolonies te bestuur wat dit self kon doen en self daarvoor kon betaal. Teen die tweede helfte van die dekade het ontwikkelinge aan die Kaap ook die vrese oor die kolonie se onvolwassenheid ongeldig gemaak. Tussen die begin van die Groot Trek en 1854 het die Blanke bevolking verdubbel, terwyl die woluitvoer, asook die handels- en staatsinkomste, toegeneem het. In 1836 is munisipale rade ingestel en in 1843 padrade. In hierdie rade, soos ook in die skoolrade en sinodes van die Ned. Geref. Kerk, het die koloniste ervaring van plaaslike bestuur begin opdoen. Die lewenskragtige pers in Kaapstad, Grahamstad en ander dorpe het die openbare mening help ontwikkel. Toe die Liberale Party dus in 1846 in Brittanje aan bewind kom, het die nuwe minister van kolonies, graaf Grey, die Kaapse goewerneur opdrag gegee om verslag te doen oor die moontlikheid van verdere grondwetlike ontwikkeling. Verskeie ontwerpgrondwette is uit die Kaap voorgelê, en ná uitgestrekte onderhandelings is 'n grondwet in 1853 aangeneem wat, met wysigings, die kolonie tot Uniewording in 1910 sou dien. Dit het voorsiening gemaak vir 'n Parlement met twee kamers waarin die westelike distrikte effens meer verteenwoordigers gekry het as die oostelikes. Sowel die Wetgewende Vergadering as die Wetgewende Raad sou verkies word deur manlike kiesers, ongeag kleur, wat £50 per jaar verdien of eiendom met 'n huurwaarde van £25 per jaar besit het. Die Britse regering het op die "kleurblinde" stemreg aangedring, maar in die praktyk was die politieke mag in die hande van die oorheersende Blanke minderheid.
Die Kaapkolonie in 1854
In 1854 was die Kaapkolonie nog 'n oorwegend plattelandse gemeenskap waarvan driekwart van die bevolking by die boerdery betrokke was. Die gemeenskap was egter veel uiteenlopender van aard as toe die Britte in 1795 die eerste keer die Kompanjie-nedersetting in besit geneem het. Die bevolking was minstens agt keer groter en het 'n groter kulturele verskeidenheid getoon. Die Britse invloed was in die regering, bestuur en regspleging oorheersend, en ook in die ruimste maatskaplike en kulturele sin, veral op die dorpe, waar Engelssprekendes toenemend gekonsentreer geraak het. Hoewel die getalle van die Afrikaners deur die Groot Trek verminder is, het hulle nog die meerderheid van die Blanke bevolking uitgemaak, en die platteland is deur hulle oorheers. Die gekleurde bevolking het bestaan uit die oorblyfsels van die Khoikhoi, vrygestelde slawe, vryswartes en Moslems, en het hoofsaaklik as plaasarbeiders, vissers en - op die dorpe - as ambagsmanne hul bestaan gemaak.
Groot getalle Nguni is in die oostelike en sentrale streek as permanente inwoners van die kolonnie aanvaar, o.m. die 17 000 Mfengu wat in 1835 deur sir Benjamin D'Urban in die kolonie gevestig is en die bewoners van die ou "Gesedeerde Gebied", wat in 1848 deur Smith geannekseer is.
Die ekonomie van die kolonie was nog onderontwikkel, hoewel agt keer meer skepe die Kaap in 1835 aangedoen het as omstreeks 1790 en die waarde van die kolonie se uitvoer tot byna £500 000 gestyg het. Naas wyn is ander landbouprodukte uitgwevoer, o.m. wol, huide, velle en volstruisvere. Die inkomste hieruit was egter min om'nbehoorlike infrastruktuur op te bou, en die ekonomie het ook te veel gesteun op militêre uitgawesdeur die Britse regering. In 1848 het Brittanje bv. meer as £1 000 000 vir oorlogsuitgawes in die kolonie uitbetaal. Binnelandse kapitaal het maar stadig gegroei en min buitelandse kapitaal sou gelok kon word totdat die kolonie aantrekliker ekonomiese moontlikhede gebied het.
Pogings om die kolonie se ekonomie en samelewing te hervorm, is egter voortgesit. Die "Kaapse liberale tradisie", wat beleidsrigtings in die kolonie vanaf die vroeë dejades vab due 19de eeu bepaal het, word gewoonlik toegeskryf aan sendelinge wat deur 'n stedelike filantropie besiel is. Die historikus Stanley Trapido het egter die materiële grondslag van die Kaapse liberalisme aangetoon en 'n nuttige onderskeid getref tussen die "groot tradisie", wat hoofsaaklik in Kaapstad gesetel was en deur idealiste, koerantredakteurs, sendelinge, parlementariërs en die finansiële en handelsleiers bevorder is, en die "klein tradisie" van die winkeliers, handelaars, prokureurs en administrateurs, wat veral in Oos-Kaapland vir hul bestaan en politieke welslae afhanklik was van die steun en samewerking van die onafhanklike Swart produsente wat besig was om na vore te tree. Die beginsels van die Kaapse liberalisme was dus gemeng en selfs teenstrydig. Ten spyte van die lae stemregkwalifikasies het die Kaapse konserwatisme die heerskappy van die Blanke minderheid oor alle rasse stewiger gevestig en uitgebrei. Binne die kolonie het die Blankes as hoe meer metodes van sosiale beheer ontwikkel, en buite die kolonie se grens is soortgelyke metodes gebruik om Swart gemeenskappe onder beheer van hul sterker koloniale buurman te bring. Die koms van Britte in die eerste helfte van die 19de eeu het die magsewewig tussen Swart en Blank na laasgenoemde laat oorhel, nie slegs op militêre vlak nie, maar ook wat betref die komplekse maniere waarop die menslike en natuurlike hulpbronne van die gebied beheer is.
--- --- ---
Britse goewerneurs, 1806-1861
Sir David Baird, 1806-1807 (waarn.);  Genl. H.G. Grey, 1807 (waarn.);  Graaf Caledon (1807-1811;  Genl. H.G. Grey, 1811 (waarn.);  Genl. Robert Meade, 1813-1814 (waarn.);  Sir John Francis Cradock, 1811-1814;  Lord Charles Somerset, 1814-1826;  Sir Rufane Donkin, 1820-1821 (waarn.);  Genl. Richard Bourke, 1826-1828 (waarn.);  Sir Lowry Cole, 1828-1833;  Kol. T.F. Wade, 1833-1834 (waarn.);  Sir Benjamin D'Urban, 1834-1838;  Sir George Napier, 1838-1844;  Sir Peregrine Maitland, 1844-1847;  Sir Henry Pottinger, 1847;  Sir Harry Smith, 1847-1852;  Genl. George Cathcart, 1852-1854;  Charles Darling, 1854 (waarn.);  en Sir George Grey, 1854-1861
--- --- ---
Sendingstasies en sendelinge
In die laaste jare van die 18de eeu het 'n Evangeliese herlewing in Wes-Europa tot 'n opbloei van die godsdienstige en filantropiese organisasies gelei, waaronder veral die Christelike sendinggenootskappe. Die negentigerjare van dié eeu was die vrugbaarste dekade in die geskiedenis van die sending in Suider-Afrika, en teen die middel van die 19de eeu was daar 'n groot getal sendingstasies binne en buite die Kaapkolonie. Kort ná 1800 is begin met die bearbeiding van die Griekwa in Klein- en Groot-Namakwaland, in 1820 het John Brownlee 'n stasie onder die Xhosa in die Tyhume-vallei gestig, en in 1825 ook een langs die Buffelrivier, by die huidige King William's Town. Van die aktiefste sendelinge was die Wesleyane, wat onder William Shaw ses sendingstasies in die gebied van die grens van die kolonie tot in Natal gestig het. Die Glasgow-sendinggenootskap het verskeie stasies onder die Ngqika gestig, o.m. die beroemde Lovedale (1824). Die Morawiërs het noord van die Tyhume-sending die stasie Shilo opgerig, en verder na die ooste het die Berlynse Genootskap 'n stasie naby Stutterheim gestig. Die American Board of Commissioners for Foreign Missions het in die voetstappe van kapt. Allan Gardiner en Francis Owen die Zulu-gebied vir sendingwerk oopgestel. Ook langs die Oranje en Caledon het sendingwerk begin: die Londense Genootskap by Griekwastad en Philippolis, die Berlynse Genootskap by Pniel, en die Wesleyane onder die Rholong, die Basotho by Thaba Nchu en die Tlokwa by Mpharani. Teen 1850 was die Rynse Genootskap ook baie aktief in die hele Wes-Kaap en Namakwaland.  Die suksesvolste onderneming van die Londense Sendinggenootskap was dié van Robert Moffat, wat beroemd geword het vanweë sy werk onder die Tswana, en sy skoonseun David Livingstone, wat by Kuruman gewerk en hiervandaan al dieper die binneland in getrek het op ontdekkings- en sendingtogte.
'n Volledige en aanbevole lees/bronnelys kom aan die einde van dié hoofstuk voor.
--- --- ---
Hoofstuk 7
Die setlaars, 1820-1824: M.D. Nash
In 1819 het die Britse regering 'n skema aangekondig om sowat 1 000 gesinne uit Brittanje te help om hulle in die Kaapkolonie te vestig. Dit was n ie die eerste Britse emigrante wat na die Kaap gekom het nie, maar dit was die enigste staatsondersteunde skema wat 'n taamlike groot Engelssprekende gemeenskap na 'n bepaalde streek in Suid-Afrika gebring het, en die 1820-setlaars het simbolies geword van die Britse bydrae tot die samelewing, tradisie en kultuur van Suid-Afrika. Reeds in hul eie tyd, onder die invloed van die Graham's Town Journal en sy redakteur Robert Godlonton, is hul beproewings en prestasies tot die vlak van 'n heroïese legende verhef, wat dit moeilik maak om die ware historiese feite altyd raak te sien. Daar word bv. maklik vergeet dat die setlaars 'n uiteenlopende groep was wat ook onder mekaar verdeeld was.
Die emigrasieskema
Die Britse regering het 'n tweeledige doelwit gehad met die ondersteuning van emigrasie na die Kaap, nl. die verligting van werkloosheid in Brittanje en die goedkoop verdediging van die kolonie se oosgrens. Brittanje was in die greep van'n na-oorlogse depressie en werkloosheid, en die wankele Konserwatiewe regering, wat deur oproer en stakings in die gesig gestaar is, wou 'n gebaar maak wat sowel die opposisie in die Parlement as die ontevrede werkersklas sou paai. Daarom het die Parlement besluit om £50 000 beskikbaar te stel om emigrasie na die Kaap te ondersteun.
Die reaksie in Brittanje op dié aankondiging was oorweldigend. Skattings van die getal aansoeke, wat hoofsaaklik u it die middel- en laer stand gekom het, wissel van 10 000 tot 90 000.
Dit was 'n voorwaarde van die emigrasieskema dat geen aansoeke van enkelinge of enkele gesinne oorweeg sou word nie. Om te verseker dat grond in die kolonnie net toegeken word aan setlaars met die nodige kapitaal en arbeid om dit te bewerk, is gratis passate, rantsoene en grond slegs toegestaan aan emigrante wat ten minste tien gesonde m ans bo 18 jaar, met of sonder 'n gesin, in diens kon neem en onderhou. Die hoof van só 'n groep moes 'n deposito van £10 vir elke man of gesin betaal, en dit sou ná hul aankoms in die kolonie in paaiemente terugbetaal word om hulle te help onderhou totdat hulle selfstandig was. Die hoof van die groep sou 100 acres (sowat 40 ha) grond vir elke volwasse man in sy groep kry, maar hulle sou eers eiendomsreg van die grond bekom nadat dit drie jaar lank bewoon en bewerk is.
Van die meer as sestig groepe emigrante wat uiteindelik deur die Departement van Kolonies gekies is, het slegs sowat 'n dosyn uit meesters en hul ingeboekte arbeiders bestaan. Die hoofde van dié sg. "eiendomsgeselskappe" (proprietory groups) was mense wat hulself in die nuwe nedersetting in die rol van hereboere gesien het. Die meerderheid van die emigrante is egter groepe van tien tot 'n honderd gesinne elk ingedeel, en die mans in elke groep het hulle op 'n aandele-grondslag saamgeskaar en elkeen sy eie deposito betaal. Een van hulle is dan tot leier verkies om aan die bepalings van die Departement van Kolonies te voldoen en om namens die groep te onderhandel. Onder die groeplede was daar ambagslui en handelaars, maar ook taamlik welgestelde mense met 'n taamlik hoë opvoedingspeil - "persone van 'n beter klas as wat aanvanklik die bedoeling was". Die setlaars het die Kaap se arbeidsprobleem dus vererger deur die aantal moontlike werkgewers te verhoog sonder om terselfdertyd meer arbeiders na die kolonie te bring.
Die aankoms en vestiging van die setlaars
Tussen Desember 1819 en Maart 1820 het 21 skepe met sowat 1 000 mans en 3 000 vroue en kinders aan boord uit Brittanje vertrek. Die Chapman het op 9 April 1820 in Algoabaai aangekom, ná vier maande op see, en die ander het met tussenpose oor die volgende drie maande gevolg.
Ten spyte van die kort kennisgewing was die reëlings wat die koloniale owerheid getref het, verbasend deeglik. Soldate van die garnisoen by Fort Frederick het die vroue en kinders van die roeibote na die land gedra, amptenare het rantsoene, voorrade, tente en gereedskap uitgereik, en elke wa in die omstreke is gekommandeer om die setlaars na hul toekomstige plase te vervoer.
Die eerste aankomelinge is persoonlik deur kol. J.G. Cuyler, landdros van Uitenhage, na hul grond aan die mond van die Groot Visrivier begelei. Hoewel die grens rustig voorgekom het ná die mislukte Xhosa-aanval op Grahamstad op April 1819 en Somerset se instelling van 'n neutrale buffergebied tussen die Vis en Keiskamma, het Cuyler die setlaars ernstig gewaarsku om nooit hul gewere agter te laat wanneer hulle gaan ploeg nie.
Lord Charles Somerset het aansoek gedoen om tuisverlof voordat hy gehoor het dat sy hoop op grootskaalse immigrasie verwesenlik gaan word. Twee m aande voor die aankoms van die eerste setlaars het hy dus na Engeland vertrek en alle reëlings vir  hul ontvangs in die hande van die waarnemende goewerneur, sir Rufane Donkin, gelaat.
--- --- ---
Die eerste setlaar-nedersettings
Die woonplekke van die verskillende setlaarsgroepe in die distrik Albanie is inderhaas deur die goewermentslandmeter opgemeet. Sy verslag het reeds gewys op die gebrek aan water in dié streek. Die drie grootste groepe, wat elk uit sowat 100 gesinne bestaan het, nl. dié onder John Bailie, Hezekiah Sephton en Thomas Willson, het grond ver van mekaar gekry, met die bedoeling dat hulle dorpe moes stig wat ook vir die kleiner groepe naby hulle geriewe sou bied. Op instruksie van graaf Bathurst, die minister van kolonies, is die geselskappe uit Ierland en Skotland nie saam met dié uit Engeland in Albanie gevestig nie. Die klein groepie Skotse gesinne onder Thomas Pringle het grond aan die Baviaansrivier gekry en later verdere grond in die valleie van die Mankazana- en Koonaprivier. Sowat 450 Ierse setlaars is in die weste, in die distrik Clanwilliam, gevestig, maar hulle het gou by die hoofgroep in Albanie aangesluit.
--- --- ---
Opvoeding onder die setlaars
Met die aankoms van die setlaars was daar nog min regeringskole aan die Kaap, en baie setlaars het dus hul kinders self opgevoed. 'n Paar het privaatonderwysers in diens geneem, en ander het hul kinders na die privaatskole van mede-setlaars gestuur, veral in Grahamstad. Jare later kon William Guybon Atherstone oor Grahamstad sê: "She was cradled in bayonets. She is now a fair and beautiful city, and a centre of education." Dr, Atherstone self was 'n toonbeeld van die lewendige wetenskaplike weetgierigheid van die 19de eeu wat Grahamstad 'n middelpunt van geleerdheid in sy wydste betekenis gemaak het en mense soos Andrew Geddes Bain, Holden Bowker en sy suster Mary Elizabeth Barber aangespoor het om natuurwetenskaplike, geologiese en paleontologiese navorsing te doen.
--- --- ---
Die pers en die letterkunde
Daar was verskeie drukkers onder die setlaars, en onder hul besittings was daar selfs 'n drukpers. Die lugtige Kaapse regering het dadelik op dié gevaarlike masjien beslag gelê, en 'n dekade lank was die setlaarnedersetting sonder 'n drukpers. In 1822 het Thomas Pringle van sy plaas aan die Baviaansrivier na Kaapstad verhuis, waar hy en sy vriend John Fairbairn en die drukker George Greig The South Arfican Commercial Advertiser opgerig het. Pringle was Somerset se grootste teenstander in die vroeë stadium van die persstryd, maar die uiteindelike oorwinning was veral te danke aan Fairbairn en Greig. Pringle was ook 'n skeppende skrywer, en die publikasie van sy digbundel Ephemerides in 1828 is in wese die begin van die Engelstalige Suid-Afrikaanse letterkunde. In sy gedigte vind ons die kenmerkende spanning tussen gevoelens van ballingskap uit Brittanje, die land van herkoms, en 'n toenemende liefde vir die nuwe land en sy gemeenskap, waarby die setlaars moes aanpas.
--- --- ---
Die setlaars en die godsdiens
Die oorspronklike setlaars het aan 'n verskeidenheid kerke behoort, maar die meeste was Metodiste. Die Metodiste se dryfkrag het jong manne soos Henry Hare Dugmore, John Ayliff en William Shepstone tot sendingwerk besiel, en dit het gelei tot die verkondiging van die evanglie tot ver buite die grense van die kolonie. Die belangrikste geestelike leier onder die setlaars was die predikant William Shaw, wat met Sephton se geselskap, die Salem-groep, na die Kaap gekom het. Die merkwaardige taalprestasies van die vroeë sendeling het neerslag gevind in die vertaling en druk van Bybeldele in Xhosa voor 1840, en hulle het ook die geskiedenis opgeteken van die volk onder wie hulle gewerk het.
--- --- ---
Verbrokkeling van die setlaargroepe
Donkin het die grens besoek om persoonlik die vestiging van die setlaars om te sien. Hy het die dorpie Bathurst in die middel van die nedersettingsgebied gestig om as administratiewe en handelshoofstad van die gebied te dien en 'n voorlopige landdros aangestel om die vrede te bewaar en geskille te besleg.
Reeds voor die vertrek van die emigrante uit Brittanje was daar wrywing tussen groeplede, en die vier maande aan boord het dit net vererger. In 'n poging van owerheidsweë om die groepe bymekaar te hou, is die kolonie se paswette, wat bedoel was om leeglopery te beheer, in Mei 1820 ook op die setlaars van toepassing gemaak. Alle setlaars behalwe die hoofde van groepe moes skriftelike toestemming van die plaaslike owerheid kry om tussen woonplekke of na òf Bathurst òf Grahamstad te reis, en enigeen wat verder as dit wou reis, moes 'n distrikspas aanvra wat deur die waarnemende goewerneur self goedgekeur moes word. Binne 'n paar weke ná hul aankoms, het professionele mense en "dekoratiewe vakmanne", soos koetsskilders, silwersmede en boekbinders, egter reeds agtergekom dat hulle nie aanleg vir boerdery gehad het nie en die owerheid gevra om hulle toe te laat om na die dorpe te verhuis, waar hulle gehoor het om 'n beter heenkome te vind.
In September 1820 het Donkin aangekondig dat Albanie, wat tot in dié stadium 'n onder-drosdy van Uitenhage was, 'n selfstandige distrik sou word. Maj. James Jones, wa in Spanje 'n lid van Donkin se staf was, is aangestel as landdros van Albanie en kommandant van die grens.
Aanvanklike probleme
Die setlaars se eerste wonings was tente wat die regering verskaf het. Hulle is mettertyd vervang deur strooidakhuisies van klei-en-pale of vasgestampte sooie, of selfs nog eenvoudiger huisies. Sommige groepe het reeds in Brittanje gereedskap aangekoop, en ander het plaas- en bougereedskap by die regeringsdepot by Algoabaai gekoop, waar hulle ook hul eerste saad gekry het. Die meeste van die "Cockney-gardeners" se kennis van die landbou en bouwerk was egter baie gering, en die ploegosse wat hulle van boere in die omgewing gekoop het, was in hul onervare hande "so wild soos wildsbokke".
Die verbrokkeling van die groepe en die setlaars se onkunde van die landbou het grootliks bygedra tot die mislukking van die regering se plan vir 'n hegte landbounedersetting in Albanie. Die vernaamste oorsaak was egter die aard van die streek self. Die skraal grond en wisselvallige reënval het die gebied heeltemal ongeskik gemaak vir intensiewe akkerbou - vandaar dat dit onder die grensboere bekend gestaan het as die Suurveld. Tog het die gebied vir die setlaars, soos ook vir Somerset toe hy dit in 1817 besoek het, misleidend groen en vrugbaar gelyk ná die reëns: "almost like a gentleman's park".
Die setlaars se hoop op 'n goeie eerste oes is teen die einde van 1820 wreed verydel deur die ontdekking van roes in hul belowende koringlande. Dit was duidelik dat staatsondersteuning voortgesit sou moes word, maar aangesien die depositogeld reeds opgebruik was, moes alle verdere skuld in verbande op grond, geboue en vee omgesit word.
Donkin se planne vir die nedersetting
Teen die mmiddel van 1821 het Donkin die oosgrens weer besoek, en ten spyte van die mislukking van die koringoes was hy optimisties oor die toekoms van die nedersetting. In die dorpie Bathurst is daar druk gebou, en planne is aangevoor om die mond van die Kowie as hawe vir Albanie te ontwikkel. Van die drie grootste setlaatsgroepe was twee - dié onder John Bailie en Thomas Willson - besig om te verbrokkel, maar Sephton se mense, wat deur hul gemeenskaplike geloof saamgesnoer is, het die dorpie Salem gestig en allerweë bekend gestaan vir "die ordelikheid waarmee hulle hul sake, sowel geestelik as wêreldlik, gereël het".
Tydens Donkin se tweede besoek het toestande aan die grens misleidend rustig gelyk. Daarom het hy lord Charles Somerset se ambisieuse planne vir Fort Willshire, die vernaamste verdedigingspos van die neutrale gebied, gewysig en dit slegs 'n versterkte militêre pos gemaak. Hy het ook aan offisiere van die Royal African Corps, wat kort tevore ontbind is, grond in die neutrale gebied tussen die Vis en Keiskamma gegee vir die stigting van 'n militêre dorp wat hy Fredericksburg genoem het. Die toenemende diefstal van die setlaars se vee tydens Xhosa-strooptogte het hy as 'n slegte gewoonte eerder as 'n gevaarteken vertolk, en hy het 'n jaarmark by Fort Willshire ingestel om "'n nasie van rowers in 'n handelsvolk te omskep". Met sy vertrek uit die kolonie is dié plan laat vaar, maar drie jaar later het Somerset dit tog verder gevoer, want dit het intussen geblyk dat indien wettige handel met die Xhosa nie ingestel word nie, die onwettige handel sou voortduur en baie moeilik sou wees om te beheer.
In die somer van 1821 het roes weer die setlaars se koring getref, en hul tweede oes het ook misluk. Baie van die setlaars kon darem deur middel van hul ambagte 'n bestaan maak, en ironies genoeg was die mislukking van die landbounedersetting, deels te wyte aan die setlaars se onkunde van boerdery, op die duur vir die kolonie van onskatbare waarde omdat 'n verskeidenheid dienste op die dorpe daardeur beskikbaar geword het.
Op 1Desember 1821 is Donkin se bestuur van die kolonie beëindig deur Somerset se terugkeer uit Engeland. Hoewel Donkin nie die plaaslike toestande goed geken het nie, was sy goeie bedoelings met die setlaars bo verdenking. Nogtans was sy ampstermyn geen bate vir die kolonie nie, want dit het gelei tot 'n bittere twis wat ver uitgekring het.
Botsings ná Somerset se terugkeer
'n Paar weke voor Somerset se terugkeer, het 'n openlike en heftige rusie tussen kapt. Henry Somerset, sy oudste seun, en die waarnemende goewerneur in Kaapstad plaasgevind. Dit het daartoe gelei dat kapt. Somerset in huisarres geplaas is. Die goewerneur was woedend oor hierdie belediging, en ná sy landing in Kaapstad het hy en Donkin geweier om mekaar te ontmoet.
Somerset se woede teenoor Donkin is oorgeplaas op alles wat hy gedoen en almal wat sy guns geniet het, met inbegrip van die nedersetting in Albanie. Maj. Jones, die gewilde landdros van Albanie, is afgedank, en Grahamstad het weer die hoofstad van die distrik geword. Die regeringskantore, kommissariaat en troepe is uit Bathurst vewyder, met die gevolg dat dié dorpie se groeiende welvaar feitlik oornag beëindig is. Die stigting van Fredericksburg in die neutrale gebied was duidelik 'n skending van Somerset se grensbeleid. Hy het dus geweier om dit te ondersteun, en teen die middel van 1822 was dit verlate en vervalle.
Teen dié tyd was dit duidelik dat Albanie ongeskik was vir die akkerbou. Die hoofde van geselskappe het veeboerdery as hul enigste hoop beskou, maar hiervoor het hulle meer grond en nuwe kapitaal nodig gehad, asook 'n doeltreffender stelsel van grenspatrollies. Namate die setlaars se veetroppe uitgebrei het, het strooptogte deur die Xhosa toegeneem. Daar was geen verdere troepe beskikbaar nie, en in plaas daarvan is 'n milisiemag in Albanie opgekommandeer, wat die setlaars se griewe net laat toeneem het.
Die nuwe landdros van Albanie, Harry Rivers, het die goewerneur nie volledig op die hoogte gehou van die erns van die setlaars se situasie nie. Hy het eerder "die vooroordele wat 'his Lordship' (Somerset) teen die setlaars ontwikkel het, aangewakker en was die vernaamste oorsaak van die vertragings wat alle maatreëls vir die verligting van hul nood gekenmerk het", soos die kommissarisse van ondersoek dit in hul verslag gestel het. Die aspirant-hereboere het veral aanstoot geneem aan die lomp manier waarop  hy sy gesag uitgeoefen het. Twee pogings van hul kant om hierdie "onduldbare situasie" onder die aandag van die goewerneur en daarna die minister van kolonies te bring, is botweg verhinder en het daartoe gelei dat Somerset hulle almal as "misnoegdes" en "radikale" bestempel het. Veral laasgenoemde was ironies, want die aspirant-here onder die setlaars het die beginsel van aristokratiese bestuur heelhartig ondersteun en sou enige demokratiese hervorming teengestaan het. Hulle was nie gekant teen die stelsel van bevoorregting en begunstiging nie, maar teen die amptenare wat hulle die voordele daarvan ontsê het.
In Maart 1823 het hulle 'n petisie opgestel wat hul saak regstreeks aan die regering in Brittanje sou stel. In dié petisie is die "kunsmatige belemmerings" van die vooruitgang van die nedersetting uiteengesit, nl. ontoereikende grondtoekennings, die gebrek aan markte en 'n vrye hawe, die oorplasing van die landdrossetel na Grahamstad en die veeverliese deur Xhosa-strooptogte. Hulle het daaroor gekla dat die setlaars se situasie sedert Somerset se terugkeer verkeerd vertolk en begryp word, hul veiligheid deur sy grensbeleid in gevaar gestel en die reg van appèl hulle ontsê word. Altesame 171 handtekeninge is vir die petisie verkry. Dit het 'n heftige reaksie ontlok onder die setlaars wat aan Somerset en Rivers lojaal was en in baie gevalle uit die bestaande situasie voordeel getrek het. Twee maande later het die lojaliste 'n teenpetisie met 164 handtekeninge ten gunste van Somerset aan die minister van kolonies gestuur.
Die "Radikale van Albanie" het nie deelgeneem aan die stryd van die Kaapstadse koloniste teen Somerset se outokrasie nie - hulle was veel meer begaanoor hul persoonlike belange as ook die probleme van die kolonie as geheel. In die beslissende fase van die stryd tussen die Kaapstadse koloniste en die onversetlike goewerneur het die griewe van die setlaars dus ook slegs 'n ondergeskikte rol gespeel. In Brittanje is besef dat die hele stelsel van koloniale bestuur hervorm moes word, en in Julie 1822 het die Parlement 'n kommissie van ondersoek aangestel om die regering, wette en administrasie van die Kaap, Mauritius en Ceylon te ondersoek. Die koms van dié kommissarisse, Bigge en Colebrooke, na die Kaap in 1823 het ingrypende veranderings vir die kolonie as geheel meegebring, o.m. die einde van Somerset se bewind.
Verligting vir "fatsoenlike" setlaars
Teen die middel van 1823 was net 438 van die oorspronklike 1 004 setlaarmans nog op hul plase om ná die verstryding van drie jaar van bewoning en ontwikkeling aanspraak op eiendomsreg te maak. In Oktober het verwoestende oorstromings dwarsdeur Albanie verliese aan gesaaides, vee en eiendom veroorsaak. Reeds in 1820 is daar in Kaapstad 'n fondsinsamelingsvereniging gestig om behoeftige setlaars te help, en twee van die bestuurslede, van wie dr. John Philip een was, het Albanie in 1823 besoek en hulle aan die kant van die "Radikale" geskaar.
Die society for the Relief of Distressed Settlers was van mening dat die loontrekkersklas, die ambagslui en arbeiders nie langer liefdadigheid nodig gehad het nie. Aanvanklik is hulle die swaarste getref deur die onverwagte rampe van roes, vloed en veerowery, maar hulle het ook die gouste daarvan herstel. Die hoofde van die "eiendomsgeselskappe" en ander "fatsoenlike" setlaars, d.w.s. mense van goeie afkoms wat al hul kapitaal opgebruik en vir wie armoede in die gesig gestaar het, het wel hulp nodig gehad. 'n Fondsinsamelingsveldtog is in Engeland en Indië van stapel gestuur, en 'n aansienlike bedrag is ingesamel. Die verdeling van dié fondse was in die hande van 'n onderkomitee wat byna uitsluitlik uit "Radikale" bestaan het. Om die verdeling onder amptelike beheer te bring, het Somerset voorgestel dat landdros Rivers 'n lid word, maar dit het aanleiding gegee tot 'n "pamfletstryd" tussen Somerset en Philip waarin Rivers die onderspit gedelf het.
Met kommissarisse Bigge en Colebrooke se aankoms in Grahamstad het gevoelens daar hoog geloop, en hulle is oproerig verwelkom deur die "Radikale" en hul ondersteuners. Die petisie van Maart 1823 was die grondslag van die kommissarisse se ondersoek na die setlaars se situasie, en nieteenstaande verwarrende getuienis en teenstrydige aansprake op grond het hulle aanbeveel dat 'n goedgesinde spesiale kommissaris benoem word om setlaarsake te hanteer.
Vroeg in 1825 het Somerset die Albanie-nedersetting die eerste keer besoek. Die besorgdheid van die kommissarisse is deur 'n verandering in sy houding weerspieël. Teen dié tyd was minder as die helfte van die setlaars nog op hul plase gevestig, en die kommissarisse het aanbeveel dat veel ruimer grondtoekennings aan hulle gemaak word as wat oorspronklik bepaal is. Somerset het dus van sy beleid afgewyk en bykomende grond toegestaan aan die hoofde van geselskappe en verdienstelike lede. Die Albanie-milisie is ontbind, landdros Rivers is na Wes-Kaapland oorgeplaas en die regeringsplaas Somerset Farm is gesluit. Dit het 'n einde gemaak aan dié plaas se monopolie op die lewering van produkte aan die garnisoen en 'n lonende mark vir die setlaars se produkte oopgestel.
Die Settlers' Relief Fund het voorsien in die "fatsoenlike" setlaars se onmiddellike behoefte aan geld om hulle weer op die been te bring en is aangevul deur lenings van die regering. Op aanbeveling van Somerset is ook alle uistaande skulde vir rantsoene kwytgeskeld. Die welvaart van die kolonie sou egter toenemend afhang van handel oor die grens heen met die Swart stamme. Die winsgewende onwettige handel tussen setlaars en stamlede is gewettig deur die instelling van die jaarmarkte by Fort Willshire, waar gelisensieerde handelaars onder militêre toesig byle, messe, komberse, katoenstowwe, ysterware, glaskrale en koperdraad kon verruil vir ivoor, gom, volstruisvere, huide, horings en velle.
'n Nuwe bedeling
Die koms van die kommissarisse van ondersoek het'n proses van verandering ingelui waardeur die kolonie van 'n despotiese bestuur sou vorder na 'n Adviesraad in 1825 en uiteindelik verteenwoordigende regering in die vyftigerjare. Met Somerset se herroeping het die tydvak van outokratiese bestuur tot 'n einde gekom, want op aanbeveling van die kommissarisse is in 1827 'n Regsoktrooi aan die kolonie toegestaan en'n onafhanklike regbank ingestel. Dié nuwe bedeling het op alle vlakke van die bestuur aan opgevoede Engelssprekendes geleenthede vir werk en bevordering gebied, en hulle het die kans deeglik benut.
--- --- ---
Die verspreiding en invloed van die 1820-setlaars: Guy Butler
Teen 1824 was die nedersetting reeds heel anders van aard as wat sy beplanners in  die gedagte gehad het. Twee derdes van die setlaars het hul plase verlaat en was deur die hele kolonie versprei. Huwelike tussen Britse setlaars en Hollandse vroue was nie ongewoon nie, en daar bestaan ook getuienis van vermenging met inheemse volke, soos die Khoikhoi, Xhosa en Zulu. Toe handel eers eenmaal die vernaamste bedrywigheid van Grahamstad geword het, het die Albanie-nedersetting self ook heelwat nuwe setlaars, in die besonder handelaars, aangetrek.
Vier jaar later
In plaas daarvan dat die nedersetting die sluiting van die oosgrens bewerkstellig het, het dit presies die teenoorgestelde uitwerking gehad. Grahamstad het van 'n administrasiesentrum vir die setlaars en die verdediging van die grens gegroei tot die tweede grootste dorp in die kolonie en die bron van talle ondernemings van belang vir die hele kolonie.
Dit blyk die duidelikste uit die ontwikkeling van die handel op land en see. Die ekonomiese toekoms van die nedersetting het afgehang van die ontwikkeling van 'n geskikte hawe, en reeds teen Oktober 1820 het J.B. Biddulph 'n skets van die mond van die Kowie aan die minister van kolonies gestuur in die hoop dat dit ontwikkel sou kon word. Die groei van Port Elizabeth en Port Frances is belemmer deur die regulasie wat bepaal het dat alle skepe in Kaapstad moes in- en uitklaar. Toe dié bepaling in 1826 opgehef is, het die uitvoerhandel van Oos-Kaapland toegeneem, en teen 1830 het 'n landroete tussen Grahamstad en Port Natal ook in gebruik gekom.
Die handel was een van die vroeë alternatiewe vir die landbou wat deur setlaars beproef is, eers te voet deur smouse met rugsakke, en later met ossewaens wat hulle self gebou en wat hulle steeds verder gevoer het. Hul vernaamste basis was Grahamstad, waarheen hulle met jagbuit, ivoor, huide en vet teruggekeer het, asook met kartografiese, wetenskaplike en praktiese inligting oor die binneland. Mettertyd het die florerende handelaars van Grahamstad dit nodig gevind om krediet- en bankinstellings op te rig en maatskappye te stig.
Die nedersetting van 1820 het miskien as landbou-onderneming misluk, maar die setlaars het nogtans as veeboere 'n belangrike bydrae tot die ontwikkeling van die kolonie gelewer. Baie van die leiers het die gevorderde opvattings oor die veeboerdery, waarvoor die 18de-eeuse Brittanje beroemd was, met hulle saamgebring. Anders as die boere van Wes-Kaapland, wat onwillilg was om van vetstertskape na merino's oor te slaan, het die setlaars min aanmoediging hiertoe nodig gehad. Op inisiatief van Miles Bowker, George Pigot en ander is maatskappye gestig om ooie en ramme uit Sakse en Nieu-Suid-Wallis in te voer. Dit is ironies dat die merino se voorkeur vir die droë Karoo baie setlaars noord na Somerset-Oos, Cradock, Graaff-Reinet en Colesberg laat trek het, terwyl Albanie, waar die wolboerdery begin het, geen produk van belang opgelewer het nie.
Die setlaars en 'n veelrassige samelewing
In die eerste agt jaar van die nedersetting was die grootste probleem 'n arbeidstekort. Niks het gekom van die setlaars se pogings om werkers in Brittanje te werf nie, en die meeste van die plaaslike Khoikhoi wat gewillig was om te werk, het reeds kontrakte gehad. Die arbeidstekort is egter in 1828 verlig toe Xhosa van anderkant die grens ingevolge Ordonnansie 49 toegelaat is om in die kolonie werk te soek.
'n Jaar later het Ordonnansie 50 die Khoikhoi van die kolonie vrygestel van die verpligting om passe te dra. Dit het meer arbeiders beskikbaar gestel, maar dié voordeel is ten dele geneutraliseer deur die toename in veediefstal. Die feit dat arbeiders nou makliker bekom kon word, het ook die omskepping van die setlaars in 'n Blanke elite versnel. In die laat veertigerjare is talle take nog deur Blankes verrig, maar die skeiding van geskoolde en ongeskoolde arbeid op 'n rassegrondslag h et reeds begin. Die kinders van die setlaars sou naas die politieke grense van die kolonie ook ander skeidslyne erf, nl. die veel komplekser, moeiliker en gevaarliker grense wat getrek is deur standsverskille verhewig deur rasseverskille.
Die Sesde Grensoorlog
In Desember 1834 het oorlog weer aan die grens uitgebreek en die toenemende welvaart van die Albanie-boere vernietig. Xhosa-krygers het na raming 250 000 stuks vee geroof en meer as 450 huise afgebrand. Handelaars en boere in die pad van die invallers is doodgemaak, maar sendelinge is gespaar. Boere-, Britse en Khoikhoi-vlugtelinge het Grahamstad binnegestroom, en die oorlog het tot 'n verdere uittog uit Albanie gelei. Liewer as om na hul verwoeste plase terug te keer, het baie van die groot grondbesitters verder weg van die grens 'n nuwe begin gemaak. Spekulante kon dus groot stukke grond teen lae pryse opkoop.
Die sielkundige uitwerking van die oorlog was egter groter as die fisieke verskuiwing van die bevolking. Die Xhosa-inval het die albanie-setlaars verenig soos nog nooit tevore nie, en dié eenheid is versterk deur verdere twiste met die regering oor grensbeleid. Die Sesde Grensoorlog was waarskynlik verantwoordelik vir die uitkristallisering van die setlaat-identiteit wat reeds in wese bestaan het. Die troumatiese ondervindings van die oorlog, saam met hul ander beproewinge as pioniers, het die setlaars ingelyf by 'n grenstradisie wat in die Graham's Town Journal 'n stem gevind het. Dit was 'n tradisie wat krities gestaan het teenoor "filantrope" en mooi beleidsrigtings wat elders uitgedink is, hetsy in Kaapstad of Londe.
--- --- ---
'n Volledige lees/bronnelys verskyn ná dié hoofstuk
--- --- ---
Hoofstuk 8
Die pre-koloniale en koloniale Khoikhoi
Van brose selfstandigheid tot permanente gedienstigheid, 1488-1713: H.C. Bredekamp
Die eeuelange geografiese isolasie van die tradisionele Kaapse samelewing is deur Bartolomeu Dias se omseiling van die Kaap in 1488 verbreek. Vir die Europese seevaarders was dié prestasie die begin van 'n nuwe era van verkenning en handel, maar vir die inheemse Khoikhoi-herders en San-jagter-versamelaars die begin van 'n proses van koloniale o nderwerping.
Eerste aanrakings met Europese seevaarders
Vir die Kaapse Khoikhoi is die tydperk 1488-1652 gekenmerk deur sporadiese aanraking met Portugese, Engelse en Nederlandse seevaarders. Die vroeë kontak met die Portugese is oorheers deur geweld, wat in 1510 uitgeloop het op die dood van Francisco de Almeida en sowat vyftig soldate op die strand van Tafelbaai. Daarna het die Portugese skepe Tafelbaai liewer vermy.
In die begin van die 17de eeu het Tafelbaai 'n gewilde aanloopplek vir seevaarders van verskeie nasies geword. Die Engelse kaptein John Lancaster het 'n vriendskaplike verhouding met die Khoikhoi tot stand gebring, en in 1601 binne twaalf dae 'n duisend skape en 42 beeste by hulle geruil. Voor 1610 was yster die belangrikste ruilmiddel, maar daarna het die Khoikhoi op koper, en later op geelkoper, begin aandring.
Die tydelike aard van die Europeërs se besoeke aan die kus het enige moontlike vrees va die Khoikhoi dat dié besoekers hulle permanent aan die Kaap sou kom vestig en die inheemse bewoners sou verdryf, laat verdwyn. Aanvanklik het dit 'n valse gerustheid by die Skiereilandse Khoikhoi laat posvat Die stranding van die Nieuw-Haarlem in Maart `647 het dié gerustheid verder versterk, maar die jaarlange verblyf van dié goedgesinde skipbreukelinge het verreikende gevolge vir die Khoikhoi ingehou.
--- --- ---
Coeree en Autshumao ("Herrie")
Die Khoikhoi het algaande kieskeuriger in hul keuse van ruilmiddele geword, blykbaar veral vanweë die toedoen van Coeree, een van die Skiereilandse veeboere en waarskynlik die leier van die Gorachokwa-stam. Coeree is in 1613 na Engeland weggevoer om daar "opgelei" te word vir die rol as skakel tussen besoekende Engelse seelui en die Khoikhoi-veeherders. Daar het hy egter tot die ontnugterende ontdekking gekom dat die Europeërs in ruil vir die kosbare Khoikhoi-vee slegs minderwaardige voorwerpe aanbied, en in plaas daarvan dat hy ná sy terugkeer die amptelike veeruiler word het hy met die hulp van die oorsese besoekers sy posisie as leier aan die Kaap probeer uitbou. In 'n verdere poging om die veeruilhandel te bevorder, het die Engelse in 1631 ene Autshumao ("Herrie"), die leier van die Khoisan-jagter-versamelaarsgroep in Tafelbaai, na Bantam in die Ooste geneem, waar hy 'n bietjie Engels geleer het. Ná sy terugkeer is hy en sommige van sy volgelinge tot 1640 as Engelse posagente op Robbeneiland geplaas.
--- --- ---
Die V.O.C. en die Wes-Kaapse Khoikhoi
Die stadige proses van verbrokkeling van die Khoikhoi se politieke en ekonomiese selfstandighed in die anderhalf eeu ná Van Riebeeck se koms, kan aan verskeie faktore toegeskryf word, o.m. die veeruilhandel, onderlinge stamtwiste, besetting van grond deur Blankes, militêre botsings, aansteeklike siektes en die Khoikhoi se inskakeling by die koloniale samelewing as 'n ondergeskikte arbeidsklas. Aanvanklik was die ruilhandel die hoofmotief vir die V.O.C. se belangstelling in die Khoikhoi, maar die veeruilhandel by die Fort het nooit tuis gefloreer nie. Die rede hiervoor was toenemende wedersydse wantroue, wat versterk is deur hardhandige optrede van Nederlanders teenoor Khoikhoi en die moord op 'n Nederlandse veewagtertjie op 'n Sondagoggend in 1653.
Die Khoikhoi was ook nie gretig om op groot skaal van hul enigste rykdom - hul vee - afstand te doen nie. Hul hele bestaan het om hul vee gewentel, en hulle het dus meestal net afgeleefde, gebreklike en  maer surplusvee aan die Europeërs aangebied. Toe die Here XVII weier om toestemming te gee vir die buit van vee en die verslawing van die Khoikhoi, het Van Riebeeck veeruil-ekspedisies na die binneland gestuur.
--- --- ---
Veeruil-ekspedisie na die binneland
Die eerste amptelike veeruil-ekspedisie na die binneland, in Maart en April 1655, het feitlik onverrigter sake teruggekeer uit die gebied van die teenswoordige Malmesbury en Saldanha. Die vermoede is egter bevestig dat die stamme wat graag vee wou ruil, deur die "Kaapmans" en "Herrie" belet is om na die Fort te gaan. In September het nog 'n ekspedisie vertrek, met "Herrie" as gids en veeruiler, maar op 5 Oktober was die ekspedisie sonder "Herrie" terug by die Fort. "Herrie" het twee maande later opgedaag met net 13 beeste en 'n storie dat onbekende Khoikhoi sy ruilmiddele gesteel het. Die kommandeur het die vrugtelose ruil-ekspedisies hierna gestaak, maar in 1657 het kommissaris Van Goens hom opdrag gegee om die handelsmoontlikhede in die binneland verder te ondersoek. In Oktober 1657 het 'n ekspedisie onder Abrahama Gabbema in die vrugbare Bergriviervallei vee probeer ruil. Die Bergrivier was egter in vloed, en hy kon nie met die veeryke Cochokwa in aanraking kom nie. Hy was dus verplig om met die onwillige Gorachokwa en Grigrikwa handel te dryf, maar kon net sewe koeie, drie kalwers en 41 skape kry. Die volgende ekspedisie, in Februarie 1658, het tot die Tulbagh-kom gevorder, maar ewe min vee verkry.
--- --- ---
Hoewel hierdie togte nie die gewenste ekonomiese resultate opgelewer het nie, het dit aan die V.O.C.-amptenare heelwat inligting oor die inheemse bevolking verskaf. Hieruit blyk dit dat die Wes-Kaapse Khoikhoi volgens drie geografiese gebiede ingedeel kon word:
Van die Skiereilandse Khoikhoi het die Goringhaikona ("Watermans" of "Strandlopers") permanent in die Tafelvallei gewoon. Hulle was uitgeworpenes uit die Skiereilandse Khoikhoi-gemeenskap, want hoewel hulle vroeër vee besit het, het hulle vanweë interne stryd en moontlik eksterne rampe tot 'n sukkelbestaan van raap en skraap gedaal. Hul leier was Autshumao ("Herrie"), wat op meesterlike wyse die rol van tussenganger tot sy eie voordeel benut het. Teen 1658 het hy reeds 'n veestapel van 227 beeste en 260 skape opgebou, maar in dieselfde jaar is hy op advies van twee ander Khoikhoi-leiers, Doman en Gogosoa, na Robbeneiland verban.
Teen dié tyd het Doman en die vroulike tolk Krotoa (Eva) reeds Autshumao se rol as tussenganger in die Tafelvallei begin oorneem. Hulle was lede van Gogosoa (die "Dicke Kapiteijn" van die "Kaapmans") se Goringhaikwa, die oorheersende stam in die Kaapse Skiereiland. Hulle het die Skiereiland as hul uitsluitlike weidingsgebied beskou. Hul verblyfplekke was by die huidige Soutriviermonding, Constantia- en Houtvallei, Noordhoek en Bosheuwel en, in die droë somermaande, die Tafelvallei. Saam met die Gorachokwa (die "Tabakdiewe", soos die Nederlanders hulle genoem het) was hulle die belangrikste Skiereilandse Khoikhoi-stamme, en hulle het gou gemene saak gemaak om die binnelandse veebesitters se pad na die Fort te versper.
Die omliggende Khoikhoi-stamme was o.m. die Cochokwa, wat twee tot vyf keer meer was al die Skiereilandse Khoikhoi saam. Hul veetroppe het meestal noord van Tafelbaai tot aan die Bergrivier, en soms tot aan die Olifantsrivier, gewei. Hulle het uit twee groepe bestaan, dié van Oedasoa en dié van Gonnema. Gonnema se hoofkwartier was aan die Bergrivier, naby die huidige Riebeek-Kasteel. Die veehandel met die Cochokwa het eers teen die einde van Van Riebeeck se bewind op dreef gekom, deels weens die Cochokwa se stryd aan drie fronte teen die Skiereilandse Khoikhoi, die Chainokwa en Hessekwa, en die Grigrikwa.
Die Hessekwa se woongebied was min of meer tussen die Hessekwas- en Attakwaskloof, d.w.s. van die huidige Swellendam tot aan die Gourits. Die Chainokwa se weivelde het langs die kusgebied gestrek van die Breërivier, langs die Riviersonderend, en oor die Hottentots-Hollandberge tot byna aan die Eersterivier.
Laastens was daar die afgeleë Khoikhoi, soos die Grigrikwa, wie se weivelde noord van die Cochokwa s'n, van Saldanhabaai tot halfpad tussen Dassen- en robbeneiland, gelê het. Hulle was blykbaar vroeër veewagters van die Cochokwa totdat hulle gerebelleer en hulself met hul meerderes se vee begin verryk het. Die Cochokwa het dus gereeld strooptogte op die Grigrikwa uitgevoer, wat op hul beurt beskerming by die Namakwa gaan soek het. Die Namakwa was die wydverspreidste Khoikhoi-groep en het van die Onder-Olifantsrivier tot oorkant die Garieb (Oranje) gewoon. Noordoos van die Hessekwa het 'n aantal verdere Khoikhoi-groepe gewoon waaroor nog min navorsing gedoen is, o.m. die Gourikwa, Attakwa, Inkwa, Damakwa, Gonakwa en Hoengeikwa.
Ná 1660 het die veestapel van die Wes-Kaapse Khoikhoi drasties begin afneem, en die Blankes moes dus toenemend staatmaak op veeruil-ekspedisies na die Hessekwa en sommige afgeleë Khoikhoi-stamme. Hiervoor is soms Khoikhoi-tussengangers gebruik. Die bekendste Khoikhoi-agent naas Autshumao was 'n Chainokwa-kaptein, Dorhá ("Klaas"). Teen 1686 was Simon van der Stel só oortuig van Dorhá se lojaliteit dat hy vryelik snuisterye aan hom gegee en hom selfs in Europese klere uitgedos het. Teen 1690 het Dorhá egter besef dat die samewerking met die Blankes nie solonend vir hom was as wat hy gehoop het nie. Toe hy die goewerneur se guns verloor, het hy probeer om bondgenootskappe met ander Khoikhoi-leiers te sluit, maar sysamewerking met die Nederlanders het hom gehaat by sy volksgenote gemaak, en in 1701 het hulle hom gedood.
Vanweë die kortstondige oopstelling van die veeruilhandel in 1700 en die vinnige veeboeruitbreiding daarna het die veestapel van die VO.C. en die vryburgers dramaties toegeneem. Dié van die Khoikhoi het daarenteen drasties verminder, en hulle het hul weidingsgebiede selfs nog vinniger as tevore verloor. Teen 1655 het die Skiereilandse Khoikhoi reeds aan Van Ruiebeeck gesê dat hulle die besette land as hul "eijgen landt" beskou, maar Van Riebeeck het dié aanspraak verwerp en die goringhaikwa in 1657 beveel om die gebied oos van die Sout- en Liesbeekrivier as die woon- en weidingsgebied van die Khoikhoi te aanvaar. Dit het beteken dat die Skiereilandse Khoikhoi hul beste weivelde en tradisionele waterbronne verloor het. Hulle het hulle teen dié gedwonge gebiedskeiding verset deur die vryburgers se landerye te verwoes en hul vee te buit.
Die gevolg was die Eerste V.O.C.-Khoikhoi-oorlog (1659-1660), wat uitgeloop het op die militêre onderwerping van die Skiereilandse Khoikhoi. Hulle het die Nederlandse besetting egter steeds betwis, en om "disputen en oneenigheden voorgoed uit den weg trachten te ruimen", het die V.O.C.  in 1672 kooptransaksies opgestel vir die gebied van die Hottentots-Hollandsberge tot by Saldanhabaai. Hierdie dokumente was egter bloot 'n formaliteit, want hulle is beding met twee Skiereilandse Khoikhoi-kapteins wat bekend was vir hul gedienstigheid aan die Kompanjie.
Die hoogs vreemde wyse waarop die grond "gekoop" is, sou bydra tot die uitbreek van die Tweede V.O.C.-Khoikhoi-oorlog in 1673. Afgesien van die belaglike prys wat betaal is, was dié grond grotendeels die weidings- en jaggebied van die Cochokwa. Die feit dat Gonnema nie in die saak geken is nie, het hom oortuig dat die Blanke owerheid hom minag. Die bedrwyghede van Nederlandse prospekteerders in die Riebeek-Kasteelberge vanaf 1670 moes Gonnema ook tot kommer gestem het. Dit het gelei tot aanvalle op plaashuise, en in 1672 het die spanning verder opgelaai toe van Gonnema se volgelinge vir 'n kriminele oortreding voor die hof gedaag en na Robbeneiland verban is. Hiermee het die Blanke owerheid hom regsbevoegdheid oor weerbarstige Khoiokhoi toegeëien. Ná 'n aanval op 'n groepie jagters is 'n militêre mag van Kompanjie-soldate, vryburgers en Khoikhoi-meelopers in 1673 teen Gonnema uitgestur. Die oorlog het met rukke en stote tot 1677 geduur, maar toe was albei partye bereid om 'n skikking te aanvaar. Ingevolge die vredesverdrag moes Gonnema vir sy misdade om vergifnis pleit en sweer om met die Kompanjie se bondgenote in vriendskap te lewe, misdaders in sy geledere volgens die Nederlandse reg te straf en 'n jaarlikse "skatplig" van dertig beeste te betaal.
Dié oorlog was die finale fase in die Cochokwa se verset en het geëindig in 'n onbetwiste oorwinning vir die Nederlanders. Die vinnige uitbreiding van die trekboere in die 18de eeu het meegebring dat die soewereiniteit van die Khoikhoi-klans nêrens meer erken is nie, en hul uitgestrekte tradisionele weidingsgebiede is as leningsplase deur Blankes in besit geneem. Soms het koloniste hulle met die toestemming van 'n Khoikhoi-kaptein in sy gebied gevestig, maar ander kere het hulle sonder verlof as plakkers op Khoikhoi-grond gaan woon. Die bordjies is egter gou verhang, en plakkery het weldra eerder die stereotiepe beeld van die Khoikhoi geword. Dié verskynsel was hoofsaaklik die gevolg van die broosheid van die sosiale struktuur van die Khoikhoi voor die koloniale aanslag daarop.
Die Wes-Kaapse Khoikhoi is die finale n ekslag toegedien deur aansteeklike siektes wat van oorsee na die Kaap gebring is. Die bekendste hiervan was die pokke-epidemie van 1713, veroorsaak deur besmette linne van 'n skip, waarteen die Khoikhoi geen weerstand gehad het nie en wat die oorblywende Khoikhoi-klans in Suidwes-Kaapland feitlik uitgewis het. Sommige het na die binneland uitgewyk, ander het na 'n jagter-versamelaar-bestaan teruggekeer, en baie het die arbeidsmark van die kolonie betree. Hulle het hul tradisiionele leefwyse vaarwel geroep en verarmde gedienstige gidse, huiswerkers, posbodes, veewagters, transportryers en plaasarbeiders geword. Die Khoisan-aanvalle in die 18de eeu bewys egter dat nie al die oorspronklike bewoners van die Kaap hul lot gedwee aanvaar het nie en was 'n vorm van verset teen die eise van die koloniale samelewing.
--- --- ---
Khoisan-verset teen koloniale uitbreiding, 1700-1828: S. Newton-King
Sowel die Khoikhoi as die San het die Blanke uitbreiding na die binneland van die Kaap deurgaans fel en bitter betwis. Die trekboere het hul weivelde in besit geneem, hul reeds verminderde veetroppe geplunder en die wild uitgeroei. Algaande het 'n aansienlike getal Khoikhoi hulle aan die rand van die Blanke nedersettings bevind, waar hulle 'n prekêre bestaan gemaak het as veebesitters, want hulle was die prooi van Blanke vrybuiters, San-jagters en hul Khoikhoi-bure. As hulle beroof is, het hulle op hul beurt geroof om hul rykdom te herwin. Hierdie versteurde grensgemeenskappe het die uitbreiding van die kolonie sporadies maar verbete beveg.
In die dokumente van die V.O.C. is die versetplegers sonder onderskeid "Bosjesmans" of "Bosjesmans Hottentotten" genoem, wat hul lewenswyse aandui eerder as 'n fisieke of etniese verskil van die "Hottentotte". Mense wat van die veld geleef het deur jag, versamel en roof, was "Bosjesmans", en wanneer Khoikhoi hul beeste verloor het en op die leefwyse van die jagter-versamelaar moes terugval, was daar in die oë van 'n oningeligte en bevooroordeelde veldkorporaal geen verskil tussen hulle en die San nie. Die naam is ook dikwels in die sin van dief of struikrower gebruik, en in 1701 het die V.O.C. die dagboekskrywer na Khoisan-stropers aan die noordgrens verwys as "Bosjesmans" of struikrowers wat hoofsaaklik bestaan uit Grigrikwas en Namakwas". San-bendes was natuurlik wel dikwels ook betrokke by aanvalle op koloniste se veetroppe of plase, want die jagtergemeenskappe in die berge en dorre binnelandse plato's van die Karooi is van twee kante bedreig: deur die meedoënlose verspreding van die trekboere én deur voortvlugtige Khoikhoi.
Dit is om twee redes belangrik om die verhaal van die bittere stryd tussen hierdie versetplegers en die Blanke grensbewoners te probeer rekonstrueer. Eerstens kan dit gestel word dat die sg. "Boesmanoorloë" in werklikheid 'n uiting was van verset deur sowel die Khoikhoi as die San teen onteiening en 'n bestaan as knegte onder koloniale heerskappy. Tweedens kan die aard van die gewelddadigheid in die verhouding tussen heer en kneg in Suid-Afrika die beste in die konteks van hierdie lang geskiedenis van verset verstaan word.
Khoisan-verset aan die noordgrens, 1702- 1739
Die historikus Shula Marks was die eerste om die aandag te vestig op die verband tussen die "moord- en roofzugtigheid" van die Khoisan en die ontvreemdeing van hul woongebied deur die opmars van die grensbewoners. Sy merk op dat die Khoisan se rooftogte dikwels gevolg het op "veeruil-ekspedisies, wat maklik in veeroof-ekspedisies ontaard het as die Khoikhoi onwillig was om genoeg vee te ruil op die voorwaardes wat aangebied is".
Ná  die oopstelling van die veegrens in 1700 het geweld aan die noordgrens losgebars. "Bosjesmans" het soms in groepe van 'n paar honderd die veeposte van die V.O.C., vryburgers en lojale Khoikhoi in die Land van Waveren aangeval. Hulle het honderde stuks vee weggevoer, maar nie die burgers of hul knegte persoonlik aangeval nie. Hierdie "Bosjesmans" is deur die Cochokwa en ander lojale Khoikhoi as hoofsaaklik Grigrikwa en Namakwa uitgeken, en kan slegs as San beskou word in dié sin dat hulle deur armoede tot roof gedryf is.
Die rykdom en getalle van die Khoikhoi langs die noordgrens het vinnig begin afneem. Die pokke-epidemie van 1713 het tot so ver noord as die Piketberg u itgebrei, en in 1741 was die dodelik onder die Khoikhoi in dié streek enorm. Dié ramp is gevolg deur twee droogtejare en sewe jaar van veesiektes, maar die afgeleë Khoikhoi het nogtans daarin geslaag om die uitbreiding van die kolonie verder teen te staan. In 1715 en 1716 was daar talle berigte van veeroof langs die Bergrivier en in die Land van Waveren, en daar is gesê dat Blanke veeboere in dié streek só bevrees was dat hulle amper almal "des nagts nauwelijks als met geweer in de hand derven slapen". Die Kompanjie se beskerming was nie genoeg nie, en die grensboere het toestemming gekry om kommando's te vorm wat net uit burgervrywilligers bestaan het, 'n gebruik wat onder die trekboere die norm geword het.
Teen die einde van die twintigerjare was daar reeds Blanke nedersettings langs die Olifantsrivier tot by sy sameloop met die Doringrivier, en daar was blykbaar geen onafhanklike Khoikhoi-nedersettings suid van Meerhofkasteel meer oor nie. Tog het die verset in die huidige Suidwes-Kaap voortgeduur. In 1728 en 1731 het Khoisan-bendes vee van die nedersetters geroof. In September 1738 het 'n groep van sowat 100 Khoisan uit Klein-Namakwaland die vee van Augustus Louwerensz geroof om - soos hulle self verklaar het - "hulle (die Nederlanders) uit hul land te jaag". Hulle het bygevoeg dat dit maar net die begin was. Die gesteelde vee wat die rowers nie kon eet of wegdrywe nie, is doodgemaak of só vermink dat hulle van geen nut meer was hie. Sulke vernietiging van vee was algemeen en blykbaar bedoel om die burgers se moreel te verswak.
Die jaar daarop (1739) het rooftogte oral die Koue Bokkeveld en agter die Piketberg plaasgevind. Meer as 400 beeste en 2 400 skape is gebuit, twee Blankes en twee slawe vermoor en verskeie plaashuise aan die brand gesteek. Volgens die historikus Nigel Penn is die geweld blykbaar ontketen deur 'n onwettige handelsekspedisie. Ene Willem van Wijk het 'n geselskap setlaars en hul Khoikhoi-knegte ontevrede was oor hul skamele deel van die buit en na die Namakwa gedros het. Daarna het hulle deelgeneem aan die aanvalle op die koloniale plaashuise, vandaar die berigte dat die rowers gewere besit en geweet het hoe om hulle te gebruik.
--- --- ---
Kommando-plundertogte in die laat 18de eeu
Vanaf 1774, toe die eerste algemene kommando uitgetrek het, het die kolloniste aan die grens openlik oorlog gevoer teen die Khoisan. Nedersettings en kampe is deur "Hottentot"-spioene opgespoor, in die nag omsingel en teen dagbreek aangeval. Die inwoners is voor die voet doodgeskiet. Aan die noordoosgrens het een kommandogroep onder Godlieb Rudolp Opperman bv. 265 Khoisan doodgeskiet en 129 oorlewendes, meestal kinders, gevange geneem.  Algesaam 503 Khoisan is in 1774 deur die kommando's aan die noordgrens doodgeskiet en 241 gevang.
Tot aan die einde van die eeu het kommando's byna maandeliks uitgetrek. In Augustus en September 1787 het nie minder nie as vyf kommando's van die distrik Graaff-Reinet uitgetrek en altesaam 300 Khoisan gedood en 90 gevang. Tussen 1786 en 1795 is 'n geraamde 2 504 Khoisan gedood en 669 gevang, maar dié syfers bring nie die talle voorvalle tussen individuele boere en hul handlangers in bereken waaroor geen verslag gedoen is nie.
--- --- ---
In die 18de eeu was drostery uit Blanke diens dikwels 'n vorm van Khoisan-verset. In dokumente uit die distrikte Stellenbosch en Graaff-Reinet is daar talle verwysings na knegte wat skielik sonder rede - in hul Blanke meesters se oë - verdwyn het om te gaan "rondswerwe". Daar was veral 'n vrees vir knegte wat met gewere en perde verdwyn het, want Khousan-skaapwagters het hul meesters gereeld op kommando vergesel en was dus geoefende skuts wat die Blankes se gewoontes geken het. Drosters wat nie by vrye Khoisan-bendes ingeskakel het nie, kon selfde meer as 'n paar maande in vryheid oorlewe. Hulle is meedoënloos atervolg om te voorkom dat hulle ander aanmoedig om ook te dros of simbole van verset te word soos die Oorlamsleier Jager Afrikaner.
Verset in die Roggeveld en die Kamdeboo, 1740-1772
Ná die "Boesmanoorlog" van 1739 het Blanke grensbewoners hul greep op die Onder-Bokkeveld verstewig en anderkant dié streek uitgesprei op soek na nuwe weiveld. Teen die sistigerjare het hulle die Nuweveldberge bereik en teen die einde van die dekade die Sneeuberge en Kamdeboo. In die vyftigerjare het 'n aantal onafhanklike Khoikhoi-gemeenskappe nog in die Roggeveld naby die trekboere gewoon, maar nie onder hul onmiddellike beheer nie.
In 1754 het geweld aan die noordgrens losgebars. Daar is berig dat die Khoisan in die Voor- en Agter-Roggeveld en die Onder-Bokkeveld "vergader" en hele veetroppe vegvoer. Kommando's is opgeroep en vier kampe opgespoor en aangeval . Ene Duijkerpens was blykbaar die vernaamste aanstigter van dié rooftogte, maar ná 'n bittere stryd het hy vrede gesluit en saam met drie ander kapteins 'n ampstaf met 'n koperknop en 'n geskenk van teelskape van die burgers aanvaar.
Ná dié vrede was die noordgrens 15 jaar lank kalm. Die meeste van die Khoikhoi in die Roggeveld het by burgers in diens getree of verspreid tussen die nedersettings van die "mak" Khoikhoi gelewe, wat nie as 'n bedreiging beskou is voor die haat en die geweld wat ná 1770 losgebars het nie.
Weerstand tussen die Nuweveldberge en die Kamdeboo, 1772-1795
Dwarsdeur die 18de eeu was die middelpunt van verset die platorand aan die noordgrens. In die sewentigerjare het dié verset 'n ongekende intensiteit bereik en is veetroppe byna daagliks aangeval deur rowerbendes van soms tweehonderd of meer man.
Die historikus P.J. van der Merwe skryf dié toename in geweld toe aan die feit dat die Nuweveld- en Sneeuberge so na aan die "eintlike Boesmanland" langs die Seekoeirivier lê. Volgens hom is die digte San-bevolking van die gebied deur honger na die trekboere se veetroppe gelok.
Die rowers se taktiek gee egter blyke van ingewikkelder motiewe as bloot honger. Hulle het enorm baie vee geroof, en dié wat hulle nie kon wegvoer nie, het hulle doodgemaak. Plaashuise is dikwels afgebrand of beleër, Khoisan- en slawe-veewagters wreed vermoor, perde doodgesteek of beseer en selfs die graan op lande is aan die brand gesteek. Moontlik was dié aggressiewe dade net 'n onvermydelike neweverskynsel van die rooftogte, maar die aanduiding is tog sterk dat die rowers die nedersetters uit die streek wou verdryf.
Dit is ook twyfelagtig of die rowerbendes net uit San bestaanhet. Benewens die dubbelsinnigheid van die benaming "Bosjesman" aan die grens in die 18de eeu, getuig reisjoernale soos dié van Robert Jacob Gordon en Anders Sparrman van die aanwesigheid van Khoikhoi-veebesitters suidwes en suidoos van die Sneeuberge en moontlik ook oorkant die berge in die noorde. Daar was egter beslis baie lank 'n betreklik digte Khoisan-bevolking in die Sneeuberge en moontlik ook oorkant die berge in die noorde. Daar was egter beslis baie lank 'n betreklik digte Khoisan-bevolking in die Sneeuberge en die gebied daaragter, en dié gemeenskappe het nou onder intense druk verkeer. Aan die een kant is hulle deur die uitbreidende Xhosa bedreig, en aan die ander kant deur die trekboere, terwyl die instroming van Khoisan-vlugtelinge uit die suidweste hul lewe ook versteur het. Hulreaksie was omdie koloniste uit dié streek te probeer verdryf.
Die grensboere het dadelik teruggeslaan. Sedert die "Boesmansoorlog" van 1739 was alle manlike burgers in die grensdistrikte verplig om kommandodiens te doen. In elke wyk van die grensdistrikte was daar 'n veldkorporaal (later ook veldwagmeester genoem), aangestel deur die landdros en heemrade, met die gesag om sy bure op te kommandeer wanneer hy dit nodig ag. Dit het egter dikwels gebeur dat 'n grensboer veediewe agternasit en die veldkorporaal eers later daarvan in kennis stel. Gevolglik het die grensboere, aldus P.J. van der Merwe, in die laaste dertig jaar van die 18de eeu byna volkome vryheid geniet om na goeddunke teen die "Boesmans" op te tree.
Die stryd was ongelyk. Hoewel daar meer Khoisan as Blankes was, was hulle nie opgewasse teen die grensboere se kombinasie van perde en gewere nie. Die Khoisan het egter sekere voordele bo die nuwe intrekkers gehad. Hulle het die omgewing beter as die Blankes geken, hulle kon vinnig hardloop en voortreflik spoorsny, en hulle kon skielik in die digte bosse verdwyn, waar net 'n geoefende oog hulle kon vind. Ten spyte van dié vermoëns het die meedoënloosheid van die burgers se vergeldingsaksie hulle uiteindelik oorwin.
Ten spyte van die uitdunning van die Khoisan het hul aanvalle op die Blanke grensbewoners eers ná 1800 begin afneem. Dit wil selfs voorkom asof die hardhandigheid van die nedersetters se optrede hulle meer vasberade as tevore gemaak het. Die meedoënlose stryd het dit egter vir die voortvlugtende Khoisan-gemeenskappe noord van die Sneeuberge steeds moeiliker gemaak om hul vroeëre lewenstyl te handhaaf. Die koöperatiewe werkpatrone van die jagters- en herdersekonomie en die selfversorgende bestaanswyse van die jagter-versamelaars is deur die dood van gesinslede ontwrig, en baie groepe is waarskynlik ter wille van oorlewing gedwing om hulle tot plundering te wend. So het hulle in werklikheid geword wat hulle in die oë van hul vyande reeds lank was, nl. rowerbendes wat hul buit onmiddellik verbruik of noord gestuur het om deur minder bedreigde mense opgepas te word, waarna hulle teruggekeer het om opnuut te roof.
Die Khoisan in die kolonie
Die uitgerekte en bittere grensstryd het ook vir die Khoisan binne die kolonie verreikende gevolge gehad. Die meeste koloniste het hul "Hottentot"-knegte en "boesman"-vyande as lede van dieselfde volk beskou, wat hulle inderdaad ook was. Gevolglik was sowel "mak" as "wilde" Khoisan blootgestel aan die gevaar om as "rondlopers" en potensiële veediewe aangehou te word as hulle op 'n ander plek as hul meesters se grond aangetref is. Ten beste sou hulle dan in hegtenis geneem en aan die veldwagmeester oorhandig word of verplig wees om by die gevangenemer in diens te tree. In die ergste geval sou hulle afgeransel of voor die voet geskiet word. "As 'n kolonis te eniger tyd 'n Boesman gewaar," het die reisiger Sparrman geskryf, "skiet hy onmiddellik en hits sy hond en perd aan om met groter woede te jag as enige wilde dier."
Selfs Khoisan wat nie gedros het nie, het soms slagoffers geword van die heersende wantroue in die grensdistrikte. Baie plaaswerkers is oorspronklik tydens aanvalle op Khoisan-nedersettings gevange geneem en onder die kommandolede verdeel, en het dus as't ware regstreeks uit die geledere van die vyand gekom. Hulle is ontwortel, het Hollandse name gekry en is gedwing om by 'n vreemde omgewing aan te pas. Sommige is heeltemal in die geïsoleerde wêreld van 'n grensboer-huishouding opgeneem en het hulle onderwerp en lojaal aan hul gevangenemers geword, maar ander het net een gedag gehad, nl. om te ontsnap. Afgesien van hierdie "krijgsgevangenen", was daar ook ander kategorieë knegte, hetsy gevangenes of slawe, en ook hulle het soms probeer om te ontsnap.
--- --- ---
Die geval van "Onse Liewe Heer"
In 1788 was daar groot onrus onder die Khoisan in die omgewing van Swellendam en Riviersonderend. Aangemoedig deur hul geloof in 'n man wat hulle "Onse Liewe Heer" genoem het en wat n a bewering onkwesbaar was, het hulle hul meesters verlaat om by die nedersetting van ene Willem Stompje aan die Riviersonderend bymekaar te kom. Die gesante van "Onse Liewe Heer" (wie se i dentiteit nooit vasgestel is nie, maar wat moontlik ene Cobus Valentijn was) het hulle beveel om al hul Europese klere te verbrand, nuwe "stroo huizen" met twee deure te bou en al hul wit beeste te slag. Die burgers van Swellendam was hoogs ontstig toe 'n groot klomp pas gemaakte pyle en assegaaie in een van die nedersettings ontdek is en geheimsinnige vure op die berg bokant die Drosdy aangesteek is.
Die samesweerders het 'n aanval op die burgers beplan wat sou saamval met die einde van die wêreld. Daarna sou 'n nuwe wêreld ontstaan waarin die Khoisan weer op hul geboortereg aanspraak kon maak. Teen die einde van die jaar het die komplot egter sy dryfkrag verloor. Die landdros kon "Onse Liewe Heer", na wie hy verwys het as "een doortrapte vagebont", nie vang nie, maar teen November 1788 kon hy berig: "Het is tans alles in rust." Dit was klaarblyklik 'n poging tot grootskeepse opstand, hoewel die messiaanse aspekte van die komplot daarop dui dat werklik effektiewe maniere om die veeboer-intrekkers se greep te verswak, teen dié tyd uitgeput was.
--- --- ---
Drostery is vinnig en wreed gestraf, gewoonlik is vinnig en wreed gestraf, gewoonlik deur afranseling, maar soms deur 'n gruweliker kombinasie van strawwe. 'n "Hottentot", Klijnveld, se vingers is bv. na bewering met 'n ystertant uit lit getrek om hom te laat beken dat hy in sy meester se afwesigheid skape gesteel het, terwyl 'n anonieme "Hottentot"-meisie wat van Coenraad Vermaak se plaas gedros het, geslaan is tot haar rug gebreek het.
--- --- ---
Swaar strawwe vir drosters
Tydens die Khoisan- of "Knegte"-opstand (1799-1803) was drosters veral onder skoot, want die altyd sluimerende gevaar dat hulle by opstandelinge sou aansluit, het nou 'n werklikheid geword. Die beangste meesters het met geweld daarop gereageer. Fredrik Hoffman en Jager Wildschut het in 1800 na Xhosaland gevlug, maar teruggekeer om Hoffman se vrou op Jan Strijdom se plaas te gaan haal. Hulle is gevang en in opdrag van Strijdom summier doodgeskiet. Lea Quassarie is deur Carel Bester, haar meester, doodgeksiet toe sy probeer het om aan te sluit by haar man, wat na die Britte by Algoabaai gevlug het. Gerrit Windvogel, wie se pa in 1799 geskiet is toe hy Zacharias de Beer se plaas probeer verlaat het, het later verklaar dat die grensboere indertyd "almal geskiet het van wie hulle geweet het dat hulle van plan was om hul meesters te verlaat".
--- --- ---
Die "Swart Ommegang"
In 1812 is talle gevalle van mishandeling by die Rondgaande Hof op Uitenhage, die sg. "Swart Ommegang", aanhangig gemaak op grond van getuienis wat James Read en ander lede van die Londense Sendinggenootskap by Bethelsdorp versamel het. Net agt van die koloniste wat van aanranding of moord aangekla is, is skuldig bevind, maar in verskeie sake is uitspraak voorbehou. Die feit dat 'n saak afgewys is, beteken egter nie - soos baie historici in die verlede beweer het - dat die misdaad nie plaasgevind het nie.
Eerstens het die hof net 'n klein getal van die sowat honderd klagtes wat die sendelinge aangemeld het, ondersoek, nl. dié wat ná die begin van die tweede Britse besetting van die Kaap in 1806 sou plaasgevind het. Tweedens is baie van die aanrandings eers jare ná die voorval ondersoek. Derdens was baie min mense bereid om met getuienis na vore te kom. Die blote gedagte aan sulke verhore het die koloniste woedend gemaak. Hulle het hul verhouding met hul knegte as 'n private saak beskou en aanstoot geneem aan die tussenkoms van die reg. "Het is ons volk," het Johannes Schoeman gesê van 'n gesin wat ses jaar tevore van hom gedros het, "wij kunnen daarmee leeven zoo als wij willen." Die Khoisan moes ook in gedagte hou wat met hulle sou kon gebeur wanneer hulle na hul meesters terugkeer nadat hulle teen Blankes getuienis afgelê het. 'n Ondersoek van die verhore onderstreep vierdens 'n kwessie wat die Amerikaanse historikus Eugene Genovese met betrekking tot die Amerikaanse Suidelike state uitgewys het, nl. dat wreedheid in die geval van 'n onvrye arbeiderskorps moeilik is om te omskryf. Strawwe lyfstraf was in 'n koloniale gemeenskap aanvaarbaar, maar wanneer en in watter omstandighede het dit kriminele aanranding geword?
In die konteks van die 18de-eeuse Kaapse grensgebied was knegskap onvermydelik onderhewig aan die gebruik van geweld. Die Khoisan wat deel van die "plaasvolk" aan die grens geword het, was - nieteenstaande hul geleidelike aanpassing as ondergeskiktes by die koloniale gemeenskap - nogtans dieselfde mense met wie die trekboere om die besitreg van die binneland meegeding het. Net soos die groepe oorkant die grens kon hulle 'n tyd onthou toe die land aan hulle behoor en hulle vir hulself gewerk het, hul eie vee gehad en na goeddunke gejag het. Die vergoeding wat hulle nou vir hul arbeid ontvang het, het nouliks vir die verlies van hul vryheid vergoed.
Die Khoisan-arbeiders het daarom die koloniale instelling van diensbaarheid as sodanig bevraagteken, nie net die wyse waarop hulle hul aan diens moes onderwerp nie. Khoisan-knegte in die grensdistrikte is nie soseer in hul lot gebore nie, maar daarin gedwing. Enige nietige botsing oor die verrigting van 'n dagtaak het die gegriefde kneg herinner aan 'n diepliggende konflik in die stryd oor die beheer van die land en sy mense. Die verhouding tussen m eester en kneg het 'n slagveld geword waarop die voorwaardes van die Blankes se heerskappy betwis is. In dié tyd was knegskap vir die Khoisan van die grensdistrikte nog nie 'n "natuurlike" staat nie, maar 'n gevolg van politieke onderwerping. Daarom het verset teen diensvoorwaardes baie maklik oorgegaan in 'n algemene opstand teen die blote aanwesigheid van die koloniste.
Hierdie voortdurende bedreiging deur opstand verklaar in 'n mate die felheid waarmee die blankes hul knegte gestraf het. In die grensgemeenskap was die sambok meer as net 'n strafmiddel. Dit was, soos die koloniste self erken het, 'n middel om die inheemse bevolking "mak te maak". Met verloop van tyd het die vorm van beheer egter ook oorbodig geword. Onder die jonger Khoisan, wat in diens gebore is en grootgeword het, was daar talle wat hulle eerder met hul meesters v ereenselwig het as met die "wilde Boesmans" teen wie hulle op kommando uitgetrek het. Lojale knegte is dikwels deur hul meesters uitgestuur om drosters te vang en moes selfs help om hulle te straf.
Die "Knegte"-opstand van 1799
Hoewel die proses van gelate onderwerping aan die koloniale bestel onafwendbaar toegeneem het, het die "Knegte"-opstand tog 'n werklikheid geword. Dit het in die herfs van 1799 begin en só vinnig versprei, dat die burgers onverhoeds betrap is. Teen die middel van die jaar is berig dat die "Hottentotte" hul meesters "deur die bank" verlaat. Van hul basis onder die Xhosa van die Suurveld het die opstandige Khoisan plase dwarsdeur die suidelike en sentrale dele van die distrik Graaff-Reinet afgebrand en geplunder. Teen die einde van Austus 1799 was reeds 29 blankes doodgemaak, en almal behalwe 'n handjievol het uit die distrik gevlug. 'n Vae vrees is bewaarheid: die "mak Hottentot" het met die geweer in die hand teen sy heer in opstand gekom.
Baie van dié rebelle het  hul hele lewe in Blanke diens deurgebring, en in dié opsig het hulle dus duidelik verskil van die grensrowers. Hulle het byna uitsluitlik gewere gebruik, nie pyle en boë nie, en hulle kon 'n mag van 300 ruiters op die been bring. Hul griewe het deels gespruit uit hul diensomstandighede. So wou hulle bv. kompensasie hê vir lone wat teruggehou is of vergelding vir strawwe wat hulle moes verduur. Toe hulle gevra is wat hul doelstellings was, het hul segsman egter geantwoord met woorde net so goed dié van 'n "Bosjesman" kon gewees het: "Gee terug die land wat die Hollanders van ons voorouers afgeneem het, en ons sal niks meer vra nie."
Ná byna vier jaar van smeulende spanning en sporadiese gevegte is die opstand onderdruk. Hierna het 'n tyd van "versoening" gevolg terwyl die Blankes hervestig en die Khoisan met mooipraat en geweld daartoe beweeg is om na hul meesters terug te keer.
Die "Hottentot"-kode van 1809 en Ordonnansie 50 van 1828
In 1809 het die Britse owerheid die "Hottentot"-kode ingevoer, wat saam met wetgewing van 1812 en 1819 die lot van die Khoisan in die kolonie bevestig het. Hoewel dié proklamasies sowel 'n beskermende as 'n onderdrukkende aspek gehad het, was hul hoofoogmerk om wettige erkenning te gee aan die dwangarbeid wat so lank reeds informeel aan die grens bestaan het.
Elke Khoisan moes 'n vaste verblyfplek hê. In die praktyk het dit beteken dat hy by 'n Blanke moes woon. As hy voorgekeer word terwyl hy rondreis sonder 'n pas wat deur sy meester of die landdros onderteken is, sou hy as 'n rondloper beskou, in hegtenis geneem en aan sy meester terugbesorg of verplig word om 'n kontrak met 'n nuwe meester aan te gaan. Die "Hottentot"-kode het die reg van Khoisan-enkelinge gehandhaaf om hul meesters ná afloop van hul kontrak te verlaat, maar dit het hulle as groep gedoem tot 'n voortdurende staat van diensbaarheid.
Met verloop van tyd het die wil tot verset afgeneem. Veterane van die "Knegte"-opstand wat 'n rowersgroep in die Winterhoekberge aan die lewe probeer hou het, is deur hul mede-Khoikhoi verwerp en verraai. Teen die tyd dat Orodonnansie 50 in 1828 uitgevaardig en Khoisan-knegte uiteindelik gevrywaar is van dwangarbeid en willekeurige strafmaatreëls, was die era van verset verby. Hoewel hulle hul vryheid voor die wet gekry het, was hulle reeds hul grond onherroeplik kwyt.
--- --- ---
'n Volledig aanbevole lees- en bronnelys sluit dié hoofstuk af.
--- --- ---


 
 
 
 
Mail
Call